South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2008 >> [2008] ZAFSHC 84

| Noteup | LawCite

Qwemico Distributors (Edms) Bpk v H & N Chemies en Saad (Edms) Beperk and Another (2107/2008) [2008] ZAFSHC 84 (14 August 2008)

Download original files

PDF format

RTF format

Bookmark/Share this page

Bookmark and Share

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)


Saak nommer. : 2107/2008


In die aansoek tussen:


QWEMICO DISTRIBUTORS (EDMS) BPK Applikant


en


H & N CHEMIES EN SAAD (EDMS) BEPERK 1ste Verweerder

J H P HATTINGH 2de Verweerder

_____________________________________________________


UITSPRAAK: HANCKE, R



AANGEHOOR OP: 7 AUGUSTUS 2008



GELEWER OP: 14 AUGUSTUS 2008



[1] Hierdie is ‘n aansoek van die applikant (eiser) ingevolge Hofreël 28, om wysiging van sy Besonderhede van Vordering, waarin hy vra dat paragrawe 1 – 14 deurgehaal word en vervang word met sekere gewysigde paragrawe.


[2] Respondent het ‘n beswaar ingevolge Hofreël 28(3) geliasseer ingevolge waarvan sy beswaar by wyse van agt gronde uiteengesit word.


[3] Die algemene uitgangspunt by die oorweging van ‘n aansoek om wysiging is dat ‘n hof sy diskresie sodanig uitoefen dat dit in die guns van ‘n wysiging is ten einde geregtigheid tussen die partye te verseker op die basis dat die werklike geskilpunte voor die hof kom. Harms: Civil Procedure in the Superior Court, p. B-188 en verder, TRANS DRAKENSBERG BANK LTD (under judicial management) v COMBINED ENGINEERING (PTY) LTD AND ANOTHER 1967 (3) SA 632 (D) te 640. Bewerings word ook nie onder ‘n vergrootglas geplaas ten einde foute na vore te bring nie. KAHN v STUART AND OTHERS 1942 CPD 386 te 391, SOUTHERN PORT DEVELOPMENTS (PTY) LTD v TRANSNET LTD 2003 (5) SA 665 (W) te 669 A – B.


[4] Wat die besware betref, volhard die respondent met sommige daarmee op die volgende gronde:


1. Ooreenkomstig ‘n kennisgewing van terugtrekking afgelewer deur eiser op 31 Maart 2008, het eiser die aksie teen eerste verweerder teruggetrek, maar nieteenstaande hierdie feit word eerste verweerder steeds gevoeg as ‘n party in die voorgenome wysiging, welke die voorgenome wysiging vaag en verwarrend en derhalwe eksipieer maak op die volgende gronde:

1.1 Daar word geen grondslag beweer van waarom eerste verweerder steeds gevoeg is as ‘n party tot die aksie nie, synde of eiser steeds wil vorder vanaf eerste verweerder en/of eerste verweerder bloot gevoeg word aangesien hy ‘n wesenlike belang het by die aksie nie;

1.2 Eerste verweerder word in die kopskrif beskryf as ‘n maatskappy, en in terme van paragraaf 2 van die voorgenome wysiging as ‘n beslote korporasie, sonder enige bewering dat eerste verweerder as maatskappy omskep is in ‘n beslote korporasie al dan nie, en indien nie of die beslote korporasie die regte en verpligtinge van die maatskappy oorgeneem het, en indien wel, wanneer nie.”


[5] Mnr. Els, namens die applikant het betoog dat die kennisgewing van terugtrekking duidelik was en dat daar dus geen verwarring en gevolglike nadeel bestaan nie. Hy het egter toegegee dat die vermelding van die eerste verweerder nie moes gebeur het nie en dat dit neerkom op slordige formulering van die voorgestelde wysiging. Selfs indien aanvaar word dat dit ‘n oorsig is aan die kant van die applikant, is dit huidiglik vaag en verwarrend om die redes vermeld in die beswaar, en behoort dit deur die applikant reggestel te word.


[6] Die respondent steun ook op die nie-nakoming van Hofreël 18(6). Die beswaar lui soos volg:

5. Aanhangsel “A” tot die besonderhede van vordering waarna eiser verwys in sy aanvanklike besonderhede van vordering asook in sy voorgenome wysiging is ‘n ongetekende afskrif wat die agent betref, en indien daar wel so ‘n skriftelike kontrak tussen die partye aangegaan is soos wat beweer word in die Besonderhede van Vordering, voldoen eiser nie aan die bepalings van Hofreël 18(6), deur die skriftelike kontrak of ‘n ware afskrif daarvan, aan te heg nie;

6. Aansluitend by die voorgaande paragraaf, in indien nie so ‘n skriftelike kontrak tussen die partye bestaan nie is die bewerings vervat in die voorgenome wysiging en wel paragraaf 5 daarvan vaag en verwarrend, en ook bloot op hierdie grond eksepieerbaar.”


