South Africa: Northern Cape High Court, Kimberley

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Northern Cape High Court, Kimberley >> 2008 >> [2008] ZANCHC 19

| Noteup | LawCite

S v Williams (10/2007) [2008] ZANCHC 19 (18 April 2008)

Download original files

PDF format

RTF format

Bookmark/Share this page

Bookmark and Share

Rapporteerbaar: Ja / Nee

Sirkuleer onder Regters: Ja / Nee

Sirkuleer onder Landdroste: Ja / Nee

Sirkuleer onder Streeklanddroste: Ja / Nee


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(Noord-Kaapse Afdeling)


Saak No: 10/2007

Datum gelewer: 18/04/2008

In die saak tussen:



    1. DIE STAAT


en


    1. HILTON WILLIAMS


UITSPRAAK OP HERSIENING


Olivier R:


  1. Die beskuldigde is op 27 Maart 2002 in die Streekhof te Upington skuldig bevind aan moord en gevonnis tot 15 jaar gevangenisstraf.


  1. Op 15 November 2006 het die betrokke streeklanddros, by oorweging van ʼn aansoek om kondonasie en om verlof om te appelleer, gelas dat die aangeleentheid op spesiale hersiening gestuur word, en wel omdat dit geblyk het dat die meganiese opname van die destydse verrigtinge in die streekhof verlore is en dat die oorkonde op geen wyse gerekonstrueer kan word nie.


  1. Die dokumentasie in die bogemelde aansoeke is op 6 Desember 2005 deur die Klerk van die Landdroshof te Upington ontvang. Die beskuldigde het as rede vir hierdie vertraging aangevoer dat hy wel destyds binne die voorgeskrewe periode van 14 dae ná sy skuldigbevinding en vonnis in die gevangenis ʼn aansoek om verlof tot appèl oorhandig het aan ene mnr S D Freeman, ʼn beampte wat aldaar in diens van die Departement van Korrektiewe Dienste was. Volgens die beskuldigde het mnr Freeman by daardie geleentheid aan hom verduidelik dat hy ʼn geruime tyd sou moes wag vir terugvoering.


  1. Toe die beskuldigde volgens hom egter later besef het dat ander gevangenes wat later as hy stappe geneem het om aansoek te doen om verlof tot appèl al terugvoering ontvang het, het hy besef dat mnr Freeman nie sy aansoek om verlof tot appèl behoorlik geprosesseer en hanteer het nie en het hy dadelik stappe geneem om die onderhawige aansoek om kondonasie en verlof tot appèl ingedien te kry.


  1. Volgens die beskuldigde het dieselfde lot destyds meerdere ander gevangenes se aansoeke om verlof tot appèl getref.


  1. Hierdie beweringe van die beskuldigde sou op die oog af na my oordeel ʼn behoorlike verduideliking vir die vertraging daargestel het. Daar is nie namens die Staat enigiets aangebied ter weerlegging daarvan nie en gevolglik sal daar aanvaar moet word dat hierdie beweringe van die beskuldigde korrek is.


  1. Vir die behoorlike beregting van die aansoek om kondonasie sou die beskuldigde egter ook moes aangetoon het dat daar redelike vooruitsigte van sukses in sy aansoek om verlof tot appèl en in ʼn appèl sou wees (sien S v Thobakgale and Others 1998 (1) SACR 703 (WLD)).


  1. Die beskuldigde het as gronde van appèl teen sy skuldigbevinding aangevoer dat hy eintlik aan strafbare manslag skuldig bevind moes gewees het, oënskynlik op die basis dat hy die perke van noodweer oorskry het. Hy het ook ʼn verskeidenheid van gronde ten aansien van die vonnis uiteengesit.


  1. Die probleem was egter dat die streeklanddros wat die saak verhoor het, niks meer daarvan kon onthou nie. Sonder insae in die oorkonde sou die betrokke streeklanddros dus nie kon oorweeg of die beskuldigde se gronde op die afgelegde getuienis redelike vooruitsigte op sukses sou inhou nie. As gevolg hiervan was die streeklanddros dus nie in staat om die beskuldigde se aansoek om verlof tot kondonasie te beslis nie (en sou hy ook nie in staat gewees het om die aansoek om verlof tot appèl te beslis nie).


