South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2008 >> [2008] ZAFSHC 95

| Noteup | LawCite

S v Meintjies (A11/06) [2008] ZAFSHC 95 (29 June 2008)

Download original files

PDF format

RTF format

Bookmark/Share this page

Bookmark and Share

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)


Appèl Nr. : A11/06


In die appèl tussen:-


KOOS MEINTJIES Appellant


en


DIE STAAT Respondent


_____________________________________________________


CORAM: MALHERBE RP et BECKLEY R et VAN ZYL R

____________________________________________________


AANGEHOOR OP: 27 MAART 2007

_____________________________________________________


UITSPRAAK DEUR: VAN ZYL R

_____________________________________________________


GELEWER OP: 29 JUNIE 2007

_____________________________________________________



[1] Appellant het in die streekhof gehou te Fauresmith tereggestaan op twee aanklagte, die eerste aanklag synde huisbraak met die opset om aan te rand en aanranding en die tweede aanklag huisbraak met die opset om te verkrag en verkragting. Appellant het onskuldig gepleit, maar is op beide aanklagte skuldig gevind en gevonnis tot 6 (ses) jaar gevangenisstraf en 15 (vyftien) jaar gevangenisstraf onderskeidelik, welke vonnisse samelopend uitgedien moet word. Appellant kom nou in hoër beroep teen beide die skuldigbevindings en beide die vonnisse.


[2] Duidelikheidshalwe moet vermeld word dat hierdie appèl aanvanklik voor twee van ons kollegas gedien het, maar het hulle verskil oor die uitslag van die appèl en is dit bygevolg voor ‘n volbank geplaas vir beregting.


[3] Appellant het regsverteenwoordiging in die hof a quo geniet. Ten opsigte van aanklag een is daar ‘n pleitverduideliking namens appellant op rekord geplaas. Hiervolgens het appellant erken dat hy die klaagster in aanklag een, Sina, met ‘n stok raakgeslaan het. Aldus sy pleitverduideliking het dit egter gebeur nadat Sina se man appellant aangeval het deur hom met ‘n baksteen raak te gooi, appellant toe ‘n stok opgetel het wat op die grond gelê het en toe hy die klaagster se man daarmee wou slaan, die klaagster in die pad daarvan gespring het. Ten opsigte van aanklag twee het appellant ontken dat die beweerde voorval enigsins plaasgevind het en het hy al die elemente van die misdryf in dispuut geplaas.



SKULDIGBEVINDING T.O.V AANKLAG 1:


[4] In aanklag een is dit beweer dat appellant op of omtrent 25 Julie 1999 te Luckhoff die huis van Sina Samuels oopgebreek en binnegegaan het met die opset om haar aan te rand en haar daar toe inderdaad aangerand het deur haar met ‘n kierie te slaan. Twee getuies het ten opsigte van hierdie aanklag getuig, synde die klaagster, Sina Samuels, en haar eggenoot, Dirk Kok.


[5] Sina Samuels het getuig dat die aand van die voorval het sy en haar gesin in die een vertrek van die tweevertrek huis gelê en slaap. Haar man het met hul twee seuntjies op die vloer geslaap, terwyl sy en haar klein dogtertjie op die bed geslaap het. Die volgende oomblik het ‘n persoon wie sy ken as Seun, by die vertrek ingekom. Hy het die huis binnegekom deur `n deur wat toe was, maar nie gesluit was nie. Hoewel sy gesien het dat dit Seun was, het sy gevra “Seun, wie is jy?” Hy het egter nie geantwoord nie. Daarop het hy die klaagster eenkeer met ‘n kierie teen haar kop geslaan. Die klaagster het haar man wakker geskree en haar man, Dirk Kok, het agter Seun die huis uitgehardloop. Sy het intussen haar een seun deur die venster na buite gesit en hom gestuur om ‘n polisiebeampte, ene Jantjie, wie oorkant die straat gewoon het, te gaan roep vir hulp.


