South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2009 >> [2009] ZAFSHC 35

| Noteup | LawCite

S v Monyana and Others (A115/08) [2009] ZAFSHC 35 (19 March 2009)

Download original files

PDF format

RTF format

Bookmark/Share this page

Bookmark and Share

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)


Saak Nr. : A115/08


In die appèl tussen:-


PAULUS MONYANA besk 1 Eerste Appellant

MIKAS KHOZA besk 2 Tweede Appellant

ISAAC MASINGA besk 3 Derde Appellant

THULANI SKOSANA besk 4 Vierde Appellant

WILSON SITHOLE besk 5 Vyfde Appellant

DINGAAN MABONDA besk 6 Sesde Appellant

ARMANDO TOVELA besk 7 Sewende Appellant

CHARLES SITHOLE besk 8 Agtste Appellant

AARON MHLAMBO besk 9 Negende Appellant

SAMUEL MTIMKULU besk 10 Tiende Appellant

PHILLEMON CHAUKE besk 11 Elfde Appellant

SOX MOJAKE besk 12 Twaalfde Appellant

SIMON SIBANDA besk 13 Dertiende Appellant

MOSES SITHOLE besk 14 Veertiende Appellant

PHINEAS MUCHUASE besk 15 Vyftiende Appellant

SERGIO MANABE besk 16 Sestiende Appellant

ELIAS SITHOLE besk 17 Sewentiende Appellant

SAM MANANGHA besk 18 Agtiende Appellant

CARLOS CHAUKE besk 19 Negentiende Appellant

ERIC SITHOLE besk 20 Twintigste Appellant

PHILLIP THOBELA besk 21 Een-en-Twintigste Appellant

KENNETH MALELA besk 22 Twee-en-Twintigste Appellant

DAVID MANDLI besk 23 Drie-en-Twintigste Appellant

FILAMON SITHOLE besk 24 Vier-en-Twintigste Appellant


en


DIE STAAT Respondent

_____________________________________________________


CORAM: HANCKE, R et JORDAAN, R

_____________________________________________________


UITSPRAAK DEUR: JORDAAN, R

_____________________________________________________

_____________________________________________________


AANGEHOOR OP: 9 MAART 2009

_____________________________________________________


GELEWER OP: 19 MAART 2009

_____________________________________________________


[1] Die appellante het in die Streekhof te Kroonstad tereggestaan op verskeie aanklagte van diefstal van koper- en/of aluminium kabel, die eiendom van ESKOM. Hulle is onder andere ook aangekla van ‘n oortreding van artikel 9(2)(a) van die Wet op Voorkoming van Georganiseerde Misdaad, Nr. 121 van 1989. Hierdie aanklag was geformuleer onder aanklag 60 van die klagstaat. Die verhoor wat oor ‘n baie land tyd gestrek het, het altesaam ongeveer 120 dae aan hoftyd dit wil sê ses maande in beslag geneem. Die oorkonde van die verrigtinge, met uitsluiting van sekere bewysstukke, beslaan meer as 4 000 bladsye.


[2] Die onderskeie appellante is aan verskillende van die klagtes skuldig bevind. Sommige van die skuldigbevindings berus op sogenaamde direkte getuienis wat verband hou met die onderskeie arrestasies van die verskillende appellante tydens of kort na pleging van die betrokke misdrywe terwyl ‘n groot aantal skuldigbevindings berus op sogenaamde omstandigheidsgetuienis. Ek sal later meer volledig handel met die omstandigheidsgetuienis.


[3] Die Verhoorhof het verlof om te appelleer teen skuldigbevinding verleen aan die appellante wat skuldig bevind is aan klagtes wat verband hou met die sogenaamde omstandigheidsgetuienis, verlof geweier ten opsigte van klagtes wat verband hou met die direkte getuienis en aan al die appellante verlof verleen om te appelleer ten opsigte van vonnis. Die skuldigbevindings ten opsigte waarvan verlof om te appelleer geweier is, behels die volgende:

Appellant 1 op klagtes 1 en 47;

Appellante 2, 3, 4, 5, 6 en 7 op aanklag 28;

Appellante 8 en 9 op aanklag 36;

Appellante 10, 11 en 12 op aanklag 50;

Appellant 13 op aanklag 55;

Appellante 14, 15, 16 en 17 op aanklag 41;

Appellante 18, 19, 20 en 21 op aanklag 57; en

Appellante 22, 23 en 24 is skuldig bevind aan poging op aanklag 58.


