South Africa: Northern Cape High Court, Kimberley
You are here: SAFLII >> Databases >> South Africa: Northern Cape High Court, Kimberley >> 2008 >> [2008] ZANCHC 42 | Noteup | LawCiteSaamwerk Soutwerke (Edms) Bpk v Sans Cuici Agri (Edms) Bpk (1176/2008) [2008] ZANCHC 42 (19 September 2008)
Download original files | Bookmark/Share this page |
Verslagwaardig: Ja / Nee
Sirkuleer aan Regters: Ja / Nee
Sirkuleer aan Landdroste: Ja / Nee
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse Afdeling)
Saaknommer: 1176/2008
Datum Verhoor: 2008-09-05
Datum Gelewer: 2008-09-19
In die saak van:
SAAMWERK SOUTWERKE (EDMS) BPK APPLIKANT
versus
SANS CUICI AGRI (EDMS) BPK RESPONDENT
Coram: MAJIEDT R
UITSPRAAK
MAJIEDT R:
Op 20 Augustus 2008 het die Applikant op ‘n dringende, ex parte basis, ‘n bevel in kamers verkry waarvolgens die Respondent gelas is om ‘n plaashek oop te sluit en oop te hou sodat die Applikant toegang tot ‘n sekere grondgedeelte (hierna saaklikheidshalwe bloot na verwys as “die eiendom”) kon bekom ten einde sy mynreg uit te oefen. Verder is die Respondent verbied om op enige wyse in te meng met die Applikant se toegang tot die grond en die uitoefening van sy mynreg.
Die voormelde bevel het eers om ongeveer 20h30 op 20 Augustus 2008 tot Mnr. Stefanus Malan, die besturende direkteur van die Respondent (“Malan”), se kennis gekom (luidens sy opponerende eedsverklaring). Daar is toe op die volgende dag (21/8/08) stukke namens die Respondent geliasseer vir die heroorweging van die aansoek ingevolge Hofreël 6(12)(c). Daarvolgens is ‘n kennisgewing geliasseer waarin aangevra is dat die bevel van 20 Augustus 2008 tersyde gestel word en dat die aansoek sine die uitgestel word. ‘n Meegaande opponerende eedsverklaring van Malan is ook geliasseer.
Op 21 Augustus 2008, is ‘n bevel uitgereik dat:
a) die aansoek vir heroorweging ingevolge art 6(12)(c) uitgestel word na 5 September 2008;
b) die tussentydse bevel van 20 Augustus 2008 bly staan, onderhewig daaraan dat die Applikant verbied word om hangende die afhandeling van die aansoek op 5 September 2008 enige sout (reeds ontgin of ontgin te word) van die eiendom te verwyder; en
c) daar is geleentheid gebied aan die Respondent om, indien hy so verkies, ‘n aanvullende opponerende eedsverklaring te liasseer voor of op 27 Augustus 2008 en ‘n soortgelyke geleentheid is gebied aan die Applikant vir die liassering van ‘n repliserende eedsverklaring voor of op 1 September 2008, indien hy so verkies.
Die Respondent het ‘n aanvullende opponerende eedsverklaring geliasseer binne die tydsraamwerk soos in die hofbevel van 21 Augustus 2008 hierbo bepaal. Daarin vul Malan namens die Respondent die beweringe in sy vorige opponerende eedsverklaring aan en heg hy ook eedsverklarings aan van sy prokureur en van sy seun en dogter aangaande die verwydering van sout op die eiendom. In die aanvullende opponerende eedsverklaring verwys Malan ook na ‘n voorwaardelike teenaansoek, wat ek aanstons breedvoerig sal bespreek.
Die Applikant het ‘n repliserende eedsverklaring, gedateer 4 September 2008, maar eers deur my ontvang ongeveer ‘n uur voor die aanvang van die verrigtinge op 5 September 2008, geliasseer.
Hierdie verrigtinge is die jongste in ‘n lang reeks hofsake tussen die partye. Helaas is dit “nog het einde niet” want, soos wat later hieruit sal blyk, sal die partye verseker nog weer ‘n draai of twee in hierdie Hof kom maak.
