South Africa: Northern Cape High Court, Kimberley
You are here: SAFLII >> Databases >> South Africa: Northern Cape High Court, Kimberley >> 2008 >> [2008] ZANCHC 53 | Noteup | LawCiteS v Coetzee (CA&R 21/2008) [2008] ZANCHC 53 (27 June 2008)
Download original files | Bookmark/Share this page |
-
Rapporteerbaar: Ja / Nee
Sirkuleer onder Regters: Ja / Nee
Sirkuleer onder Landdroste: Ja / Nee
Sirkuleer onder Streeklanddroste: Ja / Nee
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse Afdeling)
Saak No: CA&R 21/2008
Saak Aangehoor: 23/06/2008
Datum gelewer: 27/06/2008
In die saak tussen:
KAREL COETZEE APPELLANT
en
DIE STAAT RESPONDENT
Coram: Williams R et Olivier R
UITSPRAAK
Olivier R:
Die appellant is in die Streekhof skuldig bevind op twee aanklagte van onsedelike aanranding en drie aanklagte van die oortreding van artikel 14(1)(a) van Wet 23 van 1957 (“die Wet”). Hy is op elk van die aanklagte gevonnis tot 5 jaar gevangenisstraf, en dus tot ‘n effektiewe totaal van 25 jaar gevangenisstraf.
Die appellant kom nou in hoër beroep teen die opgelegde vonnisse.
Die skuldigbevindings het gevolg op die appellant se pleit van skuldig en die feitebasis waarop hy skuldig gepleit het, en wat deur die aanklaer aanvaar is, is uiteengesit in die appellant se verklaring ingevolge artikel 112(2) van die Strafproseswet, 51 van 1977.
Daaruit blyk dit dat die appellant gedurende 1998 en 1999 by vyf geleenthede onsedelike dade gepleeg het met twee van sy stiefdogters, twee keer met die een (aanklagte 1 en 2) en drie keer met die ander (aanklagte 3, 4 en 5).
Die appellant is op aanklagte 1 en 2 skuldig bevind aan onsedelike aanranding, maar op aanklagte 3, 4 en 5 aan die oortreding van artikel 14(1)(a) van die Wet.
Hierdie onderskeid in die aard van die oortredings waaraan die appellant se onsedelike dade hom skuldig gemaak het, is getref op die basis dat, alhoewel dit duidelik was dat beide die klaagsters feitelik toegestem het tot die dade, daar bevind is dat die klaagster in aanklagte 1 en 2 onder die ouderdom van 12 jaar was ten tye van die voorvalle en daar van die standpunt uitgegaan is dat haar toestemming tot die dade dus nie regsgeldig kon gewees het nie.
In die lig daarvan dat die appèl nie teen die skuldigbevindings gerig is nie, is dit nie nodig om oorweging te verleen aan die vrae:
of die gemeenregtelike vermoede dat ‘n meisie onder 12 jaar oud nie regsgeldiglik kan toestem tot gemeenskap nie (sien S v W en ‘n Ander 2004 (1) SACR 460 (KPA) op 468i-j en R v Z 1960 (1) SA 739 (AA) op 743A) ook van toepassing sou wees op ‘n geval waar daar nie gemeenskap plaasgevind het nie, maar bloot ‘n onsedelike daad.
(sien Socout Ally v Rex 1907 TS 336, Rex v Sideropoulos 1910 CPD 15, S v Ncanywa 1992 (1) SACR 209 (CK) op 229 en S v A 1990 (2) SACR 266 (ZS). In artikel 57(1) van die nuwe Wet 32 van 2007 word nou duidelik bepaal dat ‘n kind onder die ouderdom van 12 jaar nie kan toestem tot enige seksuele daad nie); en
of dit uit die appellant se verklaring duidelik was dat die klaagster op aanklagte 1 en 2 ten tye van die voorvalle waarby sy betrokke was, wel nog onder die ouderdom van 12 jaar oud was.
