South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2008 >> [2008] ZAFSHC 46

| Noteup | LawCite

Monsanto South Africa (Pty) Ltd v Griessel (5955/2007) [2008] ZAFSHC 46 (19 June 2008)

Download original files

PDF format

RTF format

Bookmark/Share this page

Bookmark and Share

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)


Saak Nr. : 5955/2007


In die saak tussen:-


MONSANTO SOUTH AFRICA (PTY) LTD Applikant


en


MUNRO JACQUES GRIESSEL Respondent


_____________________________________________________


AANGEHOOR OP: 21 FEBRUARIE 2008

_____________________________________________________


UITSPRAAK DEUR: CILLIé, R

_____________________________________________________


GELEWER OP: 19 JUNIE 2008

_____________________________________________________


[1] AARD VAN DIE AANSOEKE:

Die ongewone aard van die hoofaansoek (5955/07) en die betreklik gekompliseerde wyse waarop die aangeleentheid daarna ontwikkel het, noodsaak ‘n vollediger dan gewone uiteensetting van die geskiedenis van hierdie drie aansoeke. Doelmatigheidshalwe word na die partye verwys soos in die hoofaansoek. In die hoofaansoek vra die applikant vir ‘n bevel dat die respondent sekere 150 sakke mieliesaad van twee verskillende variëteite en sekere 14 sakke mieliesaad van ‘n ander variëteit aan hom moet teruglewer. Alternatiewelik en op die veronderstelling dat dit nie gelewer kan word nie, word gevra vir betaling eerstens, van die bedrag van R150 118,00 en tweedens, vir betaling van die bedrag van R13 319,74. Dit verteenwoordig die koopprys van hierdie mieliesaad, maar dit moet gemeld word dat die twee transaksies nie met mekaar verband hou nie. Daar word verder vir rente en koste op prokureur-en-kliënt skaal gevorder. Respondent het nie binne die voorgeskrewe tyd sy bestryding van die hoofaansoek geliasseer nie. Die aansoek is daarna vir die onbestrede mosiehofrol ter rolle geplaas. Toe die saak geroep is, is namens respondent aansoek gedoen om uitstel ten einde ‘n kondonasie-aansoek te rig. Daardie aansoek is geliasseer onder aansoeknommer 525/08. Dit vra kondonasie vir die laat liassering van die opponerende verklaring in die hoofaansoek. Hierdie aansoek om kondonasie is bestry, ondersteun deur ‘n eedsverklaring namens applikant. Die respondent het hierop repliseer. Dit is opgevolg met ‘n derde aansoek deur applikant naamlik ‘n aansoek om deurhaling van substantiewe gedeeltes van hierdie repliserende verklaring in die kondonasie-aansoek.


[2] HOUDING VAN DIE PARTYE:

Namens die partye is by aanvang van die betoë aanvaar dat, sou die aansoek om kondonasie vir die laat indiening van die respondent se opponerende verklaring toegestaan word, die applikant geregtig behoort te wees om daarop te repliseer. Dit is ook aanvaar dat sou die aansoek om kondonasie misluk, ‘n bevel soos in die Kennisgewing van Mosie in die hoofaansoek vervat, verleen behoort te word. Die hoofaansoek sou dus, behalwe op ‘n onbestrede basis, in elk geval nie by aanhoor van die aansoek afgehandel kon word nie.


[3] VEREISTES VIR ‘N KONDONASIE-AANSOEK:

In hierdie Hof moet ‘n party wat kondonasie vra vir die laat indiening van ‘n opponerende verklaring die volgende vereistes bevredig:

    1. Daar moet ‘n redelike verduideliking vir die versuim wees; en

    2. n Goeie en bona fide verweer op die regshulp wat aangevra word, moet aangevoer word.

Vergelyk MOTAUNG v MUKUBELA AND ANOTHER, NNO; MOTAUNG v MOTHIBA, NO 1975 (1) SA 618 (O) op 624E; DU PLOOY v ANWES MOTORS (EDMS) BPK 1983 (4) SA 212 (O) op 216D en verder.