‘n Kort agtergrondskets van die partye se voormelde skermutselinge is nodig:
7.1 ‘n Regsentiteit bekend as Saamwerk Soutwerke BK, het voorheen sout ontgin op Respondent se plaas, Eenzaamheid (“die eiendom”). Die sout is gemyn ooreenkomstig ‘n notariële minerale huurkontrak tussen die voormelde BK en die eienaars van die eiendom. Malan beweer in sy opponerende stukke dat die BK egter nooit oor die vereiste magtiging vanaf die owerhede beskik het om die sout te ontgin nie en vir dié rede (só beweer Malan) het die ontginde southope op die plaas bly lê in hope vanaf November 2004 tot die onlangse verlede. Die voormelde beweringe deur Malan is nie ernstig betwis deur die Applikant se deponent, Du Toit, nie.
7.2 Na verstryking van die voormelde huurkontrak en wel gedurende Desember 2004, het Malan ‘n toegangshek tot die eiendom gesluit. Die BK het ‘n spoliasie-aansoek in hierdie Hof gebring, welke aansoek suksesvol was.
7.3 Hierna het die huidige Respondent en Malan (persoonlik) ‘n aansoek in hierdie Hof gebring vir die uitsetting van onder andere die BK vanaf die eiendom, welke aansoek eweneens suksesvol was.
7.4 Gedurende Mei 2005 het die Applikant ‘n aansoek vir die myn van sout op die eiendom ingedien en Malan het in sy persoonlike hoedanigheid ‘n soortgelyke aansoek ingedien, ongeveer 13 dae voor dié van die Applikant. Ek sal later handel met hierdie betrokke aspek.
7.5 Malan is in kennis gestel dat sy voormelde aansoek afgewys is op 29 Augustus 2006. Hy het daarna onverwyld appél aangeteken teen sodanige afwysing ooreenkomstig die wetlike voorskrifte.
7.6 Op 6 Desember 2006, terwyl Malan se voormelde appél nog hangende was, het die Minister van Minerale en Energie die Applikant se aansoek vir ‘n mynreg toegestaan.
7.7 Geen uitvoering is egter gegee aan die voormelde verleende mynreg nie en het die Applikant, sonder dat die Respondent of Malan daarvan kennis gekry het of ‘n party daartoe was, ‘n aansoek gebring by hierdie Hof om die Minister te verplig om die verleende mynreg uit te voer. Dié aansoek is op 20 April 2007 toegestaan.
7.8 Nadat Malan bewus geword het van die aansoek en die bevel soos voormeld, het hy namens die Respondent dadelik aansoek gedoen vir die tersydestelling van die bevel en is die bevel dan ook tersyde gestel op 16 November 2007.
7.9 Die Applikant het op sy beurt weer teen die voormelde tersydestellingsbevel appél aangeteken, welke appél nog hangende is in hierdie Hof (uiteraard na ‘n Volbank).
7.10 Op 16 Julie 2008 het die Minister Malan se appél teen die weiering van sy aansoek (sien para 7.5 supra) afgewys en is die Applikant se mynreg notarieel uitgevoer, ooreenkomstig sy suksesvolle aansoek (sien para. 7.6, supra).
7.11 Hierna het die Applikant sy onderhawige aansoek na hierdie Hof gerig, ex parte en op ‘n dringende basis, soos alreeds vermeld. Malan, wat die onsuksesvolle aansoeker was ten aansien van ‘n mynreg op dieselfde eiendom, is ook nie as ‘n party gesiteer nie.
Namens die Respondent het Mnr. Wessels SC die rede vir ‘n voorwaardelike teenaansoek en gepaardgaande kondonasie-aansoek as volg gemotiveer tydens sy betoog:
Daar bestaan ‘n verdeeldheid van siening in ons Howe aangaande die vraag of ‘n party wat die heroorweging van ‘n hofbevel in sy afwesigheid verleen aanvra ingevolge Reël 6(12)(c), geregtig is om ondersteunende eedsverklarings te liasseer.
In ISDN Solutions (Pty) Ltd v CSDN Solutions CC and Others 1996(4) SA 484(W) te 487 D-C het Faber WnR aangedui dat dit wenslik is dat só ‘n party ‘n eedsverklaring liasseer:
“Something need be said about procedure. Although no hard and fast rule need be laid down, it seems desirable that a party seeking to invoke the Rule ought in an affidavit to detail the form of reconsideration required and the circumstances upon which it is based.
In The Reclamation Group (Pty) Ltd v Smit and Others 2004(1) SA215 SECLD het die Hof opponerende, repliserende en selfs dupliserende eedsverklaring toegelaat.
