South Africa: Northern Cape High Court, Kimberley

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Northern Cape High Court, Kimberley >> 2008 >> [2008] ZANCHC 18

| Noteup | LawCite

Bestuursraad van Laerskool Sentraal,Kakamas v Sersant van Kradenburg and Another (CA &R 52/07) [2008] ZANCHC 18 (4 April 2008)

Download original files

PDF format

RTF format

Bookmark/Share this page

Bookmark and Share

Verslagwaardig:

Sirkuleer Aan Regters:

Sirkuleer aan Streeklandroste

Sirkuleer Aan Landdroste:

JA / NEE

JA / NEE

JA / NEE

JA / NEE



IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(Noord-Kaapse Afdeling)



Saakno: / Case number: CA &R 52/07

Datum verhoor: / Date heard: 17/03/2008

Datum gelewer: / Date delivered: 04/04/2008



In die Volbank Appèl:



DIE BESTUURSRAAD VAN LAERSKOOL SENTRAAL,KAKAMAS Appellant


teen


SERSANT VAN KRADENBURG Eerste Respondent

ERIKA IZAKS Tweede Respondent


Coram: Lacock R et Williams R



UITSPRAAK OP APPÈL



LACOCK R:



  1. Die appellant, die Bestuursraad van Laerskool Sentraal, Kakamas, appelleer teen ‘n uitspraaak van die landdros, Kakamas, waarkragtens die vordering van die appellant teen die eerste respondent vir die betaling van “agterstallige skoolgelde” ten behoewe van die buite-egtelike kind van die eerste respondent, en welke kind in die de jure en de facto bewaring van haar biologiese moeder (die tweede respondent) is, van die hand gewys is met koste.


  1. Dit is gemeensaak of minstens nie in geskil nie, dat


[2.1.] Die appellant die behoorlik verkose beheerliggaam van die Laerskool Sentraal Kakamas (die skool) is;

[2.2.] Die appellant die skoolgeld betaalbaar ten behoewe van leerders van die skool behoorlik vasgestel het kragtens die toespaslike voorskrifte van die Suid-Afrikaanse Skolewet, 84 van 1996 (die Wet);

[2.3.] Die skool ‘n openbare skool is kragtens die Wet;

[2.4.] Skoolgelde ten bedrae van R1425-00 ten behoewe van die buite-egtelike dogter van die respondente en laerskool leerder van die skool (die leerder) aan die skool verskuldig en betaalbaar is;

[2.5.] Die appellant die skoolgeld vorder kragtens sy bevoegdheid ontleen aan artikels 40 en 41 van die Wet;

[2.6.] Die eerste respondent die biologiese vader van die voormelde leerder is;

[2.7.] Die leerder in die de jure en de facto bewaring van van haar biologiese moeder, (die 2de respondent) is; en

[2.8.] Die eerste respondent kragtens ‘n bevel van die onderhoudshof onderhoud ten behoewe van die leerder aan haar moeder betaal in die bedrag van R300-00 per maand.


  1. Die vordering van die appellant is uitsluitlik gegrond op die voorskrifte van artikel 40(1) van die Wet, en wat as volg lees:

“ ’n Ouer is aanspreeklik vir die betaling van die skoolgeld ingevolge artikel 39 bepaal, tensy en tot die mate waartoe hy of sy van betaling vrygestel is kragtens hierdie Wet.”


Dit is gemeensaak dat geen vrystelling van die betaling van skoolgeld ten behoewe van die tersaaklike leerder hierin toepaslik is nie.


  1. Die enigste geskil tussen die partye wat deur die landdros beslis moes word, en wat op appèl voor hierdie Hof dien, is naamlik of die eerste respondent vir doeleindes van die voorskrifte van artikel 40 van die Wet ‘n “ouer” van die leerder is of nie.


  1. Die antwoord op hierdie vraag is geleё in die vertolking van die woord “ouer” soos gebesig in die voormelde artikel van die Wet en soos omskryf in artikel 1 daarvan. In artikel 1 van die Wet word “ouer” as volg omskryf:


(a) Die ouer of voog van ‘n leerder;

(b) Die persoon met wettige aanspraak op sorg vir ‘n leerder;

(c) Die persoon wat onderneem om die verpligtinge van ‘n persoon in paragrawe (a) en (b) ten opsigte van die leerder se opvoeding op skool na te kom.”