Die polisiebeampte, Jantjie, was wel later op die toneel saam met ‘n verdere polisiebeampte, ene Mnr. Topkin. Die klaagster is met ‘n ambulans na die hospitaal geneem.


Volgens die klaagster het sy vir Seun duidelik gesien en hom herken, aangesien hy aan haar bekend is. Volgens haar is Seun die appellant. Die straat se lig het deur die deur binne-in die huis ingeskyn en daarom kon sy appellant duidelik sien. Toe hy haar geslaan het, was hy ook by haar bed en dus duidelik sigbaar.


[6] Gedurende kruisverhoor is die weergawe wat ten tyde van die pleitverduideliking op rekord gestel is, aan die klaagster gestel. Dit is nodig om uit te wys dat dit pertinent gestel is dat appellant ontken dat hy die betrokke aand by die klaagster se huis sou gewees het en dat die voorval waartydens die klaagster se man vir appellant met ‘n baksteen sou gegooi het en appellant daarop per ongeluk die klaagster met ‘n stok raakgeslaan het, in die straat plaasgevind het. Hierdie weergawe is egter deur die klaagster ontken.


[7] Die klaagster se man, Dirk Kok, het getuig dat terwyl hy die aand van die voorval gelê en slaap het, het hy wakker geword met die klaagster wat vir hom skree “Donkie, Donkie kyk hoe slaan Seun my”. Op die oomblik wat hy wakker geskrik het, was appellant besig om by die deur uit te gaan. Hy het hom agtervolg tot op ‘n sekere punt in die straat waartydens appellant ‘n baksteen opgetel het en na hom gegooi het, maar hy het gekoes.


Volgens hom is Seun die appellant. Die getuie het bevestig dat hy appellant ken en hom daarom die aand van die voorval herken het. Hy kon hom sien in die lig wat die straatligte gebied het.


[8] Gedurende kruisverhoor is dit aan hom gestel dat daar vroeër die aand ‘n woordewisseling in die straat plaasgevind het tussen appellant, die klaagster en die getuie waartydens die getuie appellant met ‘n klip sou gegooi het. Hierdie stelling is ten sterkste ontken deur die getuie. Dit is toe voorts gestel dat appellant sal getuig dat hy toe die klaagster en die getuie gejaag het, dat hulle by hulle huis in is en dat die appellant agter hulle aan die huis in is. Die getuie het weereens hierdie stelling ontken.


[9] Dit dien vermeld te word dat daar wel sekere weersprekings tussen die getuienis van die klaagster en haar man was. Dit het onder andere behels dat die klaagster getuig het dat net die dogtertjie by haar op die bed gelê en slaap het, terwyl die twee seuns saam met haar eggenoot op die vloer geslaap het. Volgens haar eggenoot het al drie kinders egter by die klaagster geslaap. Dan blyk daar ook ‘n mate van weerspreking te wees met betrekking tot die vraag of die seuntjie wie die klaagster beweer sy deur die venster gesit het om die polisiebeampte te gaan haal, inderdaad vir Jantjie gaan haal het. In die verband het haar eggenoot getuig dat hy nie kennis dra daarvan dat die kind vir Jantjie sou gaan haal het nie aangesien hy self na Jantjie se huis gegaan het. Laasgenoemde weerspreking blyk egter na my mening verduidelikbaar te wees op die basis dat op dié stadium wat klaagster die seuntjie deur die venster gesit het, haar eggenoot waarskynlik reeds uit die vertrek was besig om die appellant te jaag. Dit blyk ook nie duidelik uit die getuienis of die seuntjie inderdaad die opdrag uitgevoer het om die polisiebeampte te gaan haal nie en is dit derhalwe redelik moontlik dat die getuie, Dirk Kok, die enigste een is wat die polisiebeampte by sy huis gaan roep het.


