South Africa: High Courts - Gauteng

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Courts - Gauteng >> 2008 >> [2008] ZAGPHC 343

| Noteup | LawCite

Prokuresorde van die Noordelike Provinsies v Langerak (47899/2007 ) [2008] ZAGPHC 343 (14 November 2008)

Download original files

PDF format

RTF format

Bookmark/Share this page

Bookmark and Share

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(TRANSVAALSE PROVINSIALE AFDELING)


Datum: 2008-11-14

ONRAPORTEERBAAR

Saaknommer: 47899/2007


In die saak tussen:


DIE PROKUREURSORDE VAN DIE NOORDELIKE

PROVINSIES Applikant


en


ARNOLDUS JOHANNES LANGERAK Respondent




UITSPRAAK


SOUTHWOOD R


[1] Die hof het op 7 November 2008 ‘n bevel gemaak ooreenkomstig die konsepbevel gemerk ‘A’ ingevolge waarvan die respondent van die rol van prokureurs geskrap is. Die hof het aangedui dat redes vir die bevel later verstrek sou word. Hierdie is die redes.


[2] Die applikant het aansoek gedoen om ‘n bevel dat die respondent van die rol van prokureurs geskrap word. Die applikant het op 6 November 2007 ‘n bevel verkry ingevolge waarvan die respondent onmiddellik in sy praktyk as prokureur geskors is en belet is om as prokureur te praktiseer hangende die finale afhandeling van hierdie aansoek. Die bevel het ook bepaal dat die respondent verbied is om met sy trustrekeninge te handel en dat Johan van Staden as curator bonis van die trustrekeninge aangestel word.


[3] Die aansoek is op 18 Oktober 2007 op die respondent beteken deur dit aan sy ontvangsdame by sy plek van besigheid te oorhandig. Die respondent het versuim om ‘n kennisgewing van voorneme om te opponeer of ‘n beantwoordende eedsverklaring af te lewer. Op 22 Oktober 2008 het die applikant ‘n kennisgewing van terrolleplasing persoonlik op die respondent beteken en die respondent het weer versuim om daarop te reageer. Die kennisgewing van terrolleplasing het bepaal dat die respondent sy hoofde van argument voor of op 3 November 2008 moet indien. Die respondent het nie hoofde van argument ingedien nie. Die respondent het op 6 November 2008 ‘n boodskap by die applikant se prokureur gelaat dat hy bewus is van die aansoek en dat hy nie die hof op 7 November 2008 sou bywoon nie.


[4] Die respondent is op 9 Maart 1999 as ‘n prokureur van hierdie hof toegelaat en het tot sy skorsing as ‘n enkelpraktisyn gepraktiseer onder die naam Langerak Prokureurs te Pretoria.


[5] Die applikant het aansoek gedoen vir die skrapping van die respondent in terme van artikel 22(d) van die Wet op Prokureurs 53 van 1979 op grond daarvan dat die respondent nie ‘n geskikte en gepaste persoon is om voort te gaan as sodanig te praktiseer of toegelaat te bly nie deurdat hy hom aan onprofessionele, oneerbare of onbetaamlike gedrag skuldig gemaak het. Artikel 22(d) van die Wet vereis ‘n drieledige ondersoek:


(1) Daar moet eers bepaal word of die gedrag waarop die applikant steun op ‘n ewewig van waarskynlikhede bewys is. Dit is ‘n suiwer feitelike vraag.


(2) Indien die gedrag bewys is moet die hof besluit of die prokureur nie ‘n geskikte persoon is om as ‘n prokureur te praktiseer nie. Dit verg ‘n waardeoordeel.


(3) Indien die hof van mening is dat die prokureur nie ‘n geskikte persoon is om as ‘n prokureur te praktiseer nie moet die hof sy diskresie uitoefoen en besluit of die prokureur van die rol verwyder moet word of net geskors moet word.


Sien Jasat v Natal Law Society 2000 (3) SA 44 (HHA) te 51B-I en Law Society of the Cape of Good Hope v Budricks 2003 (2) SA 11 (HHA) para 2.