Die Engelse (getekende) teks omskryf “parent” as volg:


(a) The parent or guardian of a learner;

  1. The person legally entitled to custody of a learner;or

  2. The person who undertakes to fulfill the obligations of a person referred to in paragraphs (a) and (b) towards the learner’s education at school.”


Die advokate van die onderskeie partye is dit eens dat slegs sub paragraaf (a) van die voormelde woordomskrywing in casu van toepassing is.


[6] Advokaat Van Niekerk SC namens die appellant betoog eerstens dat aan die woord “ouer” die normale grammatikale betekenis daarvan toegeskryf moet word, en dat dit insluit die biologiese vader van ‘n buite-egtelike kind. Tweedens betoog hy dat dit uit die Wet as geheel blyk dat die Wetgewer die net vir die aanspreeklikheid van skoolgelde wyd wou span en dit ook die buite-egtelike vader van ‘n leerder wou betrek. Indien dit nie die bedoeling was nie, aldus die betoog, kon die Wetgewer dit in eenvoudige taal aldus verorden het.


Advokaat Coetzee namens die eerste respondent daarinteen betoog eerstens dat die vertolking soos voorgehou namens die appellant sal neerkom op ‘n ongegronde wysiging van die gemenereg, en, tweedens, dat die voorskrifte van die Wet as geheel aanduidend daarvan is dat die Wetgewer met “ouer” bedoel het die “bewaringsgeregtigde” ouer met uitsluiting van die “nie-bewaringsgeregtigde” ouer.


[7] Dit is bekende reg dat, by die vertolking van ‘n statutêre voorskrif , die Howe primêr sal poog om die oogmerk van die Wetgewer met die tersaaklike voorskrif vas te stel. Normaalweg en as vertrekpunt word gepoog om dié oogmerk eerstens vas te stel uit die gewone grammatikale betekenis van die woord of woorde soos gebesig, tensy daardie betekenis lei tot ‘n absurde of dubbelsinnige vertolking van die voorskrif, of duidelik in stryd is met die oogmerk van die Wetgewer. Sien R v Venter 1907 TS 910; Bras v Randburg Stadsraad, [1992] ZASCA 47; 1992 (3) S.A. 371 (A) te 377 I; Randburg Town Council v Kerksay Investments (Pty) Ltd., [1997] ZASCA 68; 1998 (1) S.A. 98 (HHA).


Uiteraard moet die bedoeling van die Wetgewer ook nagespeur word uit die konteks waarin die tersaaklike woord of woorde gebesig word. Sien Birch v Klein Karoo Agricultural Co-Operative Limited [1993] ZASCA 34; 1993 (3) S.A. 403 (A) te 411 E. ‘n Kontekstuele vertolking verg oorweging van the language of the rest of the statute as well as the matter of the statute, its apparent scope and purpose, and, within limits, its background.” Stellenbosch Farmers’ Winery v Distillers Corporation and Another, 1962 (1) S.A. 458 (A) te 476 E.

Verdermeer, en soos deur Mnr. Coetzee aangevoer, moet wette, behalwe in soverre dit van die gemenereg afwyk, so vêr doenlik in ooreenstemming met die gemenereg uitgelê word. Kleynhans v Yorkshire insurance Company limited, 1957 (3) S.A. 544 (A) te 551 B.


[8] Daar kan weinig twyfel wees dat, in sy gewone grammatikale betekenis die woord “ouer” verwys na óf die vader óf die moeder van ‘n kind. Dat dit in hiedie gewone betekenis ook sal insluit die vader van ‘n buite-egtelike kind, sal ek vir doeleindes van hierdie beslissing aanvaar.


[9] Gemeenregtelik was die vader van ‘n buite-egtelike kind nie as ‘n ouer, in die sin van ‘n ouer met ouerlike gesag oor ‘n kind, beskou nie in teenstelling met ‘n vader van ‘n kind gebore uit ‘n wettige huwelik of die vader van ‘n gewettigde kind. Sien Voet I.6.3. en 4 (Gane se vertaling); B v S 1995 (3) S.A. 571 (A): The fact is that in Roman-Dutch law an illegitimate child fell under the paternal authority, and thus the guardianship and custody of its mother; the father had no such authority: Van Leeuwen Het Roomsch Hollandsch Recht 1.7.4; Van Bynkershoek Quaestiones Juris Privati 3.11; Van der Linden Koopmans Handboek 1.4.2.” (te 575 G-H) en verder te 576 D, In Docrat v Bhayat 1932 TPD 125 the father applied for custody, the mother having died. The child in question was born of their Muslim marriage. In the course of his judgment De Wet remarked (at 127-8) that the father had ‘no locus standi at all’ as far as custody of the child and that he had ‘no legal claim to the child’. These statements were not supported by reference to any authority but, from what I have already said, they were in line with the common law and would also have applied to the matter of access.” Sien verder Santam Versekeringsmaatskappy v Roux, 1978 (2) S.A. 856 (A) te 864 e.v.


