South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
You are here: SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2008 >> [2008] ZAFSHC 59 | Noteup | LawCiteS v Sekowa (817/2007) [2008] ZAFSHC 59 (24 July 2008)
Download original files | Bookmark/Share this page |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Hersiening Nr. : 817/2007
In die hersiening tussen:-
DIE STAAT
en
MICHAEL SEKOWA
_____________________________________________________
CORAM: VAN ZYL, R
_____________________________________________________
UITSPRAAK DEUR: VAN ZYL, R
_____________________________________________________
GELEWER OP: 24 JULIE 2008
_____________________________________________________
[1] Beskuldigde het in die landdroshof vir die distrik van Theunissen, gehou te Theunissen, tereggestaan op ‘n aanklag van oortreding van artikel 5(b) gelees met artikels 1, 13(1), 17(e), 18, 19, 20, 21, 25 en 64 van Wet 140 van 1992, synde handeldryf in dagga van 380 gram. In die alternatief tot die hoofaanklag het hy tereggestaan op ‘n aanklag van oortreding van artikel 4(b) gelees met artikels 1, 13(d), 17(d), 18, 19, 20 en 64 van Wet 140 van 1992, synde die onwettige besit van 380 gram dagga. Beskuldigde het onskuldig gepleit en na die aanbied van getuienis deur die Staat, het beskuldigde sy saak gesluit sonder om enige getuienis aan te bied. Die verhoorlanddros het daarop die beskuldigde heeltemal tereg skuldig bevind aan die hoofaanklag, synde handel in dagga.
[2] Nadat die Staat vorige veroordelings teen die beskuldigde bewys het, het die verhoorlanddros beskuldigde gevonnis tot 4 (vier) jaar gevangenisstraf wat in geheel opgeskort is vir 5 (vyf) jaar op voorwaarde dat beskuldigde nie weer skuldig bevind word aan die oortreding van artikel 4 of artikel 5 van Wet 140 van 1992 gepleeg gedurende die tydperk van opskorting nie.
[3] Nadat die aangeleentheid op outomatiese hersiening voor Beckley R gedien het, is die volgende navrae tot die verhoorlanddros gerig:
“i) Hoekom word op die J4 gemeld dat beskuldigde skuldig is aan die hoof sowel as die alternatiewe klag terwyl hy slegs skuldig bevind is aan die hoofklag.
Waarom word in die vonnis se opgeskorte voorwaarde verwys na Art 4, in plaas van Art 5 waaraan skuldig bevind?”
[4] Na terugontvangs van die rekord vanaf die verhoorlanddros, blyk dit dat wat die eerste navraag betref, dit plaasgevind het as gevolg van ‘n bona fide administratiewe fout gemaak deur die klerk van die landdroshof waarvoor sy dan ook in ‘n aparte skrywe deur haarself verskoning aangebied het. Haar verduideliking en verskoning word onvoorwaardelik aanvaar en is die J4 dienooreenkomstig reggestel.
[5] Wat die tweede navraag betref, het die verhoorlanddros, onder andere, as volg daarop reageer:
“Rede hoekom die hof Art 4(b) van Wet 140/92 by gevoeg het, was dit duidelik uit die vorige veroordelings dat hy verskeie keer aan besit skuldig bevind is.
Wil die hof tot die gevolgtrekking kom dat hy op Art 4(b) Wet 140/92 skuldig pleit en word die sake afgehandel sonder SAP69 en kom hy met ligte vonnisse weg soos dit duidelik blyk uit die lys van vorige veroordelings.
Wat die hof in die geval gepoog het is om ‘n opskortende vonnis op te lê wat hopelik ‘n rehabliteerde effek sal hê, maar het die hof gepoog om al die deure toe te maak wat die beskuldigde in toekoms mag gebruik om sy verantwoordelikheid te kan ontwyk, dus hy het het die speelbal in sy hand en hy kan dan nou besluit wat hy met dit gaan maak.
Dit is hiermee my smeekbede dat Sy Edele Regter AP Beckley dit ook so sal insien en asseblief die vonnis sal bekragtig.
Al wat die hof probeer het is om die beskuldigde op ‘n pad van rehablitasie te plaas deur hom te verplig om die regte ding te doen en in harmonie met die samelewing te leef en so elke persoon se regte te respekteer word.
Sou die landdros verkeerd wees bied ek my verskoning aan en vra ek met respek van Sy Edele Regter AP Beckley leiding om te wys hoe kan ons ‘n positiewe vonnis oplê om van die beskuldigde ‘n beter mens te maak en in dieselfde lig die gemeenskap se belange en die gemeenskap te beskerm soos wat die plig my opgedra is.” (sic)
[6] Dit blyk inderdaad uit beskuldigde se SAP69 dat hy reeds by meerdere geleenthede skuldig bevind is aan hetsy handeldryf in dagga, hetsy besit van dagga. In die lig hiervan is die verhoorlanddros se verduideliking vir die tersaaklike opskortingsvoorwaardes dus verstaanbaar en het ek waardering daarvoor onder die omstandighede.
