South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria >> 2010 >> [2010] ZAGPPHC 189

| Noteup | LawCite

L v L In re: L v L (24167/2006) [2010] ZAGPPHC 189 (5 November 2010)

Download original files

PDF format

RTF format

Bookmark/share this page

Bookmark and Share



SAFLII Note: Certain personal/private details of parties or witnesses have been redacted from this document in compliance with the law and SAFLII Policy


NEE RAPPORTEERBARE

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(NOORD GAUTENG AFDELING)


SAAKNR.: 24167/2006

DATUM: 05/11/2010


In die aansoek van

L, AM.................................................................................................................Applikant

en

L, A...............................................................................................................Respondent

In re:

L, A........................................................................................................................Eiseres

en

L, A M.............................................................................................................Verweerder


CORAM: EBERSOHN WR. Afgegee op 5 November 2010


UITSPRAAK


OP AANSOEK VIR VERLOF OM TE KAN APPELLEER IN DIE HOOFGEDING


EBERSOHN WR.


[1] In hierdie uitspraak om verlof om te kan appelleer in hierdie onnodig onaangename saak, teen die uitspraak in die hoofgeding tussen die partye, word na die partye soos in die hoofgeding verwys.


[2] a) In die kennisgewing van aansoek om te kan appelleer is nie minder dan twaalf gronde vermeld nie.

b) By die aanhoor van die aansoek het Mnr. Smith, wat vir die verweerder verskyn het, net twee van die aspekte wat in die gronde geopper word geargumenteer, welke hy vermeld het wat hy as van belang beskou, naamlik die toepassing van die aanwasbedeling en die onderhoud, nieteenstaande die feit dat die hof horn daarop gewys het dat hy nie onderhewig is aan enige tydsbeperking nie.


[3] AD EERSTE, TWEEDE EN DERDE GRONDE AANWASBEDELING.


a) Met betrekking tot die aanwasbedeling het hierdie hof alreeds in paragraaf [5] van die uitspraak in die hoofgeding daarop gewys dat in terme van die bepalings van Hoofstuk 1 van die Wet op Huweliksgoedere, Nr. 88 van 1984 ("die WOH") gades oor en weer 'n reg verkry vir die betaling van 'n bedrag gelyk aan een-helfte van die verskil in die aanwas van die partye se boedels. Die verwysing, later in die uitspraak, in paragraaf [182] van die uitspraak, na art. 7(3) van die Wet op Egskeiding, Nr. 70 van 1979 ("die WE") was per incuriam en moes gewees het "Hoofstuk 1 van die Wet op Huweliksgoedere, Nr. 88 van 1984" en die uitspraak sal reggestel word in terme van Eenvormige Hofreel 42. Die hof sal paragraaf [5] van die uitspraak ook regstel in terme van Eenvormige Hofreel 42 aan die einde daarvan met die volgende sin: "Die ooreengekome aangepaste waarde in terme van art. 4(l)(b)(iii) van die Wet op Huweliksgoedere, Nr. 88 van 1984, is R32 384,01 met betrekking tot die eiseres en R203 659,41 met betrekking tot die verweerder." Paragraaf 4.10 van die bevel sal gevolglik ook reggestel word deur dit te vervang word met die volgende paragraaf:


"4.10 Die verweerder is geregtig om R171 275,40 (synde die verskil tussen die aangepaste waarde van die partye by huweliksluiting nl. R203 659,41 en die eiseres se waarde nl. R32 384,01) in skuldvergelyking te bring met enige bedrag wat hy uit hoofde van hierdie paragraaf aan die eiseres moet betaal, uitgesonderd onderhoud."

Dit is jammer dat geeneen van die partye hierdie hof op die oorsigte gewys het nie sodat regstellings dadelik ingevolge Eenvormige Hofreel 42 gedoen kon word.


b) Met betrekking tot Mnr. Smith se argument dat die verdeling van die aanwas slegs in geld kon geskied het Mnr. Smith geen gesag vir sy stelling aangehaal nie en hy het bloot gesteun op die woorde "the amount" soos dit in die Engelse teks van art. 4 van die WOH verskyn. In die Afrikaanse teks, synde die getekende teks van die WOH, word die begrip "netto waarde" gebruik. In art. 10 van die WOH word voorsiening gemaak daarvoor dat voldoening van 'n interim aanwasvordering ook kan geskied by wyse van "die lewering of oordrag van bepaalde bates, wat die hof billik ag." Die vraag ontstaan nou hoekom die Wetgewer voldoening aan 'n interim aanwasvordering in specie magtig en dit nou, volgens Mnr. Smith, nie in specie kan geskied wanneer die huwelik ontbind word nie? Mnr. Smith se argument is geforseerd en ooglopend verkeerd. Die hof het alreeds in paragraaf [160] van die uitspraak na hierdie aspek verwys. Mnr. Smith het voorts ook die gebruik van die woorde "onkonvensionele beslissing" in paragraaf [167] van die uitspraak gekritiseer en betoog dat dit 'n "bewys" van 'n "regsdwaling" aan die kant van die hof was.


