South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria
You are here: SAFLII >> Databases >> South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria >> 2009 >> [2009] ZAGPPHC 77 | Noteup | LawCiteJ V R v J V R (31134/2008) [2009] ZAGPPHC 77 (29 May 2009)
Download original files | Bookmark/share this page |
|
SAFLII Note: Certain personal/private details of parties or witnesses have been redacted from this document in compliance with the law and SAFLII Policy |
/EVDM
IN THE HOOGGEREGSHOF VAN SUID AFRIKA
(NOORD GAUTENG HOË HOF, PRETORIA)
Saak Nommer:: 31134/2008
In die saak tussen:
|
J. J. J.v R. |
APPLIKANT |
vs
|
S. W. J. v R. |
RESPONDENT |
UITSPRAAK
Gelewer op: 29 May 2009
POTTERILL AJ
1 Voor my is ‘n aansoek om stuiting van die aksie onder saaknommer 31134/08 tot die respondent die getakseerde rekening onder saaknommer 12162/05 betaal het. Dit is gemeensaak dat saaknommer 1262/05 slaan op ‘n bestrede egskeidingsaksie tussen die applikant en respondent wat na 3 jaar op 15 Mei 2008 geskik is. In die skikkingsakte paragraaf 3 stem die partye toe dat:
“Die verweerder vir die eiseres kan dagvaar vir die ontbinding van die beweerde universele vennootskap, indien die verweerder so sou verkies.”
In die skikking is verder ooreengekom dat verweerder (respondent in hierdie aansoek) sy teeneis terugtrek. Hierdie teeneis was gefaks aan die eiser twee ure voor die voorverhoorsamesprekings. Die teeneis was ook geskoei op vorderings voortvloeiend uit die universele vennootskap. Die aksie wat nou versoek gestuit te word is die aksie om die beweerde vennootskap tussen die partye te ontbind.
Die kosterekening van die egskeidingsgeding (Saaknommer 12162/05) was ten tye van die opstel van die stukke nog nie getakseer nie en is ook nie aangeheg by die stukke voor my nie. Daar is wel die getakseerde rekening van ‘n reël 43 aansoek in die bedrag van R28 553.71 wat op 19 Mei 2008 getakseer is en wat ten spyte van aanmaning nog onbetaald is.
Die applikant voer aan dat die respondent met die egskeidingsgeding deurentyd vertragingstegnieke toegepas het waaronder, onttrekkings van prokureurs, twee reël 43 aansoeke wat van die hand gewys is waarvan in een selfs ‘n spesiale kostebevel teen die respondent gegee is en op laat stadiums wysiging van pleitstukke. Die kwelsugtige en mala fide optrede van die respondent/ verweerder regverdig die staking van die aksie om ontbinding van die verrigtinge aangesien die teruggetrekte teeneis en die aksie vir die ontbinding van die vennootskap voortvloei uit die egskeiding en die koste nog nie betaal is nie.
4 Die respondent voer aan dat die beweerde kwelsugtige optrede van die respondent slaan op die egskeidingsaksie en dat daar in die skikking geen bevel of ooreenkoms met betrekking tot kostes gemaak is nie. Daar word ook aangevoer dat die aansoek versoek dat die kostes onder saaknommer 12162/05 betaal word, maar die kostes is nog nie getakseer nie en word die reël 43 se getakseerde kostes verkeerdelik aangeheg, wat nie deel uit maak van die bedes nie. Gevolglik word daar aangevoer dat ‘n reël 43 aansoek en die ontbinding van die universele vennootskap nie wesentlik dieselfde skuldoorsaak daarstel nie.
Die respondent is korrek; die aansoek versoek die stuiting van die aksie tot die reël 43, nie die egskeidingsaksie, se kostes betaal is. Dit is nie in repliek aangespreek of versoek dat alternatiewe regshulp verleen word nie. Dit is ook so dat ‘n reël 43-aansoek en ‘n aksie om ontbinding van ‘n vennootskap nie op dieselde skuldoorsaak baseer word, of rondom dieselfde geskilpunte draai nie. Ek kan gevolglik nie bevind dat substantief soortgelyke vorige verrigtinge se kostes nog nie betaal is nie.
Die verdere argument was dat die egskeidingsaksie kwelsugtig hanteer is. Die egskeidingsaksie is afgehandel, insluitend kostes, en kan ek nie mosterd na die maal beslis dat die saak kwelsugtig gevoer is nie. By ooreenkoms tussen die partye is die respondent se teeneis terugtrek, maar toestemming verleen dat daarvoor gedagvaar word. Die applikant kan haar nie nou daaroor kom bekla nie. Die ontbinding van die vennootskap is nog nooit aangehoor nie en is daar nie kostes voortvloeiend daaruit nog onbetaalbaar nie.
Die vraag is of die beweerde kwelsugtige en mala fide optrede van die respondent die hof kan noop om nogtans my diskresie ten gunste van die applikant uit te oefen. Dit is so dat die hof ‘n inherente diskresie het om die misbruik van hofprosesse hok te slaan. Die diskresie moet egter met groot omsigtigheid uitgeoefen word, omdat soos bevind is in Fisheries Development Corporatin v AWJ Investments 1979(3)SA 1331 [WLD] op 1338F “The reason is that the Courts of law are open to all, and it is only in very exceptional circumstances that the doors will be closed upon anyone who desires to prosecute an action.”
In die lig van die bepalings in die skikkingsooreenkoms kan ek nie bevind dat die instel van die aksie , mala fide, onbehoorlik of met bedekte beweegredes om die applikant onnodig te kwel, ingestel word nie.
Die applikant se werklike probleem is dat die respondent op sy eie weergawe ‘n “man of straw” is en dat met die voortsetting van die aksie hul kans om vir kostes vergoed te word uiters skraal is. Die applikant kan egter nie hierdie aansoek voor die hof gebruik as ‘n bedekte aansoek vir sekuriteit vir kostes nie.
Gevolglik maak ek die volgende bevel:
Die applikant se aansoek word van die hand gewys met kostes.
Die respondent moet die kostes vir die kondonasie en laat liassering van die hoofde betaal.
________________________________
S Potterill Waarnemende Regter van die Hooggeregshof
Prokureur vir die Applikant:
RONEL COETZEE PROKUREURS
P/A RNB PROKUREURS
(Verwysing: R COETZEE/rm/vv0341)
DUNCAN STRAAT 935
BROOKLYN
PRETORIA.
Tel: 012 345 4303/4310
Prokureur vir die Respondent:
NVR ING PROKUREURS.
P/A CHRISTELL KOTZE
(Verwysing: NICO VAN RENSBURG/AM)
KANTOOR 5, RIETFONTEIN SENTRUM
HERTZOG STRAAT 910
VILLIERIA
PRETORIA.

RTF format