Froneman R maak die volgende opmerkings aangaande hierdie aspek te 218 D-F:
“The result of all this is that the reconsideration of the matter needs to be done on the basis of a set of circumstances quite different to that under which the original ex parte order was obtained. Reconsideration need not always take this form but Rule 6(12)(c) is widely formulated and in my view permits a reconsideration in this manner (cf Lourenco and Others v Ferela (Pty) Ltd and Others (No 1) 1998 (3) SA 281 (T) at 290A - H). The consequences of this are twofold. The first is that the issues are to be reconsidered in the light of the fact that both sides of the story are now before court. The second is that the execution of the original order may have had the effect that those issues are not exactly the same as the issues before Court when the original application was heard.”
‘n Teenoorgestelde mening is egter uitgespreek deur Joffe R in Rhino Hotel and Resort (Pty) Ltd v Forbes and Others 2001(1) SA 1180 (W) te 1182 E:
“Where rule 6(12)(c) is utilised, the original application is reconsidered on its own without reference to anything else.”
Ek verkies die benadering in die ISDN Solutions en Reclamation Group beslissings hierbo. Die oogmerk van dié reël is dan juis om aan ‘n gegriefde party ‘n meganisme te bied:
“…. to redress imbalances in, and injustices and oppression flowing from an order granted as a matter of urgency in his absence. In circumstances of urgency where an affected party is not present, factors which might conceivably impact on the content and form of an order may not be known to either the applicant for urgent relief or the Judge required to determine it”
(per Faber WnR, in die ISDN Solutions saak, supra, te 487 D).
Sien ook: National Director of Public Prosecutions v Braun and Another 2007(1) SA 189 (C) te 194B.
Dit is derhalwe na my mening, met respek, beswaarlik haalbaar om, soos Joffe R dit benader, die oorspronklike aansoek te heroorweeg “without reference to anything else” (in die Rhino Hotel saak, supra).
Volgens Mnr. Wessels is die voorwaardelike teenaansoek en kondonasie-aansoek as’t ware dus as ‘n voorwaardelike alternatief gebring indien hierdie Hof die benadering van Joffe R in die Rhino Hotel saak sou volg. Gegewe my voorafgaande bevindinge is dit derhalwe nie nodig om enigsins verder te handel met die voorwaardelike teenaansoek nie. Ek volstaan deur bloot daarop te wys dat dié voorwaardelike teenaansoek gemik was daarop om die hofbevel van 20 Augustus 2008 herroep of opgeskort te kry, hangende die finale beregting van hersieningsaansoeke wat ingestel sou word vir die tersydestelling van die Minister se afwysing van Malan se appél en vir die tersydestelling van die besluit om Applikant se aansoek vir ‘n mynreg toe te staan.
Gevolglik is daar nou voor hierdie Hof:
11.1 Enersyds, ‘n aansoek vir heroorweging van die hofbevel van 20 Augustus 2008, aangevra deur die Respondent; en
11.2 Andersyds, ‘n aansoek deur Applikant, vir uitstel van die bekragtiging van die tussentydse bevel van 20 Augustus 2008 en ‘n gepaardgaande kostebevel. Daarmee saam vra die Applikant vir kondonasie van die laat liassering van sy repliserende eedsverklaring.
Ek is dit eens met Mnr. Wessels dat die benadering in Plascon-Evans Paints (Pty) Ltd v Van Riebeeck Paints (Pty) Ltd 1984(3) SA 620 (A) te 634 G – 635 C ook geld by reël 6(12)(c)-aansoeke. Ek pas dan ook hierdie benadering in casu toe.
Dit is ‘n geykte beginsel dat uberrimae fides ‘n absolute vereiste is wanneer ‘n Applikant ‘n Hof nader op ‘n ex parte basis. Alle tersaaklike feite, tot die kennis van ‘n Applikant moet openbaar word.
Sien in die algemeen:
United Watch and Diamond Co Ltd v Disa Hotels Ltd 1972(4) SA 409 (C) te 413 D;
Absa Bank Ltd v Ntsane 2007(3) SA 554 (T) te 563 I (par. 50).
Vir die redes wat later volg, is ek die mening toegedaan dat die Applikant versuim het om sekere wesenlik tersaaklike feite te openbaar tydens sy ex parte aansoek.
