South Africa: High Courts - Gauteng
You are here: SAFLII >> Databases >> South Africa: High Courts - Gauteng >> 2008 >> [2008] ZAGPHC 32 | Noteup | LawCiteGreater Grain Trading BK v Absa Bank Beperk (6384/2005) [2008] ZAGPHC 32 (7 February 2008)
Download original files | Bookmark/Share this page |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(TRANSVAAL PROVINSIALE AFDELING)
Datum: 2008-02-07
Saaknommer: 6384/2005
ONRAPORTEERBAAR
In die saak tussen:
GREATER GRAIN TRADING BK Applikant
en
ABSA BANK BEPERK Respondent
UITSPRAAK
SOUTHWOOD R
[1] Greater Grain doen aansoek om verlof om te appelleer teen die gedeelte van die uitspraak gelewer op 14 Desember 2007 wat bepaal dat Greater Grain teenoor Absa aanspreeklik is vir die terugbetaling van dieselfde bedrae wat Absa aan die eisers verskuldig is.
[2] In terme van Reël 49(1)(b) moes Greater Grain voor of op 10 Januarie 2008 sy aansoek indien en die gronde vir sy aansoek verstrek. Greater Grain het versuim om dit te doen en het op 30 Januarie 2008 ‘n Kennisgewing van Aansoek om Verlof om te Appelleer en ‘n Aansoek om Kondonnasie afgelewer.
[3] Gavin Stanley se funderende eedsverklaring ter ondersteuning van die aansoek om kondonnasie is baie vaag en verduidelik nie hoekom Greater Grain versuim het om die kennisgewing betyds af te lewer nie. Volgens Mnr. Stanley was hy in Suid-Afrika vanaf 31 Januarie 2007 en was hy bewus van die uitspraak omdat dit reeds aan hom versend is. Hy sê nie wanneer nie maar dit het veroorsaak dat hy en sy gesin vroeër vanaf Australia na Suid-Afrika terugkeer. Hy sê hy wou die moontlikheid van ‘n appèl deeglik deurdink maar is uiters vaag oor wat dit beteken en presies wat hy gedoen het. Hy sê net dat hy die saak met verskeie persone bespreek het. Greater Grain se advokaat het toegegee dat die verduideliking onvoldoende is maar aangevoer dat Mnr. Stanley het gesê wat hy kon sê.
[4] Greater Grain het derhalwe nie die versuim om betyds ‘n kennisgewing van aansoek om verlof om te appelleer af te lewer verduidelik nie.
[5] Wat die vooruitsigte van sukses in die appèl betref opper Greater Grain dieselfde punte wat in die uitspraak verwerp is. In sy kennisgewing van aansoek gaan Greater Grain verder en beweer dat die bewoording van die koopkontrak geїgnoreer moet word. Greater Grain steun op ‘die gemeenregtelike beginsel dat ‘n party, hetsy deliktueel of kontraktueel, nie geregtig is op oorkompensasie nie’ en doen aan die hand dat dit die suiwerste posisie is, ongeag die bepalings van die koop en verkoop ooreenkoms tussen Greater Grain en Absa. Geen gesag is aangehaal ter ondersteuning van hierdie grond nie.
[6] Na my mening is daar nie meriete in hierdie grond nie. Absa se eis is nie ‘n eis vir skadevergoeding nie. Absa dwing eenvoudig prestasie af in terme van die klousule wat voorsiening maak vir skadeloosstelling.
[7] In argument het Greater Grain se advokaat verder aangevoer, sonder om die gronde van appèl in Greater Grain se kennisgewing aan te vul of te wysig, dat klousule 12 van die ooreenkoms ‘n strafbeding vervat soos omskryf in artikel 1 van die Wet op Strafbedinge 15 van 1962 en dat ‘n hof in terme van artikel 3 van die Wet die bedrag betaalbaar kan verminder. Daar is nie na die bepalings van artikel 1 verwys en verduidelik hoe die bepalings van klousule 12 ‘n strafbeding kan wees nie. Afgesien van die feit dat die punt nou op hierdie laat stadium geopper word sonder dat dit dit enigsins tydens die verhoor ondersoek is, is ek van mening dat klousule 12 ‘n indemnifikasie is en derhalwe nie onderhewig aan die bepalings van Wet 15 van 1962 is nie. Die bepalings van die indemnifikasie waarop Absa steun is baie wyd en dek die skadevergoeding waarvoor Absa aanspreeklik gehou word. Absa eis nie ‘n strafbedrag van Greater Grain nie. Absa eis prestasie.
Bevel
[8] Greater Grain se aansoek om kondonnasie en aansoek om verlof om te appelleer word van die hand gewys met koste.
___________________
B.R. SOUTHWOOD
REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF
SAAK NR: 6384/2005
DATUM VAN VERHOOR: 6 Februarie 2008
NAMENS DIE APPLIKANT: ADV. C.D. VAN DER MERWE
IN OPDRAG VAN: Mnr. C. Botha van Cornel Botha Prokureurs
NAMENS DIE RESPONDENT: ADV. H. VAN EEDEN
IN OPDRAG VAN: Mev. M. Cowley van Lowndes Dlamini Prokureurs
DATUM VAN UITSPRAAK: 7 Februarie 2008

RTF format