South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2008 >> [2008] ZAFSHC 49

| Noteup | LawCite

S A Timber (Welkom) (Edms) Bpk v Lezmin 2815 BK (2607/2008) [2008] ZAFSHC 49 (14 August 2008)

Download original files

PDF format

RTF format

Bookmark/Share this page

Bookmark and Share

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)

Saak Nr. : 2607/2008

In die saak tussen:-

S A TIMBER (WELKOM) (EDMS) BPK   Eiser

en

LEZMIN 2815 BK   Verweerder
_____________________________________________________

AANGEHOOR OP:             7 AUGUSTUS 2008
_____________________________________________________

UITSPRAAK DEUR:           HANCKE, R
_____________________________________________________

GELEWER OP:                        14 AUGUSTUS 2008
_____________________________________________________

[1]      Hierdie is ‘n aansoek om voorlopige vonnis deur eiser teen die verweerder op grond van ‘n tjek gedateer 28 Februarie 2007, getrek ten gunste van eiser, in die bedrag van R300 000,00 tesame met rente a tempore morae bereken teen 15,5 % per jaar, asook koste van geding.

[2]      Dit is nie in geskil dat dit verweerder se gemagtigde verteenwoordiger is wie se handtekening op die tjek verskyn, dat eiser die houer daarvan is en dat die tjek op die oog af in orde is nie. Op die stukke is dit verweerder se verweer dat verweerder en ene Louis, namens die eiser, ‘n mondelinge ooreenkoms gesluit het gedurende Januarie 2007, ingevolge waarvan die eiser onderneem het om boumateriaal aan die verweerder te verskaf vir die oprigting van sekere klaskamers, maar nie later as 10 Februarie 2007 nie. Verweerder beweer dat hy, as teenprestasie, die betrokke tjek aan die eiser verskaf het en dat die eiser versuim het om die boumateriaal voor of op 10 Februarie 2007 aan die verweerder te lewer, welke optrede kontrakbreuk deur die eiser daarstel en wat die verweerder genoop het om betaling van die tjek te stop. Verder, as gevolg van die eiser se beweerde kontrakbreuk, het verweerder skade gely en is hy voornemens om ‘n teeneis te liasseer ter vordering van gemelde skade.

[3]      Verweerder het in hierdie Hof hoofsaaklik twee verwere geopper, naamlik, eerstens, dat die Nasionale Kredietwet 34 van 2005 van toepassing is; dat eiser nie voldoen het aan die bepalings van artikels 129 en 130 daarvan nie as gevolg waarvan die huidige vordering voorbarig is; verder dat eiser die bepalings van artikel 90(2)(a)(i) en artikel 90(2)(b) gelees met artikel 90(2)(k)(iii) nie nagekom het nie; gevolglik is die huidige vordering regtens ongegrond of voorbarig. Tweedens, dat verweerder daarin geslaag het om dit van die bewyslas te kwyt deur aan te toon dat die waarskynlikhede in die verweerder se guns is om in die hoofsaak te slaag.

[4]      Mnr. Snellenburg het namens die verweerder betoog dat die volgende bepalings van artikel 90 van gemelde Wet van toepassing is:

                  “(2)      A provision of a credit agreement is unlawful if-
                                    ...              
(k)     
it expresses, on behalf of the consumer-
...
(iii)   
an undertaking to sign in advance any documentation relating to enforcement of the agreement, irrespective of whether such documentation is complete or incomplete at the time it is signed;”

Volgens hierdie betoog stel die tjek sodanige dokumentasie daar wat die uitgifte van die tjek onwettig maak; gevolglik kan eiser nie steun op die betrokke tjek nie.

[5]      Twee woorde vermeld in artikel 90(2)(k)(iii) naamlik “enforcement” en “documentation” verdien verdere aandag. Dit is belangrik om daarop te let dat die betrokke tjek deur die verweerder aan die eiser oorhandig is onafhanklik van die ooreenkoms tussen die partye ter betaling van die bedrag verskuldig ingevolge die ooreenkoms en nie ter afdwinging (“enforcement”) daarvan nie. Wat “dokumentasie” betref, is dit in elk geval ‘n wye begrip wat beperkend interpreteer moet word en wat seer sekerlik nie in die konteks wat dit hier gebruik word, ‘n tjek insluit nie.

[6]      Hierdie interpretasie word versterk, in die lig van die feit dat gemelde Wet spesifiek met tjeks handel. Die volgende bepalings van artikel 4, ten opsigte van die toepassing van die Wet, is hier van belang:

(5)      If a person sells any goods or services and accepts, as full payment for those goods or services-
(a)     
a cheque or similar instrument upon which payment is subsequently refused for any reason;
...
that agreement is not a credit facility within the meaning of section 8 (3), but any overdue amount in terms of that agreement, as contemplated in subparagraph (ii), is incidental credit to which this Act applies to the extent set out in section 5.”
(My beklemtoning.)

[7]      Laasgenoemde bepaling strook ook met die gemenereg. Dit is van belang om hierinlater te verwys na die implikasie en gevolge wat gepaardgaan met die uitreiking van ‘n tjek.

[8]      Wanneer ‘n tjek gedishonoreer word, het ‘n eiser die keuse om die verweerder aan te spreek op grond van of die oorspronklike skuldoorsaak óf op grond van die tjek wat ‘n nuwe skuldoorsaak daarstel.