[6] Nadat dit onder die applikant se aandag gekom het dat ‘n eis in die bedrag van R3 220 000 wat voortgespruit het uit die respondent se beweerde diefstal van trustgeld by die Getrouheidsfonds vir Prokureurs ingedien is, het die applikant ‘n regsbeampte in diens van die applikant se Moniteringseenheid, Magda Geringer, opdrag gegee om die respondent te besoek en ‘n ondersoek na die respondent se rekeningkundige aantekeninge en praktyksake uit te voer. Die beampte het haar ondersoek voltooi en op 18 September 2007 aan die applikant verslag gedoen. Die ondersoek het onder andere vasgestel dat:


(1) die respondent aansienlike bedrae trustgeld wat deur trustkrediteure aan die firma toevertrou het wederregtelik toegeëien en/of wanaangewend en/of gesteel het;


(2) daar ‘n aansienlike trusttekort in die respondent se rekeninghouding was;


(3) die respondent nie behoorlike rekeningkundige aantekeninge ten aansien van sy praktyk bygehou het nie;


(4) die respondent verskeie bepalings van die Wet en Reëls wat op die boekhouding van prokureurs van toepassing is, oortree of verontagsaam het;


(5) die respondent versuim het om om sy Reël 70 ouditeursverslag vir die tydperk geëndig 28 Februarie 2007 by die applikant in te dien.


[7] Magda Geringer het vasgestel dat:


(1) Die ongekwalifiseerde ouditeursverslag vir die tydperk geëindig 28 Februarie 2006 wat die respondent ingedien het nie korrek was nie aangesien die volgende onreëlmatighede plaasgevind het -


(a) ‘n oortreding van Reël 68.3 deurdat die respondent salarisse uit die trustrekening betaal het wat daarop dui dat daar nie behoorlik tussen trust en besigheidstransaksies onderskei is nie;


(b) ‘n oortreding van Reël 68.6.2 deurdat oordragte vanaf die trust na die besigheidsrekening in ronde bedrae geskied het wat daarop dui dat sodanige oordragte nie identifiseerbaar is nie;


(c) ‘n oortreding van Reël 69.5 deurdat gelde vanaf die firma se trustbankrekening oorgeplaas is na die respondent se persoonlike bankrekening;


(d) ‘n oortreding van Reël 69.3.2 deurdat daar gedurende die finansiële jaar verskeie trustkrediteure met debietsaldo’s was;


(e) op jaareinde is verskeie fooie gedebiteer waar trustkrediteure debietsaldo’s gehad het ten einde die rekening met ‘n nil balans te sluit: byvoorbeeld rekeningnommer AL2222 het ‘n kredietsaldo van R170 657,59 waarvan ‘n bedrag van R170 000,00 volgens die grootboekrekening as fooie oorgedra is op 28 Februarie 2006. Hierdie bedrag is egter nooit na die besigheidsrekening oorgedra nie en dit is onseker wat daarvan geword het.


(2) Die respondent versuim het om sy Reël 70 ouditeursverslag vir die tydperk geëidig 28 Februarie 2007 by die Prokureursorde in te dien;


(3) Die respondent sy trust bankrekening in sekere bedrieglike handelinge gebruik het. Die respondent het dit erken en prokureur Henk Strydom van die firma Strydom & Bredenkamp Ing het Geringer meegedeel dat bedrog gepleeg is en die respondent se trust bankrekening daarvoor gebruik is. Die omstandighede kan soos volg saamgevat word:


(a) Strydom & Bredenkamp Ing het instruksies ontvang van Bridgelink (Edms) Bpk om aansoek te bring vir die sekwestrasie van G.D. Badenhorst en F.J.V. van Schalkwyk en die likwidasie van Busicor 0001 BK, Angelfish Investments 709 BK en Summer Symphony Properties 147 BK en ‘n skikkingsooreenkoms is tussen die partye aangegaan en die respondent, aangesien die fondse wat betrokke is deur die respondent se firma se trustrekening hanteer is.


(b) Voordat die aansoek aangehoor is, het The Bridging Factory (Edms) Bpk en Dynamic Wealth Stockbrokers (Edms) Bpk tussenbeide getree as skuldeisers/applikante teen die onderskeie respondente en ten tyde van die aangaan van die skikkingsooreenkoms was nog drie oorbruggingshuise, wat skade gely het, partye tot die ooreenkoms.


(c) Ingevolge die ooreenkoms tuseen die partye wat ‘n bevel van die hof gemaak is op 25 Mei 2007 (saaknommer 17229/2007) is Strydom aangestel om beheer van al die respondente (in die saak) se bates asook die bates van die respondent en sy eggenote oor te neem en daarmee te handel tot voordeel van die skuldeisers/applikante.


(d) Nadat mnr. Strydom aanvanklik instruksies van ‘n oorbruggingshuis ontvang het om gelde namens hulle in te vorder, het verskillende oorbruggingshuise hom ook in hierdie verband genader ten opsigte van finansieringstransaksies wat deur die trustrekening van Langerak Prokureurs hanteer is en het dit aan die lig gekom dat daar sogenaamde dubbele verdiskontering plaasgevind het.


