South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2008 >> [2008] ZAFSHC 55

| Noteup | LawCite

S v Julinoh Macamo and Others (16/2006) [2008] ZAFSHC 55 (26 June 2008)

Download original files

PDF format

RTF format

Bookmark/Share this page

Bookmark and Share

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)


Saak Nr. : 16/2006


In die saak tussen:-


DIE STAAT


versus


PAULUS SHILANGO @ JULINOH MOCAMO Beskuldigde 1

ALEXANDRE ALBINO DAVA Beskuldigde 2

JABU MTEMBU @ JAVAS Beskuldigde 3

ANTHONY MATHEBULA @ JOHN DRAKE Beskuldigde 4

LAZARUS MNISI Beskuldigde 5

SIMON MNISI Beskuldigde 6

SEBASTIAN SIBEKO @ MANDLA Beskuldigde 7

SIPHO DAVID MXOLI Beskuldigde 8

(MADALA MALOLEKE) (Beskuldigde 9)

ARLINDO DIVANE @ THIVANE @ ELLIOT ZULU Beskuldigde 10

JACKSON FULANE @ Beskuldigde 11

JACKSON STEPHEN KHOZA

CAIN GONDWE Beskuldigde 12

JOSEPH MAHLALELA Beskuldigde 13

BENZANI NXUMALO Beskuldigde 14

JOEL NDZIMANDE Beskuldigde 15

WALTER GUMEDE Beskuldigde 16

_____________________________________________________


AANGEHOOR OP: 1 FEBRUARIE 2008, 22 FEBRUARIE 2008, 25 APRIL 2008, 13 JUNIE 2008

_____________________________________________________


UITSPRAAK DEUR: HANCKE, R

_____________________________________________________


GELEWER OP: 26 JUNIE 2008

_____________________________________________________


[1] Die betrokke applikante is skuldig bevind aan verskeie aanklagte wat wissel van roof met verswarende omstandighede, menseroof, diefstal, oortreding van artikel 9 van Wet 21 van 1998, die Wet op Voorkoming van Georganiseerde Misdaad.


[2] Ten einde verwarring te voorkom sal hierin later verwys word na die betrokke beskuldigde se nommer waarmee hy tydens die strafverhoor geïdentifiseer is.


[3] Die Staat by monde van mnr Steyn opponeer die aansoek ten opsigte van beide die skuldigbevindings en vonnisse.


[4] Alhoewel kronologies met elke aanklag gehandel sal word volgens die applikante se betoogshoofde, is dit egter belangrik dat die klagtes nie in isolasie beskou word nie, maar moet die geheelbeeld van veral selfoonkontak, die tyd, plek en volgorde waarop die oproepe op mekaar gevolg het, die feit dat die meeste beskuldigdes handstukke gedeel het, asook besonderhede van mekaar op hulle foonboeke gehad het, in ag geneem word. Die patroon wat selfoonkontak ten opsigte van die onderskeie klagtes aangeneem het, asook patroon van misdaad aktiwiteite moet ook in ag geneem word.

[5] Aanklagte 1 en 2 (Beskuldigde 13):

Die betrokke vragmotor is geroof vanuit die besit van Ben Senatle en ‘n passasier deur onbekende persone met ‘n blou Toyota Cressida, op 15 November 1999 omstreeks 22h00. Op 17 November 1999 was privaatondersoekers in ‘n jaagtog betrokke met die Cressida, waarna die insittendes weggehardloop het. Die klere van mnr Senatle, wat tydens die rooftog gebuit was, is in die bagasiebak van die voertuig gevind. Beskuldigde 13 se vingerafdruk is gevind aan die buitekant van hierdie voertuig op die masjienkap, welke afdruk, volgens die staatsgetuies betreklik vars was. (Sien paragrawe [58], [68] en [170] van die uitspraak.) Applikant se vorige skuldigbevinding (aan poging tot roof) was slegs ter sake om te bepaal of hy in die tronk was toe hy die beweerde motortransaksie aangegaan het en of sy weergawe redelik moontlik waar was. Artikel 197(d) van die Strafproseswet, Hiemstra (5de Uitgawe) p. 482.


