South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2008 >> [2008] ZAFSHC 5

| Noteup | LawCite

Air Products SA (Pty) Limited v Peninsula Scrab Metals Cape CC t/a Peninsula Scrap Metals and Another (5896/05) [2008] ZAFSHC 5 (7 February 2008)

Download original files

PDF format

RTF format

Bookmark/Share this page

Bookmark and Share

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)


Saak Nr. : 5896/05


In die saak tussen:-


AIR PRODUCTS SA (PTY) LIMITED Eiser


en


PENINSULA SCRAP METALS CAPE CC Eerste Verweerder

t/a PENINSULA SCRAP METALS

VELDA STEYN Tweede Verweerder



AANGEHOOR OP: 4 DESEMBER 2007

_____________________________________________________


UITSPRAAK DEUR: VOGES, WND R

_____________________________________________________


GELEWER OP: 7 FEBRUARIE 2008



[1] Die Eiser vorder van die Eerste en Tweede Verweerders en eis van hulle, gesamentlik en afsonderlik as volg:


EIS A

  1. Betaling van R11 696,59 t a v gasprodukte verkoop en gelewer;

  2. Rente ten bedrae van R2 991,45, bereken tot 30 November 2005;

  3. Rente op voormelde bedrag teen 15,5% per jaar vanaf 1/12/05 tot datum van finale betaling.


EIS B

  1. Betaling van R83 499,30, synde agterstallige huurgeld t a v gassilinders;

  2. Rente ten bedrae van R10 178,11, bereken tot 30 November 2005;

  3. Rente op voormelde bedrag teen 15,5% vanaf 1/12/05 tot finale betaling.


EIS C

  1. Teruggawe van 76 hoëdruk en 10 LPG silinders, alternatiewelik betaling van R103 965,72, synde die vervangingswaarde daarvan;

  2. Rente op hierdie bedrag, bereken teen 15,5% per jaar vanaf uitreiking van die dagvaarding tot finale betaling.


EIS D

As skadevergoeding vir huurverliese gely a g v die eiser se versuim om gassilinders terug te besorg:

  1. Betaling van R28 431,60 vir die tydperk 1 Oktober 2005 tot 31 Januarie 2006;

  2. Betaling van R50 251,20 vir die tydperk 1 Februarie 2006 tot 30 September 2006;

  3. Betaling van R6 931,20 per maand vir die tydperk 1 Oktober 2006 tot datum van vonnis;

  4. Rente op bovermelde bedrae, bereken teen 15,5 % per jaar vanaf datum van vonnis tot finale betaling;


asook koste in die geding op prokureur en kliënt skaal.


[2] Die Eerste Verweerder is ‘n Beslote Korporasie, met geregistreerde besigheidsadres te Kaapstad. Sy besigheid bestaan uit die koop, verwerking en verkoop van skrootmetaal, welke besigheid aanvanklik slegs uit Kaapstad bedryf is. Die BK se bedrywighede is later uitgebrei na die Vrystaat waar C J Steyn as algemene bestuurder optree.


Tweede Verweerder is die enigste lid in die Eerste Verweerder, wat haarself as borg en mede-hoofskuldenaar gesamentlik en afsonderlik met die Eerste Verweerder teenoor die Eiser verbind het.


[3] Die eise spruit voort uit ‘n kredietooreenkoms tussen die Eiser en die Eerste Verweerder in terme waarvan die Eiser gas, wat in die metaalverwerkingsproses gebruik word, aan die Eerste Verweerder sou lewer by laasgenoemde se perseel.


Die silinders waarin die gas gelewer word, sou die uitsluitlike eiendom van die Eiser bly en die Eerste Verweerder sou huur aan die Eiser betaal ten aansien van die silinders wat aan die einde van elke maand in sy besit is.


Voortvloeiend uit hierdie ooreenkoms het die Eiser vanaf November 2003 gasprodukte aan die Eerste Verweerder gelewer en gassilinders aan hom verhuur. Laasgenoemde huurooreenkoms is op of omtrent 30 November 2005 beëindig.


[4] Die Eiser voer in sy Besonderhede van Vordering aan dat:

    1. Eerste Verweerder versuim het om R11 686,59 aan hom te betaal vir gasprodukte verkoop en gelewer (Eis A);

    2. Eerste Verweerder versuim het om R83 499,30 aan Eiser te betaal ten aansien van die huur van gassilinders (Eis B);

    3. Eerste Verweerder, nadat die huurooreenkoms tussen Eiser en Eerste Verweerder gekanselleer is, versuim het om 76 HP (hoë druk) en 10 LPG silinders aan Eiser terug te besorg, waarvan die totale vervangingswaarde R103 965,72 is (Eis C);

    4. Die Eiser vanweë die Eerste Verweerder se versuim om die silinders terug te besorg nie die genoemde silinders in die normale loop van besigheid kon verhuur nie en gevolglik die bedrae in Eis D skade ly of sal ly.


