South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
You are here: SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2008 >> [2008] ZAFSHC 30 | Noteup | LawCiteYellow Star Properties 1087 (Edms) Bpk v Lurama 149 (Edms) Beperk (3105/2007) [2008] ZAFSHC 30 (16 May 2008)
Download original files | Bookmark/Share this page |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Saaknommer : 3105/2007
In die saak tussen:-
YELLOW STAR PROPERTIES 1087 (EDMS) BPK Eiser
en
LURAMA 149 (EDMS) BEPERK Verweerder
_____________________________________________________
CORAM: VAN ZYL, R
_____________________________________________________
UITSPRAAK DEUR: VAN ZYL, R
_____________________________________________________
GELEWER OP: 16 MEI 2008
_____________________________________________________
[1] Hierdie is ‘n aansoek om summiere vonnis waarin eiser verweerder gedagvaar het vir die betaling van die bedrag van R201 739.72, tesame met rente en koste. Nadat verweerder verdediging aangeteken het, het eiser die aansoek om summiere vonnis geloods waarop verweerder ‘n opponerende verklaring daartoe geliasseer het.
[2] Dit blyk uit die besonderhede van vordering dat eiser en verweerder op of omtrent 9 Maart 2006 ‘n skriftelike koopooreenkoms gesluit het in terme waarvan eiser sekere onroerende eiendom geleë te Bethlehem aan verweerder verkoop het. Hierdie skriftelike koopooreenkoms is aangeheg tot die besonderhede van vordering as aanhangsel “A”. Daaropvolgend en wel ook op of omtrent 9 Maart 2006 het eiser en verweerder ‘n skriftelike addendum tot die koopooreenkoms gesluit, ‘n afskrif waarvan aangeheg is tot die besonderhede van vordering as aanhangsel “B”. Voortspruitend uit voormelde koopooreenkoms het verweerder die volle koopsom betaal en is die eiendom getransporteer en in die naam van verweerder geregistreer op 4 Julie 2006. Ten tyde van die sluiting van voormelde koopooreenkoms, tesame met die addendum daartoe, het eiser reeds begin om sekere verbeteringe tot die bestaande eiendomme aan te bring en is dit in klousule 22 van die koopooreenkoms ooreengekom dat eiser aanspreeklik sal wees vir alle sodanige bouwerk tot en met datum van registrasie van transport, maar dat verweerder eiser sal terugbetaal vir die koste van sodanige verbeteringe op ‘n wyse, basis en tydstip soos volledig voor voorsiening gemaak in klousule 22 van die koopooreenkoms. Voortspruitend hieruit het daar ‘n dispuut tussen die partye ontstaan met betrekking tot die bedrag wat deur verweerder aan eiser betaalbaar is wat betref hierdie boukoste. Eiser se skuldoorsaak is daarop gebaseer dat na aanleiding van hierdie dispuut, eiser en verweerder ‘n skikking bereik het op of omtrent 16/17 Augustus 2006 in terme waarvan die partye ooreengekom het dat verweerder aan eiser die totale bedrag van R1 748 395.80 sal betaal vir die voormelde boukoste. Ten opsigte van hierdie bedrag het verweerder reeds die bedrag van R1 500 000.00 aan eiser betaal ooreenkomstig die addendum tot die koopooreenkoms. Wat betref die uitstaande bedrag van R228 046.80 het die partye ooreengekom dat skuldvergelyking ten opsigte van pro-rata huurgeld tussen die partye toegepas sou word ten gunste van verweerder in die bedrag van R46 656.08, waarop die uitstaande skikkingsbedrag wat aldus eiser nog deur verweerder aan eiser verskuldig is, die gevorderde bedrag van R201 739.72 beloop.