[6] Insiggewend is die feit dat die getuie Senatle vir beskuldigde 10 as een van die rowers uitwys, wat op hulle eie weergawes swaers is en saamgewoon het. Sien verder paragraaf [170] van die uitspraak.

[7] Aanklag 4 (Beskuldigde 1):

Dit is gemene saak dat die Pajero voertuig op 27 Julie 2000 omstreeks 20h10 deur drie onbekende mans geroof is en wat die volgende dag, op Vrydag 28 Julie 2000 te Nelspruit teruggevind is. Daar was sekere weersprekings in die weergawe van die staatsgetuies, met welke weersprekings in die uitspraak gehandel is. (Sien paragraaf [171].) Dit is ook van belang om daarop te let dat die registrasienommer naamlik MME 0490 agter-op die folien, wat vanaf die vingerafdruk gelig is, aangeteken is. Beskuldigde 1 se vingerafdruk op die nommerplaat was vars gewees volgens die getuienis. Hyself plaas homself ook in daardie omgewing en is hy ook deur verskeie polisie beamptes, wat geloofwaardige getuienis gelewer het, aldaar in die omgewing van Beginners Lodge geïdentifiseer. Verder word volstaan met dit wat alreeds in die uitspraak in hierdie verband vermeld is. (Sien paragraaf [171].)


Wat die eiendomsreg van die selfone betref is alreeds gehandel in die uitspraak en is belangrik dat die getuienis in die totaliteit beskou moet word. Sien paragraaf [153] van die uitspraak.

Die betoog dat mev Heyneke nooit in getuienis bevestig het dat die state wat handel oor hierdie klagte of dat die inhoud daarvan korrek is, kan ook nie opgaan nie. Haar getuienis was dat al die state waar en korrek was. In elk geval kan vir doeleindes van hierdie skuldigbevinding, hierdie getuienis buite rekening gelaat word, in die lig van die feit dat beskuldigde 1 se vingerafdruk op die betrokke nommerplaat gevind is ten opsigte waarvan hy ‘n weergawe gegee het wat leunagtig was en gevolglik verwerp was.


Wat die dokumentasie betref wat ingehandig is deur Kaptein Fourie ten opsigte van die drukstukke wat afkomstig is van die rekenaarstelsel is dit verbasend dat dit geopper word in betoog, in die lig van die feit dat geen skuldigbevinding gebasseer is op hierdie getuienis nie en dat dit buite rekening gelaat was.


[8] Aanklagte 7 & 8 (Beskuldigdes 1, 5 en 6):

Die verdediging se betoog dat daar ‘n sogenaamde afstanddoening (disassociation) van die misdaad was, en dat die element van permanente besitsontneming nie bewys is nie, kan net nie opgaan nie. Dit blyk duidelik uit die getuienis dat hier nie eers sprake is van ‘n poging nie, maar dat die misdaad volledig uitgevoer en voltooi was. Die applikant wys selfs in sy hoofde dat die vragmotor vyf kilometer van die rooftoneel gevindikeer is, d.w.s nadat die roof plaasgevind het. Van die rowers se skuld moet beoordeel word soos wat dit was tydens die pleging van die betrokke misdrywe en blyk dit dat hulle effektiewe beheer oor die voertuig geneem het met die opset om die eienaar permanent van sy besit te ontneem. Wat beskuldigde 6 se uitkenning betref deur die getuie, Willie Ncongwane (paragraaf [72]), blyk dit dat die voorval helder oordag plaasgevind het en dat die getuie voldoende tyd gehad het. Hy kon en het noukeurige waarnemings gemaak en het ook die teenwoordigheid van gees behou deur tydens die aanhouding te ontsnap. Origens word verwys na paragraaf [173] van die uitspraak.


[9] Wat die eienaarskap van selfoon 083 481 8804 betref, vertoon dit die naam Mokamo wanneer dit aangeskakel word en het beskuldigde 1 erken dat sy ander naam Julinoh Alberto Mocamo is. Dit blyk duidelik uit sy getuienis dat hy Mokamo/Mocamo verskillend spel. Verder bevat hierdie selfoon ‘n foto wat voorgee die van beskuldigde 1 te wees. Alhoewel die getuienis van Inspekteur Van Deventer nie vry van kritiek was nie, was hy (in teenstelling met Kaptein Van Deventer) ‘n eerlike en geloofwaardige getuie gewees. Dit is belangrik dat die totaliteit van die getuienis hier in ag geneem word. Sien verder paragraaf [153] van die uitspraak.