(e) Die dubbele verdiskontering kan geїllustreer word deur middel van een geval wat Geringer vergelyk het met die firma se trustbankstate en trustkrediteuregrootboek.


(i) Langerak Prokureurs het instruksies ontvang om ‘n transport te registreer nadat ‘n koopooreenkoms ten opsigte van Erf 6739 Morelettapark op 8 Oktober 2004 tussen mnr. F.J.V. van Schalkwyk (Van Schalkwyk) (tweede respondent in die aansoek onder nommer 17229/07) in sy hoedanigheid as lid van Angelfish Investments 709 BK (Angelfish) (verkoper en vierde respondent in die aansoek) en mnr. en mev. Lau (Lau) onderteken is vir ‘n koopprys van R2 450 000,00.


(ii) Op 19 Januarie 2005 het Langerak Prokureurs instruksies vanaf Absa ontvang om toe te sien tot die registrasie van ‘n verband ten gunste van Lau in die bedrag van R2 000 000,00 ten opsigte van die transaksie.


(iii) Op 18 Augustus 2005 het Van Schalkwyk, in sy hoedanigheid as lid van Angelfish, ‘n ooreenoms aangegaan met Bridgelink op sterkte van die koopooreenkoms tussen Angelfish en Lau. Die respondent het in sy hoedanigheid as agent van Absa twee waarborge uitgereik ten bedrae van onderskeidelik R1 200 000,00 en R800 000,00 aan Bridgelink en hy het ook ‘n kantooronderneming onderteken ten gunste van Bridgelink waarin hy onderneem het om op datum van registrasie van Erf 6739 Morelettapark in die naam van Lau die bedrag aan Bridgelink te betaal. Hierdie betalings verskyn nie op die trustbankstaat van Langerak Prokureurs nie en geen sodanige inskrywing verskyn in die trustkrediteure-grootboek nie en dit blyk nie asof hierdie gelde in die firma se trustbankrekening ontvang is nie.


(iv) Op 25 Mei 2006 het Van Schalkwyk ‘n verdere finansieringsooreenkoms met Dynamco Advances (Edms) Bpk (Dynamco) onderteken op grond van dieselfde koopooreenkoms tussen Angelfish en Lau en het die respondent ook ‘n verdere kantooronderneming ten gunste van Dynamco geteken waarin hy onderneem het om op datum van registrasie van die eiendom ‘n bedrag van R2 000 000,00 aan Dynamco te betaal. Op 29 Mei 2007 is ‘n bedrag van R1 400 000,00 in die trustbankrekening van Langerak Prokureurs inbetaal. Volgens die trustkrediteure-grootboek is gemelde bedrag in grootboekrekening AL 2427 in die naam van Van Schalkwyk ontvang. Op datum van ontvangs van hierdie bedrag het die grootboekrekening ‘n debietsaldo van R105 175,00 gehad nadat ‘n betaling op 24 April 2006 aan Van Schalkwyk gemaak is terwyl daar geen gelde op hande was nie. Op datum van ontvangs van die bedrag is ‘n verdere betaling in die bedrag van R720 000,00 aan Van Schalkwyk gemaak.


(v) Op 11 Oktober 2006 het Van Schalkwyk ‘n verdere finansieringsooreenkoms met GMI Investments (Edms) Bpk (GMI) onderteken op grond van dieselfde koopooreenkoms tussen Angelfish en Lau vir ‘n bedrag van R1 600 000,00 en het die respondent ‘n verdere kantooronderneming ten gunste van GMI onderteken waarin hy onderneem het om op datum van registrasie van die eiendom ‘n bedrag van R1 600 000,00 plus fooie aan GMI te betaal. Op 24 Oktober 2006 is gemelde bedrag in Langerak Prokureurs se trustbankrekening inbetaal. Volgens die trustkrediteure-grootboek is gemelde bedrag in grootboekrekening AL2161 in die naam van Mettle Property ontvang. Op 31 Oktober 2006 is ‘n betaling in die bedrag van R700 000,00 wat aan Dynamco gemaak is teen hierdie rekening gedebiteer. Geringer is van mening dat hierdie betaling nie regmatig geskied het nie en dat dit blyk asof die respondent die een oorbruggingshuis se geld gebruik het om ‘n ander oorbruggingshuis te betaal en dat die respondent dus Reël 69.5 oortree het.


