South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2009 >> [2009] ZAFSHC 36

| Noteup | LawCite

S v Leisa and Another (63/2009) [2009] ZAFSHC 36 (19 March 2009)

Download original files

PDF format

RTF format

Bookmark/Share this page

Bookmark and Share

VRYSTAAT HOË HOF, BLOEMFONTEIN

REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA


Hersiening Nr. : 63/2009


In die hersiening tussen:


DIE STAAT


versus


TSEKO SIMON LEISA Beskuldigde 1

SETJHABA PAUL MOKHOTHU Beskuldigde 2

_____________________________________________________


CORAM: WRIGHT, R et VAN ZYL, R

_____________________________________________________


UITSPRAAK DEUR: WRIGHT, R

_____________________________________________________


GELEWER OP: 19 MAART 2009

_____________________________________________________


[1] In hierdie geval is twee beskuldigdes, onderskeidelik 24 en 26 jaar oud, skuldigbevind aan huisbraak met die opset om te steel en diefstal en gevonnis tot 18 (agtien) maande gevangenisstraf. Dit is duidelik dat beskuldigde 1 wel skuldig is aan die betrokke misdaad, aangesien sekere van die gesteelde items by hom gevind is. Daar is ook ander aanduidings dat hy inderdaad skuldig is. Wat beskuldigde 2 betref, het hy onskuldig gepleit en ‘n pleitverduideliking verskaf wat uiteindelik saamgestem het met sy getuienis in hoof.


[2] Die Staat het twee getuies geroep. Die eerste getuie was die klaagster. Sy getuig dat sy op die oggend na die betrokke voorval wakker geword het en sekere items in haar huis vermis het, o.a. gordyne, ‘n DVD-speler en vleis. Verder het sy moddervoetspore in die huis opgemerk. Dit het daarop gedui dat ‘n inbraak plaasgevind het, alhoewel dit onbekend is op watter wyse toegang tot die huis verkry is. Op ‘n latere stadium het sy toevallig haar gesteelde gordyne sien hang binne ‘n ander woning. ‘n Lid van die SAP, Kaptein Mosounyane, het haar na die betrokke woning vergesel.


[3] Kaptein Mosounyane is dan ook die tweede staatsgetuie. Hy getuig dat hulle vir beskuldigde 1 in die woning aangetref het. In die woning is sekere van die gesteelde items aan hulle uitgewys deur beskuldigde 1. Verder is die naam van beskuldigde 2 aan hulle verskaf. Geen van die gesteelde goedere is in beskuldigde 2 se woning gevind nie, maar wel van die gesteelde gordyne in die woning van sy suster. Dit het gelei tot die arrestasie van beskuldigde 2.


[4] Volgens beskuldigde 1 was beskuldigde 2 glad nie by die saak betrokke nie en het hy dit verskeie kere in sy getuienis herhaal dat nr. 2 nie betrokke was nie.


[5] Beskuldigde 2 getuig dat beskuldigde 1 op ‘n stadium by sy huis opgedaag het met gordyne wat hy probeer verkoop. Beskuldigde 2 het gevra of die gordyne gesteel is, waarop beskuldigde 1 ontkennend geantwoord het. Met beskuldigde 2 se hulp is die gordyne uiteindelik aan sy suster verkoop.


[6] Die somtotaal van alle getuienis wat beskuldigde 2 moontlik by die misdaad kan betrek, is die volgende:

(a) Van die gesteelde gordyne is in die besit van sy suster gevind. Beskuldigde 2 verskaf egter ‘n verduideliking waarom dit die geval is en kan sy verduideliking ongetwyfeld redelik moontlik waar wees.

(b) Kaptein Mosounyane het ook getuienis verskaf van ‘n ontoelaatbare bekentenis wat deur beskuldigde 1 gemaak is. In die bekentenis het hy ook verwys na sy vriende en kan sy getuienis moontlik daarop neerkom dat beskuldigde 2 ook van sy vriende was. Die getuienis is onduidelik en is die hele bekentenis korrek deur die landdros as ontoelaatbaar verwerp en des te meer in soverre dit beskuldigde 2 betref. Beskuldigde 1 ontken in sy getuienis dat hy sulke mededelings gemaak het, soos reeds vermeld, en het die getuie dit duidelik gestel dat die gordyne nie by beskuldigde 2 gekry is nie, maar by beskuldigde 2 se suster wat dit vanaf beskuldigde 1 gekoop het.

(c) Op een stadium beweer klaagster dat beskuldigde 1 haar meegedeel het dat beskuldigde 2 die yskaslaai, waarin gesteelde vleis was, geneem het. Hierdie punt is nooit verder geneem in enige getuienis nie en beskuldigde 2 het dit ten sterkste ontken onmiddellik nadat die bewering gemaak is in sy kruisverhoor van hierdie getuie.

(d) Daar was sprake dat beskuldigde 2 betrokke was by die verkoop van die gesteelde DVD-speler. Dit is egter sy weergawe dat hy geen kennis dra van ‘n DVD-speler nie. Verder het hy die persoon aan wie die DVD-speler verkoop is, geroep as getuie. Die betrokke persoon het bevestig dat beskuldigde 2 niks met die transaksie te make gehad het nie.


[7] In haar uitspraak verskaf die landdros ook geen verdere rede waarop beskuldigde 2 skuldig is nie. Wat sy inderdaad sê, is, naamlik dat hy die gordyne van beskuldigde 1 gekry het, is nie korrek nie, aangesien dit sy suster was wat die gordyne vanaf beskuldigde 1 gekry het. Verder vermeld sy die volgende:


As beskuldigde 1 nie eers wil erken dat hyself ingebreek het nie, hoekom sal hy nou sê beskuldigde 2 het saam met hom daar ingebreek.”


Dit dui hoegenaamd nie daarop dat beskuldigde 2 inderdaad saam met hom ingebreek het nie en het beskuldigde 1 by herhaling ontken dat beskuldigde 2 saam met hom was. Voorts word die vraag gevra hoekom beskuldigde 1 nou vir beskuldigde 2 sou uitkies om hom te help om die gordyne van die hand te sit. Dit is bekend dat beskuldigde 2 een van sy vriende was en kan daaruit hoegenaamd ook nie afgelei word dat beskuldigde 2 saam in die huis ingegaan het waar die inbraak plaasgevind het nie. (Dit moet hier in gedagte gehou word dat volgens beskuldigde 1 hyself nie die goed gesteel het nie, maar ene Lebohang.)


[8] Indien al die getuienis ontleed word, is daar myns insiens nie in die skuld van beskuldigde 2 bo redelike twyfel bewys nie. Om daardie rede is daar reeds op 10 Februarie 2009 gelas dat beskuldigde 2 vrygelaat moes word.


[9] Bygevolg word die volgende bevel gemaak:

1. Die skuldigbevinding en vonnis ten opsigte van beskuldigde 1, Tseko Simon Leisa, word bekragtig.

2. Die skuldigbevinding en vonnis ten opsigte van beskuldigde 2, Setjaba Paul Mokhothu, word tersyde gestel en die beskuldigde word ontslaan.



______________

G.F. WRIGHT, R



Ek stem saam.




____________

C. VAN ZYL, R

/sp