[10] Selfoonstate en getuienis daaromtrent:

Die getuies, Petro Heyneke namens Vodacom, en Hilda du Plessis namens MTN, het die Hof beïndruk as geloofwaardige en betroubare getuies wat uitgebreide kennis omtrent hulle vakgebied het. Op ‘n stadium, toe die verdediging die suggestie gemaak het dat daar foutiewe inligting voor die Hof geplaas is, is die getuie, Heyneke, teruggeroep en het dit geblyk dat die data inderdaad korrek was. Die moontlikhede deur die verdediging in hierdie verband t.o.v. hulle getuienis kom neer op spekulasie. Dit is nie die Staat se plig om alle moontlikhede uit te skakel nie. Vergelyk S v GLEGG 1973 (1) SA 34 (A) te 38 H – 39 A. Dit was ook nie die verdediging se saak dat die oproepe ontken of elders gemaak was nie. S v BOESAK 2000 (1) SASV 633 (HHA) te 647 c – d. Sien verder paragraaf [149] van die uitspraak asook die getuienis van Heyneke en Du Plessis.


[11] Aanklagte 15 en 16 (Beskuldigdes 1 en 2):

Die bestuurder van die vragmotor, mnr Motaung, het vir beskuldigde 2 uitgeken as die persoon wat hom beveel het om in die voertuig te klim, asook die persoon wat ‘n vuurwapen in sy hand gehad het (paragraaf [74]). Verder is beskuldigde 2 ook die persoon wat hom in die bos ingeneem het en het hy aan die polisie te kenne gegee dat hy in staat sal wees om een van sy aanvallers te identifiseer. Uitkenning het helder oordag geskied en was hulle vir ongeveer vier ure in mekaar se geselskap. Alhoewel dit ‘n sogenaamde “dock identification” was, wat met versigtigheid benader moet word, is beskuldigde 2 tussen 15 swart manspersone uitgeken. Beskuldigde 2 se swak vertoning in die getuiebank is ook hier in ag geneem. Wat beskuldigde 1 betref, word sy selfoonnommer wat eindig 8804 op die toneel geplaas. Sien verder paragraaf [177] van die uitspraak.


[12] Aanklagte 17 en 18 (Beskuldiges 1, 2, 3, 4, 5, 6, en 11):

Dit blyk duidelik uit die uitspraak dat daar nie staatgemaak is op die uitkenning van die getuie, Ganias Budhu nie, maar daar gesteun is op die totaliteit van die omstandigheidsgetuienis soos gereflekteer in die selfoonstate. So byvoorbeeld het beskuldigde 11 ‘n belangrike rol gespeel in die pleging van hierdie aanklagte en ‘n groot aantal van die ander misdrywe. Uiteindelik is hy aan 21 aanklagte skuldig bevind. Wat hierdie aanklagte betref, het hy voor die voorval kontak met beskuldigdes 1 en 6, en ná die voorval met 1, 6 en 4 (met laasgenoemde op ‘n deurlopende basis). Na die voorval bevind beskuldigdes 2, 4 en 6 hulle almal soos gewoonlik te Alrode Suid. Sien verder die 1ste paragraaf [178] van die uitspraak. Wat die eienaarskap van selfoon 082 759 5772 betref, is daarmee gehandel in paragraaf [163] van die uitspraak. Ten opsigte van die bewyswaarde van die selfoondata: Op enkele uitsonderings na was die selfone, en die inligting wat dit bevat, beskikbaar aan al die lede van die Hof. Na my mening is dit soortgelyk aan ‘n foto of opname wat as reële getuienis beskou word. S v M 2002 (2) SACR 411 (SCA) te par. [31] teenoor c – e; S v BALEKA AND OTHERS (1) 1986 (4) SA 192 (T) te 195 C en verder.

