South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 2008 >> [2008] ZASCA 91

| Noteup | LawCite

Van Eeden and Another v Prokureursorde van die Noordelike Provinsies and Another (557/2007) [2008] ZASCA 91 (12 September 2008)

Download original files

PDF format

RTF format

Links to summary

PDF format

RTF format

Bookmark/Share this page

Bookmark and Share




DIE HOOGSTE HOF VAN APPèL

VAN SUID-AFRIKA


Saaknommer: 557/2007

GEEN GESAGSWAARDE


In die saak tussen:


ALBERT JACOB VAN EEDEN APPELLANT

en

DIE PROKUREURSORDE VAN DIE

NOORDELIKE PROVINSIES EERSTE RESPONDENT


DIE GETROUHEIDSFONDS VIR

PROKUREURS TWEEDE RESPONDENT


Neutral citation: Van Eeden v Die Prokureursorde van Noordelike Provinsies (556/2007) [2008] ZASCA 91 (12 September 2008)


CORAM: SCOTT, FARLAM, PONNAN, COMBRINCK ARR et LEACH Wnd AR

DATUM VERHOOR: 22 AUGUSTUS 2008

DATUM GELEWER: 12 SEPTEMBER 2008

GEKORRIGEER:


OPSOMMING: Appèl teen weiering van aansoek ingevolge art 15(3) van Wet op Prokureurs 53 van 1979 vir hertoelating – bevinding dat appellant rekeningkundige boeke verberg het ten einde 'n ondersoek na trusttekort te dwarsboom – onbevoeg om hertoegelaat te word.

SUMMARY: Appeal against refusal of an application in terms of s 15(3) of the Attorneys Act 55 of 1979 for re-admission – finding that appellant concealed books of account in order to thwart an enquiry into a trust shortage – unfit to be re-admitted (judgment in Afrikaans).

BEVEL



Op appèl vanaf: Hooggeregshof: Pretoria

1. Die appèl word van die hand gewys en appellant word gelas om die eerste respondent se koste op die skaal soos tussen prokureur en kliënt te betaal.

UITSPRAAK

COMBRINCK AR (Scott AR, Farlam AR, Ponnan AR, Leach Wnd AR stem saam)


[1] Die appellant in hierdie saak is gedurende 1986 in die Pretoria se Hooggeregshof as prokureur toegelaat. Dieselfde hof het hom tien jaar later op 4 Maart 1996 van die rol van prokureurs geskrap. In Junie 2003 loods hy 'n aansoek ingevolge artikel 15(3) van die Wet op Prokureurs 53 van 19791 by dieselfde hof vir hertoelating. Die aansoek is deur die eerste respondent (‘die Orde’) teengestaan. Behalwe om 'n beëdigde verklaring te liasseer het die tweede respondent (die ‘Getrouheidsfonds’) nie tot die geding toegetree nie. Die aansoek is deur die hof geweier (die uitspraak is deur Du Plessis R geskryf en Ebersohn WR het saamgestem). Met verlof van die hof a quo kom die appellant nou in hoër beroep na hierdie hof.


[2] Die feite onderliggend aan die destydse skrapping van die rol van prokureurs asook dié ter stawing van die aansoek om hertoelating word volledig uiteengesit in die uitspraak van Du Plessis R en dit is onnodig om enigsins breedvoerig daarmee te handel. Vir doeleindes van hierdie uitspraak sal 'n bondige opsomming voldoen.