c) Die hof het in paragraaf [167] van die uitspraak verwys na die verweerder se versuim om te voldoen aan die gebiedende bepalings van art. 7 van die WOH. Sy versuim om dit te doen en om die werklike en nie versinde waardes van die bates voor die hof te plaas was die direkte oorsaak vir die manier van verdeling van die bates deur die hof. Me. Vermaak-Hay het tydens betoog daarop gewys dat spesifieke vrae tydens die voorverhoorkonferensie aan die verweerder gevra was oor sy bates en die waarde daarvan en dat die verweerder oneerlik was daarmee in sy antwoorde en in sy getuienis.


d) Daar bestaan geen vooruitsigte van sukses vir die verweerder op hierdie onderhawige gronde nie.


[4] AD VIERDE GROND VAN APPeL - ONDERHOUD.


a) Vele en onjuiste bewerings is gemaak deur die verweerder in die subpragrawe wat op hierdie aspek betrekking het.


b) Die verweerder val, eerstens, die gedeelte van die bevel wat lees dat die onderhoud sal wees tot die dood of hertroue van die eiseres en, tweedens, die bedrag van die bevel, aan.


c) Die aspek van onderhoud is behandel in paragrawe [152] tot [166] van die uitspraak. Die eiseres se mislukkings in die verlede is uitgestippel in paragraaf [164] van die uitspraak.


d) Mnr. Smith het geargumenteer dat die beginsels soos vervat in die Beaumont-saak (na verwys in paragraaf [152] van die uitspraak), nie van toepassing was nie maar dat die beginsels soos na verwys in die saak van Singh v Singh 1983(1) SA 781(CPD) op 788 e.v. toegepas moes gewees het deur die hof. Die Singh-saak is klaarblyklik nie van toepassing op die feite in casu nie aangesien die verweerder in casu se onaanvaarbare optrede die huwelik laat verbrokkel het en daar nie sprake kan wees daarvan dat die eiseres haar reg op onderhoud verbeur het nie.


e) Mnr. Smith het ook verwys na die saak van Botha v Botha 2009 (3) SA 89 (WLD) en betoog dat 'n vrou nie "as of right" geregtig is op onderhoud nie en dat onderhoud in die diskresie van die verhoorhof is nadat die vrou 'n feitelike basis gele het vir haar onderhoud en ook bewys het dat sy nie selfversorgend is nie en dat sy as gevolg van die huwelik haarself nie selfversorgend kon maak nie. Wat Satchwell R in die Botha-saak gese het is egter bekende en geykte reg en is niks nuut of nuus nie en die toepaslike beginsels is deur die hof in aanmerking geneem tydens oorweging van die uitspraak.


f) Mnr. Smith het ook geargumenteer dat die eiseres moes bewys het:

i) dat sy te oud is om te werk;

ii) dat sy nie gekwalifiseerd vir 'n betrekking is wat 'n voldoende salaris vir haar sou meebring wat haar selfversorgend sou maak nie;

iii) daar is geen moontlikheid vir rehabilitasie nie, en

iv) daar is geen moontlikheid van 'n hertroue vir die vrou nie.


g) Mnr. Smith se argument oor die vier "vereistes", soos wat hy dit gestel het, hou nie water nie. Daar is baiemeer en ander faktore wat in aanmerking geneem word gedagtig daaraan dat die feite van saak tot saak verskil. Die hof het al die tersaaklike faktore oorweeg soos duidelik uit die hof se uitspraak blyk.


h) Mnr. Smith het voorts geargumenteer dat rehabiliterende onderhoud slegs aan middeljarige vrouens toegestaan sal word en onderhoud tot dood of hertroue slegs aan bejaarde vrouens toegestaan sal word.