[4] DIE VERDUIDELIKING:

In die ondersteunende eedsverklaring tot die aansoek om kondonasie word namens die respondent deur sy prokureurs as volg verduidelik:

In die applikant se aansoek word in die funderende eedsverklaring verwys na ‘n eedsverklaring van onder andere ene Roux wat as ondersteuning aangeheg sou word by die stukke. (Vergelyk paragraaf 7, bladsy 8 van die hoofaansoek.) Sodanige eedsverklaring van Roux was egter nie aangeheg by die stukke wat op respondent beteken is nie. Navrae is toe per skrywe in hierdie verband gerig aan die applikant se prokureur deur die respondent se prokureur. Dit het niks opgelewer nie. ‘n Tweede skrywe is gerig met vermelding dat die nie-aanhegting van die verklaring van Roux as ‘n onreëlmatige proses, soos bedoel in Hofreël 30, beskou sou word. In die skrywe is ook gemeld dat ‘n kennisgewing van opponering nie liasseer sou word voor ‘n afskrif van die verklaring van Roux nie verskaf word nie. In antwoord hierop is ‘n niksseggende skrywe van applikant se prokureurs ontvang. Op Maandag 21 Januarie 2008 is toevallig, namens respondent, kennis daarvan geneem dat die hoofaansoek op die rol is vir aanhoor op Donderdag 31 Januarie 2008. Op daardie datum is die Hof suksesvol, namens die respondent, versoek om die aangeleentheid uit te stel tot 7 Februarie 2008 ten einde ‘n kondonasie aansoek te loods. Dit het gekulmineer in die onderhawige kondonasie-aansoek nommer 525/2008.


[5] BESTRYDING VAN DIE KONDONASIE-AANSOEK:

Die kondinasie-aansoek het ‘n lang opponerende verklaring van applikant se prokureur ontlok. Dit beslaan tesame met die aanhangsels daartoe 34 bladsye. Die essensie daarvan is ‘n houding dat die respondent blatant en flagrant die Hofreëls verontagsaam het. Onder andere word gekla oor die wyse waarop die respondent die aansoek om uitstel van die hoofaansoek, toe dit op die onbestrede rol geroep was, hanteer het. Ook word aangevoer dat die nie-aanhegting van Roux se verklaring nie rede was om nie tydig ‘n kennisgewing van bestryding van die hoofaansoek te liasseer nie. Met verwysing na die verweer uiteengesit in die eedsverklaring wat beoog word onder dekking van die kondonasie-aansoek ingehandig te word, word aangevoer dat dit nie ‘n bona fide verweer is nie, aangesien dit gekelder word deur die terme van die skriftelike ooreenkoms wat deel is van die aanhangsels tot die funderende eedsverklaring in die hoofaansoek. ‘n Baie kriptiese en eintlik niksseggende verklaring van voormelde Roux word dan ook aangeheg.


[6] AANSOEK OM DEURHALING:

Die respondent het repliseer op hierdie eedsverklaring van applikant se prokureur. Tesame met die aanhangsels daartoe beslaan dit op sy beurt 80 bladsye. Groot dele hiervan handel met die rol van voormelde Roux in die hele geskil tussen die partye. Ek vind dit nie nodig om in verdere besonderhede hierna te verwys nie. ‘n Aansoek om deurhaling (die derde aansoek) van ‘n aantal paragrawe van hierdie repliserende verklaring het hierop gevolg. Die grondslag van die meeste daarvan is dat die beweringe daarin vervat of ontersaaklik is of nuwe beweringe bevat. Dit wat betref die stand van die stukke wat tans voor my dien.


[7] Mnr. Van Tonder, namens die applikant, het aangedui, soos reeds gemeld, dat indien die aansoek om kondonasie op die hoofaansoek toegestaan word, die applikant sou wil repliseer op die respondent se opponerende eedsverklaring wat onder dekking van die kondonasie aansoek toegestaan word. Mnr. Van Tonder se betoog is egter dat die applikant se Kennisgewing van Mosie in die hoofsaak eintlik twee totaal verskillende eise bevat, naamlik ‘n eerste ten bedrae van R150 118,00 en ‘n tweede eis ter waarde van R13 319,74. Hy wys daarop dat die opponerende verklaring hoogstens ‘n verweer op die R150 118,00 eis poog daar te stel. Hy voer aan dat die R13 319,74 eis eintlik onbeantwoord is. Mnr. Van Tonder moet hierin gelyk gegee word. Mnr. Van Rhyn, namens die respondent, antwoord egter hierop dat hierdie bedrag uiteindelik verreken kan word teen ‘n eis om skadevergoeding, wat die respondent in die proses is om in te stel, teen die applikant en wat voortspruit uit beweerde swak en gebrekkige saad wat die applikant aan die respondent verkoop het. Die effek hiervan is dus dat die respondent ‘n ongelikwideerde vordering in skuldvergelyking wil bring met die applikant se likiede eis vir R13 319,74. Ek is nie geneë om dit toe te laat nie.