[4] Die klagtes ten opsigte waarvan verlof om te appelleer verleen is en wat die onderwerp van hierdie appèl vorm, behels die volgende:

Appellant 1 is skuldig bevind aan klagtes 40, 45, 46 en 60;

Appellant 2 is skuldig bevind aan klagtes 25 en 60;

Appellant 3 aan klagtes 25 en 60;

Appellant 6 aan klagtes 8, 25 en 60;

Appellant 8 aan klagtes 20, 22, 32 en 60;

Appellant 10 aan poging op klagtes 2, 3, 4, 5 en 13 en skuldig aan klagtes 7, 8, 9, 12, 32, 36 en 60;

Appellant 13 is skuldig bevind aan poging op aanklag 11 en skuldig aan klagtes 16, 24, 26, 27, 29, 30, 33, 34, 35, 39, 41 en 60;

Appellant 14 is skuldig bevind aan poging ten opsigte van klagtes 13 en 19 en skuldig aan klagtes 24, 31 en 60; en

Appellant 24 is skuldig bevind aan klagtes 21, 29, 33, 49, 52 en 60.


[5] Wat betref die klagtes ten opsigte waarvan verlof om te appelleer teen skuldigbevinding verleen is, berus al die skuldigbevindings met uitsondering van aanklag 40 op sogenaamde selfoongetuienis. In hierdie verband blyk dit dat die selfoonstate ten opsigte van die Vodacom selfone as korrek en betroubaar aanvaar is, maar nie die wat betrokke is by die MTN netwerk van die selfone nie. In kort kom die selfoongetuienis daarop neer dat die onderskeie selfone tydens die arrestasie van die appellante of in hul besit gevind is en sodoende met die appellant verbind is, of deur middel van naam en selfoonnommers met die betrokke appellante verbind is. Die inligting wat betrekking het op die selfoonhandstukke, selfoonnommers en selfoonsimkaarte is van die onderskeie selfoonnetwerkoperateurs verkry en ontleed. Deur middel van daardie ontleding kon vasgestel word dat die selfone gebruik is in die omgewing van basisstasies geleë in die omgewing waar die misdrywe gepleeg is van tyd tot tyd en ook gedurende die tydsbestek waar die betrokke misdrywe gepleeg is. Nie alleen het die selfoondata die appellante in die omgewing van die onderskeie misdrywe se pleging geplaas nie, maar ook wat betref tyd en datum hulle met die omgewing verbind. Voorts het die selfoondata daarop gedui dat daar in ‘n groot aantal gevalle onderlinge selfoonkontak tussen die appellante plaasgevind het gedurende die betrokke tydperke waar die misdrywe gepleeg is. Dit dien vermeld te word dat die misdrywe gepleeg is in ‘n area ver verwyderd van die woonplek van die appellante wat bykans almal woonagtig was in die omgewing Orange Farm in Gauteng. Hul woonplek is so ver verwyderd van die area waarin die misdrywe gepleeg is dat dit hoegenaamd nie moontlik was dat daar ‘n foutiewelike verbinding tussen die selfone se teenwoordigheid in die omgewing van die misdrywe met die basisstasies in daardie omgewing kon geskied nie.


[6] Namens die appellante is uiters volledige betoogshoofde geliasseer deur mnre. Van Rensburg en Stoffberg waarin ten opsigte van elke appellant se betrokkenheid gehandel word met die getuienis wat hom beweerdelik verbind met elk van die afsonderlike misdrywe en aangevoer dat die getuienis bloot die teenwoordigheid van sodanige appellant in die omgewing van ‘n basisstasie aandui, maar nie noodwendig sy betrokkenheid by die pleging van die misdryf nie. Vir doeleindes van hierdie uitspraak ag ek dit nie nodig of dienlik om met elke appellant en elke aanklag afsonderlik te handel nie, aangesien die geheel van die getuienis ten opsigte van almal en die argumente ten opsigte daarvan soortgelyk is.


