South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2008 >> [2008] ZAFSHC 85

| Noteup | LawCite

S v Scheepers (461/2008) [2008] ZAFSHC 85 (14 August 2008)

Download original files

PDF format

RTF format

Bookmark/Share this page

Bookmark and Share

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)


Spesiale Hersieningsnommer. : 461/2008


In die spesiale hersiening tussen:


DIE STAAT


en


ANTONY NATHAN SCHEEPERS

______________________________________________________


CORAM: HANCKE, R et VAN ZYL, R



UITSPRAAK: VAN ZYL, R

______________________________________________________


GELEWER OP: 14 AUGUSTUS 2008



[1] Beskuldigde het in die Bloemfontein landdrosshof verskyn op ‘n aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer. Op 30 Januarie 2008 is borg aanvanklik vasgestel ten bedrae van R800.00, waarna sodanige borg op 5 Maart 2008 verminder is tot R500.00 en is die saak uitgestel tot 20 Maart 2008. Op dieselfde dag, synde 5 Maart 2008, het beskuldigde voormelde borg van R500.00 betaal en is hy op borgtog vrygelaat. Op die daaropvolgende verskyningsdatum, synde op 20 Maart 2008, was beskuldigde afwesig by die hofverrigtinge, waarop ‘n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik is. Sy borggeld is voorlopig verbeurd verklaar aan die Staat.


[2] Beskuldigde is daarop op 26 Junie 2008 voor die Verhoorhof gebring, waarna die verrigtinge uitgestel is tot 2 Julie 2008 vir doeleindes van ‘n formele ondersoek ten opsigte van beskuldigde se wanverskyning. Op 2 Julie 2008 is daar ‘n summiere ondersoek gehou na die beskuldigde se wanverskyning op 20 Maart 2008, waarna die Verhoorlanddros beskuldigde skuldig bevind het aan die oortreding van artikel 67A van die Strafproseswet, Wet nr. 51 van 1977, en gevonnis het tot die betaling van R300.00 of 90 dae gevangenisstraf, welke in geheel opgeskort is vir 2 jaar op voorwaarde dat beskuldigde nie weer skuldig bevind word aan die oortreding van artikel 67A gepleeg gedurende die tydperk van opskorting nie.


[3] Die aangeleentheid is daarna ooreenkomstig die bepalings van artikel 304(4) van die Strafproseswet op spesiale hersiening gestuur met, onder andere, die volgende opmerkings:


When he (the accused) was eventually apprehended on the strength of a warrant of arrest, the public prosecutor did not charge him in terms of Section 67A of Act 51 of 1977; instead the court proceeded to hold a summary inquiry into his failure to attend court. Subsequently the accused was convicted and sentenced to R300.00 (Three hundred rand) or 90 (ninety) days imprisonment conditionally suspended for 2 (two) years.

I am of the humble opinion that such an inquiry is not provided for in the Act.

It is requested that the purported inquiry and the resultant outcome be set aside.”


[4] Dit blyk duidelik uit die oorkonde dat die prosedure wat gevolg is met betrekking tot die ondersoek na beskuldigde se wanverskyning, die vorm van ‘n summiere ondersoek aangeneem het. Geen klagstaat is opgestel nie en ‘n formele verhoor is nie gehou nie. Hierdie prosedure is, soos tereg uitgewys deur die landdros wie die aangeleentheid op hersiening gestuur het, nie korrek nie. In S v MABUZA 1996 (2) SASV 239 (T) op 243 E – G is as volg beslis:


In sy redes meld die landdros dat die beskuldigde wel aangekla was, maar uit die oorkonde blyk dit nie duidelik nie. Die hof het bloot, nadat hy bevind het dat die beskuldigde die voorwaarde verbreek het, voortgegaan en die beskuldigde skuldig bevind aan 'n oortreding van die betrokke artikel.

Artikel 67A maak nie voorsiening dat 'n landdros op summiere wyse 'n ondersoek kan instel of 'n beskuldigde 'n borgvoorwaarde verbreek het nie. In hierdie opsig verskil die artikel dus van die bepalings soos vervat in arts 55, 72, 170 en 188 van die Wet. Waar daar op summiere wyse so 'n ondersoek ingestel word, word nie 'n formele klagstaat opgestel en word die beskuldigde nie formeel verhoor nie. Vgl S v Du Plessis 1970 (2) SA 562 (OK).

Dit skyn asof die landdros in die onderhawige geval die prosedure gevolg het om op summiere wyse 'n ondersoek in te stel. Hy was nie geregtig om dit te doen nie. Daar moes 'n klagstaat opgestel gewees het en 'n formele verhoor moes plaasgevind het.”


Voormelde siening word ook bevestig in Hiemstra SUID-AFIKAANSE STRAFPROSES, 6de uitgawe, Kriegler en Kruger, op p. 177 en voorts in COMMENTRY ON THE CRIMINAL PROCEDURE ACT, Du Toit et al, op p. 9–81. Die afwesigheid van “gegronde rede”, soos na verwys in die bewoording van artikel 67A, is ‘n element van die misdryf wat bo redelike twyfel deur die Staat bewys moet word en derhalwe is ‘n formele verhoor nodig. Sien S v MABUZA, supra, op 244E.


[5] Gevolglik moet die summiere ondersoek ten opsigte van die beskuldigde se wanverskyning en die skuldigbevinding en vonnis wat daaruit voortgespruit het, tersyde gestel word.


[6] Derhalwe word die volgende bevel verleen:

1. Die summiere ondersoek ten opsigte van beskuldigde se wanverskyning nadat hy op borgtog vrygelaat is, word tersyde gestel.

2. Die skuldigbevinding aan die oortreding van artikel 67A van die Strafproseswet, Wet Nr. 51 van 1977, en die opgelegde vonnis word tersyde gestel.

3. Die aangeleentheid word na die Verhoorhof terugverwys om, indien die Staat steeds wens vervolging daaromtrent teen die beskuldigde voort te sit, ‘n behoorlike ondersoek ooreenkomstig die bepalings van artikel 67A van die Strafproseswet, Wet Nr. 51 van 1977, voor `n ander landdros dan die Verhoorlanddros te hou.



____________

C. VAN ZYL, R



Ek stem saam.










________________

S.P.B. HANCKE, R


/em