(vi) Op 25 Januarie 2007 het Van Schalkwyk ‘n verdere finansieringsooreenkoms met Mettle Property Finance (Edms) Bpk (Mettle Properties) onderteken in sy hoedanigheid as lid van Angelfish op sterkte van die dieselfde koopooreenkoms tussen Angelfish en Lau en het die respondent op 24 Januarie 2007 ook ‘n verdere kantooronderneming ten gunste van Mettle Property onderteken waarin hy onderneem het om op datum van registrasie van die eiendom die bedrag van R600 000,00 aan Mettle Properties te betaal. Die bedrag van R600 000,00 is op 29 Januarie 2007 in Langerak Prokureurs se trustbankrekening inbetaal. Volgens die truskrediteure-grootboek is gemelde bedrag ook in grootboekrekening AL2161 in die naam van Mettle Property ontvang en na ontvangs van betaling van die bedrag is daar op 30 Januarie 2007 vier tjeks in ‘n totale bedrag van R640 000,00 aan Van Schalkwyk uitgemaak. Die rekening het wel ‘n kredietsaldo gehad toe die gelde ontvang is.


(vii) Op 12 Februarie 2007 het die respondent ‘n kantooronderneming vir ‘n bedrag van R2 450 000,00 ten gunste van The Bridging Factory onderteken op sterkte van dieselfde koopooreenkoms waarin hy bevestig het dat geen ander ondermings ten opsigte van hierdie transaksie uitgereik is nie en het hy ook as agent van Absa ‘n waarborg uitgereik in die bedrag van R2 000 000,00 ten gunste van Dynamic Wealth Stockbrokers, wie die befondsingsentiteit van Bridging Factory (Edms) Bpk is. Op 14 Februarie 2007 is ‘n bedrag van R1 584 000,00 in die trustbankrekening van Langerak Prokureurs inbetaal. Volgens die trustkrediteure-grootboek is gemelde bedrag ook in grootboekrekening AL2161 in die naam van Mettle Property ontvang. Tjeks uitgereik op 15 Februarie 2007 was nie beskikbaar vir inspeksie nie, maar volgens die grootboekrekening is vyf tjeks in ‘n totale bedrag van R1 555 000,00 op 15 Februarie 2007 aan Van Schalkwyk betaal.


(f) Die volgende blyk uit hierdie transaksies:


(i) Die koopprys van die eiendom het ‘n bedrag van R2 450 000,00 beloop.


(ii) Die respondent het hierteenoor kantoorondernemings in ‘n totale bedrag van R8 650 000,00 uitgereik en ook in van die ondernemings skriftelik bevestig dat geen ondernemings nog teen die koopprys uitgereik is nie.


(iii) Die respondent het wederregtelik waarborge uitgereik in sy hoedanigheid as agent van Absa alhoewel hy bewus was van die feit dat hy reeds waarborge vir die verbandbedrag uigereik het.


(iv) Volgens Geringer se inspeksie van die trustbankstate van Langerak Prokureurs is betalings vanaf vier oorbruggingshuise in ‘n totale bedrag van R5 184 000,00 ten opsigte van hierdie een koopsom van R2 450 000,00 ontvang en volgens die trustkrediteure-grootboek is ‘n bedrag van ongeveer R3 055 000,00 van die totale bedrag van R5 184 000,00 ontvang vanaf die oorbruggingshuise aan Van Schalkwyk betaal.


(g) Volgens mnr. Strydom was hierdie tipe transaksies nie beperk tot die transaksie reeds beskryf nie. Daar was soortgelyke transaksies waarby die entiteite Busicor 0001 BK (die derde respondent in die aansoek) en Summer Symphony 147 BK (die vyfde respondent in die aansoek) betrokke was. Volgens Geringer het bogemelde werkswyse nie eenmalig plaasgevind nie en het die respondent hom skuldig gemaak aan onprofessionele en onetiese gedrag.