(In sy verklaring het die appellant in hierdie verband bloot verklaar dat die betrokke klaagster 11 jaar oud was toe hulle in 1998 in Ventersburg gewoon het, en is nie spesifiek gehandel met hoe oud sy was toe die dade gedurende April 1999 met haar gepleeg is nie).
Ek meen in elk geval dat dit vir die doeleindes van die vonnisse op aanklagte 1 en 2 weinig verskil sou maak.
In die geval van aanklagte 1 en 2 het die appellant die klaagster gesoen, haar privaatdeel betas en met sy vinger penetreer, sy privaatdeel tussen haar bene beweeg (maar nie in haar privaatdeel nie) en homself voor haar betas.
In die geval van aanklagte 3, 4 en 5 het die appellant die klaagster gesoen, haar borste en privaatdeel betas, haar privaatdeel met sy vinger penetreer, toegelaat dat sy ook sy eie privaatdeel betas en ook met sy privaatdeel tussen haar bene beweeg (maar eweneens nie haar privaatdeel penetreer nie).
Die skuldigbevindings aan die oortreding van artikel 14(1)(a) van die Wet is dus duidelik verkeerd. Daar het nie tussen die appellant en die betrokke klaagster “vleeslike gemeenskap”, soos bedoel in artikel 14 (1) (a), gelees met artikel 1 van die Wet, plaasgevind nie. Hy het wel onsedelike dade met haar gepleeg, soos bedoel in artikel 14(1)(b) van die Wet, en moes dus op aanklagte 3, 4 en 5 aan oortredings van daardie artikel skuldig bevind gewees het. Ek meen dus dat die skuldigbevindings op aanklagte 3, 4 en 5 in die uitoefening van hierdie Hof se inherente jurisdiksie sodanig gewysig moet word.
Dit sou egter nie die vonnisse op die betrokke aanklagte onbevoeg maak nie, aangesien dieselfde vonnisvoorskrifte deur die wetgewer neergelê is ten aansien van beide tipe oortredings.
Die appellant was tydens vonnisoplegging (op 23 Mei 2000) ‘n 43 jarige man met geen vorige veroordelings hoegenaamd nie. Hy was ten tye van die gebeure met die klaagsters se moeder getroud, maar is later van haar geskei. Die appellant het egter ook drie kinders van sy eie, wat ten tye van die verhoor maar 5, 6 en 7 jaar oud was. Daar is geen aanduiding dat die streeklanddros by oorweging van vonnis hierdie feit in ag geneem het nie.
Die streeklanddros het tereg van die standpunt uitgegaan dat, alhoewel daar nie sulke getuienis was nie, die dade ‘n psigiese impak op die klaagsters sou hê (vergelyk S v V 1994 (1) SASV 598 (A) op 601d).
Verder was die streeklanddros korrek om te bevind dat die appellant sy vertrouensposisie jeens die klaagsters, wat as die dogters van sy eggenote saam met hulle gewoon het, misbruik het.
Die streeklanddros was ook korrek om die gereelde voorkoms van die misdryf in ag te neem, en om van die standpunt uit te gaan dat die howe kinders moet beskerm (vergelyk S v Myburgh 2007 (1) SACR 11 (WLD)).
Verder is die misdade duidelik tot ‘n groot mate bepland gepleeg.
Wat versagtend was, is dat die appellant opregte berou getoon het en skuldig gepleit het, dat in minstens een van die gevalle die 13 jarige klaagster hom blatant aanleiding gegee het en meegedoen het aan die dade, dat daar geen fisiese beserings opgedoen is nie, dat hy, wanneer ‘n klaagster gekla het dat sy seerkry as hy haar privaatdeel met sy vinger gepenetreer het, dadelik daarmee opgehou het en dat die appellant voor vonnisoplegging alreeds meer as ‘n jaar verhoorafwagtend in hegtenis verkeer het.