[7] Dit blyk dat die betrokke dokument, alhoewel elke bladsy geparafeer is deur beide partye, dit aan die einde daarvan deur geeneen van die partye onderteken is nie. Die regsposisie ten opsigte van wat ‘n skriftelike ooreenkoms is, word soos volg opgesom in die handboek van Christie: The Law of Contract in South Africa (vyfde uitgawe) waar op p. 108 die volgende verklaar word:


.... a written contract comes into existence when it is signed by all parties, and no particular of words need precede the signatures, but the court has no power to change the position of a signature and then draw inferences about the signatory’s intention.” (my beklemtoning)


GOLDBLATT v FREMANTLE 1920 AD 123 te 128, WEBSTER v LAWLESS 1929 TPD 970, METER MOTORS (PTY) LTD v COHEN 1966(2) SA 735 (T) te 737, HAWKINS v CONTRACT DESIGN CENTRE (CAPE DIVISION) (PTY) LTD 1983 (4) SA 296 (T).


[8] Mnr. Zietsman het namens die respondent betoog dat die betrokke ooreenkoms nie ‘n skriftelike kontrak is nie, en in die lig van die feit dat daar verder gesteun word op stilswyende en/of geimpliseerde terme van die ooreenkoms, dit die deur oopmaak vir die moontlikheid dat daar inderdaad ‘n getekende ooreenkoms, dit wil sê ‘n skriftelike ooreenkoms bestaan. Ek stem saam met hierdie beswaar.


[9] Na my mening volg dit uit die voorgaande dat daar gewoonweg van ‘n skriftelike ooreenkoms gepraat word wanneer sodanige ooreenkoms deur beide partye onderteken is.1 In die afwesigheid van sodanige ondertekening is dit dus nie ‘n skriftelike ooreenkoms in die juridiese sin van die woord nie. Vergelyk Christie a.w. p. 106 e.v. Insgelyks is dit dus aangewese vir die applikant om te pleit dat daar ‘n mondelinge ooreenkoms aangegaan is tussen die partye waarvan die terme blyk uit die skriftelike dokument aangeheg by die Besonderhede van Vordering. Gevolglik moet die respondent dus gelyk gegee word wat hierdie beswaar betref.


[10] Die respondent se verdere besware is soos volg verwoord:


7. Wat eis 1 betref word daar slegs in paragraaf 7 beweer dat Eiser gedurende die bestaan van die ooreenkoms voorskotbetalings aan Tweede Verweerder gemaak het in die bedrag van R11 621.84, sonder om volledige, duidelike en bondige stellings van die wesenlike feite waarop die eis berus, te beweer, welke die voorgenome wysiging eksepieerbaar sal laat indien gewysig ooreenkomdstig die bepalings van Hofreël18(4);

8. Insgelyks wat betref Eis 2 voldoen Eiser nie aan die bepalings van Hofreël 18(4) op dieselfde basis soos hierbo verwys, nie, en sal die voorgenome wysiging, indien gewysig, weereens eksepieerbaar wees op gemelde grond.”


[11] Dit is slegs nodig om na die bewoording van paragraaf 7 van die voorgestelde Besonderhede van Vordering te verwys, wat soos lees:


Die eiser het gedurende die bestaan van die ooreenkoms voorskotbetalings aan die tweede verweerder gemaak in die bedrag van R11 621,84.”


[12] In die verband lees Hofreël 18(4) soos volg:


Elke pleitstuk bevat ‘n duidelike en bondige stelling van die wesenlike feite waarop die eis, verweer of antwoord, na gelang van die geval, berus, in voldoende besonderhede om die teenparty in staat te stel om daarop te antwoord.”



[13] Dit, is duidelik dat die Besonderhede van Vordering nie hieraan voldoen nie. Dieselfde gebrek aan besonderhede blyk ook uit die bewoording van pargraaf 10 onder eis 2. Wat paragraaf 7 verder kompliseer is die feit dat daar ‘n kommissiestaat aangeheg is tot die voorgenome wysiging waarop voorskotbetalings ten gunste van ‘n agent genaamd Herman van Zyl gereflekteer word ten opsigte van die finansiële jaar 2006. Ingelyks moet die respondent gelyk gegee word wat hierdie beswaar betref.


[14] Die bewerings in ‘n Besonderhede van Vordering moet volledig genoeg wees ten einde ‘n verweerder in staat te stel om daarop te kan pleit. ‘n Verweerder geniet nie meer die voordeel van ‘n versoek om nadere besonderhede ten einde verwarring en vaaghede uit die weg te ruim nie. Die enigste versoek is vir verhoordoeleindes wat op ‘n te laat stadium geskied om die verweerder in hierdie verband behulpsaam te wees. Individueel beskou sou sommige van die besware hierbo na verwys moontlik onvoldoende gewees het vir ‘n eksepsie om te slaag. Dit blyk egter dat hier verskeie van die bewerings is in die voorgenome Besonderhede van Vordering waarvan die formulering veel tewense oorlaat. Alhoewel ‘n hof in die uitoefening van sy diskresie gewoonweg ten gunste van die verlening van ‘n wysing neig, meen ek dat dit in belang van geregtigheid is om dit nie te doen in die huidige geval nie.


[15] Bygevolg word die aansoek om wysiging van die hand gewys met koste.




_________________

S. P. B. HANCKE, R




Namens die applikant: Adv. A. P. J. Els

In opdrag van:

McIntyre & Van der Post

BLOEMFONTEIN


Namens die respondent: Adv. P. Zietsman

In opdrag van:

Naudes

BLOEMFONTEIN



/EM

1 Ondertekening deur beide partye word ook vereis wanneer statutêr bepaal word dat die ooreenkoms in skrif moet wees. Vergelyk artikel 2(1) Wet 68 van 1981 (ten opsigte van onroerende eiendom); artikel 6 Wet 50 van 1956 (borgkontrak).