[10] Appellant het in sy eie verdediging getuig en ook sy moeder, Rachel Meintjies, as getuie geroep. Haar getuienis het egter slegs geslaan op aanklag twee. Ten opsigte van hierdie voorval het appellant getuig dat hy die aand van die voorval die klaagster en haar man in die straat teëgekom het. Die klaagster het hom beskuldig dat hy haar eggenoot se radio gesteel het en hom ook gevloek. Haar man het toe ‘n klip opgetel en appellant met die klip gegooi. Appellant het toe agter haar man aangegaan tot by ‘n hek waar ‘n stok gelê het, wat hy opgetel het. In daardie proses is die klaagster en haar man hulle huis binne. Appellant is ook die huis binne. Die huis was donker binne en hy kon niemand sien nie. Hy het toe voetstappe agter hom in die huis gehoor en hy het blindelings met die betrokke stok geslaan. Hy het nie gesien waar hy slaan nie en is hy daarna uit die huis uit. Volgens hom was hy kwaad gewees omdat die klaagster se man hom met ‘n klip gegooi het en is dit die rede waarom hy hom met die stok wou gaan slaan het.


[11] Die verhoorlanddros het met bogemelde enkele weersprekings wat daar bestaan tussen die weergawe van die klaagster en die van haar man, in sy uitspraak gehandel. Na my mening het hy heeltemal tereg tot die gevolgtrekking gekom dat daardie weersprekings nie aanduidend is daarvan dat die staatsgetuies se weergawe in die geheel gesien, onwaarskynlik is nie.


[12] Daarteenoor het hy insgelyks in sy uitspraak gehandel met die weersprekings wat daar in appellant se weergawe bestaan. Dit is pertinent namens appellant aan die klaagster gestel dat appellant nie op enige stadium in die huis van die klaagster en haar gesin was nie en dat die totaliteit van die voorval in die straat plaasgevind het. Hoewel dit nie spesifiek so vermeld was in die pleitverduideliking nie, was my indruk van die pleitverduideliking ook tot dien effek dat die aanranding in die straat plaasgevind het. In ieder geval was dit spesifiek ten tyde van die pleitverduideliking vermeld dat appellant die klaagster raakgeslaan het deurdat sy in die pad gespring het toe appellant die klaagster se eggenoot wou raakslaan.


Direk weersprekend met voormelde weergawe, is dit daaropvolgend namens appellant aan die klaagster se eggenoot gestel dat die voorval waartydens die klaagster se eggenoot na bewering appellant met ‘n klip sou gegooi het, in die straat plaasgevind het, maar dat appellant daarna die klaagster en haar eggenoot gejaag het en hulle inderdaad agtervolg het tot binne-in hulle huis. Ook toe appellant onder eed in sy eie verdediging getuig het, het hy pertinent getuig dat hy in die klaagster en haar eggenoot se huis was. Verder weersprekend tot sy aanvanklike weergawe, getuig hy nie dat klaagster tussenbeide getree het toe hy klaagster se eggenoot met die stok wou geslaan het nie, maar getuig hy dat hy bloot in die donker rondgeslaan het omdat hy niks kon sien nie.


[13] Na my mening het die verhoorlanddros, gegewe voormelde wesenlike weersprekings in sy weergawe, heeltemal tereg appellant se weergawe as vals verwerp. Mnr. Van der Merwe, wie namens appellant ten tyde van die aanhoor van die appèl verskyn het, het dus na my mening ook heeltemal tereg toegegee dat die appèl teen die skuldigbevinding op aanklag een nie kan slaag nie.


[14] Gevolglik is ek van mening dat die Staat appellant se skuld op aanklag een bo redelike twyfel bewys het en kan die appèl teen hierdie skuldigbevinding nie slaag nie.


SKULDIGBEVINDING T.O.V AANKLAG 2:


[15] Wat aanklag twee betref, is dit beweer dat appellant op of omtrent 8 Augustus 1999 te Luckhoff die huis van Mona Apies oopgebreek en binnegegaan het met die opset om haar, synde ‘n volwasse vrou, te verkrag en haar toe inderdaad aldaar verkrag het. Vier getuies het namens die Staat ten opsigte van hierdie aanklag getuig.