Die streeklanddros het in Januarie 2008 aan die appellant verlof tot appèl teen sy vonnisse verleen en opgemerk “ek twyfel of ‘n ander Hof ‘n ander vonnis sou oplê, maar moontlik kan die Hof sê dat van hierdie vonnisse samelopend uitgedien behoort te word”.
Die streeklanddros het by vonnisoplegging ‘n ooglopende mistasting begaan deur van die standpunt uit te gaan dat op elk van die aanklagte die appellant vyftien jaar gevangenisstraf opgelê kon gewees het. Die maksimum termyn gevangenisstraf wat in artikel 22(f) van die Wet voorgeskryf was vir ‘n oortreding van die bepalings van artikel 14(1) was 6 jaar gevangenisstraf (met of sonder ‘n boete wat, ten tye van die herroeping van die Wet, bepaal was op ‘n maksimum van R12 000,00) en ten aansien van die misdaad van onsedelike aanranding (sonder die toediening van liggaamlike leed) bestaan daar geen voorgeskrewe vonnis nie.
Reeds op hierdie basis sou inmenging met die vonnisse dus geregverdig wees.
Ek is egter ook van oordeel dat nie slegs die afsonderlike vonnisse nie, maar ook die kumulatiewe effek daarvan, skokkend onvanpas is.
In S v O 2003 (2) SACR 147 (KPA) het die Hof op appél ‘n ontleding gedoen van die vonnisse wat oor ‘n periode van byna vyftig jaar opgelê is in gevalle waar kinders onsedelik aangerand is of daar met hulle onsedelike dade gepleeg is ter oortreding van die bepalings van die Wet. Hieruit het geblyk dat daar in die betrokke periode slegs vyf keer gevangenisstraf van meer as 2 jaar opgelê is, dat in ander sake korrektiewe toesig ingevolge artikel 276(1)(i) van die Strafproseswet opgelê is en dat in vier van die sake (drie waarvan in die Appélafdeling) vonnisse opgelê is of bekragtig is wat geen element van direkte gevangenisstraf behels het nie.
Dit is dus duidelik dat die afsonderlike vonnisse wat die appellant hier op elke aanklag opgelê is, drasties swaarder is as die norm wat geblyk het uit die ontleding van vonnisse in daardie periode.
Alhoewel dit vanselfsprekend is dat die feite van elke saak sal verskil, beteken dit nie dat daar nie gelet moet word op die vonnisse wat in ander gevalle opgelê is nie (sien S v O, supra, op 156g-h en S v McMillan 2003 (1) SACR 27 (SCA)).
Ek gaan slegs na enkele beslissings verwys waarvan die feite, alhoewel nie dieselfde as die onderhawige feite nie, tog tersaaklik is vir die doeleindes van die oorweging van die opgelegde vonnisse en die vraag of hulle, selfs ook afsonderlik, van pas sou wees.
In S v V 1991 (1) SASV 59 (T) het die 43 jarige appellant sy 11 jarige niggie, teenoor wie hy in ‘n vertrouensverhouding gestaan het en wat verstandelik effens vertraag was, onsedelik aangerand. Op appél was sy vonnis 3 jaar gevangenisstraf, waarvan die helfte opgeskort is.
In S v V 1993 (1) SASV 736 (O) het die 30 jarige appellant oor ‘n periode van sewe jaar onsedelike dade gepleeg met sy stiefdogter, wat aan die begin daarvan maar slegs 5 jaar oud was. Die appellant was ook ‘n eerste oortreder en het ‘n bestendige werksrekord gehad. ‘n Vonnis van 3 jaar korrektiewe toesig ingevolge artikel 276(1)(h) van die Strafproseswet is op appél bekragtig.