[7] Dit is egter so dat hierdie Afdeling van die Hooggeregshof die benadering wat in S v MOKOENA 1986 (2) SA 106 (OPA) gevolg is, konstant toepas, synde dat by ‘n oortreding aan handel in dagga die besit van dagga nie by die opskortingsvoorwaardes betrek moet word nie. In daardie beslissing het Malherbe R (soos hy toe was) as volg op 107D – 107I beslis:
“Die Tshaki-beslissing het gehandel met die wenslikheid al dan nie om by ‘n skuldigbevinding aan oortreding van art 2 (b) van die Wet, art 2 (a) by die opskortingsvoorwaardes te betrek, met ander woorde of handeldryf betrek behoort te word by ‘n skuldigbevinding aan besit. Ten aansien van hierdie vraag kom die Hof tot die gevolgtrekking op 377G:
‘Dit volg dat daar geen algemene regsreël is dat dit ongewens is om art 2 (a) te betrek by die opskortingsvoorwaardes van ‘n vonnis vir oortreding van art 2 (b) van Wet 41 van 1971 nie soos in S v Zono (supra) bepaal nie en behoort daardie beslissing gevolglik nie nagevolg te word nie.’
Die situasie in die onderhawige saak is egter die omgekeerde van die vraag wat in die Tshaki-beslissing beslis is en val vierkantig binne die omstandighede in die Letsie- en Tshabalala-beslissings. Bowendien sê STEYN en DE WET RR op 377H van die Tshaki-beslissing dat hulle ‘sterk aangetrokke’ voel tot FLEMMING R se redenasie in S v Mazola 1980 (2) PH H99 (O) waarin beslis is dat
‘by die skuldigbevinding aan handeldryf in dagga die opskortingsvoorwaarde nie na oortreding van art 2 (b) moes verwys nie’.
Ek is bewus van die uitspraak in S v Allart 1984 (2) SA 731 (T) waarin ‘n teenoorgestelde standpunt gehuldig word en waarna die landdros ook in sy redes verwys, maar vereenselwig my met eerbied met die ‘aangetrokkenheid’ tot die Mazola-uitspraak. Sedert die Allart-uitspraak het ‘n volle Hof van dieselfde Afdeling in S v Mziyane and Others 1985 (2) SA 844 (T) die Allart-standpunt bekragtig. Ek verkies egter nogtans die Mazola-benadering wat ooreenstem met die benadering van S v Mandla 1984 (2) SA 549 (K) en S v Kgadebe 1984 (3) SA 753 (N). Afgesien van die beweerde ongelyksoortigheid van die handelinge wat strafbaar gemaak word in arts 2 (a) en 2 (b) onderskeidelik, is dit na my mening onbillik dat ‘n ‘handelaar’ die risiko moet loop om vir ‘n redelike aansienlike periode na die gevangenis te gaan weens blote besit gedurende die periode van opskorting benewens enige ander vonnis wat hy vir daardie besit opgelê word.”
Bogemelde benadering is ook nagevolg in S v NXUMALO 1992 (2) SASV 268 (O) op 273H – 274B en in S v MONISA 1992 (2) SASV 670 (O).
[8] Ek vereenselwig myself met eerbied met bogemelde uitsprake en die ratio daarvoor en meen dat dit nie gepas is om die opskortingsvoorwaardes so wyd te verwoord soos in die onderhawige geval gedoen is nie. Beskuldigde se huidige skuldigbevinding aan handeldryf sal in die toekoms in ieder geval in alle waarskynlikheid dan as vorige veroordeling strafverswarend inwerk by ‘n moontlike verdere skuldigbevinding en vonnisoplegging weens besit. Gevolglik moet daar ingemeng word met die opskortingsvoorwaardes.
[9] Die volgende bevel word gemaak:
1. Die skuldigbevinding word bekragtig.
2. Die opgelegde vonnis word tersyde gestel en vervang met een van 4 (vier) jaar gevangenisstraf wat in geheel opgeskort word vir 5 (vyf) jaar op voorwaarde dat beskuldigde nie weer skuldig bevind word aan oortreding van artikel 5 van Wet 140 van 1992 gepleeg gedurende die tydperk van opskorting nie. Hierdie vonnis moet geag word opgelê te gewees het op 27 Augustus 2007.
____________
C. VAN ZYL, R
/sp

RTF format