[16] Mona Apies het getuig dat hulle die aand van die voorval drie persone was wat in haar huis sou geslaap het, synde sy, Mina Kok en Hendrik Uithaler, lasgenoemde wie algemeen bekend staan as Oupa Bill. Volgens haar het sy en Mona in die kamer geslaap en Oupa Bill in die kombuis. Op daardie stadium was haar man in die gevangenis en het sy Oupa Bill, synde ‘n vriend van haar man, gevra om daar te bly sodat daar ter wille van veiligheid ‘n man in die huis kon wees. Hulle was almal op pad om te gaan slaap, maar het nog nie geslaap nie. Hulle het iemand buite hoor aankom en hy het van buite die huis vir Mina gesê dat hy sy geld soek. Die klaagster het gemeen dat dit dalk ‘n persoon is bekend as “Ou Rol”, maar Mina het aangedui dat dit nie hy is nie, maar dat dit Seun was. Hulle het nie die deur oopgemaak nie. Die volgende het ‘n hangkas in die kamer wat voor ‘n stukkende venster gestaan het, omgeval deurdat die persoon wat buite die huis was deur die venster die hangkas omgestoot het en deur die venster die huis binnegeklim het. Die klaagster, Mina en Oupa Bill het toe aldrie agtermekaar die huis uitgehardloop. Seun het egter die klaagster voor ene Fusi se huis gegryp terwyl sy probeer het om na haar tannie se huis weg te hardloop. Hy het haar vandaar teruggeneem na haar eie huis. Hy het die huis se deur toegemaak, die klaagster na die kamer geneem, haar neergegooi op die grond, haar damesbroekie uitgetrek en haar verkrag. Intussen het persone wat buitekant die huis was vir Seun gesê dat hy Mina se kind wat nog in die huis was, uit die huis moes laat gaan. Seun het toe Mina se seuntjie deur die venster van die huis na buite gesit. Daarna het Seun by dieselfde venster uitgespring as waar hy ingekom het en het hy weggehardloop.


[17] Volgens die klaagster het sy onmiddellik na die voorval vir Jan Kruger vertel dat Seun haar verkrag het. Hy het haar toe aangesê om ‘n aanklag by die polisie aanhangig te maak. Volgens die klaagster is die persoon, Seun, na wie sy verwys, die appellant. Sy het getuig dat sy hom van voor die voorval ken en dus sy stem herken het en ook sy gesig duidelik gesien het. Hy is inderdaad aangetroude familie van haar deurdat sy met Seun se oom getroud is.


[18] Gedurende kruisverhoor het die klaagster ontken dat appellant se broer en sy suster se kind veronderstel was om die naweek van die voorval by haar te gebly het. Toe daar aan haar gestel is dat appellant die naweek van die voorval vir klaagster R30,00 sou gegee het om sop en ander kos vir die kinders te koop, het sy dit ontken. Sy het weereens getuig dat die kinders nie op daardie stadium by haar gebly het nie en inderdaad by ander mense woonagtig was. Dit was ook aan haar gestel dat appellant die Sondagoggend by haar huis sou aangekom het, weereens om navraag te doen oor die kinders, en haar in die kamer aangetref het waar sy saam met ‘n ander man gelê en slaap het. Hierdie stelling het sy ook ontken.


[19] Mina Kok het ten opsigte van die aand se gebeure in wese dieselfde weergawe aan die hof voorgehou as die klaagster. Sy het ook getuig dat Seun by die huis aangekom het en dat hy deur die stukkende venster die hangkas omgestoot het en toe deur die venster die huis binnegekom het. Sy, die klaagster en Oupa Bill het daarop weggehardloop en sy het na ene Jan Kruger se huis gehardloop, wie sy om hulp gevra het om haar te help om haar seuntjie, wie nog in die huis was, te gaan haal. Sy het nie gesien toe Seun die klaagster gevang het nie, maar sy het wel die klaagster op ‘n stadium om hulp hoor skree. Sy en Jan Kruger is toe na die huis, waar Seun die kind deur die venster gesit het na buite. Sy het Seun geïdentifiseer as synde die appellant.