Ek ag dit nodig om eers kortliks te handel met Mnr. Smit, namens die Applikant, se submissies. Hy het aan die hand gedoen dat kondonasie aan die Applikant verleen behoort te word en dat die saak uitgestel moet word tot die keerdag van 17 Oktober 2008 of tot ‘n vervroegde keerdag en dat die Applikant intussen toegelaat moet word om te myn op die eiendom kragtens sy verleende mynreg. Hierdie submissie is grootliks gebaseer daarop dat:
a) die Applikant na Mnr. Smit se submissie huidiglik die enigste houer van ‘n mynreg op die eiendom is; en
b) die Respondent versuim het om, soos die hofbevel van 20 Augustus 2008 bepaal het, drie dae kennis te gee van die vervroeging van die keerdag; en
c) die Respondent nie ‘n saak vir dringendheid uitgemaak het vir die heroorwegingsaansoek nie en dat die kennisgewing daarvan aan die Applikant heeltemal te kort skiet; en
d) laastens en in die algemeen, dat die Respondent nie ‘n saak uitgemaak het vir die heroorweging van die hofbevel nie.
Alhoewel ek heeltemal bereid is om kondonasie te verleen aan die Applikant vir die laat liassering van die repliserende eedsverklaring, meen ek dat daar hoegenaamd geen rede bestaan waarom die verrigtinge nou verder uitgestel moet word nie. Daar is ‘n volledige stel eedsverklarings vanaf beide partye voor my en al die tersaaklike feite is nou voor my (anders as wat die geval was voor Moloi WnR toe hy die bevel op 20 Augustus 2008 toegestaan het, soos wat ek sal aantoon). Boonop en in elk geval is daar verskeie kardinale oorweginge wat my daartoe noop om eerder die aangeleentheid nou af te handel. Daardie oorweginge slaan grootliks op die feit dat ‘n aantal wesenlik tersaaklike feite nie aan Moloi WnR geopenbaar is op 20 Augustus 2008 nie. Ek bespreek vervolgens hierdie feite.
16.1 Mnr. Wessels het gesubmitteer dat die dringende, ex parte aansoek bloot maar ‘n dekmantel was om die opgehoopte sout vanaf die eiendom te verwyder. Daar is veel te sê vir hierdie submissie. Die Applikant ontken nie dat hy basies al die opgehoopte sout vanaf die eiendom verwyder het nie. Wat onrusbarend is, is die feit dat sodanige verwydering klaarblyiklik onverpoosd voortgegaan het, selfs ná die bevel van 21 Augustus 2008, waarvolgens die Applikant belet is om enige sout verder vanaf die eiendom te verwyder (sien para. 3(b) hierbo). Op die Respondent se stukke staan dit vas dat sodanige verwydering ná die verlening van die voormelde hofbevel plaasgevind het. Die eedsverklarings van Malan se dogter, Elsofé, en van sy seun, Stephanus, sowel as dié van sy prokureur, Mnr. PS Lange en meegaande lugfoto’s wat Mnr. Lange op 25 Augustus 2008 van die soutpan geneem het, bevestig dié aspek.
16.2 Die Applikant het, by monde van Mnr. Smit, gesteun op die bepalings vervat in art 5(3)(c) van die Mineral and Petroleum Resources Development Act, 29 van 2002 (”die Wet”) as magtiging vir die verwydering van die southope vanaf die eiendom.
Artikel 5(3)(c) lees as volg:
“(3) Subject to this Act, any holder of a prospecting right, a mining right, exploration right or production right may-
(a) ……
(b) ….....
c) remove and dispose of any such mineral found during the course of prospecting, mining, exploration or production, as the case may be;
16.3 Mnr. Smit se beroep op art 5(3)(c) is heeltemal misplaas. Dit is gemene saak dat die opgehoopte sout gemyn is tussen 2002 en 2004 ingevolge ‘n notariële minerale huurkontrak en sonder dat die destydse Saamwerk Soutwerke BK ‘n geldige mynpermit daarvoor gehad het. Hierdie beweringe is nooit betwis nie; in elk geval aanvaar ek die Respondent se beweringe hieraangaande vir soverre dit in geskil mag wees op grond van die Plascon Evans-benadering.
Bowendien en in elk geval het die Applikant nooit gesteun op sodanige mynpermit nie en skitter só ‘n permit in sy afwesigheid op die Applikant se stukke.
Gevolglik dus kon Saamwerk Soutwerke BK nooit regtens aanspraak maak op die ontginde sout nie. Dít staaf ook die Respondent se beweringe dat die sout juis opgehoop het en nooit verwyder kon word nie, omrede die BK nooit ‘n mynpermit bekom het nie. Die opgehoopte sout het óf aan die Staat (onder die huidige wetsbepalings) óf moontlik aan die eienaars van die eiendom (onder die vorige wetsbepalings) behoort, maar beslis nie aan Saamwerk Soutwerke BK nie. Daar bestaan ook glad geen magtiging vir die huidige Applikant om die opgehoopte sout te verwyder nie. Sy nuut verleende mynreg kan tog nooit dien as magtiging om sout wat reeds gedurende November 2004 en vroeër ontgin is, te verwyder nie.