[7] Soos reeds gemeld, word die betroubaarheid van die selfoondata van die Vodacom netwerk nie in geskil geplaas nie, maar ten opsigte van die MTN netwerk is betoog dat die data manipuleerbaar is, nie oorspronklik gegenereer is nie en dus nie betroubaar is nie. Ten opsigte hiervan het mev. Hilda du Plessis getuig. In haar getuienis het sy ‘n fout opgemerk met betrekking tot die koppeling tussen sekere selfoondata en die betrokke basisstasies. Sy het dit onder die aandag van die aanklaer gebring en ‘n herprosessering daarvan gedoen. Dit het slegs betrekking gehad op die state wat appellant 2 betref. Volgens haar getuienis word die selfoonroudata vanaf die rekenaar verkry (sekere irrelevante data kan en word op die rekenaar geblok) sodat slegs die benodigde gegewens uitgedruk word. Daardie gegewens dui egter nie die basisstasie aan wat die oproep hanteer het nie. Laasgenoemde word verkry deur die betrokke roudata met ‘n afsonderlike rekenaarprogram, bekend as ‘n Makro, te verwerk welke dan die betrokke basisstasie identifiseer.


[8] Die fout het met voormelde data ingesluit, aangesien die roudata uit die argief (op bande bewaar) verkry is en toe deur middel van die Makro-program gekoppel is met basisstasies waarvan die name van tyd tot tyd verander, alhoewel die toegekende identiteitsnommer van die basisstasies dieselfde bly. Die program waarmee die koppeling gedoen is in die onderhawige geval van beskuldigde 2, was verouderd en het daarom die koppeling tussen oproep en selfoondata met die verkeerde basisstasies verbind. Dit is toe deur haar oorgedoen met die korrekte program en volgens haar in alle opsigte betroubaar. Volgens haar is dit bykans onmoontlik om oproep en selfoondata te verander, aangesien koppelings met ander netwerke dan ook in gedrang kom en die data van die ander netwerke nie verander kan word nie en dan sal verskil. Mnr. Van Rensburg het na die proses hierbo vermeld, verwys as “manupulering”, ‘n woord wat die getuie dan ook aangeneem het. Inhoudelik is haar getuienis egter duidelik, naamlik dat die proses, alhoewel afhanklik van twee programme wat opmekaar inwerk, deur die rekenaar verrig word en nie deur menslike insette nie. Dit kan nie menslik verander word in die sin van vervalsing van die resultate nie. Myns insiens kan die getuienis ook wat betref die MTN netwerk aanvaar word as betroubaar, soos die Verhoorhof ook tereg bevind het.

[9] Die vraag is dan of die selfoongetuienis voldoende is om die skuldigbevindings te regverdig. In hierdie verband het die Verhoorhof noukeurig die getuienis ontleed en in gevalle waar daar nie voldoende koppeling tussen die tyd van die oproepe en die pleging van die misdrywe bewys was nie, die voordeel van die twyfel aan die appellante gegee. In die gevalle waar skuldigbevindings gevolg het, het die Verhoorhof verskeie faktore oorweeg, onder andere:

(a) Die skakeling tussen die verskillende appellante in die algemene omgewing van die misdrywe en in die tydsbestek waarin dit gepleeg is;

(b) Die teenwoordigheid van die appellante in die algemene omgewing waar die misdrywe gepleeg is;

(c) Die onwaarskynlikheid van toeval dat die appellante te die gegewe tyd ver van hul woonplekke verkeer wanneer die onderlinge oproepe gemaak en/of ontvang word of die betrokke selfone in die omgewing van die betrokke basisstasies opgevang word;

(d) Die bewese betrokkenheid van die appellante by soortgelyke misdrywe in dieselfde omgewing en dieselfde tydsbestek;

(e) Die leuenagtige ontkenning van die appellante dat hulle in die omgewing was en/of die leuenagtige verduideliking van die appellante vir hul teenwoordigheid in die betrokke omgewing;

(f) Hierby kan gevoeg word die feit dat meeste van die oproepe gedurende nagtelike ure geskied het wanneer normale werksmense by hulle huise verkeer of slaap.


[10] Ek meen die Verhoorhof het nie fouteer nie en kan nie fouteer word in hierdie opsig nie. Inteendeel getuig die uitspraak van deeglike en noukeurige ontleding met versigtige inagneming van alle relevante faktore en die nodige versigtigheid waar aangewese. Ek is van mening dat die appèlle teen die skuldigbevindings ten opsigte van voormelde betrokke klagtes moet misluk.