Daar was wel sekere weersprekings tussen haar en die klaagster se getuienis. Volgens haar het Seun wie buite die huis was, niks van geld gesê toe hy daar opgedaag het nie. Anders as die klaagster het sy ook getuig dat Seun aan die deur geruk het en gesê het dat hy wil inkom.


[20] Hendrik Uithaler, ook bekend as Oupa Bill, het getuig dat hy die aand van die voorval saam met die klaagster en Mina Kok in die klaagster se huis was. Anders as die klaagster en Mina, het hy egter getuig dat hy in die kamer geslaap het en dat die klaagster en Mina in die kombuis geslaap het. Daar het toe ‘n persoon by die deur van die huis opgedaag. Hierdie getuie het getuig dat hy wat die getuie is, probeer het om die deur van die binnekant af oop te kry, maar dit nie kon regkry nie. Die persoon aan die buitekant het toe na die kamervenster gegaan waar die venster stukkend was en deur die stukkende venster die hangkas wat voor die kamervenster gestaan het, omgestoot en deur die venster die huis binnegekom. Die getuie, die klaagster en Mina Kok het toe aldrie saam by die agterdeur uitgehardloop. Buitekant die huis het hy gesien dat die persoon die klaagster gevang het, weer haar huis binnegeneem het en die deur toegemaak het.


Volgens hom is die persoon wat daar opgedaag het en die klaagster gevang het, bekend as Seun en is dit die appellant. Hy het hom in die lig wat deur deur die straatligte verskaf is, gesien.


[21] Jan Kruger het getuig dat die nag van die voorval, synde ‘n Sondagnag, ongeveer drieuur die oggend het hy gelê en slaap by sy huis. Mina Kok het toe daar opgedaag en hom gevra om te kom help aangesien Seun in hulle huis was. Toe hy saam met Mina by die huis opdaag, het hy gehoor hoe die klaagster binne-in die huis huil en om hulp skree. Hy het probeer om die huis se deur oop te maak, maar kon dit aanvanklik nie oopkry nie. Hy het eventueel die deur met geweld oopgemaak, op welke stadium die man wat binne die huis was by die venster uitgespring het. Intussen was Mina se seuntjie deur die huis se venster na buite gesit. Nadat die man wat binne die huis was weggehardloop het, het die klaagster aan hom rapporteer dat ene Seun binne die huis haar verkrag het. Hy het egter nie self die persoon gesien nie, aangesien die persoon by die venster uitgespring het op die stadium wat hy die huis binnegekom het. Hy het wel bevestig dat die beligting sodanig was dat ‘n mens die persoon, indien jy hom sou sien hardloop, in die straatligte sou kon eien.


[22] Appellant het ten tyde van sy getuienis omvangryke getuienis gelewer oor hoe sy jonger broer en sy suster se een seun veronderstel was om ten tyde van die voorval by die klaagster in die huis te gebly het, maar dat sy hulle uit die huis gesit het. Hy het beweer dat hy die aand van die voorval by die klaagster se huis aangedoen het en navraag gedoen het oor die kinders. Die kinders was egter nie tuis nie. Hy het die klaagster gekonfronteer oor sy na bewering die geld wat hy vir haar gegee het om vir die kinders kos te koop, gebruik het om drank te koop. Volgens sy getuienis meen hy dat die klaagster se motief om hom vals te inkrimineer moontlik kan wees vanweë die feit dat hy die klaagster saam met ‘n ander manspersoon die Sondagoggend in die bed by haar huis gevind het. Hy het ontken dat hy op enige stadium die klaagster sou verkrag het soos deur haar beweer.