i) Mnr. Smith het geen gesag vir sy stellings voorgehou nie en sy argumente was baie simplisties en hy het uit die oog verloor dat elke saak sy eie feitestel het en dat die hof aan die einde van die saak die hof se diskresie moes uitoefen. Dit het die hof gedoen. Die eiseres se getuienis oor haar behoefte vir onderhoud en gebrek aan verdienstevermoe was duidelik en is nie weerle deur die verweerder nie. Die kwessie van onderhoud is aan die einde van die saak in die hof se diskresie en die hof oorweeg dan al die feite aan die hand van die toepaslike gesag. Dit het die hof in hierdie saak ook gedoen. Die hof het na die eiseres se getuienis, soos in 'n groot mate gestaaf deur die verweerder, geluister en uiteindelik tot die beredeneerde konklusie gekom dat onderhoud toegestaan moes word soos wat dit toegestaan is.


j) Oor die bedrag onderhoud het die hof kennis geneem van, maar horn nie laat lei nie, deur die toekenning van die bedrag onderhoud deur die Onderhoudshof in die verlede en ook die bedrag onderhoud verleen naamlik R17 500 deur middel van die Eenvormige Reel 43 aansoek. Die hof het ook in aanmerking geneem, welke aspekte Mnr. Smith nie in gedagte gehou het nie, dat deur die aanwasbevel wat die hof verleen het aangaande die belange van die verweerder in die vliegtuig en die beslote korporasie wat die jagplaas besit, die verweerder se geldelike verpligtinge daaromtrent ligter word want dit word oorgeplaas op die eiseres en word haar las aan die ander kant derhalwe swaarder. Die hof het ook die feit dat die kinders se plek van verblyf na die egskeiding kon verander maar daarvoor is die Onderhoudshof daar om die nodige aanpassing mettertyd, soos en wanneer nodig, te maak.


k) Mnr. Smith kon geen regsgronde verskaf op sterkte waarvan die verweerder die seun Rohan se vliegopleiding, wat tydens die verhoor RI0 833,34 per maand bedra het, selfs so ver tot die behaal van 'n kommersiele vlieglisensie wat nog 'n lang tyd in beslag sou neem, moes betaal nie. Die hof het in paragraaf [166] van die uitspraak met hierdie aspek en die ander opgeblaasde uitgawes van die verweerder gehandel.


l) Die hof het in aanmerking geneem dat nie een van die eiseres se kwalifikasies vir haar tydens die verhoor, en selfs vir etlike resente jare voor die verhoor, van enige nut was en enige inkomste vir haar ingebring het nie. Die verweerder het, in 'n ondeugdelike poging aangewend om 'n saak te probeer uitmaak dat die eiseres nie wou werk nie. Hierdie aanval op haar was ongefundeerd en heeltemal uit pas met die feite voor die hof. Haar onderwyskwalifikasie is onvoldoende (uitspraak [43]), haar bedrywigheid in die eiendomsmark as eiendomagent het jare gelede op 'n verlies tot einde gekom en sy is nie kapitaalkragtig om haarself weer te finansier nie (uitspraak [36] - [39]). Sy is nie sodaniglik gekwalifiseerd dat sy haar kan voorhou as 'n binnenshuise versierder nie (uitspraak [44] - [45]). Daar is geen getuienis voor die hof oor wanneer daar weer eendag 'n eiendomsmark sal wees wat 'n vrou soos die eiseres sal kan betree nie. Dieselfde is die posisie met binnenshuiseversiering. Dit was die positiewe getuienis van die eiseres oor haar donker vooruitsigte en die verweerder het nie daarin geslaag om dit te weerle nie.


m) Die hof het deeglik besin oor 'n sg. "skoon breuk" tussen die partye en moontlike maniere om dit te bewerkstellig, oorweeg maar die getuienis voor die hof het dit nie daartoe geleen om so 'n bevel te maak nie en as die hof so 'n bevel sou maak sou dit gebaseer gewees het op blote spekulasie aan die kant van die hof en sou die hof ondeurdagte en ongefundeerde aannames moes maak, iets wat 'n hof nie kan doen nie.


n) Wat die bedoeling van die bewering in paragraaf 4.17 van die aansoek waarin verwys word na die een maal se owerspel wat die eiseres jare gelede in 'n oomblik van swakheid gepleeg het, bedoel is om te beteken, gesien in die Kg van die verweerder se verhoudings met ander vrouens gedurende die huwelik, is nie duidelik nie.


o) Me. Vermaak-Hay het, in antwoord op Mnr. Smith se argumente, betoog dat die getuienis voor die hof was dat:

i) die eiseres kan hoogstens klerklike werk kry, as sy werk kry, wat haar 'n inkomste van ongeveer R5 000 per maand sal besorg welke nie genoeg vir haar is om van te lewe nie;

ii) die eiseres ophou werk het op die aandrang van die verweerder.


p) Daar is geen vooruitsigte van sukses met 'n appel met betrekking tot die onderhoudsbevel nie.