[5] Verweerders erken in hul verweerskrif:

  1. Ten aansien van Eis A: Aanspreeklikheid vir die betaling van R5 370,99;

  2. Ten aansien van Eis B: Dat 10 LPG gasbottels vermis word en dat die Eerste Verweerder gevolglik aanspreeklik is vir die huur van 6 LPG gasbottels vanaf Maart 2004 tot Oktober 2005 en 4 LPG gasbottels vanaf April 2004 tot Oktober 2005 teen R35,00 plus BTW per bottel per maand in die totale bedrag van R7 820,40, asook vir die huur van die gassilinders (R4 827,90) en die vervoer daarvan (R63,84);

  3. Ten aansien van Eis C: Kansellasie van die huurooreenkoms en aanspreeklikheid vir die vervanging van 10 LPG gassilinders ten bedrae van R6 452,00.


Verweeders pleit dat die voormelde bedrae plus moratore rente in die totale bedrag van R31 824,11 op 14 Februarie 2006 aan die eiser se prokureur van rekord betaal is.


[6] In die lig van bogenoemde erkenning en betaling deur Eerste Verweerder het Eiser voortgegaan en getuienis aangebied ten einde die volgende verskuldigheid van eerste en tweede verweerder (as borg) te bewys:

Eis A: R6 251,76

Eis B: R70 851,00

Eis C: 76 HP silinders, alternatiewelik R97 513,32

Eis D: Skade van R168 611,70 as gevolg van Eerste Verweerder se versuim om gassilinders aan Eiser terug te besorg.


[7] Dit is gemene saak tussen Eiser en Verweerders dat Eiser gas aan Eerste verweerder gelewer het by twee verskillende afleweringspunte, naamlik te Welkom en Klerksdorp. Die fisiese adres vir lewering van die gas te Klerksdorp was die perseel van J & A Engineering. Ene Skura Khumalo was die verkoopspersoon wat as tussenganger tussen die Eiser en die Eerste Verweerder opgetree het. Dit is ook gemene saak dat Khumalo op 18 November 2005 oorlede is.


[8] Johan Albert Frederick Bloementhal, die eerste getuie namens die Eiser, was sedert 2002 die krediettoesighouer van die Eiser.

Hy verduidelik die proses wat gevolg is met die bestelling van gasprodukte deur die Eerste Verweerder vanaf die Eiser as volg:

Die Eerste Verweerder sou naamlik ‘n bestelling by die verkoopspersoon, Khumalo, plaas. Laasgenoemde kry ‘n bestelnommer by die Eerste Verweerder, dit word deurgegee aan ‘n kliëntediensklerk van die Eiser, wat die bestellling in hul rekenaarstelsel voer en ‘n bestelnommer genereer.


Wanneer die bestelling afgelewer word, gaan dit gepaard met ‘n afleweringsnota waarop uiteengesit word welke produkte afgelewer word en hoeveel en watter tipe gassilinders deur die kliënt (Eerste Verweerder) teruggestuur word.


n Verteenwoordiger van die kliënt teken die afleweringnota ter bevestiging van die ontvangs van die bestelling.


n Faktuur vir die gelewerde goedere, bekend as ‘n gasfaktuur, asoook ‘n faktuur vir die huur van die silinders (huurfaktuur), word dan aan die kliënt gepos.


Op hierdie wyse is 3 bestellings gelewer te J & A Engineering, fakture is gepos en betaling van R10 207,56 is vanaf Eerste Verweerder ontvang.


[9] Die bestelling wat die onderwerp van hierdie verhoor en grondslag van die Eiser se eise vorm, word in Eiser se rekords aangetoon as bestelling nommer 6, wat op 3 Maart 2004 deur Skura Khumalo vir die Eerste Verweerder geplaas is. Volgens die afleweringsnota no 1332928 is 100 silinders suurstof toe op 5 Maart 2004 by die perseel van J & A Engineering te Klerksdorp deur die Eiser gelewer. Ene Johannes het geteken vir die ontvangs daarvan. 2 LPG en 42 suurstofsilinders is na eiser teruggestuur. ‘n Gasfaktuur vir die gelewerde produkte sowel as ‘n huurfaktuur ten aansien van die uitstaande silinders is na die adres van J & A Engineering, nl Posbus 1915, Klerksdorp gestuur.