[3] Vanaf 1989 het die appellant met sy vader in Pretoria onder die naam Van Eedens gepraktiseer. Appellant het die litigasie behartig en sy vader die akte-afdeling. Sentraal tot die uiteindelike skrapping van die appellant en sy vader was 'n vername kliënt van die firma, 'n eiendomsontwikkelings-maatskappy met die naam van Deelgroei Eiendomme (Edms) Bpk (‘Deelgroei’) wat nou saamgewerk het met die finansierder van die ontwikkelings, Permprop, later 'n afdeling van Nedcor Property Development (Edms) Bpk (‘Nedcor’). Die firma het oor 'n aansienlike tydperk oordragte van grond en ander regswerk vir die instansies gedoen. Gedurende Augustus 1995 beëindig die maatskappye Van Eedens se mandaat weens 'n versuim aan die kant van die firma om gelde deur kopers betaal na registrasie van oordrag van eiendomme aan Deelgroei oor te betaal. Op 28 Augustus 1995 verkry Deelgroei en Nedcor 'n dringende hofbevel teen Van Eedens dat hulle vir gelde ontvang van kopers moet verreken en die verskuldigde bedrae oorbetaal. Die bevel is gevolg deur 'n verdere bevel wat op 30 Augustus verkry is om die bevel van 28 Augustus af te dwing. Daarbenewens verkry Deelgroei en Nedcor op 2 September 1995 'n dringende voorlopige sekwestrasiebevel teen Van Eedens en die individuele vennote. As gevolg van die ontvangs van verskeie klagtes van ander kliënte van Van Eedens, gee die Orde 'n mnr Van Rooyen, (voorheen 'n rekeningkundige beampte in diens van die Orde), opdrag om Van Eedens se boeke na te gaan en verslag te doen. Van Rooyen reik op 7 September 1995 'n skriftelike verslag uit waarin hy aantoon dat met die karige rekeningkundige dokumente en bankstate tot sy beskikking hy voorlopig vasgestel het dat daar 'n tekort van R2,218m in die trustrekening van die firma is. Op sterkte van hierdie verslag loods die Orde op 22 September 1995 'n dringende aansoek by die hof vir die skorsing van die appellant en sy vader as prokureurs, notarisse en aktebesorgers hangende 'n aansoek om hulle van die rol te skrap. Die bevel is toe ook toegestaan. Intussen en wel op 12 September 1995 is die voorlopige sekwestrasiebevel by ooreenkoms opgehef nadat Van Eedens 'n bedrag van R1,137m aan Deelgroei en Nedcor se nuwe prokureurs oorbetaal het. Die appellant se solvensie was egter van korte duur want op 4 Oktober 1995 verkry 'n ander kliënt van Van Eedens, 'n mnr Joubert, 'n dringende voorlopige sekwestrasiebevel teen die firma en die individuele vennote op grond van die versuim om trustgelde wat hom toegekom het oor te betaal. 'n Finale bevel is op 13 Desember 1995, ten spyte van teenstand van Van Eedens, deur die Pretoria se Hooggeregshof toegestaan. Op 4 Maart 1996 is appellant en sy vader deur dieselfde hof van die rol geskrap. Die gronde vir die skrapping was dat daar deur die Orde bewys is dat daar 'n wesenlike tekort was in die firma se trustrekening tesame met die feit dat die appellant gesekwestreer was.


[4] Die grondslag van appellant se aansoek om hertoelating is dat daar inderdaad nooit 'n trusttekort was nie. Hy het gevolglik ten einde die bewyslas te kwyt om aan te toon dat hy 'n geskikte en gepaste persoon is om hertoegelaat te word nie sy vorige oortredinge beken en aangevoer dat hy hervorm het nie. Wat sy saak op neerkom is dat hy die hof nader op die basis dat daar 'n herondersoek en heroorweging moet wees van die destydse skrappingsaansoek en dat 'n bevinding dat hy verkeerdelik van die rol geskrap is, gemaak moet word. Wat die sekwestrasie betref voer hy aan dat hy deur die hof rehabiliteer is en dat dit nie langer in die weg moet staan van sy hertoelating nie. Die vraag of die bevinding van ‘n tekort in die firma se trustrekening nie res iudicata is, is nóg in hierdie hof, nóg in die hof benede geopper en ek laat dit dus daar – soos die hof benede ook gedoen het.


[5] Ten einde aan te toon dat daar nie 'n tekort in die trustrekening was nie, het die appellant in sy talle verklarings in die huidige aansoek, (hy het 'n funderende verklaring, drie aanvullende verklarings, ‘n repliserende verklaring van 307 bladsye en 'n verdere aanvullingsverklaring geliasseer), breedvoerig en op herhalende trant gepoog om met die individuele bedrae wat die trusttekort opgemaak het te handel. Die tweede respondent, die Getrouheidsfonds, het 'n bedrag van R624 935.11 aan voormalige kliënte van Van Eedens uitbetaal. Dit het geskied op grond van die feit dat die fonds van oordeel was dat diefstal gepleeg is. Die individuele eise is insgelyks deur appellant analiseer en behandel ten einde te bewys dat die gelde nie verskuldig was nie en dat die Getrouheidsfonds verkeerdelik die bedrae uitbetaal het. Enkele rekeningkundige state en ander dokumentêre bewyse is aangeheg en na verwys. Appellant beweer in sy stukke dat hy geen brondokumente of afskrifte van die firma se rekeningkundige boeke kon voorlê nie aangesien dit tesame met alle rekenkundige state en rekords vir die agt jaar wat September 1995 voorafgegaan het, uit die firma se kantore gesteel is.