[5] AD VYFDE GROND - BEWEERDE VOOROORDEEL AAN DIE KANT VAN DIE HOF


a) Die beweerde vooroordeel was nooit tevore geopper nie en word nou nadergetrek in hierdie aansoek vir verlof om te kan appelleer. Die hof se uitspraak is volledig en duidelik en die bevindings van die hof is op 'n deeglik objektiewe basis gemaak en is gefundeer in die getuienis soos uiteengesit in die uitspraak asook die hof se redes vir die bevindings teen die verweerder.


b) Die verwysing na die verweerder se uniform is te vinde in paragraaf [150] van die uitspraak. Die uniform was deel van sy facade (Fr.) wat hy aan die hof voorgehou het en hy het netjies, gepoleerd en goed voorbereid voorgekom. Die verwysing na sy uniform was nie neerhalend nie.


c) Daar is geen vooruitsigte van sukses met 'n appel met betrekking tot die onderhawige beweerde grond nie.


[6] AD SESDE GROND - DIE EISERES BEWEERDELIK TOEGELAAT OM TE LANK TE GETUIG.

a) Hoe lank 'n party kan getuig is nie in die hof se hande nie en die hof kan 'n party nie aan bande le nie. Die hof kan egter aan die einde van 'n saak sekere opmerkings maak oor die hantering van 'n party se saak en dit was wat die hof gedoen het rakende die verweerder se optrede en getuienis. Dit was nodig want dit affekteer noodwendigerwys bevindings oor geloofwaardigheid en 'n uiteindelike kostebevel.


b) Die eiseres se getuienis en die vele feite waarop sy gesteun het wat haar getuienis in hoof so lank gemaak het was duidelik. Die kruisondervraging het dikwels voorgekom as 'n uitrek van die saak en/of 'n onsuksesvolle gryp na grashalms.


c) Daar is geen vooruitsigte van sukses met 'n appel met betrekking tot die onderhawige beweerde grond nie.


[7] AD SEWENDE GROND - GELOOFWAARDIGHEIDSBEVTNDINGE

a) Die bewering is dat die hof gefouteer het deur die eiseres as 'n geloofwaardige getuie te bevind en te bevind dat die verweerder nie geloofwaardig was nie.


b) Die verweerder se getuienis word behandel van paragraaf [98] tot paragraaf [150] en telkens word na die onbevredigende aspekte van sy getuienis verwys en word dit geillustreer.


c) Die geloofwaardigheidsbevinding teen die verweerder was in terme van hierdie hof se bevinding gebaseer op die getuienis van en die optrede van die verweerder in die getuiebank.


d) Daar is geen vooruitsigte van sukses met 'n appel met betrekking tot die onderhawige beweerde grond nie.



[8] AD AGSTE GROND - DATUM VAN BEPALING VAN DIE AANWASBEDELING MOES GEWEES HET DIE DATUM AFHANDELING VAN DIE VERHOOR NAAMLIK 26 MAART 2009 EN NIE DATUM VAN UITSPRAAK NIE TE WETE 23 DESEMBER 2009.

a) Weens die welbekende hoe werkslading in hierdie Afdeling, en saak na saak wat sonder onderbreking daagliks op 'n regter se tafel aanland vir onmiddellike verhoor, kry 'n hof nie geleentheid om direk na afhandeling van 'n verhoor aan die uitspraak te werk nie en moet 'n hof soos en wanneer daar tyd is, aan uitsprake werk. Hierdie was 'n lang saak wat 'n lang uitspraak geverg het en daar is met tussenposes aan die uitspraak gewerk en die uitspraak kon eers in die reses na die vierde hoftermyn van 2009 voltooi word. Die vertraging word betreur maar dit kon nie verhelp word nie.


b) Daar was geen ooreenkoms en geen versoek van enige van die partye dat 'n egskeidingsbevel verleen moes word alreeds op 26 Maart 2009 nie. Die verweerder het tot die bitter einde volhard daarmee dat die huwelik in terme van sy teeneis ontbind moes word. Selfs in die voorgenome appel wil die verweerder daarmee volhard.