Op 24 Januarie 2005 is die adres van die Eerste Verweerder verander na Posbus 5018, Welkom en is gasfakture daarna na laasgenoemde adres gestuur. Huurfakture is egter steeds na die oorspronklike (Klerksdorp) adres gestuur.

Bloementhal wys daarop dat die Eerste Verweerder kragtens die ooreenkoms tussen hom en die Eiser, 5 dae tyd het om ‘n afleweringsnota te betwis en 14 dae om ‘n faktuur te betwis.


[10] Goolam Mustapha Butler, kredietkontroleur van die Eiser, getuig oor briefwisseling en verskeie gesprekke tussen hom en C J Steyn en sy ma, Velda, oor bedrae geld wat die Eerste Verweerder aan die Eiser verskuldig was.


Hy bevestig dat die Eerste Verweerder uiteindelik te kenne gegee het dat hy aanspreeklikheid aanvaar vir R10 262,72 en dit betaal het. Dit het geskied nadat die Eiser ‘n aansoek om summiere vonnis gebring het.


[11] Carel Johannes Steyn en sy moeder Velda Steyn, het vir die verweerders getuig.


C J Steyn is die algemene bestuurder van Peninsula Scrap Metals, die Eerste Verweerder.


Hy verduidelik dat skrootmetaal wat gekoop word, eers opgesny word voordat dit verkoop word. Vir hierdie opsnyproses word gas, naamlik suurstof en LPG gebruik. Die Eerste Verweerder het hierdie gas aangekoop vanaf die Eiser.


In Februarie 2004 het die Eerste Verweerder ‘n groot hoeveelheid staal by ‘n myn in Klerksdorp aangekoop. Dit moes deur J & A Engineering opgesny word. Die Eerste Verweerder sou die gas daarvoor verskaf en dit aankoop vanaf die Eiser. Slegs C J Steyn kon bestellings by Khumalo plaas en het bestelnommers daarvoor vanaf die Kaapstad kantoor bekom. James Wallace , as lid van J & A Engineering, en sy voorman, Johannes, kon gelewerde gasprodukte ontvang, daarvoor teken en leë silinders terugstuur.


Steyn self het twee bestellings geplaas vir gas wat te J & A Engineering gelewer moes word, nl op 17 Februarie 2004 per bestelnommer 4 en in Maart 2004 per bestelnommer 9.


Steyn het slegs fakture vanaf die Eiser gekry vir die eerste bestelling (no 4). Nadat hy in Mei 2004 deur Butler meegedeel is dat hy/Eerste Verweerder R21 000 aan die Eiser verskuldig is, en hy diè bedrag betwis het, is fakture ten aansien van die tweede bestelling (No 9) asook ‘n verdere bestelling (no 6) deur die Eiser verskaf.


Steyn ontken dat hy laasgenoemde bestellling geplaas het en sê dat nòg Wallace nòg Johannes van J & A Engineering by magte was om bestellings namens Eerste Verweerder te plaas. Die bestelboek van die Eerste Verweerder (Bewysstuk “J”) toon ook aan dat bestelno 6 nie verwys na ‘n bestelling vir gas deur Eerste Verweerder van die Eiser nie. ‘n Bedrogklagte is by die polisie teen Wallace aanhangig gemaak, maar diè het intussen verdwyn. Die enigste ander persoon wat sou kon sê wie werklik die bestelling geplaas het, is Khumalo, wat intussen oorlede is.


[12] Die Eiser voer aan dat die Verweerders aan bestelling no 6 gebonde is omdat Johannes, toe hy die afleweringsnota (bew “A19”) onderteken het, erken het dat alle inligting op die afleweringsnota, dus ook die bestelnommer, korrek is. Hiervoor word gesteun op die inskripsie op die afleweringsnota dat


The signatories below accept all information on this note as being correct.


Insgelyks word op alle silinderhuurfakture aangedui

If no discrepancy is reported within 15 days of the date of invoice, it will be assumed as correct.”


Omdat geen foute/tekorte aangemeld is nie, so lui die betoog, is die Verweerders gebonde aan die betrokke faktuur.