[13] Aanklagte 19 en 20 (Beskuldigdes 1, 2, 3, 4, 5, 6, 10, 11 en 14):

Namens die applikante is betoog dat die weergawe gegee deur beskuldigde 5 slegs in getuienis teen homself toelaatbaar is en dat dit nie as getuienis teen beskuldigde 4 toelaatbaar is nie – op geen stadium in die uitspraak is dit egter as getuienis teen beskuldigde 4 in ag geneem nie. Namens beskuldigde 2 is na die getuienis van Budhu verwys. Laasgenoemde was ‘n swak getuie en het ten opsigte van die vorige klagtes getuig.


[14] Beskuldigde 3 se vingerafdruk is aan die buitekant van die geroofde vragmotor se deur gevind, terwyl beskuldigde 5, die bestuurder van die vragmotor, in die geroofde vragmotor met vervalste nommerplate voorgekeer is in die Lebombo-omgewing, d.w.s naby die grens. Die geroofde vragmotor het vervalste nommerplate gehad wat bo-oor die oorspronklikes geplak was. Verder blyk dit dat die vragmotor se opsporingstelsel, radio en panele, opsigtelik verwyder was.


[15] Die res van die beskuldigdes se skuldigbevindings is gebaseer op die selfoonkontak wat daar was tussen die beskuldigdes, die plekke waar hulle bevind het, d.w.s. die totaliteit van die getuienis. Samevattend: beskuldigdes 1 en 14 se selfone was op die toneel tydens pleging van die misdryf, daarna beweeg beskuldigdes 1, 5, 6 en 11 na Alrode-Suid, terwyl beskuldigdes 3, 4, 5 en 11 later na Naas Service Station te Komatipoort beweeg. Verder insiggewend is dat beskuldigde 4 se nommer wat eindig 8547 op beide die foonboeke van beskuldigdes 3 (sy vingerafdrukke was op die geroofde vragmotor) en 5 (wie in die geroofde vragmotor gevang is) verskyn, en deel beskuldigde 4 ook ‘n handstuk met beskuldigde 3. Sien verder die 2de paragraaf [178] van die uitspraak.


[16] Aanklagte 21 en 22 (Beskuldigdes 1, 2, 6, 11, 14 en 15):

Beskuldigde 1 word uitgeken deur mnr Leoma en blyk dit dat hulle ‘n geruime tyd, ongeveer vier ure, in mekaar se geselskap was, gedurende welke tydperk beskuldigde 1 hom oor sekere aspekte uitgevra het. Op daardie stadium was beskuldigde 1 se haarstyl feitlik kaalkop gewees. Benewens hierdie uitkenning word beskuldigde 1 ook geïmpliseer deur die selfoondata van sy foon wat eindig met 8804. Wat selfoon wat eindig met 1911 betref, alhoewel dit nie bo redelike twyfel met beskuldigde 7 verbind kan word nie, staan dit vas dat die hanteerder daarvan aktief betrokke was by die pleging van die meeste van hierdie misdrywe. Wat die ander beskuldigdes betref, is die kommunikasie met die selfone wat hulle mee verbind word van sodanige aard dat dit enigste redelike afleiding regverdig dat die Staat hierdie aanklagte bewys het. Sien verder paragraaf [179] van die uitspraak.


[17] Aanklagte 23 en 24 (Beskuldigdes 1, 11 en 14):

Die bestuurder van die betrokke vragmotor nl. mnr Molefe (paragraaf [23]) het op 17 September 2004, terwyl hy op pad was na Maputo, by ‘n vulstasie gestop, waar hy die mense gesien het wat hom gekaap het kort tevore. Hy het dit aan die polisiebeamptes wat daar aangekom het, gerapporteer en het hy o.a. beskuldigde 1 uitgeken. Volgens hom het beskuldigde 1, soos mnr Leoma t.o.v. aanklagte 21 en 22 getuig het, kort hare gedra. Hierdie uitkenning word ook gestaaf deur die selfoondata. Origens word volstaan met dit wat in die uitspraak gesê is (paragraaf [180]).

Daar is met die eienaarskap van selfoon 082 723 8870 gehandel in paragraaf [163] van die uitspraak.