[23] Rachel Meintjies, synde appellant se moeder, is as verdedigingsgetuie geroep. Sy het getuig dat sy die eienares is van die huis waar Mona Apies, synde die klaagster in aanklag twee, woon. Volgens haar getuienis het die twee seuns waarna appellant in sy getuienis verwys het, nie daardie naweek by die klaagster gebly nie. Hulle het by haar oudste seun in die dorp gebly. Ten opsigte van die Saterdagaand voor die voorval, dus die Saterdagaand waaroor appellant getuig het as synde die aand wat die kinders veronderstel was om by Mona Apies te wees, het sy getuig dat hulle die aand by haar op die plaas geslaap het.


[24] Ten opsigte van hierdie tweede aanklag, net soos met die eerste aanklag, het die verhoorlanddros weer op behoorlike en volledige wyse met die weersprekings tussen die verskillende staatsgetuies gehandel. (Sien uitspraak, p. 195 reël 20 tot p. 197 reël 12.) Net so het hy op soortgelyke wyse met die belangrikste weersprekings in die verdediging se saak gehandel. (Sien uitspraak, p. 198 reël 9 tot reël 23.)


[25] Die verhoorlanddros het ook op behoorlike wyse die getuienis namens beide die Staat en die verdediging evalueer. Hoewel die klaagster ‘n enkelgetuie met betrekking tot die voorval van verkragting as sulks is en haar getuienis gevolglik met die nodige versigtigheid benader moet word, is daar inderdaad stawing met betrekking tot die omliggende gebeure die aand. Die voorval waartydens appellant die huis sou binnegekom het deur die hangkas voor die venster om te stamp en deur die venster die huis in te kom, word deur beide Mina Kok en Hendrik Uithaler gestaaf. Hendrik Uithaler staaf ook die klaagster se weergawe in dié opsig dat hy getuig het dat hy gesien het toe appellant die klaagster gevang het. Die onafhanklike getuie, Jan Kruger, se getuienis dien ook as wesenlike stawing van die gebeure die aand. Sy getuienis van hoe Mina Kok hom om hulp kom vra het, hoe hy die klaagster binne die huis gehoor huil en om hulp gehoor skree het en hoe hy gesien het dat ‘n persoon by die venster uitspring net toe hy toegang tot die huis verkry het, staaf in wesenlike opsigte die totaliteit van die getuienis van die ander drie Staatsgetuies. Hierteenoor is ek dit eens met die verhoorhof se evaluering van appellant se weergawe tot dien effekte dat hy met verloop van die saak sy getuienis aangepas het. Van besondere belang is ook die feit dat sy moeder se getuienis lynreg in stryd is met appellant se hele weergawe rondom die feit dat hy na bewering geld aan die klaagster sou gegee het en by haar sou navraag gedoen het oor die afwesigheid van die kinders. Na my mening kan daar nie tot ‘n ander gevolgtrekking gekom word as wat die verhoorlanddros gedoen het, synde dat appellant se weergawe nie as redelik moontlik waar geag kan word nie. Mnr. Van der Merwe het ten opsigte van hierdie aanklag dan ook reeds in sy betoogshoofde toegegee dat hy geen sinvolle submissies aan die hof kan voorhou met betrekking tot die meriete van die appèl ten opsigte van hierdie aanklag nie, welke toegewing hy in die hof herhaal het. Hierdie toegewing is na my mening heeltemel tereg deur hom gemaak.


[26] Ek is derhalwe van mening dat die appèl teen die skuldigbevinding op aanklag twee ook nie kan slaag nie.




VONNISSE T.O.V BEIDE AANKLAGTE:


[27] Soos reeds vroeër hierin vermeld, is appellant 6 (ses) jaar gevangenisstraf ten opsigte van aanklag een opgelê en 15 (vyftien) jaar gevangenisstraf ten opsigte van aanklag twee en is dit gelas dat dit samelopend uitgedien moet word.