[10] Deur die jare is die gemeenregtelike verhouding tussen ‘n biologiese vader en sy buite-egtelike kind deur wetgewing gewysig of aangepas. Sien onder andere S v H, 2007 (3) S.A. 330 (K) te 339 F-H; Fraser v Childrens’ Court, Pretoria North and Others 1997 (2) S.A. 261 (CC) en wat aanleiding gegee het tot die gewysigde artikel 18 (4) (d) van die Wet op Kindersorg, 74 van 1983; en “The Law of South Africa: (2de uitgawe) Vol. 10 par 418. Ek vind dit egter nie nodig om verder te handel met hierdie statutêre aanpassings nie aangesien sodanige verordeninge nie toepassing vind op die onderhawige aangeleentheid nie, en die Kinderwet nr. 38 van 2005 eers in werking getree het nadat uitspraak hierin deur die Hof a quo gelewer is.


[11] Uit hoofde van die voorgaande is daar myns insiens meriete in die argument van Mnr. Coetzee naamlik dat, indien die woord “ouer” in sy gemeenregtelike nis vertolk word, dit waarskynlik verstaan moet word as die ouer of ouers beklee met ouerlike gesag. In casu sal dit die tweede respondent wees met uitsluiting van die eerste respondent.


[12] Deurslaggewend is myns insiens die gebruik van die begrip “ouer” in die Wet in sy geheel gelees. Indien die Wet aldus in sy geheel gelees word, is dit na my mening baie duidelik dat die Wetgewer met “ouer” in artikels 40 (1) en 41 van die Wet, saamgelees met die woordomskrywing van “ouer” in artikel 1 daarvan, bedoel het die vader en/of moeder van ‘n kind wat beklee is met die ouerlike gesag (“parental authority”) van ‘n leerder kragtens die Wet.

[12.1.] Artikel 3 (1) van die Wet bepaal dat, Behoudens hierdie Wet en enige toepaslike provinsiale Wet moet elke ouer elke leerder vir wie hy of sy verantwoordelik is, ‘n skool laat bywoon.” Hoewel die woord “ouer” hierin gekwalifiseer word as die ouer verantwoordelik vir ‘n leerder is dit myns insiens aanduidend daarvan dat die Wetgewer die “verantwoordelike” ouer wou belas met die verpligting om ‘n leerder ‘n skool te laat bywoon. So ‘n ouer sal, ingevolge par. (a) van die woordomskrywingsartikel van “ouer” in die Wet, wees beide die vader en moeder van ‘n leerder wat met mekaar getroud is, of die moeder van ‘n buite-egtelike kind, of die geskeide ouer van ‘n leerder aan wie die bewaring of voogdyskap oor die kind toegeken is (Governing Body, Gene Louw Primary School v Roodtman, 2004 (1) S.A. 45 (K) ). Dit kom my onlogies voor dat die Wetgewer hierdie verpligting op die verantwoordelike ouer alleen sou plaas, maar die nie-verantwoordelike ouer ook sou belas met die verpligting tot betaling van skoolgelde.

[12.2.] Artikel 8 (1) en (6) van die Wet lees as volg:

(1) Behoudens enige toepaslike provinsiale Wet moet ‘n beheerliggaam van ‘n openbare skool ‘n gedragskode vir leerders aanvaar na oorleg met die leerders, ouers en opvoeders van die skool.

  1. n Leerder moet by disiplinêre verrigtinge deur sy of haar ouer of ‘n persoon deur die ouer aangewys, vergesel word, tensy afdoende redes deur die beheerliggaam aangevoer kan word vir die voortsetting van die die verigtinge in die afwesigheid van die ouer of die persoon deur die ouer aangewys.”