16.4 Vir die voormelde redes meen ek Mnr. Wessels is korrek in sy submissie dat:
a) die Applikant hoegenaamd geen magtiging uit hoofde van sy tans verleende mynreg gehad het om die sout te verwyder nie; en
b) die Applikant gruwelik versuim het om in sy dringende ex parte aansoek van 20 Augustus 2008 aan Moloi WnR die korrekte en volledige agtergrondfeite (soos in para. 7.1 tot 7.11 hierbo vermeld) en sy voorneme om die opgehoopte sout te verwyder, te openbaar.
16.5 Ek is dit eens met Mnr. Wessels dat, indien die korrekte en volledige stel agtergrondfeite sowel as Applikant se voorneme om onwettig die opgehoopte sout te verwyder (sodanige onwettigheid sou myns insiens blyk uit die agtergrondfeite se openbaarmaking), dan sou Moloi WnR, met respek, nie ‘n tussentydse bevel uitgereik het op 20 Augustus 2008 nie.
Die aspek in para. 16 hierbo behandel, gooi uiteraard ‘n donker skaduwee oor Applikant se bona fides hierin. Belangriker nog – dit stel per se gronde daar vir die tersydestelling van die ex parte tussentydse bevel. Daar is egter nog verdere gronde waarop die tussentydse bevel tersyde gestel behoort te word:
17.1 Die aansoek is op uiters dringende basis op 20 Augustus 2008 gebring sonder om kennis te gee, op grond daarvan dat die Applikant (by monde van du Toit) gevrees het dat Malan sy dreigement sou uitvoer om die southope te “saboteer”. Hierdie grond van dringendheid gaan glad nie op nie:
a) eerstens lê die sout natuurlik al vanaf November 2004 op die eiendom en kon Malan lankal dit gesaboteer het indien dit sy oogmerk was; en
b) selfs op Applikant se weergawe, by monde van ene Mnr. Hendriksz, ‘n konsultant, sou Malan al op 19 Augustus 2008 kennis gekry het van Applikant se (nuut verleende) mynreg en kon hy toé al sy gevreesde sabotasie uitgevoer het.
17.2 Du Toit beweer in Applikant se funderende eedsverklaring dat die Applikant reeds op 16 Mei 2005 aansoek vir ‘n mynreg gedoen het. Dié bewering is egter duidelik verkeerd, aangesien die Applikant eers op 1 Julie 2005 geregistreer is. Daar was dus nie aansoek gedoen deur ‘n “persoon” soos bedoel in art 22(1) van die Wet nie – Applikant het naamlik op 16 Mei 2005 nog nie bestaan as ‘n (regs)persoon nie.
17.3 Verder word beweer in para. 20 van die funderende eedsverklaring dat Saamwerk Soutwerke BK na ‘n private maatskappy (die huidige Applikant) omgeskakel is. Hierdie bewering is nie net onjuis nie, maar is tot die deponent, du Toit, se vooraf kennis verkeerd, wat ‘n onvermydelike afleiding regverdig dat dit ‘n doelbewuste valsheid is. Ek sê so omrede dieselfde deponent, du Toit, op 10 Oktober 2007 in ‘n dupliserende eedsverklaring namens die huidige Applikant in saaknr 540/2007 in hierdie Hof onder eed as volg verklaar het:
“Die rekenmeester het egter in oorleg met die lede van die BK (hier word natuurlik verwys na Saamwerk Soutwerke BK) aanbeveel dat die BK gederegistreer moet word en dat ‘n nuwe maatskappy opgerig moet word. Dit is gedoen, maar ek was nie bewus daarvan nie”.
Ek is geregtig om kennis te neem van vorige getuienis (by wyse van eedsverklarings), nie as getuienis in hierdie saak nie, maar bloot as tersaaklike vorige beweringe;
Vergelyk: Boyce N.O. v Bloem and Others 1960(3) SA 855 (T) te 863 C-D.
Ek kry die indruk (ek stel dit niks hoër nie) dat die onwaarheid doelbewus voorgehou is om die gedagte tuis te bring dat die huidige Applikant die regsopvolger is van die destydse BK, asof dít die Applikant nou sou magtig om die opgehoopte sout te verwyder.