In S v L 1998 (1) SASV 463 (HHA) het die appellant by drie geleenthede gemeenskap met die 13 jarige dogter van sy minnares gehad ter oortreding van artikel 14(1)(a) van die Wet. Hy was ‘n eerste oortreder wat skuldig gepleit het en het ‘n uitstekende werksrekord gehad. Sy vonnis (op aldrie aanklagte saamgeneem) van 4 jaar gevangenisstraf is op appèl bekragtig, alhoewel opgemerk is dat die vonnis “ongetwyfeld swaar” was en dat die oorweging van korrektiewe toesig (selfs soos bedoel in artikel 276(1)(h) van die Strafproseswet) nie onvanpas sou gewees het nie. Van belang is natuurlik dat daardie appellant gemeenskap gehad het met die klaagster, en nie bloot ‘n onsedelike daad met haar gepleeg het nie.
In S v W, supra, is die appellant ondermeer skuldig bevind op twee aanklagte van die oortreding van artikel 14(1)(a), dit wil sê weer op die basis dat hy met die 9 jarige klaagster gemeenskap gehad het, en op elke aanklag gevonnis tot 3 jaar gevangenisstraf. Daar is gelas dat altwee die betrokke vonnisse moes saamloop met ‘n vonnis van 15 jaar gevangenisstraf, wat die appellant op ‘n verdere aanklag van verkragting opgelê is.
Ook in S v Fhetani 2007 (2) SACR 590 (SCA) was daar gemeenskap tussen die 23 jarige appellant en die 15 jarige klaagster. Op die basis dat die klaagster daartoe toegestem het, is die appellant skuldig bevind aan ‘n oortreding van artikel 14(1)(a) van die Wet. Op appèl is beslis dat ‘n vonnis van 3 jaar gevangenisstraf die gepaste sou wees (teen die agtergrond daarvan dat die appellant toe alreeds 5 jaar lank besig was om die vonnis van 15 jaar gevangenisstraf wat hy in die verhoorhof opgelê is, uit te dien) en is gelas dat die appellant dadelik vrygelaat moes word.
Ek het ook kennis geneem van die feite in die beslissing van S v Myburgh, supra. Die appellant in daardie geval was skuldig aan twee aanklagte van openbare onsedelikheid en vyf aanklagte van onsedelike aanranding, almal ten aansien van kinders. Hy is op die aanklagte vonnisse opgelê wat gewissel het tussen 18 maande gevangenisstraf en 24 maande gevangenisstraf en daar is gelas dat hulle sodanig samelopend uitgedien moes word dat sy vonnis uiteindelik effektief een van 10 jaar en 6 maande gevangenisstraf sou wees. Op appèl is hierdie vonnisse bekragtig.
Die ouderdomme van die slagoffers en die besonderhede van die onsedelike aanrandings blyk ongelukkig nie uit dié verslag nie. Die betrokke appellant het alle skuld ontken totdat hy getuig het ter strafversagting, toe hy vir die eerste keer skuld erken het, en daar is dus bevind dat hy nie opregte berou gehad het oor sy dade nie.
Van belang egter, ten spyte van dié duidelike punte van onderskeid tussen die feite van daardie geval en dié van die onderhawige geval, is dat die Hof in S v Myburgh opgemerk het dat die afsonderlike vonnisse nie die 2 jaar “benchmark” wat geblyk het uit die ontleding in S v O oorskry het nie en, verder, dat die totaal van 10 jaar en 6 maande gevangenisstraf wel ‘n swaar vonnis was.
Om terug te keer na die feite van die onderhawige geval, meen ek dat, alhoewel ook hier ongelukkig geen getuienis voor die Hof geplaas is ten aansien van wat dit was wat die appellant beweeg het tot die pleeg van die dade nie, en daar dus tot ‘n mate onsekerheid oor sy vooruitsigte van rehabilitasie mag bestaan, daar geen regverdiging kan bestaan daarvoor om hom vir 25 jaar lank in te kerker nie.