[11] Wat betref aanklag 40 is appellant nr. 1 skuldig bevind uit hoofde van motorbandspore, wat volgens die bevinding van die Verhoorhof voldoende ooreenkomste toon met die bande van die voertuig deur eerste appellant bestuur tydens sy arrestasie op aanklag 47. Namens appellant 1 is geargumenteer dat daar onvoldoende getuienis is om tot dié bevinding te geraak dat daar voldoende ooreenkomste bewys is en boonop as daar was, daarvan al te lei dat appellant 1 die voertuig toe bestuur het of daarin teenwoordig was.


[12] Die Verhoorhof het ook hierdie getuienis versigtig ontleed. Dit dien vermeld te word dat die uniekheid van die spore en bande daarin geleë is dat die betrokke voertuig vier verskillende fabrikate bande met vier verskillende loopvlakke en patrone opgehad het. Dit maak dit hoogs onwaarskynlik dat ‘n ander voertuig dieselfde kombinasie bande sou hê. Mnr. Van Rensburg was ook genoop om dit toe te gee.


[13] Appellant 1 kon nie die voertuig se teenwoordig tydens aanklag 40 verduidelik nie. Hy is ook deur die Hof as ‘n opperste leuenaar beskou (‘n bevinding wat by die lees van sy getuienis heeltemal geregverdigd blyk te wees). Sy leuenagtigheid en betrokkenheid by soortgelyke misdade oor dieselfde tydsbestek dien as voldoende waarborg vir die Verhoorhof se bevinding ten opsigte van hierdie aanklag.


[14] Wat betref aanklag 60 berus die skuldigbevinding grootliks op die skuldigbevindings hierbo vermeld saamgesien met die skuldigbevindings ten opsigte waarvan nie verlof tot appèl verleen is nie. Indien die appellante ten opsigte van bogemelde skuldigbevindings onsuksesvol is, volg dit dat hulle ook ten opsigte van aanklag 60 onsuksesvol behoort te wees. Die geheelbeeld van die wyse waarop die misdrywe gepleeg is, die klaarblyklike onderlinge kontak en skakeling tussen die appellante en die feit dat die aard van die misdrywe sodanig is dat dit nie onafhanklik en sonder vooraf beplanning en onderlinge hulp gepleeg kon word nie, regverdig geen ander redelike afleiding as dat hulle skuldig is aan aanklag 60 ook nie. Die appèl ten opsigte van skuldigbevinding ten opsigte hiervan moet derhalwe ook misluk.


AD VONNIS

[15] Wat die persoonlike omstandighede van die appellante betref, blyk dit dat hulle ouderdomme wissel tussen 25 en 50 jaar. Almal van hulle het in een of ander diensbetrekking gestaan voor hulle arrestasie op die huidige aanklagte. Wat vorige veroordelings betref, het slegs appellante nrs. 1, 7 en 18 veroordelings wat ter sake is. Die ander appellante het óf geen vorige veroordelings nie óf veroordelings wat so oud is dat dit nie in ag geneem kan word nie.


[16] Wat wel van groot belang is, is die feit dat al die appellante in hegtenis was en dus verhoorafwagtend was vir ‘n tydperk van bykans vier jaar. Die resultaat daarvan is dat die appellante wat slegs aan een aanklag skuldigbevind is en tot 6 (ses) jaar gevangenisstraf gevonnis is, effektiewelik 10 (tien) jaar gevangenisstraf uitdien. Die appellante wat aan meerdere klagtes skuldigbevind is se effektiewe gevangenisstraf is ook dan ongeveer 4 (vier) jaar meer as die opgelê deur die Verhoorhof.


[17] Daar is verskeie verswarende omstandighede teenwoordig by die pleging van hierdie misdrywe. Die pleging van die misdrywe het gepaardgegaan met deeglike en fyn voorafbeplanning; weens die aard van die oortredings kan dit net effektief deur bendes of ‘n groep persone wat saamspan gepleeg word. Die gevolge van die misdade was ook ernstig: Dit het gepaardgegaan met kragonderbrekings, byvoorbeeld het die dorp Edenvale vir 36 uur sonder kragtoevoer gesit; die Madala pompstasie wat verbind is aan die pyplyn vanaf Durban en brandstof na Sasol moes pomp, kon vir sekere tye nie funksioneer nie; silo’s wat nie graan van boere kon ontvang nie; die spoorweë wat tot stilstand gekom het; die publiek se elektriese motors en toerusting wat beskadig is weens oneffektiewe kragtoevoer en ESKOM se verliese weens geleier diefstal wat in die jaar 2004 ongeveer R27,8 miljoen beloop het en in die jaar 2005 ongeveer R25 miljoen.