Where a defendant owes a plaintiff a sum of money under a valid obligation and gives a bill of exchange which is dishonoured, the plaintiff can sue either on the original debt and use the bill of exchange as evidence, or he can sue on the liquid document.
In the latter case he can choose whether to proceed by way of ordinary summons or by way of provisional sentence summons. If the defendant contends that he is not liable on the bill of exchange it is for him to put the reasons for his allegation in issue in his plea. There is no need for the plaintiff in his declaration to go behind the liquid document...
It is fundamental to the law merchant in relation to bills of exchange that the bill itself founds the cause of action.
(SOFFIANTINI v MOULD 1960 (2) SA 371 (OK) te 373 – 374B.)

[9]      ‘n Tjek wat behoorlik getrek en uitgereik is, stel ‘n skriftelike ooreenkoms daar. LUTZKIE AND ANOTHER NNO v ZENITH CONCESSIONS LTD 2003 (6) SA 643 (HHA) te 645; FROMAN v ROBERTSON 1971 (1) SA 115 (A) te 120 Dit is seker die gewildste verhandelbare dokument wat aangewend word om ‘n skuld, wat die trekker van die tjek verskuldig is aan die skuldeiser, te betaal. Handelsbanke in Suid-Afrika hanteer jaarliks ‘n paar honderd miljoen tjeks. ‘n Ooreenkoms tussen die skuldenaar en skuldeiser wanneer betaling by wyse van ‘n tjek op ooreengekom is, word ‘n “debt extinguishing agreement” genoem. Leonard Gering Handbook on the Law of Negotiable Instruments (Derde Uitgawe) p. 98.
[10]     Die oorhandiging van ‘n tjek aan ‘n skuldeiser geskied nie met die bedoeling om die skuld te noveer nie, maar om dit by wyse van betaling af te los. Die skuldeiser wat ‘n tjek aanvaar, moet normaalweg sy aksie wat hy teen ‘n skuldenaar het, uitstel ten einde ‘n geleentheid te gee dat die tjek ontmoet word. B & H ENGINEERING v FIRST NATIONAL BANK OF SA LTD [1994] ZASCA 152; 1995 (2) SA 279 (A) te 285I – J; GORDON v TARNOW 1947 (3) SA 525 (A) te 540 – 541; ADAMS v SA MOTOR INDUSTRY EMPLOYERS ASSOCIATION 1981 (3) SA 1189 (A) te 1199H – 1200A

[11]     Betaling word geag gemaak te wees wanneer die skuldenaar die tjek aan die skuldeiser lewer.

When a cheque is given, receipt of the money by the creditor is accordingly deferred until the cheque is met. However, and again for practical reasons, it is not the payment of the cheque by the bank which is regarded as payment of the original debt, but the giving of the cheque, conditional on its being met in due course. This has a result that, when the cheque is met, payment of the original debt is regarded as having been made when the cheque was delivered. This is of course important where payment has to be made at a certain time.
B & H ENGINEERING v FIRST NATIONAL BANK OF SA LTD, supra, te 286 B - C

[12]     Gewoonweg is die houer van ‘n tjek dus geregtig op die honorering daarvan.

It is the physical embodiment of the payment obligation. Its possession (with any necessary endorsement) is evidence of entitlement to the money it represents. The right to receive payment belongs to the holder for the time being.”
(Gering, a.w. p. 99)

[13]     Uit die voorgaande is dit duidelik dat die uitreiking van ‘n tjek ‘n aparte regshandeling is wat ‘n afsonderlike skriftelike kontrak daarstel. Dit bied aan die houer daarvan die keuse om die trekker óf op grond van hierdie laasgenoemde skriftelike kontrak, d.w.s die tjek, aan te spreek, óf op grond van die onderliggende verhouding tussen die partye, as hulle onmiddellike partye is. In die onderhawige saak het die eiser as houer die keuse uitgeoefen om die verweerder op grond van die tjek aan te spreek.
[14]     Uit die voorgaande volg dit dus dat die Nasionale Kredietwet Nr. 34 van 2005 nie van toepassing is ten opsigte van die huidige skuldoorsaak nie. Dit strook ook met die gemenereg en is ook in belang van goeie gesonde handelsverkeer dat ‘n tjek, wat uitgereik is in omstandighede soos die huidige, as skuldoorsaak kan dien vir ‘n aansoek om voorlopige vonnis, en dat dit nie onderhewig is aan die Nasionale Kredietwet nie. In die lig van die slotsom waartoe geraak word, is dit nie nodig om te handel met mnr. Gilliland se alternatiewe betoog nie.

[15]     Wat die oorblywende verweer betref, naamlik dat die waarskynlikhede in die guns van die verweerder is, is dit nodig om te kyk na die feite van die saak. Die mondelinge ooreenkoms waarop die verweerder steun (par. [2]) is in stryd met die bepalings van klousule 1 van die “standard conditions of agreement” ingevolge waarvan die party dit op skrif moes gestel het om enige regsgevolge te hê. Verder blyk dit dat die verweerder meerdere bestellings van boumateriaal wat hy by eiser aangekoop het, geplaas ná die sogenaamde vervaldatum van 10 Februarie 2007. Wat die teeneis betref, is die skuldoorsaak gebaseer op die mondelinge ooreenkoms wat regtens onhoudbaar is. Verweerder het dus nie daarin geslaag om aan te toon dat die waarskynlikhede in sy guns is om in die hoofsaak te slaag nie.

[16]     Bygevolg word voorlopige vonnis verleen ingevolge die dagvaarding, met koste.
        

________________
S.P.B. HANCKE, R


Namens die eiser:                 Adv. J.G. Gilliland
                                             In opdrag van:
                                             Hill McHardy & Herbst
                                             BLOEMFONTEIN


Namens die verweerder:   Adv. N. Snellenburg
                                             In opdrag van:
                                             Vorster Botha Bredenkamp Ingelyf
                                             BLOEMFONTEIN


/sp