[28] Dit blyk dat wat appellant se persoonlike omstandighede betref, hy ten tyde van die vonnisoplegging 29 jaar oud was. Hy was nie getroud nie, maar het saam met ‘n dame gebly vir een en ‘n half jaar voor vonnisoplegging. Hy het arbeidswerk op ‘n plot verrig waar hy R250,00 elke twee weke verdien het. Appellant is nie ‘n algeheel eerste oortreder nie, deurdat hy gedurende die tydperk wat strek vanaf 1992 tot 1994 skuldig bevind is aan diefstal, besit van dagga en besit van vermoedelik gesteelde eiendom. Appellant is gedurende Augustus 1999 gearresteer en op 20 Julie 2001 gevonnis en was derhalwe ongeveer 23 maande verhoorafwagtend.


[29] Soos tereg deur Mnr. Strauss, namens die Staat, uitgewys en betoog, is ‘n hof van appèl se reg tot inmenging met die opgelegde vonnis beperk en kan daar slegs sodanig ingemeng word indien die verhoorhof ‘n mistasting begaan het of die opgelegde vonnis skokkend swaar en onvanpas is.


[30] Wat betref aanklag een, is dit, soos deur die verhoorlanddros in sy uitspraak vermeld, ‘n ernstige misdryf. Soos egter tereg deur Mnr. Van der Merwe betoog, is daar ongelukkig geen mediese getuienis aangebied met betrekking tot die erns, al dan nie, van die beserings wat die klaagster opgedoen het as gevolg van die hou teen haar kop met die kierie/stok nie. Na my mening blyk dit voorts dat die verhoorlanddros afskrikking as een van die oogmerke van vonnisoplegging, oorbeklemtoon het. Wanneer die elemente van vonnisoplegging ewewigtig teen mekaar opgeweeg word, meen ek egter dat die opgelegde vonnis van 6 (ses) jaar gevangenisstraf skokkend swaar en onvanpas onder die omstandighede is. Mnr. Strauss het ook heeltemal tereg hierdie toegewing gemaak ten tyde van die aanhoor van die appèl. Na my mening moet daar gevolglik met hierdie vonnis ingemeng word en is ek van oordeel dat gevangenisstraf vir ‘n termyn van 3 (drie) jaar ‘n gepaste vonnis onder die omstandighede is.


[31] Wat betref die termyn van 15 (vyftien) jaar gevangenisstraf wat op aanklag twee opgelê is, blyk dit dat die verhoorlanddros hierdie vonnis opgelê het terwyl hy onder die indruk verkeer het dat 15 (vyftien) jaar gevangenisstraf die voorgeskrewe minimum vonnis vir die tersaaklike aanklag is en daaruit voortspruitend ook bevind het dat daar geen wesenlike en dwingende omstandighede bestaan wat die oplegging van ‘n mindere vonnis dan die voorgeskrewe minimum regverdig nie. Die verhoorlanddros het egter ‘n mistasting begaan, deurdat artikel 51(2)(b) saamgelees met Deel III van Bylae 2, van die Strafregwysigingswet 105 van 1997 bepaal dat die voorgeskrewe minimum vonnis in die onderhawige geval 10 (tien) jaar gevangenisstraf is. Gegewe hierdie mistasting is ons gevolglik geregtig en verplig om ook met hierdie opgelegde vonnis in te meng.