(3) Die respondent versuim het om sy trust bankrekening behoorlik te behartig. (Volgens ‘n saldosertifikaat wat Geringer bekom het was daar op 7 September 2007 slegs R18 820,38 in die respondent se trust bankrekening beskikbaar. Die respondent het nie trusttjeks uitgemaak aan ‘n spesifieke begunstigde of die se order nie en op slegs een van die tjeks was die woorde ‘Toonder’ nie deurgehaal nie. Gedurende die tydperk 1 Maart 2005 tot 30 April 2007 het die respondent verskeie betalings in die totale bedrag van R5 559 744 aan F.J.W. van Schalkwyk gemaak. ‘n Lys van die tjeks wat nie aan Geringer beskikbaar gestel is nie het aan die lig gebring dat die respondent gedurende die tydperk 10 November 2006 tot 15 Maart 2007 verskeie ander betalings uit sy trust bankrekening aan Van Schalkwyk gemaak het. In die meeste gevalle het die respondent se tjekteenblaaie geen verwysings bevat nie. Geringer kon daarom nie vasstel in welke transaksies fondse uitbetaal is nie. Sy kon ook nie vasstel of die betalings regmatig geskied het nie);


(4) Volgens die trust bankstate wat Geringer nagegaan het blyk dit dat die respondent gedurende die tydperk van die ondersoek ‘n bedrag van R105 000 vanuit die firma se trust bankrekening na sy persoonlike bankrekening oorgeplaas het. (Oortreding van Reël 59.5) Die respondent het die salarisse van sy personeel in ‘n totale bedrag van R48 100 uit die firma se trust bankrekening uitbetaal. (Oortreding van Reël 59.5). Die respondent het alle oordragte van die firma se trust bankrekening na die besigheidsrekening in ronde bedrae gemaak. Verskeie van hierdie oordragte in ronde bedrae het op dieselfde datum plaasgevind. (Oortreding van Reël 68.6.2).


(5) Geringer het die volgende bevind met betrekking tot trustkrediteure se rekeninge: Gedurende die tydperk 1 Maart 2005 tot 30 April 2007 het verskeie trustkrediteure rekeninge debietsaldo’s getoon. (Oortreding van Reël 69.3.2): die respondent het nie die saldo’s van trustkrediteure korrek oorgedra na die volgende finansiële jaar nie. Die rekeningkundige aantekeninge het gevolglik nie die korrekte finansiële posisie in die firma weerspieël nie. (Oortreding van aritkel 78(4) van die Wet en Reël 38.1 van die Reëls). Daar was verskeie ander oortredings van die reëls wat van toepassing op trust bankrekeninge en trustkrediteure is;


(6) Die respondente en/of persone en/of entiteite wat aan hom verwant is het deurentyd betalings uit die firma se trust bankrekening ontvang. Die respondent het ‘n voordeel uit sodanige betalings ontvang. Betalings in die totale bedrag van R3 679 461,80 is op hierdie wyse gemaak;


(7) Geringer het bepaal dat die respondent die volgende bepalings van die Wet en die Reëls oortree het: artikel 78(4) van die Wet; Reël 68.1; Reël 68.3; Reël 68.4.2; Reël 68.6.2; Reël 69.3.2; Reël 69.3.2; Reël 69.5; Reël 69.6 en Reël 70.


(8) Sedert die uitreiking van die aansoek het bykomende feite met betrekking tot die respondent se onprofessionele gedrag onder die Prokureursorde se aandag gekom. Benewens die eis wat teen die Getrouheidsfonds ingedien is en wat voortgespruit het uit die respondent se beweerde wederregtelike toeëiening van trustgeld is verskeie verdere eise by die Getrouheidsfonds ingedien. Tot op datum is daar 15 eise by die Getrouheidsfonds ingedien en twee van hierdie eise is reeds deur die fonds erken en uitbetaal nl. Boy Cooster Masombuko R75 000 en Andries Wilhelmus Pretorius Fourie R329 387,00. Die Getrouheidsfonds het dus bevind dat die respondent in minstens bogemelde twee gevalle diefstal van trustgeld gepleeg het. Tien verdere eise word deur die Getrouheidsfonds ondersoek.


[8] Die respondent het nie hierdie feite betwis nie en daar is geen rede om hulle nie te aanvaar nie. Dit is geykte reg dat ‘n prokureur wat nie behoorlike aantekeninge van sy trustrekening byhou nie en wat sy kliënte se trustgeld toeien of wanaanwend of steel, nie ‘ n geskikte persoon is om as ‘n prokureur te praktiseer nie. Ek was van mening dat die respondent se skorsing nie verleng moes word nie en dat hy van die rol geskrap moes word.






____________________

B.R. SOUTHWOOD

REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF



Ek stem saam







_____________________

C. PRETORIUS

REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF

SAAK NR: 47899/2007


DATUM VAN VERHOOR: 7 November 2008


NAMENS DIE APPLIKANT: Me. F. Asmall

IN OPDRAG VAN: Rooth Wessels Motla Conradie


NAMENS DIE RESPONDENT: Geen verskyning


DATUM VAN UITSPRAAK: 14 November 2008