[18] Die Verhoorhof het wat betref die diefstalklagtes ten opsigte van elke klagte gevangenisstraf van 6 (ses) jaar opgelê en ten opsigte van dié appellante wat betrokke was by aanklag 60 onder die Wet op Georganiseerde Misdaad ten opsigte van daardie klagte 2 (twee) jaar gevangenisstraf opgelê. Wat die individuele appellante betref, was die volgende getal diefstalklagtes ter sprake en was die koste van die vervanging van die geleier ten opsigte van sodanige klagtes soos hieronder uiteengesit tesame met die effektiewe vonnis wat elkeen van hulle opgelê is, as volg:

Appellant 1: 5 klagtes ter waarde van R161 400,00 – 13 (dertien) jaar gevangenisstraf;

Appellant 2: 2 klagtes ter waarde van R76 800,00 – 7 (sewe) jaar gevangenisstraf;

Appellant 3: 2 klagtes ter waarde van R 76 800,00 – 7 (sewe) jaar gevangenisstraf;

Appellante 4 en 5: 1 aanklag ter waarde van R48 000,00 – 6 (ses) jaar gevangenisstraf;

Appellant 6: 3 klagtes ter waarde van R117 300,00 – 9 (nege) jaar gevangenisstraf;

Appellant 7: 1 aanklag ter waarde van R48 000,00 – 6 (ses) jaar gevangenisstraf;

Appellant 8: 4 klagtes ter waarde van R173 700,00 – 11 (elf) jaar gevangenisstraf;

Appellant 9: 1 aanklag ter waarde van R9 000,00 – 6 (ses) jaar gevangenisstraf waarvan 2 (twee) jaar opgeskort is op gepaste voorwaardes;

Appellant 10: 12 klagtes ter waarde van R606 000,00 – 20 (twintig) jaar gevangenisstraf;

Appellant 11: 1 aanklag ter waarde van R14 400,00 – 6 (ses) jaar gevangenisstraf waarvan 1 (een) jaar opgeskort is op gepaste voorwaardes;

Appellant 12: 1 aanklag ter waarde van R14 400,00 – 6 (ses) jaar gevangenisstraf waarvan 1 (een) jaar opgeskort is op gepaste voorwaardes;

Appellant 13: 13 klagtes ter waarde van R404 000,00 – 20 (twintig) jaar gevangenisstraf;

Appellant 14: 5 klagtes ter waarde van R327 200,00 – 13 (dertien) jaar gevangenisstraf;

Appellante 15, 16 en 17: 1 aanklag ter waarde van R48 800,00 – 6 (ses) jaar gevangenisstraf;

Appellant 18: 6 (ses) jaar gevangenisstraf en is dit gelas dat 2 (twee) jaar gevangenisstraf van sy vonnis ingevolge artikel 280(2) van Wet 51 van 1977 sal saamloop met ‘n bestaande vonnis wat hy uitdien;

Appellante 19, 20 en 21: 1 aanklag ter waarde van R24 000,00 – 6 (ses) jaar gevangenisstraf;

Appellante 22 en 23: 1 aanklag ter waarde van R3 500,00 – 6 (ses) jaar gevangenisstraf waarvan 3 (drie) jaar opgeskort is op gepaste voorwaardes;

Appellant 24: 6 aanklagte ter waarde van R158 300,00 – 15 (vyftien) jaar gevangenisstraf.


[19] Dit blyk dat appellante 22 en 23 reeds vrygelaat is en is ons meegedeel dat appellant 23 sy appèl laat vaar. Indien hierdie Hof egter meen dat inmenging met die vonnisse geregverdigd is, behoort hierdie Hof van sy inherente hersieningsbevoegdheid gebruik te maak om ook die vonnisse van appellante 22 en 23 in lyn te bring met die vonnisse van die ander appellante.