[18] Aanklagte 25, 26 en 27 (Beskuldigdes 1, 3, 10, 11 en 15):

Die getuie Conradie was ‘n oortuigende getuie gewees en het die toets geslaag beide wat geloofwaardigheid en betroubaarheid betref. Hy word gestaaf deur die feit dat die selfoondata benewens beskuldigde 1, ook vir beskuldigde 14 op die toneel plaas. Origens word verwys na paragraaf [181] van die uitspraak.


[19] Aanklagte 30 en 31 (Beskuldiges 1, 2, 4 en 11):

Daar word volstaan met wat alreeds in die uitspraak gesê is. Sien paragraaf [183].


[20] Aanklagte 32, 33 en 34 (Beskuldigdes 1, 2, 3, 11 en 12):

In paragraaf 13.5 van adv Potgieter se betoogshoofde word daarna verwys dat die betoog van die Staat “misplaas is aangesien die Staat se bewering is dat die vragmotor op pad was na Zambië. Dit is totaal verskillende rigtings en hoe beskuldigde 4 daardeur tot die pleging van hierdie misdaad geroep word, is verbasend.” Ek stem saam daarmee. Beskuldigde 4 is egter onskuldig bevind ten opsigte van hierdie aanklagte. Dit blyk verder dat beskuldigde 3 se vingerafdruk op die voorste vervalste nommerplaat van die betrokke voertuig gevind is en dat hy ‘n vergesogte verduideliking daarvoor gegee het. Origens word volstaan met die inhoud van die uitspraak (paragraaf [184].


[21] Aanklagte 35 en 36 (Beskuldigdes 1, 2 en 11):

Sien paragraaf [185] van die uitspraak.


[22] Aanklagte 37 en 38 (Beskuldigdes 1, 2 en 15):

Mnr van Rensburg het betoog dat daar nie getuienis is waar Vaalpark is nie. Enige amptelike padkaart dui egter aan dat dit naby (of aan) Vereeniging geleë is. Daar word volstaan met die inhoud van die uitspraak. Sien paragraaf [186].


[23] Aanklagte 39 en 40 (Beskuldigde 15):

Drie weke nadat beskuldigde 15 gearresteer is in die geroofde vragmotor, wat betrekking het op aanklagte 37 en 38 (wat op/omtrent 15 September 2004 plaasgevind het), word hy op 7 Oktober 2004 gearresteer vir hierdie betrokke aanklagte om 22h19 d.w.s minder as vyf ure na hierdie rooftog. Verder insiggewend is die feit dat hy na hierdie voorval in verbinding was met beskuldigde 6, nl. om 22h00 en 22h01. Beskuldigde 15 was ‘n ongeloofwaardige getuie wie se weergawe as vals verwerp is. Sien verder paragraaf [187] van die uitspraak.


[24] Aanklagte 41, 42 en 43 (Beskuldigdes 8 en 10):

Beskuldigde 8 is die dag na die roof in die geroofde vragmotor gearresteer terwyl beskuldigde 10 in ‘n Camry voertuig was wat verby hierdie vragmotor gery het en terwyl hy sy arm uitgehou het met ‘n duidelike teken “Volg my”. Sien verder paragraaf [188] van die uitspraak. Die eienaarskap van die selfoon, nl. dat dit aan beskuldigde 10 behoort, blyk minder belangrik te wees in die lig van die getuienis hierbo na verwys. Die getuie Van der Schyff het die betrokke SAP13 vorm, alwaar die nommer verskyn, as dié van beskuldigde 10, sowel as die notas van die foonboeke by die hof ingehandig as bewysstukke. Die simkaart is ook in beskuldigde 10 se besit gevind tydens sy arrestasie. Op grond van die totaliteit van die getuienis is bevind dat hierdie selfoon aan beskuldigde 10 behoort.


Daar word verwys na die mededelings wat gemaak is deur beskuldigde 8 aan polisielede wat beskuldigde 10 sou impliseer. Daar is geensins in die uitspraak op hierdie getuienis gesteun by die beoordeling van die skuld van die betrokke beskuldigde nie.