17.4 Die Applikant het verder beweer in sy funderende stukke dat Malan, as wettige okkupeerder van dié eiendom, nie sy samewerking wou verleen om mee te doen aan konsultasies soos beoog in art 5(4)(c) van die Wet nie. Indien vir doeleindes van hierdie uitspraak aanvaar word dat dit wel die geval is (ek maak doelbewus nie ‘n bevinding hieraangaande nie), dan kan dit nooit ‘n basis vorm vir die aangevraagde regshulp nie. In só ‘n geval moet die houer van ‘n mynreg (soos Applikant hierin) die Hof nader vir ‘n bevel om die okkupeerder óf te verplig om deel te neem aan samesprekings óf om ‘n verklarende bevel te bekom dat sodanige samesprekings geag word plaas te gevind het.
17.5 Die Applikant se dringende, ex parte aansoek voor Moloi WnR op 20 Augustus 2008 was primêr daarop gemik om toegang tot die eiendom te bekom en om Malan/Respondent te belet om met die Applikant se mynbedrywighede in te meng. Artikel 54 van die Wet bied egter ‘n breedvoerige remedie in dié verband. Applikant het glad nie van dié artikel se bepalings gebruik gemaak nie en het inteendeel nie eers melding daarvan gemaak nie. Boonop is die gronde vir dringendheid aangevoer deur die Applikant op 20 Augustus 2008 ernstig onder verdenking, soos ek hierbo aangetoon het.
Ek is die respekvolle mening toegedaan dat, indien al hierdie korrekte, volledige tersaaklike feite, soos voormeld, voor Moloi WnR geplaas gewees het, die Applikant nie ‘n tussentydse bevel sou bekom het nie. Die prentjie lyk nou heeltemal anders as dié voorgehou aan Moloi WnR op ‘n dringende, ex parte basis.
In ‘n aansoek vir heroorweging ingevolge Reël 6(12)(c) het ‘n Hof ‘n wye diskresie en kan die bevel óf ten volle óf gedeeltelik geskrap, gewysig of uitgebrei word;
Sien: Erasmus, Superior Court Practice te B1-56C en gewysdes daar aangehaal.
In die onderhawige geval het die Respondent na my mening voldoende gronde voorgehou dat ek, in die uitoefening van my diskresie, die bevel nisi verleen op 20 Augustus 2008 kan ophef.
In sy mondelinge betoog het Mnr. Wessels versoek dat ek ook ‘n bevel moet maak ten aansien van die sout wat alreeds deur die Applikant verwyder is vanaf die eiendom. Só ‘n bevel, submitteer hy, behoort te lui dat die Applikant verbied word om die sout te vervreem of dat enige gelde ontvang uit die verkoop van die sout by die Respondent se prokureurs in trust inbetaal moet word, hangende die instel van die voorgenome hersieningsaansoeke deur die Respondent/Malan.
Ek is nie bereid om só ‘n bevel te maak nie, want dis nooit aangevra nie. Die Respondent mag in elk geval moontlik ‘n skadevergoedingseis hê en behoort hy redelik maklik die bedrag van sy skade te kan kwantifiseer.
Al wat oorbly is koste. Mnr. Wessels het in sy betoogshoofde gevra vir ‘n bestraffende kostebevel. Hierdie versoek is geregverdigd, veral na aanleiding van die Applikant se verswyging van wesenlik tersaaklike feite in die ex parte aansoek en die voorhou van verkeerde feite daarin (in ten minste een geval, doelbewus, soos ek hierinvantevore bevind het).
Hierdie is ‘n gepaste geval om, in die uitoefening van my diskresie, ‘n bestraffende kostebevel te maak;
Vergelyk: Audio Vehicle Systems v Whitfield 2007(1) SA 434 (C) te 443 C-D.
Rhino Hotel & Resort (Pty) Ltd v Forbes and Others, supra te 1185 A-B.
Ek reik die volgende bevel uit:
22.1 Die laat liassering van die Applikant se repliserende eedsverklaring word gekondoneer.
22.2 Die bevel nisi van 20 Augustus 2008 word in sy geheel opgehef.
22.3 Die Applikant word gelas om die Respondent se koste, ingesluit die koste wat oorgestaan het op 21 Augustus 2008, te betaal op ‘n skaal soos tussen prokureur en kliënt.
____________
SA MAJIEDT
REGTER
NAMENS APPLIKANT : ADV K SMIT
IN OPDRAG VAN : VAN DE WALL EN VENNOTE
NAMENS RESPONDENT : ADV MH WESSELS SC
IN OPDRAG VAN : DUNCAN & ROTHMAN

RTF format