[13] Die Eiser voer aan dat die Verweerders aanspreeklik is vir betaling van die goedere en huur t a v bestelling no 6 omdat:


    1. Die bestelling geplaas was deur ‘n behoorlik gemagtigde verteenwoordiger van die Eerste Verweerder (Wallace);

    2. Wallace as verteenwoordiger van die vennootskap tussen Eerste Verweerder en J & A Engineering opgetree het;

3. In die alternatief word betoog dat, sou die hof bevind dat bestelling 6 nie deur die Eerste Verweerder of ‘n vennoot van hom geplaas was nie, die Eerste Verweerder a g v sy gedrag en die oënskynlike volmag van sy agent deur estoppel gebonde behoort te wees.


[14] Die getuienis ondersteun nie die Eiser se submissies nie:

  1. C J Steyn getuig dat Wallace nie gemagtig was om bestellings namens die Eerste Verweerder te plaas nie. Die bestelboek van Eerste Verweerder (bewysstuk “J”) toon aan dat bestelnommer 6 nie vanaf die Eerste Verweerder afkomstig was nie.


2. Dit was die uitdruklike getuienis van C J Steyn dat J & A Engineering bloot die arbeid sou verskaf om die staal te verwerk. Dit blyk nêrens uit die getuienis dat die Eerste Verweerder en J & A Engineering vennote was of in ‘n ‘joint venture’ betrokke was of winste uit die sogenaamde projek sou deel nie, soos die Eiser in die alternatief aanvoer nie. Trouens, dit word pertinent deur C J Steyn ontken. Waarskynlikhede begunstig ook laasgenoemde se weergawe.


3. Die Eiser argumenteer dat Wallace en/of Johannes deur ondertekening van die afleweringsnota alle inligting, ook bestelnommers, as korrek bevestig en sodoende aanspreeklikheid vir die Eerste Verweerder opgeloop het. Hiervoor word sterk gesteun op ‘n bepaling in die terme en voorwaardes van die kredietooreenkoms (Bewysstuk “A003”) tussen die Eiser en die Eerste Verweerder wat lui:


Goods should be examined immediately on receipt and in the case of damage, shortage or oversupply, the carriers and Air Products should be notified in writing within five days of receipt, failing which the delivery shall be prima facie to be in accordance with the delivery note.”


Dit word aangevoer dat die persoon wat die afleweringsnota onderteken daardeur sertifiseer dat alle inligting daarop, ook die bestelnommer, korrek is.


Die aangehaalde klousule verg bloot dat die gelewerde goedere nagegaan moet word. Dit beteken nie dat die ontvanger gemagtig is om te bestel, of bestelnommers te verifieer of bevestig nie. So ‘n uitleg druis in teen logika en algemene besigheidspraktyk.


4. Dit is duidelik uit die getuienis dat die Eerste Verweerder onbewus was van die bestelling wat by die Eiser geplaas was: Die fakture ten aansien daarvan was na die Klerksdorpadres van J & A Engineering gestuur; die bestelnommer was fiktief en nòg Wallace nòg Johannes was gemagtig om namens die Eerste Verweerder te bestel. Omdat die Eerste Verweerder nie van die bestelling of die fakture daarvoor kennis gedra het nie, kon hy uiteraard nie binne 5 dae aandui dat die bestelling foutief was nie.


Die Eerste Verweerder kan nie aanspreeklik gehou word vir bestellings wat sonder sy wete en buite sy opdragte geplaas was nie.


[15] Namens die eiser is betoog dat:


1. the first defendant represented that Wallace and Johannes were authorized to act on behalf of the First defendant and that the Plaintiff acted reasonably in its reliance on this representation;

2. the fact that the first defendant changed its mind at a certain point, deciding that Wallace no longer had authority to act on behalf of the first defendant, would make the firs defendant liable for the actions of Wallace;

3. the fact that the first defendant changed its mind at a certain point, deciding that Johannes no longer had authority to act on behalf of the first defendant, would make the first defendant liable for the actions of Johannes as well.”


In diè verband steun die Eiser op die getuienis van Butler dat Velda Steyn aan hom sou gesê het dat Wallace aanvanklik gemagtig was om bestellings te plaas of ontvang, maar later nie meer nie. Dit word pertinent deur Velda en C J Steyn ontken. Dit is nie betwis nie dat Velda Steyn nie teenwoordig was toe C J Steyn en Khumalo die reëling ten aansien van lewering van gas te J & A Engineering getref het nie.


Volgens die Verweerders was Wallace en Johannes slegs gemagtig om goedere te ontvang, nie om te bestel nie. Khumalo het dit geweet en as werknemer of verteenwoordiger van die Eiser word sy kennis die Eiser toegereken.