[6] Die Orde het nadat Van Eedens die skorsingsaansoek teengestaan het op die basis dat daar nie 'n trusttekort was nie, 'n ouditeur, mnr Faris, aangestel om 'n soortgelyke ondersoek as Van Rooyen na die boeke van Van Eedens te onderneem. Faris het 'n verslag, gedateer 18 Desember 1995, uitgebring waarin hy bevind het dat daar wel 'n trusttekort was, maar nie in die bedrag deur Van Rooyen bevind nie. Hy was van mening dat die tekort R1,062m was. Appellant en sy advokaat het 'n onderhoud met Faris gevoer en gepoog om hom te oortuig dat daar inderdaad geen tekort was nie. Die appellant het toe ook 'n beëdigde verklaring van Faris geliasseer waarin Faris toegegee het dat indien die verduidelikings deur die appellant verskaf korrek is, dit wel so mag wees dat daar nie 'n trusttekort was nie. Hy het dit so bewoord:

Given the circumstances of this matter, certain of the applicant’s explanations are compelling which suggest that if it was possible to establish the true trust position a trust deficit may not have existed at the time.’

Die appellant het in die hof benede asook in hierdie hof sterk gesteun op hierdie uitlating. Wat hy egter oor die hoof gesien het is die kwalifikasie wat Faris hierop gestel het naamlik:

During my consultations with the applicant and Adv Ellis, I sought to make it perfectly clear that before I could positively state that there were no trust deficits, I would need to have access to all accounting and supporting source records to be able to examine each and every trust debit balance. . . . Unfortunately it is not possible to now have access to all the records and documents necessary and I now need to rely on the information and explanations being furnished to me by the applicant, as set out in the papers and in consultation with him.’


[7] In die uitspraak van die hof benede handel die geleerde regter met die appellant se saak ten aansien van die algemene trusttekort. Hy bespreek die onderliggende feite en kom dan tot die volgende slotsom:

Na my oordeel som Faris in sy tweede verklaring die posisie korrek op: Sonder behoorlike rekenkundige state en rekords is niemand in staat om te oordeel of die applikant se verduideliking korrek is nie. Dit is nie eens moontlik om die egtheid en korrektheid van stawende dokumente wat die applikant aanheg te bepaal nie. Kortom, die applikant se verduideliking is slegs bewerings. In betoog het die applikant hierdie probleem aangespreek deur aan die hand te doen dat hy, vanweë die verlies van die firma se rekenkundige aaantekeninge, nie in staat is om beter bewyse voor te lê dat daar geen trusttekort was nie.’

Die regter handel dan met die kwessie van die verdwyning van die boeke en ondersoek die vraag of daar meriete steek in appellant se betoog dat hy gekortwiek is in sy poging om te bewys dat daar geen trusttekort was deur die afwesigheid van die boeke. Die hof bevind dat die diefstal van die boeke onwaarskynlik is en dat op die beste vir appellant die verlies van die boeke in onsekerheid gehul is. Die slotsom is dan:

Kortom, die applikant het nie op 'n oorwig van waarskynlikhede bewys dat hy in die voer van hierdie aansoek deur die diefstal of verlies van die rekenkundige aantekeninge en rekords gekortwiek is nie.’


[8] Die partye asook die hof benede het hulle toegespits op die vraag of daar wel 'n trusttekort bestaan het of nie ten einde tot 'n bevinding te raak of die appellant 'n geskikte en gepaste persoon is om hertoegelaat te word. Ek kan geen fout vind met die benadering van die hof ten opsigte van die bewyslas wat op appellant gerus het of met die uiteindelike bevinding dat appellant nie daarin geslaag het om te bewys dat daar geen trusttekort was nie. Na my mening is daar egter 'n meer voor-die-hand-liggende rede waarom die appellant nie 'n geskikte persoon is om as prokureur te praktiseer nie. Dit is dat by behoorlike analise van die omstandighede van die sogenaamde verdwyning van die boeke dit blyk dat die waarskynlikhede oorweldigend aantoon dat die appellant of sy vader met sy medewete en bystand, verantwoordelik was vir die verdwyning van die boeke.