Elders in die uitspraak is gehandel met die verdwyning van die selfone. Wat hierdie aanklagte betref, is dit belangrik dat beskuldigde 8 se selfoonstate ‘n spieëlbeeld is van oproepe gemaak en ontvang tussen hom en beskuldigde 10. Vergelyk S v BALEKA AND OTHERS (1) 1986 (4) SA 192 (T) te 199J – 200A; S v RAMGOBIN AND OTHERS 1986 (4) SA 117 (N) te 134H – 135B. Alhoewel daar defekte was in die staatsaak, was die Hof egter tevrede dat die getuienis in wesenlike opsigte bevredigend was.


[25] Aanklagte 44 en 45 (Beskuldigdes 13 en 16):

Getuie Kgoete het klaarblyklik ‘n fout gemaak omtrent die tyd, welke aspek tydens die verhoor reggestel is en ek onder die indruk was dat die verdediging hierdie geskilpunt laat vaar het. Ten opsigte van die aspek of beskuldigde 13 ‘n Nokia 5510 of ‘n Nokia 3310 gebruik het, neem dit werklik nie die saak verder nie. Wat beskuldigde 13 se selfoon, wat eindig 8872, betref, het hy erken dat dit aan hom behoort het, maar dat hy dit na bewering gedurende 2004 verloor het. Dit blyk egter dat sy handstuk daarna gebruik te gewees het, wat nie strook met sy weergawe nie. Sien verder paragraaf [165] en [189] van die uitspraak.


[26] Aanklagte 46 en 47 (Beskuldigdes 7 en 11):
Dit is gepas om eers na die posisie van beskuldigde 11 te verwys. Hy is o.a. skuldig bevind aan aanklag 53, nl. oortreding van artikel 9 van die Wet op Voorkoming van Georganiseerde Misdaad, Wet 121 van 1998. Die hof het bo redelike twyfel bevind dat hy aktief deelgeneem het en lid was van ‘n kriminele bende wat van hierdie misdrywe gepleeg het. In totaal is beskuldigde 11 skuldig bevind aan 21 van die ten las gelegde misdrywe. Die betrokke selfoon wat op hierdie aanklagte betrekking het, eindig met 7824 wat beskuldigde 11 toegedig word. Sien paragraaf [163] van die uitspraak.


Wat beskuldigde 7 betref, is bevind dat die selfone wat eindig met nrs. 7600 en 7582 met hom verbind word. Sien paragraaf [160] van die uitspraak. Die betrokke voorval het plaasgevind op 26 Februarie 2005 om ongeveer 11h30 op die pad tussen Paul Roux en Senekal. Beskuldigde 7 se selfoon wat eindig met nr. 7600 is op dieselfde dag vanaf 09h53 tot 13h21 in daardie omgewing gebruik. Op dieselfde dag het hy driekeer selfoonkontak met beskuldigde 11 op nr. wat eindig 7824 en die volgende dag by nege geleenthede met dieselfde nommer. Beskuldigde 11 is deur Tony Ghatu uitgeken as een van die rowers (paragraaf [97]).


Beskuldigde 7 met sy ander nommer wat eindig 7582 bevind hom in die Paul Roux/Senekal-omgewing vanaf 09h48 tot 13h14, gedurende welke tydperk 20 oproepe gemaak word. Voor die voorval kontak hy vir beskuldigde 11 op dieselfde dag en na die voorval by nog drie geleenthede. Van belang is die feit dat beskuldigde 7 verkies het om nie enige getuienis aan te bied of om enige verduideliking vir hierdie meervoudige selfoonkontak te gee nie.


[27] Aanklagte 53 en 54:

Sien paragraaf [194] van die uitspraak.


AD VONNIS

Sien uitspraak in hierdie verband.


[28] In die lig van die totaliteit van die getuienis is ek van mening dat daar nie redelike vooruitsigte op sukses bestaan ten opsigte van beide die skuldigbevindings en vonnisse nie.


Bygevolg word die applikante se aansoek van die hand gewys.



________________

S.P.B. HANCKE, R



Namens die 2de en 14de

applikante: Adv T B van Rensburg

In opdrag van:

Regshulpraad

KROONSTAD



Namens ander applikante: Adv H J Potgieter



Namens die Staat: Adv C Steyn

In opdrag van:

Direkteur Openbare Vervolging

BLOEMFONTEIN


/sp

2008/05/22 09:10:55

2008/06/23 02:57 nm

2008/06/24 09:48