  1. Die afwesigheid van die oorkonde het dus, op die inligting wat voor die streeklanddros gedien het, in effek verhoed dat die beskuldigde sy grondwetlike reg van appèl uitoefen (sien artikel 35(3)(o) van die Grondwet, 108 van 1996).


  1. Daar is geen aanduiding dat die beskuldigde self te blameer is vir die feit dat die bande weg is of vir die onvermoë van alle betrokkenes om ʼn rekonstruksie te bewerkstellig nie (vergelyk S v van Staden, ʼn ongerapporteerde uitspraak op hersiening in hierdie afdeling onder saaknommer 105/2007, gelewer op 28 Maart 2008).


  1. Op die inligting wat voor die streeklanddros gedien het, sou die beskuldigde se skuldigbevinding en vonnis dus tersyde gestel moes word en was die streeklanddros korrek om die saak onder sodanige bepaalde omstandighede op spesiale hersiening te stuur.


  1. Hierdie Hof het reeds voorheen verwys na die feit dat swak administrasie by die Upington Landdroskantoor lei tot hierdie tipe situasies. Die frustrasie en wanhoop wat dit op alle waarskynlikhede veroorsaak by die publiek daarbuite en by alle persone wat betrokke is by misdaad-ondersoek en regspleging, veral by ernstige misdade soos hierdie, spreek vanself.


  1. Wat dit in hierdie geval vererger, is die feit dat die beskuldigde in ʼn latere beëdigde verklaring (rondom die vraag of die rekord gerekonstrueer kon word) aangevoer het dat hy nou ook niks meer van sy eie weergawe kan onthou nie; terwyl hy dit net meer as 2 jaar tevore nog goed genoeg kon onthou het om gronde van appèl te kon formuleer.


  1. Hierdie tipe ommeswaai sou natuurlik ʼn vraagteken oor die beskuldigde se bona fides kon plaas.


  1. Dit sou verder, indien dit deel sou gewees het van die inligting wat voor die streeklanddros gedien het op die stadium toe die beskuldigde aansoek gedoen het om kondonasie en om verlof tot appèl, in effek beteken het dat die beskuldigde op sy eie weergawe geen gronde van appèl hoegenaamd aangevoer het nie, dit wil sê stellings oor in watter opsigte die skuldigbevinding en vonnis op die getuienis aanvegbaar sou gewees het. In sulke omstandighede sou die beskuldigde natuurlik nie voldoen het aan die vereiste gestel in artikel 309B(3)(a) van die Strafproseswet, 51 van 1977, nie (sien ook S v Zondi 2003 (2) SACR 227 (W) op 240i-241b).


  1. Die beskuldigde sou ook nie in sulke omstandighede werklik kon aantoon dat hy benadeel is deur die afwesigheid van die oorkonde of ʼn rekonstruksie nie. Hy sou nie daarop geregtig gewees het dat die Streeklanddros moes spekuleer oor die vraag of die oorkonde of rekonstruksie nie dalk gronde vir inmenging sou opgelewer het nie (sien S v Zondi, 2003 (2) SACR 227 (WLD) op 240i-241b).


  1. Die feit is egter dat dié latere weergawe van die beskuldigde nie deel uitgemaak het van die beskuldigde se aansoek nie. In dié omstandighede word hierdie Hof eintlik geen ander keuse gelaat nie as om die skuldigbevinding en vonnis tersyde te stel. Niks sou natuurlik die Direkteur van Openbare Vervolgings verhoed om in sodanige omstandighede opnuut vervolging teen die beskuldigde in te stel nie en vir hierdie doeleindes sal gelas word dat die stukke in hierdie aangeleentheid, asook hierdie uitspraak, aan die plaaslike Direkteur van Openbare Vervolgings voorgelê word vir die oorweging daarvan om die beskuldige opnuut te vervolg.


  1. Bygevolg word die volgende bevele hierin gemaak:


  1. Die beskuldigde se skuldigbevinding aan moord en die vonnis van 15 jaar gevangenisstraf word tersyde gestel.


  1. Dit word gelas dat hierdie stukke, sowel as ʼn afskrif van hierdie uitspraak, aan die plaaslike Direkteur van Openbare Volgings voorgelê word vir oorweging daarvan om die beskuldigde opnuut op die betrokke aanklag te vervolg.






________________________

C J OLIVIER

REGTER

NOORD-KAAPSE AFDELING