Dit is eenvouding ondenkbaar dat die Wetgewer in hierdie artikels ook die vader van ‘n buite-egtelike kind sonder ouerlike gesag in gedagte gehad het. Duidelik kan hierdie regte van ouers alleen slaan op die ouer beklee met ouerlike gesag van ‘n leerder of dan, in die woorde van die Wet, die verantwoordelike ouer. Dit sal duidelik onhoudbaar wees om van ‘n beheerliggaam te verwag om, benewens die verantwoordelike ouer, ook nog die nie-bewaringspligtige ouer kennis te gee van stappe soos hierin be-oog.


Dieselfde geld ten aansien van die voorskrifte van artikels 18 (2), (“’n Grondwet Beoog in sub artikel (1) moet voorsiening

maak vir

(b) vergaderings van die beheerliggaam met ouers, leerders, opvoeders en ander personeel onderskeidelik, minstens een keer per jaar.”) en 20 (1) (h) (“Behoudings hierdie Wet moet die beheerliggaam van ‘n openbare skool -

(h) ouers, leerders, opvoeders en ander personeel van die skool aanmoedig om vrywillige dienste aan die skool te lewer.”) van die Wet.

[12.3.] Artikel 23 (2) van die Wet bepaal, Verkose lede van die beheerliggaam bestaan uit ‘n lid of lede van elk van die volgende kategorieё

(a) Ouers van leerders by die skool;

(b) Opvoeders by die skool;

(c) Personeellede by die skool wat nie opvoeders is nie;

(d) Leerders in die agste graad of hoёr by die skool.”


Dit sal na my mening absurd wees om te sê dat ook ‘n ander ouer van ‘n leerder as dié beklee met die ouerlike gesag oor daardie leerder bevoeg is om verkies te word op die beheerliggaam van ‘n skool waar daardie leerling ingeskryf is. Indien dit so kan wees, kan dit beteken dat botsende standpunte ten behoewe van dieselfde leerder op die beheerliggaam deur die twee ouers voorgestaan word, of dat die standpunt van die ouer beklee met ouerlike gesag deur die ander ouer sonder ouerlike gesag geveto kan word.


Sien ook artikel 23 (10). “Indien die getal ouers in enige stadium nie meer is as die gekombineerde totaal van die ander lede met stemreg nie, moet die beheerliggaam ouers tydelik met stemreg ko-opteer.” Dit is eenvoudig ondenkbaar dat die Wetgewer in hierdie artikel enige ander ouer as dié beklee met ouerlike gesag oor ‘n leerder in gedagte gehad het.

[12.4.] Hoewel die gewysigde artikel 41 van die Wet eers in werking getree het na die ontstaan van die skuldoorsaak in hierdie geding, is die bewoording daarvan nietemin aanduidend van die bedoeling van die Wetgewer met die begrip “ouer” soos in sub-paragraaf (a) van die omskrywing van “ouer” in artikel 1 omskryf. Die tersaaklike voorskrifte van hierdie artikel lees as volg:

(1) ‘n Openbare skool kan die betaling van skoolgelde deur ouers wat ingevolge artikel 40 daarvoor aanspreeklik is, deur regsproses afdwing.

(4) ‘n Openbare skool kan ingevolge subartikel (1) optree slegs nadat hy vasgestel het dat –

(a) die ouer nie ingevolge hierdie Wet vir sy vrystelling van die betaling van skoolgelde kwalifiseer nie;

(b) aftrekkings gemaak is ingevolge regulasies in artikel 39(4) beoog vir ‘n ouer wat vir gedeeltelike vrysteling kwalifiseer; en

(c) die ouer die vorm wat in die regulasies in artikel 39 (4) beoog word, ingevul en geteken het.

(6) ‘n Openbare skool mag nie op die woning waarin ‘n ouer woon, beslag lê nie.”


Dat die Wetgewer in hierdie artikels die ouer beklee met ouerlike gesag bedoel, behoef geen betoog nie. ‘n Ouer sonder ouerlike gesag oor ‘n leerder, het geen bevoegdheid om te besluit by watter skool om daardie leerder in te skryf, of om op ‘n ander wyse die ouerlike gesag van die ouer wat daarmee beklee is, te ondermyn of te vervang anders dan by ooreenkoms of kragtens ‘n Hofbevel nie, in welke geval hy of sy waarskynlik sal resorteer onder sub paragraaf (c) van die omskrywing van “ouer” in artikel 1 van die Wet. Dit sal ook absurd wees om die ouer wat nie met ouerlike gesag beklee is ingevolge artikel 40 (1) van die Wet van die betaling van skoolgelde vry te skeld, terwyl die ouer wat wel beklee is met ouerlike gesag ‘n uiters welgestelde moeder van die betrokke leerder is.