[20] In die lig van die feit dat die appellante nie steun op ‘n wanvoorligting of onreëlmatigheid deur die Verhoorhof nie, ontstaan die vraag of die opgelegde vonnisse treffend onvanpas is al dan nie. (Sien S v RABIE 1975 (4) SA 855 (A) te 857 d – e.) Mnr. Wiegand, namens die Staat, het aangevoer dat, alhoewel die vonnise as swaar aangemerk kan word, ‘n vonnis van 8 (agt) jaar gevangenisstraf in soortgelyke gevalle vir eerste oortreders nie onvanpas is nie. Indien egter in aanmerking geneem word dat die appellante reeds vir bykans vier jaar verhoorafwagtend in hegtenis was, is ek van mening dat die opgelegde vonnisse van 6 (ses) jaar gevangenisstraf bo en behalwe die vier jaar verhoorafwagtende tydperk wel sodanig onvanpas is dat dit hierdie Hof vrystaan om die opgelegde effektiewe vonnisse tersyde te stel en te vervang met ‘n gepaste vonnis in elke geval. In die lig van die erns van die misdrywe is dit egter duidelik dat direkte gevangenisstraf steeds gepas sal wees in die geval van al die appellante. In die lig van die tydperk wat die appellante verhoorafwagtend was, is ek van mening dat ‘n vonnis van 4 (vier) jaar gevangenisstraf ten opsigte van elk van die klagtes meer gepas is en opgelê behoort te gewees het. Ek is ook van mening dat die kumulatiewe effek van die vonnise opgelê deur die Verhoorhof in terme van die bepalings van artikel 280(2) van voormelde Wet ook sodanig onvanpas is dat dit inmenging regverdig.


[21] Bygevolg word die appèl teen die skuldigbevindings van die hand gewys. Die appèl ten opsigte van die vonnisse slaag en word die volgende bevele verleen:

1. Die vonnisse opgelê aan elk van die appellante op elk van die aanklagte van diefstal of poging tot diefstal word tersyde gestel en vervang met ‘n vonnis van 4 (vier) jaar gevangenisstraf ingevolge artikel 276(1)(b) van Wet 51 van 1977 ten opsigte van elke sodanige aanklag.

2. Ten opsigte van die volgende nege appellante word die samelopende tydperk van die vonnisse hulle opgelê ingevolge artikel 280(2) van Wet 51 van 1977 tersyde gestel en vervang met die volgende tydperke ten opsigte van elk:

Eerste appellant: 10 (tien) jaar gevangenisstraf;

Tweede appellant: 5 (vyf) jaar gevangenisstraf;

Derde appellant: 5 (vyf) jaar gevangenisstraf;

Sesde appellant: 7 (sewe) jaar gevangenisstraf;

Agtste appellant: 9 (nege) jaar gevangenisstraf;

Tiende appellant: 15 (vyftien) jaar gevangenisstraf;

Dertiende appellant: 15 (vyftien) jaar gevangenisstraf;

Veertiende appellant: 10 (tien) jaar gevangenisstraf;

Vier-en-Twintigste appellant: 12 (twaalf) jaar gevangenisstraf.


3. Ten opsigte van die volgende appellante word sodanige gedeelte van hul vonnisse van 4 (vier) jaar gevangenisstraf as wat hieronder vermeld word opgeskort vir dieselfde tydperk op dieselfde voorwaardes as die opskorting deur die Verhoorhof opgelê naamlik:

Negende appellant: 2 (twee) jaar gevangenisstraf opgeskort op voormelde voorwaardes;

Elfde appellant: 1 (een) jaar opgeskort;

Twaalfde appellant: 1 (een) jaar opgeskort;

Twee-en-twintigste en drie-en-twintigste appellante: 2 (twee) jaar opgeskort;


4. Met betrekking tot agtiende appellant word gelas dat 1 (een) jaar van sy gevangenisstraf ingevolge die bepalings van artikel 280(2) van voormelde Wet saamloop met die vonnis wat hy tans uitdien.


5. Voormelde vonnisse word teruggedateer met effektiewe datum 3 Mei 2007. Origens word die verrigtinge bekragtig.



_______________

A.F. JORDAAN, R



Ek stem saam.





________________

S.P.B. HANCKE, R

Namens 1ste tot 7de en

10de, 13de, 14de, 23ste en

24ste appellante: Adv. T.B. van Rensburg

In opdrag van:

Regshulpraad

BLOEMFONTEIN



Namens 8ste, 9de, 11de,

12de, 15de tot 22ste

appellante: Mnr. L. Stoffberg

Prokureur vir appellante

LINDLEY



Namens die respondent: Adv. J.H. Wiegand

In opdrag van:

Direkteur Openbare Vervolgings

BLOEMFONTEIN



/sp