c) Die hof het in elk geval geen diskresie of bevoegdheid om 'n huwelik te ontbind op 'n sekere datum (soos in hierdie geval wel gebeur het op 23 Desember 2009) en te gelas dat die effek van die verdeling van die aanwasbedeling teruggedateer moet word nie. Sien in hierdie verband art. 4(l)(a) van die WOH. In hierdie verband het die verweerder, verbasend genoeg, ge-eis dat dit teruggedateer moes word na 15 Augustus 2006, synde die datum wat hy dit goed gevind het om die gemeenskaplike woning te verlaat. Die verweerder en sy regsvertenwoordigers was blykbaar van meet af ooglopend onbewus van die bestaan van die gemelde artikel 4(1 )(a) van die WOH.



d) Die ywer van die verweerder, in die laaste sin van hierdie beweerde grond, om hierdie hof se onbevooroordeeldheid verdag te maak deur die ongefundeerde stelling dat die hof se bevooroordeeld blyk uit die feit dat die hof nie die inwerkingtreding gelas het te geskied vanaf 26 Maart 2009, val op.


e) Daar is geen vooruitsigte van sukses met 'n appel met betrekking tot die onderhawige beweerde grond nie.


[9] AD NEGENDE GROND - DIE HOF MOES AAN DIE EISERES VOORDELE IN DIE VERWEERDER SE PENSIOENBELANG TOEGEKEN HET SOOS OP 15 AUGUSTUS 2006 ALTERNATIEWELIK 26 MAART 2009 EN NIE SOOS OP DATUM VAN DIE BEVEL NAAMLK 23 DESEMBER 2009, NIE.

a) Die hof het geen diskresie in die saak gehad nie en die toekenning kon slegs soos op datum van die egskeidingsbevel naamlik 23 Desember 2009 geskied. Mnr. Smith het geen gesag vir hierdie beweerde grond vermeld nie.


b) Tydens argument het Mnr. Smith horn ook daaroor bekla dat die pensioen belang uitbetaal moet word. Hy het beweer dat dit die verweerder aan 'n statutere pensioenfonds behoort en dat dit gevolglik regtens nie gedoen kan word nie. Die hof het hom gevra vir besonderhede van die beweerde beletsel maar Mnr. Smith het te kenne gegee dat hy nie kennis dra van enige wetsbepaling of gesag in hierdie verband nie.


c) Daar is geen vooruitsigte van sukses met 'n appel met betrekking tot die onderhawige beweerde grond nie.


[10] AD TIENDE GROND - TOESTAAN VAN ONDERHOUD AAN DIE EISERES

a) Hierdie algemene grond is alreeds volledig mee gehandel in paragraaf [4] van hierdie uitspraak.


b) Daar is geen vooruitsigte van sukses met 'n appel met betrekking tot die onderhawige beweerde grond nie.


[11] AD ELFDE GROND - DIE KOSTEBEVEL TEEN DIE VERWEERDER.

rim

a) Die verweerder wil appelleer teen die kostebevel onder andere dat die hof beweerdelik nie in ag geneem het die regskoste wat die verweerder aangegaan het nie.


b) Koste is in die diskresie van die verhoorhof. In hierdie geval het die hof in paragraaf [183] duidelik aangedui hoekom die besondere kostebevel gemaak is. Die redes vir die besondere bevel blyk oorvloediglik uit die geheel van die uitspraak.


c) Daar is geen vooruitsigte van sukses met 'n appel met betrekking tot die onderhawige beweerde grond nie.


[12] AD TWAALFDE GROND - DIE HOF HET GEFOUTEER DEUR DIE VERWEERDER SE TEENEIS TE VERWERP.

a) Die hof het in die volledige beredeneerde uitspraak uiteengesit hoekom die teeneis afgewys word en hoekom die eiseres se eis geslaag het.

b) Daar is geen vooruitsigte van sukses met 'n appel met betrekking tot die onderhawige beweerde grond nie.


[13] Dit is duidelik dat verlof om te appelleer geweier moet word.


[14] Die aspek van koste van hierdie aansoek verdien nou oorweging. Dit is duidelik dat die koste die uitspraak moet volg.


[15] Die volgende bevel word gevolglik gemaak:

"Die aansoek van die verweerder vir verlof om te kan appelleer word afgewys met koste."


P.Z. EBERSOHN

WAARNEMENDE REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF

Applikant/Verweerder se advokaat Adv. D. Smith SC

Applikant/Verweerder se prokureurs Schoemans Attorneys

Verw. J. Schoeman/0315

Tel. 012x665 4807


Respondent/Eiseres se advokaat Adv. I. Vermaak-Hay

Respondent/Eiseres se prokureurs VAN ZYL'S ING.

Verw. LAN7/0001/Mnr. van Zyl/mb

Tel. 012x667 5111