Indien die Wetgewer bedoel het dat ook die ouer sonder ouerlike gesag aanspreeklik gehou kan word vir die betaling van skoolgelde, is daar geen logiese bestaansreg vir artikel 41 (6), hierbo aangehaal, nie. Hierdie artikel het duidelik die belang en beskerming van die leerder en sy of haar bewarende ouer as ratio in gedagte, en nie ook dié van derdes (soos die biologiese vader van ‘n buite-egtelike kind sonder ouerlike gesag) nie.


[13] In Governing Body, Gene Louw Primary School v Roodtman (supra) het Van Heerden R (soos sy toe was) ook gewys op die onbillike resultate wat kan volg indien ‘n nie – bewaringsouer van ‘n leerder kragtens ‘n voorganger van die Wet, synde Wet 70 van 1988, aanspreeklik gehou kan word as ‘n ouer van ‘n leerder benewens die toesighoudende ouer.


“The appellant’s interpretation of the word ‘parent’ in s 102A(1) of the Act would also give rise to inequitable and, in many cases, absurd or anomalous consequences. Thus, for example, where the amount of maintenance payable by the non-custodian parent in respect of his or her child has been computed with reference to all the different components of the duty of support, including the child’s educational expenses (see for example, Du Toit v Du Toit 1991 (3) SA 856 (O) ), the school at which the custodian parent has enrolled the child would nevertheless be entitled to sue the non-custodian parent for all the outstanding school fees in respect of such child. This would be the case even if the non-custodian parent had complied with the maintenance order in all respects. Another possibility which springs to mind is the situation where the child has been placed in the custody of a foster parent by a children’s court and that foster parent has enrolled the child in a school. Quite apart from the possibility of a foster care grant payable to the foster parent, the natural parent may also have been ordered to make regular payments as a contribution towards the maintenance of the child (by means of a contribution order in terms of s 43 of the Child Care Act 74 of 1983). If one were to interpret the word ‘parent’ in s 102A(1) of the Act in the manner contended for by the appellant, this would mean that the school would be able to sue the natural parent (who does not have the custody of his or her child) for all outstanding school fees in respect of such child, even if the natural parent had complied with the contribution order against him or her in every respect. This type of consequence would offend against the tenet of statutory interpetation to the effect that, as far as possible, statutes must be interpreted so as not to give rise to the inequitable or absurd results (see, in this regard, Du Plessis (op cit at 83-97).” (te 56 F tot 57 B). Ek stem met eerbied hiermee saam.


[14] Uit hoofde van die voorgaande bevind ek vervolgens dat die woord “ouer” soos onskryf in sub paragraaf (a) van die omskrywing van “ouer” in artikel 1 van die Wet en soos gebesig in o.a. artikel 40 (1) van die Wet, nie die biologiese vader van sy buite-egtelike kind en ‘n leerder van ‘n openbare skool (soos die Laerskool, Sentraal, Kakamas) en wat nie beklee is met ouerlike gesag oor daardie kind nie, insluit nie. Daar is gevolglik geen redes op grond waarvan die slotsom waartoe die Landdros in die Hof a quo geraak het, te versteur nie.


[15] Gesien die gevolgtrekking waartoe ek hierin geraak het, vind ek dit nie nodig om te handel met die aard van die regsverhouding tussen ‘n skool en die ouer van ‘n leerder by daardie skool, en of daardie verhouding ‘n kontraktuele een is soos bevind in die Gene Louw Primary School - saak (supra) nie.


[16] Die Advokate is dit eens dat die koste van die appèl op die resultaat behoort te volg. Ek stem saam.

Bygevolg word die volgende bevel hierin verleen:


Die appèl word afgewys met koste.





_______________

HJ Lacock

REGTER





Ek stem saam.




_______________

CC Williams

REGTER



Namens appellant:Adv Van Niekerk SC (i.o.v. Duncan & Rothman, Kimberley)

Namens respondent:Adv Coetzee (i.o.v. Madeleen Teseling Prokureurs, Kimberley