[9] Volgens appellant het die boeke gedurende die tydperk 2 September 1995 tot 14 September 1995, (die tydperk toe Van Eedens en die vennote onder voorlopige sekwestrasie was), uit die kantore van Van Eedens verdwyn. Die kantoor en die bates van die firma was toe in die besit en onder die beheer die voorlopige kurator, 'n mnr Wilsenach, 'n praktiserende prokureur in Pretoria. Op 18 September 1995 skryf appellant onder andere as volg aan Wilsenach:

Ons versoek dat u aan ons 'n volledige uiteensetting verskaf van alle dokumente, lêers, rekeningkundige aantekeninge of enige ander items wat uit ons kantore verwyder is vanaf die datum waarop u as voorlopige kurator aangestel is op Saterdag 2 September 1995 tot 16h00 13 September 1995.

Ons stel u hiermee in kennis dat die kontant bedrae van R250,00 en R1 500,00 uit ons kantore tydens bovermelde tydperk verwyder is.

Alle rekeningkundige aantekeninge, tjekboeke, deposito boeke, kwitansie boeke van die afgelope 5 jaar is ook verwyder en word die vermelde dokumente en items op 'n dringende basis benodig deur onsself.

Dit blyk dat die binnedeur oop forseer is en in die lig hiervan versoek ons 'n lys van name van alle persone wat tydens bovermelde tydperk in ons kantore teenwoordig was.’


[10] In sy beantwoordende verklaring ter opponering van die destydse skorsingbevel stel die appellant dit so:

Nadat ons die kantore weer beset het (op 13 September), het ons vasgestel dat honderde lêers weg was, alle rekeningkundige aantekeninge van die afgelope 6 jaar, kontant in die bedrag van R1 500 is gesteel, kos uit die yskas is gesteel, rekenaar diskette is gesteel en daar is 'n klag by die polisie aanhangig gemaak. Dit was duidelik dat iemand by die kantore ingebreek het terwyl die Orde en mnr Wilsenach in beheer daarvan was.’

Aan Van Rooyen, (aldus sy verslag), het appellant en sy vader gesê die volgende is gesteel:

Kasboek, bankstate, fooiejoernale, kwitansieboeke, depositoboeke, rekenaaruitdrukke.’


[11] In antwoord op hierdie bewerings het die Orde 'n beëdigde verklaring van Wilsenach liasseer. Daarin sê hy onomwonde dat dit nie moontlik was dat daar diefstal van die boeke of enigiets anders kon gewees het gedurende die tydperk wat hy in besit van die kantore was nie. Hy staaf die bewering met die volgende:

(i) Op die dag wat die voorlopige sekwestrasie bevel toegestaan is, is hy as voorlopige kurator aangestel. Hy het dieselfde dag nog besit van Van Eedens se kantore geneem en met die hulp van 'n slotmaker, kettings en slotte aan die deure aangebring ten einde te verseker dat niemand toegang tot die kantore kon verkry nie;

(ii) Op 4 September 1995 het hy as gevolg van 'n berig na die kantore gegaan en die appellant en sy vader en ander personeel gevind waar hulle besig was om lêers uit die kantoor te verwyder. Hulle het toegang verkry deur die ketting aan die buitedeur te knip. Hy het hulle oorreed om die lêers terug te sit en die perseel te verlaat;

(iii) As gevolg van hierdie gebeure het hy sekuriteitswagte op 'n 24-uur basis aangestel om die persele op te pas. Hulle is eers onttrek om 16h00 op 13 September toe hy die sleutels van die kantore aan die appellant oorhandig het. Geen persoon het toegang verkry tot die persele terwyl die wagte daar was en daar is ook geen tekens van enige inbraak of oopforsering van die binnedeur nie.

(iv) Die enigste dag wat iemand gedurende die tydperk die kantore binnegegaan het, was op 6 September toe drie prokureurs wat opdrag gekry het om sake oor te neem van die Van Eedens, deur Wilsenach toegelaat is om die lêers te verwyder. Wilsenach was deurentyd teenwoordig van die tyd wat die persone opgedaag het tot hulle die persele verlaat het. Hy het gesorg dat slegs die lêers verwyder word en niks anders nie.