[32] Mnr. Van der Merwe het betoog dat hoewel hierdie misdryf uiters ernstig van aard is, dit tog as stafversagtend in ag geneem moet word dat geen wapen deur appellant gebruik is gedurende die pleeg van die misdryf nie en dat die klaagster nie enige beserings opgedoen het nie. Dit was voorts sy betoog dat gegewe die kumulatiewe effek van appellant se persoonlike omstandighede, die feit dat hy ‘n algeheel eerste oortreder ten opsigte van die aanklag van verkragting is en bogemelde versagtende faktore, sowel as die feit dat hy 23 maande verhoorafwagtend in hegtenis was, wesenlike en dwingende omstandighede daarstel wat die oplegging van ‘n mindere vonnis dan die voorgeskrewe minimum van 10 (tien) jaar gevangenisstraf regverdig. Mnr. Strauss, daarenteen, het aan die hand gedoen dat 10 (tien) jaar gevangenisstraf ‘n gepaste vonnis onder die omstandighede is, veral gegewe die feit dat hier nie slegs verkragting ter sprake is nie, maar inderdaad huisbraak met die opset om te verkrag en verkragting. Hy het voorts daarop gewys dat dit uit die getuienis blyk dat Hendrik Uithaler juis versoek is om by die klaagster aan huis te slaap ter wille van haar veiligheid terwyl haar man in hegtenis is, maar was hierdie voorsorgmaatreël ongelukkig nie voldoende in hierdie omstandighede nie. Appellant het steeds die huis van die klaagster binnegekom en selfs nadat sy weggehardloop het, haar gevang, haar teruggeneem na haar huis en haar in haar eie huis verkrag. Aldus Mnr. Strauss se betoog is dit verswarende faktore wat tot gevolg het dat die kumulatiewe effek van die versagtende faktore nie sodanig is dat dit as wesenlike en dwingende omstandighede aangemerk kan word nie.


[33] Na behoorlike oorweging van die versagtende en verswarende faktore, die persoonlike omstandighede van appellant, die belange van die gemeenskap en die aard en erns van die misdryf is ek dit eens met Mnr. Strauss se betoog dat hier nie wesenlike en dwingende omstandighede bestaan wat die oplegging van ‘n mindere vonnis dan die voorgeskrewe minimim termyn van 10 (tien) jaar gevangenisstraf regverdig nie. Die klaagster was in die veiligheid van haar eie huis toe appellant haar huis met geweld binnegekom het, haar teruggeneem het na haar huis nadat sy weggehardloop het en haar in haar eie huis verkrag het. Daar kan geen verskoning vir appellant se optrede wees nie. Na my mening is 10 (tien) jaar gevangenisstraf inderdaad ‘n gepaste vonnis onder die omstandighede.


[34] Aangesien die twee aanklagte hierin ter sprake in totaliteit twee aparte insidente daarstel wat op verskillende datums plaasgevind het, is dit nie die tipe omstandighede waaronder normaalweg gelas sal word dat die opgelegde vonnisse samelopend uitgedien moet word nie. Gegewe die feit dat appellant 23 maande verhoorafwagtend in hegtenis was, meen ek egter dat dit gepas sal wees om in die onderhawige geval wel die kumulatiewe effek van die opgelegde vonnisse te temper deur te gelas, soos wat die verhoorhof ook gedoen het, dat dit samelopend uitgedien word.


[35] Gevolglik word die volgende bevel verleen:


1. Die appèl teen die skuldigbevindings op beide die aanklagte word van die hand gewys en beide die skuldigbevindings word bekragtig.


2. Die vonnis opgelê op aanklag een word tersyde gestel en vervang met een van 3 (drie) jaar gevangenisstraf.


3. Die opgelegde vonnis op aanklag twee word tersyde gestel en vervang met een van 10 (tien) jaar gevangenisstraf.


4. Beide bogemelde vonnisse moet geag moet word opgelê te gewees het op 20 Julie 2001.


5. Dit word gelas dat voormelde vonnisse samelopend uitgedien moet word.


____________

C. VAN ZYL, R


Ek stem saam.




__________________

J.P. MALHERBE, RP

Ek stem saam.




_______________

A.P. BECKLEY, R




Namens die appellant: Mnr. P.L. van der Merwe

In opdrag van:

Bloemfontein Regsentrum

BLOEMFONTEIN



Namens die respondent: Adv. M. Strauss

In opdrag van:

Direkteur Openbare Vervolgings

BLOEMFONTEIN



/sp