[8] REDELIKHEID VAN DIE VERDUIDELIKING:

Die respondent se aangewese prosedure sou wees om ingevolge die Hofreëls beswaar te maak teen die nie-aanhegting van Roux se verklaring. Dit blyk egter uit die stukke, soos dit nou verder aangevul is, dat alhoewel dit in die vooruitsig gestel word in die funderende verklaring in die hoofaansoek, namens die applikant, om so ‘n verklaring van Roux aan te heg, dit nooit gerealiseer het nie. ‘n Verklaring van Roux was dus nooit deel van die applikant se funderende stukke nie. Die respondent kon hierdie verwarring moontlik opgeklaar het deur middel van ‘n aansoek vir tersyde stelling van ‘n onreëlmatige stap. Ek is egter nie bereid om te bevind dat sy verduideliking, waarom dit nie gedoen was nie, onredelik is nie. Dit is na alles teweeggebring deur applikant se verwarrende beweringe in sy funderende verklaring tot die hoofaansoek.


[9] DIE MERIETE VAN DIE VERWEER:

Dit blyk uit die stukke dat daar ‘n dispuut is oor die vraag of die respondent by die applikant die mieliesaad gekoop het (in welke geval die koopprys natuurlik aan die applikant betaalbaar sou wees) of andersyds dit van die gesegde Roux aangekoop het. Daar is verder ‘n dispuut oor die vraag of die saad op standaard of gebrekkig was. Mnr. Van Tonder het tereg gewys op sekere oënskynlike teenstrydighede in respondent se verklaring oor die rol van Roux in die hele transaksie. Hy het ook gewys op sekere terme op die rugkant van die bestelvorm wat volgens hom klagtes oor die gehalte van die saad uitsluit. Ek meen dat hoe minder op hierdie stadium oor die meriete van die verweer gesê word, hoe beter. Dit is voldoende om te meld dat ek tot die gevolgtrekking gekom het dat die respondent wel ‘n houdbare en bona fide verweer opper.


[10] DIE AANSOEK OM DEURHALING:

Dit is wel so dat sekere van die paragrawe in die respondent se repliserende eedsverklaring in die kondonasie-aansoek aangeleenthede byhaal wat as nuwe geskille aangemerk kan word. Ek is egter nie oortuig dat dit die applikant in enige mate in die voer van sy aansoek benadeel het nie. Gevolglik sal geen bevel op die aansoek om deurhaling gemaak word nie. Al effek wat dit gehad het, was om die stukke te beswaar. Die kostebevel wat ek voornemens is om te maak, sal dit in elk geval regstel.


Die resultaat is dat die volgende bevel gemaak word:

1. Kondonasie word aan die respondent verleen vir die laat liassering van sy bestrydende eedsverklaring in aansoek 5955/2007.

2. Applikant moet hierop repliseer, indien gerade, binne die tydperk bereken asof die bestrydende eedsverklaring met datum van lewering van hierdie uitspraak liasseer is.

3. Vonnis in die bedrag van R13 319,74 met rente teen 15.5% per jaar vanaf 3 Maart 2006 word aan applikant teen respondent verleen.

4. Respondent moet die koste van die kondonasie-aansoek betaal op die skaal soos tussen prokureur en kliënt, asook die koste teweeggebring deur die vonnis verleen in paragraaf [3], supra, maar laasgenoemde op die toepaslike landdroshofskaal asof ‘n enkelvoudige dagvaarding vir daardie bedrag, waarvoor vonnis verleen is, uitgereik was.



____________

C.B. CILLIé, R


Namens die applikant: Adv. Lucas J van Tonder

In opdrag van:

Naudes

BLOEMFONTEIN




Namens die respondent: Adv. A J R van Rhyn SC In opdrag van:

Matsepes Ingelyf

BLOEMFONTEIN




/sp