South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
You are here: SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2008 >> [2008] ZAFSHC 47 | Noteup | LawCiteBezuidenhout and Others v Workforce Group (Edms) Bpk and Others (A44/2008) [2008] ZAFSHC 47 (19 June 2008)
Download original files | Bookmark/Share this page |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Saak Nr. : A44/2008
In die saak tussen:
HENDRINA MAGDALENA BEZUIDENHOUT 1ste Applikant
DESIRé HALL 2de Applikant
ALBERTUS STEPHANUS HARTSLIEF 3de Applikant
en
THE WORKFORCE GROUP (EDMS) BPK Respondente
EN 8 ANDER
UITSPRAAK: VAN DER MERWE, R
AANGEHOOR OP: 13 JUNIE 2008
GELEWER OP: 19 JUNIE 2008
[1] Die applikante (onderskeidelik die eerste, tweede en derde respondente in aansoek nommer 351/08) doen aansoek om verlof om te appelleer na die Hoogste Hof van Appèl teen die geheel van die uitspraak en bevele in aansoek nommer 351/08 gegee op 26 Februarie 2008. Die huidige respondente staan die aansoek teen.
[2] Die toets in ‘n aansoek soos die onderhawige is of redelike vooruitsigte op sukses in die voorgenome appèl aangetoon is, nie slegs ‘n moontlikheid daarvan nie en ook nie dat daar ‘n argumenteerbare saak is nie.
[3] Die argument namens die applikante is wesenlik dat ‘n ander hof mag bevind dat die onderhawige handelsbeperkings-klousules ten gunste van die respondente nie enige beskermingswaardige belang dien nie en dat die betrokke handelsbeperkingsklousules onredelik is in die omvang en tydsduur daarvan. Die advokaat vir die applikante het tydens die aanhoor van hierdie aansoek weereens, myns insiens tereg, aanvaar dat die bewyslas op die applikante gerus het om op enigeen van die voormelde gronde aan te toon dat die afdwing van die handelsbeperkingsklousules teen die openbare belang sal wees.
[4] In die uitspraak is bevind dat die beskermingswaardige belang van die respondente bestaan uit vertroulike inligting van die respondente waaroor die applikante beskik. Die feite waarop die bevinding van vertroulike inligting gemaak is, naamlik essensieel dat die respondente ook spesifiek ten aansien van hul Bloemfontein-tak oor tyd vir hul eie gebruik inligting met betrekking tot klante en werknemers versamel het wat hul in staat kan stel om hul mededingers voor te spring, is onbetwis. Die vraag is gevolglik slegs of daar redelike vooruitsigte is dat op appèl bevind kan word dat op daardie feite nie aan die toepaslike toets vir vertroulike inligting, soos in die uitspraak uiteengesit, voldoen word nie. Ek meen nie dat daar ‘n redelike vooruitsig van sodanige bevinding op appèl is nie. Ek is tydens die argumentering van die onderhawige aansoek namens die applikante veral verwys na die beslissings van ADVTECH RESOURCING (PTY) LTD t/a COMMUNICATE PERSONNEL GROUP v KUHN AND ANOTHER 2008 (2) SA 375 (K) en ARROW ALTECH DISTRIBUTION (PTY) LTD v BYRNE AND ANOTHER [2007] ZAKZHC 33; [2008] 1 ALL SA 356 (D). Ek vind dit onnodig om hierdie beslissings te bespreek aangesien die beslissings daarin wat hier relevant is, naamlik of die betrokke respondente oor vertroulike inligting van die applikante beskik het, gemaak is op die besondere feite van die betrokke sake.
[5] Die omvang en duur van die betrokke handelsbeperkingsklousules is nie as sulks aangeveg in die opponerende verklarings in aansoek nr. 351/08 nie. Daar is gevolglik ook geen feitlike basis daarvoor gelê dat die twee jaar tydperk en/of die 50km radius vanaf Bloemfontein so onredelik is dat die openbare belang verg dat dit nie afgedwing word nie. Ek meen gevolglik ook nie dat die applikante op appèl hiermee sukses sal kan behaal nie.
[6] Wat oorbly is die argument dat in paragraaf 8 van die bevel foutiewelik gelas is dat die eerste respondent saam met die tweede en derde respondente die koste van die sogenaamde Anton Pillar aansoek, aansoek nr. 6762/2007 moet betaal. Die advokaat vir die applikante het egter myns insiens heeltemal tereg aangedui dat verlof om te appelleer nie slegs op hierdie punt verleen behoort te word nie.
[7] Gevolglik word die aansoek om verlof om te appelleer van die hand gewys met koste.
__________________________
C. H. G. VAN DER MERWE, R
Namens die applikante: Adv. F. W. Botes
In opdrag van:
Rosendorff Reitz Barry
BLOEMFONTEIN
Namens die respondente: Adv. L. M. Malan
In opdrag van:
Symington & De Kok
BLOEMFONTEIN
/em

RTF format