In die lig daarvan dat:
die klaagster in aanklagte 1 en 2 jonger was as dié in aanklagte 3, 4 en 5;
die dade wat die onderwerp van aanklagte 1 en 2 gevorm het, plaasgevind het nadat die beskuldigde hom alreeds minstens een keer skuldig gemaak het aan soortgelyke optrede met die ouer klaagster en van beter moes geweet het; en
daar, anders as die geval met die ouer klaagster, nie aanduidings is dat die jonger klaagster ooit van haar kant die appellant aanleiding gegee het nie,
meen ek dat daar ‘n onderskeid getrek behoort te word tussen die vonnisse ten aansien van dié twee groepe aanklagte.
Die feit dat die appellant nou al meer as 8 jaar lank besig is om gevangenisstraf uit te dien op hierdie aanklagte, sal onvermydelik ‘n rol speel by die oorweging van die aard van die vonnis of vonnisse wat nou prakties en billik teenoor die appellant en die gemeenskap op appèl opgelê kan word.
Ek meen dat, in die geval van aanklagte 1 en 2, ‘n vonnis van 3 jaar gevangenisstraf ten aansien van elk van dié aanklagte in die omstandighede van pas sou wees. Omdat die betrokke oortredings egter so kort opmekaar gepleeg is, meen ek dat gelas behoort te word dat 2 jaar gevangenisstraf van die vonnis op aanlag 2 samelopend met dié op aanklag 1 uitgedien moet word.
Wat betref aanklagte 3, 4 en 5, meen ek dat dit op die feite duidelik is dat dit slegs in die geval van aanklag 3 was wat die appellant van meet af aan die inisiatief geneem het. Aan die ander kant was daardie oortreding duidelik die eerste van die reeks oortredings wat die appellant uiteindelik gepleeg het.
In die geval van aanklag 4 het die ouer klaagster die appellant blatant uitgelok en ook deelgeneem aan wat toe daar gebeur het. In die geval van aanklag 5 het dieselfde klaagster ook hand om die lyf met die appellant, wat sy geweet het haar voorheen al betas het en sulke dade met haar gepleeg het, die veld ingestap en ook toe van haar kant meegedoen, onder andere deur haar hand by die appellant se broek in te druk.
Ek meen dat, weereens in die omstandighede waarmee hierdie Hof nou gekonfronteer sit, ‘n vonnis van 2 jaar gevangenisstraf op aanklag 3 gepas sou wees, terwyl vonnisse van 1 jaar gevangenisstraf op elk van aanklagte 4 en 5 gepas sou wees.
In die lig van die voorgaande sou ek die volgende bevele maak:
Die verwysing na artikel 14(1)(a) van Wet 23 van 1957 in die skuldigbevindings ten aansien van aanklagte 3, 4 en 5 word geskrap en vervang met ‘n verwysing na artikel 14(1)(b) van die gemelde Wet.
Die appèl teen die vonnisse op aanklagte 1, 2, 3, 4 en 5 slaag en hulle word tersyde gestel en vervang met die volgende:
Aanklag 1: 3 jaar gevangenisstraf.
Aanklag 2: 3 jaar gevangenisstraf.
Aanklag 3: 2 jaar gevangenisstraf.
Aanklag 4: 1 Jaar gevangenisstraf.
Aanklag 5: 1 jaar gevangenisstraf.
Dit word gelas dat ‘n periode van twee jaar gevangenisstraf van die vonnis op aanklag 2 samelopend uitgedien word met die vonnis op aanklag 1.
Die voormelde vonnisse van gevangenisstraf ten aansien van al vyf aanklagte word teruggedateer na 23 Mei 2000.
________________________
C J OLIVIER
REGTER
NOORD-KAAPSE AFDELING
Ek stem saam en dit word so gelas:
________________________
C C WILLIAMS
REGTER
NOORD-KAAPSE AFDELING
Nms Applikant: Adv J Cloete
Regshulpsentrum, Kimberley
Nms Respondente: Adv C Kersten
Direkteur van Openbare Vervolgings, Kimberley

RTF format