[12] Hierdie bewerings van Wilsenach is nooit deur die appellant betwis nie – nòg in die aansoek om skrapping, nòg in die aansoek om hertoelating. Die appellant se vader het die repliserende verklaring in die skorsingsaansoek namens hom en appellant afgelê. Omtrent Wilsenach se verklaring sê hy absoluut niks. Hy volstaan met die stelling dat ‘dit gemenesaak is dat die brondokumente weg is’. In die huidige aansoek is Wilsenach se destydse verklaring aangeheg tot die beëdigde verklaring van mnr Johnston, 'n vennoot in die firma Weavind & Weavind van Pretoria wat die Deelgroei lêers by Van Eedens oorgeneem het. Hy verwys in sy verklaring pertinent na Wilsenach se verklaring ten einde die bewerings van ongemagtigde verwydering van die boeke en rekeningkundige dokumente te weerlê. Weereens word daar geensins in die ellelange repliserende verklarings wat appellant liaseer het, gehandel met Wilsenach se bewerings nie. Dit is ook opmerklik dat in sy funderende verklaring in die huidige aansoek appellant geen melding maak van die sogenaamde diefstal van die boeke nie. Dit is eers in repliek wat hy aanvoer dat hy gekortwiek is in sy pogings om te bewys dat daar nie 'n trusttekort was weens die diefstal van die boeke nie. Hy beskuldig dan ook nie net vir Wilsenach nie, maar wel vir Van Rooyen en veral die Orde dat hulle toegelaat het dat die boeke verdwyn het. Hy sien oor die hoof die feit dat die Orde eers op 22 September 'n skorsingsbevel verkry en beheer geneem het oor die praktyk – lank na, op sy eie weergawe, die boeke verdwyn het.


[13] Daar is 'n verdere belangrike stukkie getuienis wat betref die boeke. Volgens Van Rooyen het hy, nadat hy opdrag ontvang het om Van Eedens se boeke te ondersoek, op 4 September 1995 'n onderhoud met appellant by Van Eedens se kantore gevoer. Hy het hom gevra vir die rekenkundige aantekeninge van die firma. Appellant het geantwoord dat dit alles in die besit van die firma se ouditeur, ene mnr Bemont, was. Van Rooyen het Bemont gekontak en uitgevind dat hy slegs 'n klein hoeveelheid dokumente en geen boeke gehad het nie. Die belangrikheid van hierdie getuienis – wat weer eens nie deur appellant betwis is nie – is dat hy voorgegee het dat al die boeke en rekenkundige aantekeninge by Bemont was en nie in die kantoor nie. Dit volg dat dit onmoontlik was dat hulle uit die kantoor gesteel kon gewees het. In ieder geval was sy bewering dat die boeke en rekeningkundige aantekeninge by Bemont was, vals. Om sake te vererger, op 15 September 1995 besoek Van Rooyen weer die kantore van Van Eedens en in 'n tweede verslag berig hy as volg:

Op my vraag waar die rekeningkundige aantekenige gehou was, neem mnr Albert van Eeden my na sy kantoor en maak hy 'n kas aan die regterkant van sy lessenar oop, wat leeg is. Ek het onmiddellik gereageer en mnr Albert van Eeden gevra waarom hy nie tydens my vorige besoek in die kas gekyk het toe ek hom gevra het of daar enige rekeningkundige aantekening in die kantoor is nie. Mnr van Eeden antwoord eers dat hy wel in die kas gekyk het maar nadat ek hom verseker dat hy dit nie gedoen het nie, antwoord hy dat hy maar seker die kas vir die kurator gewys het.’


[14] Afgesien van Wilsenach se onbetwiste getuienis dat daar geen diefstal kon gewees het nie, vra mens jou af wie anders as die appellant en sy vader enigsins belang sou gehad het in die firma se rekenkundige boeke en aantekeninge vir die vyf of ses jaar wat 1995 voorafgegaan het. In sy hoofde van betoog in hierdie hof voer appellant se advokaat aan dat afgesien van die rekeningboeke wat weg is, is daar ook 'n stel wette, hofverslae, rekenaars, fotostaatmasjiene en drukkers gesteel is. Daar is geen getuienis in die rekord tot die effek nie en appellant het nêrens in sy stukke aangevoer dat die goed weg is – (sien veral sy brief van 18 September wat hierbo in para [9] aangehaal word). Dit opper egter die vraag – as daar al die waardevolle goedere in die kantore was, waarom het die vermeende dief of diewe hulle nie gesteel nie?


[15] Die hele kwessie van verdwyning van die boeke moet gesien word teen die agtergrond van die situasie wat die vennote van Van Eedens hulle destyds in bevind het. Deelgroei en Nedcor het hulle mandaat beëindig en twee hofbevele verkry om Van Eedens te verplig om meer as 'n miljoen rand aan hulle te betaal. ‘n Dringende sekwestrasiebevel is teen hulle uitgereik. Die Orde het in die vorm van Van Rooyen begin navraag doen en ondersoek instel na moontlike trusttekorte. In die lig hiervan was daar net twee persone wat kon baat uit die verdwyning van die boeke en dit was die appellant en sy vader. Dit is ook betekenisvol dat appellant die aanbod van die hof benede om die vraag van die verdwyning van die boeke na mondelingse getuienis te verwys nie wou opneem nie.