Word gelet op die Eiser se dokumentasie ten aansien van die gewraakte bestelling, toon die daaglikse bestelstaat (bewysstuk “A0018”) aan dat Khumalo instrumenteel was in die plaas daarvan. ‘n Nota is aangebring waarvolgens Khumalo die bestelnommer sou voorsien/voorsien het.


[16] Die Eiser voer as verdere alternatief aan dat die Eerste Verweerder op grond van sy gedrag deur estoppel verhoed word om te ontken dat die Eerste Verweerder die bestelling vir 100 gassilinders geplaas het en dat Johannes gemagtig was om dit ten behoewe van die Eerste Verweerder te ontvang.


In NBS BANK LTD v CAPE PRODUCE CO (PTY) LTD AND OTHERS 2002 (1) SA 396 (SCA) te 411 G – H word estoppel beskryf as:


a situation where a representor may be held accountable when he has created an impression in another’s mind, even though he may not have intended to do so and even though the impression is in fact wrong. Where a principal is held liable because of the ostensible authority of an agent, agency by estoppel is said to arise. But the law stresses that the appearance, the representation, must have been created by the principal himself. The fact that another holds himself out as his agent cannot, of itself, impose liability on him.”


Te p. 412C-D, par [26] word die vereistes wat bewys moet word, alvorens ‘n prinsipaal op grond van die oënskynlike volmag van sy agent aanspreeklik gehou kan word, as volg uiteengesit:


1. A representation by words or conduct

2. Made by [the principal] and not merely by [the agent], that he had the authority to act as he did.

3. A representation in a form such that [the principal] should reasonably have expected that outsiders would act on the strength of it.

4. Reliance by [the third party] on the representation.

5. The reasonableness of such reliance

6. Consequent prejudice to [the third party].”


In die onderhawige saak is dit die getuienis van die Eerste Verweerder dat J & A Engineering en/of Wallace en/of Johannes nie sy agent(e) was nie en nie gemagtig was om bestellings te plaas nie. Dit kan gevolglik nie gesê word dat die Eerste Verweerder die voorstelling gemaak of die skyn verwek het dat hulle dit wel mag doen nie.

Geen bestelling mag ook sonder ‘n bestelnommer geplaas word nie. Aldus die Verweerders se getuienis, was hierdie reëling met Skura Khumalo getref en is bestellings aan hom deurgegee. Dat Khumalo wel die bestellings aan die Eiser deurgegee het en bestelnommers moes verskaf, word ook gestaaf deur die inskrywing in Eiser se boeke “Skura revert back with O/N (order number’), soos hierbo na verwys.


Khumalo het geweet wat die ooreenkoms tussen hom en die Eerste Verweerder/C J Steyn was en kan nie gesê word dat hy gehandel het op ‘n oënskynlike volmag van ‘n agent van die Eerste Verweerder nie.


Anders as in NBS BANK LTD v CAPE PRODUCE CO, supra gaan dit nie in die onderhawige geval oor lede van die publiek of buitestanders wat reageer op ‘n bepaalde voorstelling nie. Khumalo, verteenwoordiger van die Eiser, was self deel van die bestelproses en by ontstentenis van sy getuienis kan ek nie bevind dat bestelling nommer 6 die gevolg was van Khumalo se reaksie op ‘n voorstelling deur òf die Eerste òf die Tweede Verweerder nie. As C J Steyn nie self die bestelling geplaas het nie, het Khumalo dit geweet en sou redelikerwys van hom verwag word om die egtheid van die bestelling te bevestig.


[17] Eis B spruit voort uit die bestelling en lewering van goedere waarop Eis A berus. Sou die Eiser nie slaag met Eis A nie, kan hy ook nie suksesvol wees op hierdie eis nie.

[18] Die Eiser het nie daarin geslaag om aan te toon dat die 76 gassilinders waarop Eis C gebaseer is, in die besit van die Verweerders is, en dat die verweerders aanspreeklik is vir die teruggawe daarvan nie. Bygevolg kan die Verweerders nie verantwoordelik gehou word vir die verlies aan huurinkomste deur die Eiser gely, soos geëis in Eis D nie.


[19] Die volgende bevel word gevolglik gemaak:


Die Eiser se eise word van die hand gewys, met koste.




________________

M. VOGES, WND R



Namens die Eiser: Adv. A.J.R. Booysen

In opdrag van:

Matjila Hertzberg & Dewey

SANDTON

c/o Lovius Block

BLOEMFONTEIN



Namens die Verweerders: Adv. H.J. Benade

In opdrag van:

Hill McHardy & Herbst

BLOEMFONTEIN



MV/sp