[16] 'n Prokureur wat doelbewus sy boeke verwyder en verberg om te keer dat die Orde insae daartoe het en 'n valse verduideliking gee van waar die boeke is en in 'n aansoek om hertoelating daarin volhard, is nie 'n geskikte persoon om te praktiseer as prokureur nie. Daarbenewens is daar nog die appellant se gedrag op 4 September 1995. Volgens die onbetwiste getuienis, terwyl die kantore en bates van die praktyk van Van Eedens in die hande van die kurator was, het appellant en sy vader ingebreek by die kantore deur die kettings te knip en gepoog om lêers te verwyder. Sodanige wederregtelike optrede is 'n verdere rede waarom appellant nie hertoegelaat kan word nie.


[17] Laastens is daar op die stukke 'n vraagteken oor die versekering wat die appellant aan die hof bied oor sy toekomstige gedrag indien hy hertoegelaat word. In sy funderende eedsverklaring sê hy dat hy die boekhouding van die firma aan sy vader oorgelaat het en dat hy die litigasie en strafpraktyke behartig het. Hy stel dit so:

Toe ek by die praktyk betrokke was, het ek die litigasiepraktyk behartig en veral ondervinding opgedoen in die strafpraktyk. Ongelukkig het ek in daardie tyd die kantoor administrasie, en meer bepaald rekenkundige administrasie van die firma verwaarloos. Vanweë die gemoedsrus wat ek ervaar het uit hoofde van my vader se ervaring, het ek alles as vanselfsprekend aanvaar en nie te alle tye nougesette aandag gegee aan my praktyk nie.’

In sy repliserende eedsverklaring sê hy die volgende:

Daar was geen verkeerde oorplasings of ongemagtigde of onverskuldigde betalings uit trustfondse nie en nog minder was daar trusstekorte. Ek was op hoogte van die daaglikse metodes waarop die boekhouding van die fima gehou is en ek kan die Agbare Hof die versekering gee dat my kontrole sodanig was dat ek onmiddellik sou geweet het indien daar enige ongemagtigde of onverskuldigde betalings uit trustfondse gemaak is. . . . Ek weet my boekhouding was op datum en my boekhouding was in orde.’

Hy gaan dan voort en gee die hof die versekering dat as hy hertoegelaat word, hy sal sorg dat behoorlik boekgehou word. Uit die mond van 'n persoon wat eers beweer dat hy niks te doene gehad het met die boekhouding en daarna dat hy noukeurig gesorg het dat die boeke in orde was, is sodanige versekering vals en onaanvaarbaar. Dit is myns insiens 'n verdere bewys van appellant se onbevoegdheid om as prokureur te praktiseer.


[18] Om bogemelde redes kan die appèl nie slaag nie. Dit is gebruiklik dat in hierdie tipe saak waar die appellant nie slaag nie, hy gelas word om die koste op die skaal soos tussen prokureur en kliënt te betaal.


[19] Die appèl word van die hand gewys en appellant word gelas om die eerste respondent se koste op die skaal soos tussen prokureur en kliënt te betaal.




…………………….

P C COMBRINCK

APPÈLREGTER

VERSKYNINGS:

NAMENS APPELLANT: G H SWANEPOEL

NAMENS RESPONDENT: A T LAMEY


PROKUREURS:

NAMENS APPELLANT: BICCARI BOLLO MARIANO INC

PRETORIA

NAMENS RESPONDENT: ROOTH WESSELS MALULEKE

PRETORIA


KORRESPONDENTE:

NAMENS APPELLANT: LOVIUS-BLOCK

BLOEMFONTEIN

NAMENS RESPONDENT NAUDES

BLOEMFONTEIN

1 ‘'n Hof kan, op aansoek ooreenkomstig hierdie wet gedoen, iemand wat voorheen as prokureur toegelaat en ingeskryf was en van die rol verwyder of geskrap is, as prokureur hertoelaat en herinskryf, indien –

(a) hy, na goedvinde van die hof, 'n geskikte en gepaste persoon is om aldus hertoegelaat en heringeskryf te word; en

(b) die hof oortuig is dat hy voldoen aan die bepalings van subartikel (1)(b)(ii).’