[3] Verweerder se opponering tot die aansoek om summiere vonnis is daarop gebaseer dat verweerder ‘n teeneis teen eiser het in die totale bedrag van R218 859.63, welke bedrag eiser se vordering oorskry. Hierdie totale bedrag bestaan uit drie afsonderlike teeneise wat verweerder beweer hy voornemens is om teen eiser in te stel, welke voorgenome teeneise die volgende behels:
Verweerder het op die bedrag van R1 748 395.80 ten opsigte van die boukoste deur eiser verrig, geskik, op die veronderstelling dat alle kontrakteurs ten volle deur eiser vergoed is vir die werk deur hulle verrig. Nadat die skikking bereik is, het dit geblyk dat eiser nie die elektriese kontrakteur, B.J.B. Enterprises, ten volle vergoed het vir die werk wat hulle aan die eiendom verrig het nie en het die elektriese kontrakteurs gevolglik geweier om ‘n elektriese nakomingsertifikaat aan een van verweerder se huurders uit te reik. Verweerder was gevolglik verplig om die uitstaande bedrag van R69 548.68 aan B.J.B. Enterprises te betaal ten einde die elektriese nakomingsertifikaat te verkry. Gevolglik is verweerder voornemens om ‘n teeneis teen eiser in te stel vir die terugvordering van hierdie bedrag. (Opponerende verklaring, paragrawe 4.5 - 4.7, p. 54 - 55 van die aansoekstukke)
Op die eiendomme deur eiser aan verweerder verkoop, is daar ook ‘n vulstasie wat deel vorm van die verbeteringe. Eiser het ‘n huurkontrak met Engen gehad in terme waarvan Engen die vulstasie vanaf eiser gehuur het. Kragtens die huurkontrak tussen eiser en Engen word ‘n sekere aantal sent in die rand aan die verhuurder betaal vir elke liter brandstof wat verkoop word. Verweerder het vanaf datum van registrasie van die eiendomme in die naam van verweerder die plek van eiser as verhuurder oorgeneem. Desnieteenstaande het eiser steeds sedert voormelde datum voortgegaan om die bedrag ten opsigte van brandstofverkope vanaf Engen te vorder. Hoewel verweerder nie daarin kon slaag om die presiese bedrag vas te stel wat deur Engen aan eiser oorbetaal is sedert registrasie nie, het ‘n verteenwoordiger van Engen bevestig dat die bedrag van R37 033.33 deur Engen aan eiser oorbetaal is vir die tydperk Julie 2006 tot en met Junie 2007. Gevolglik het verweerder ook ‘n voorgenome teeneis teen eiser vir die bedrag van minstens R37 033.33. (Paragrawe 4.9 – 4.11, p. 56 van die aansoekstukke)
Met betrekking tot die verbeterings wat deur eiser aangebring is en welke reeds voltooi was op datum van registrasie van die eiendomme in die naam van verweerder, is daar volgens verweerder gebreke in sodanige verbeterings en het verweerder eiser by wyse van ‘n skrywe gedateer 15 Maart 2007, welke aangeheg is tot die opponerende verklaring as aanhangsel “OPP1”, versoek om die onafgehandelde en/of gebrekkige werk te voltooi en te herstel. Eiser was egter nie bereid om dit te doen nie en blyk dit uit ‘n kwotasie aangeheg as aanhangsel “OPP2” tot die opponerende verklaring dat die koste daaraan verbonde om die gebrekkige bouwerk te herstel, die bedrag van R112 007.62 beloop. Gevolglik is verweerder voornemens om ‘n teeneis vir sodanige bedrag teen eiser in te stel. (Opponerende verklaring paragrawe 4.7 en 4.8, p. 55 van die aansoekstukke)
[4] Wat betref die eerste van voormelde drie voorgenome teeneise van verweerder, het mnr. Snellenburg, namens eiser, reeds in sy betoogshoofde namens eiser toegegee dat dit bona fide verwere daarstel vir doeleindes van summiere vonnis en wel in die totale bedrag van R106 582.01 en dat eiser gevolglik slegs volhard met sy aansoek om summiere vonnis ten opsigte van die restantbedrag, synde R95 157.71. Hierdie toegewing is ook weer deur mnr. Snellenburg in die hof herhaal en meen ek dat dit ‘n verantwoordelike toegewing is wat heeltemal tereg deur hom gemaak is. Ek stem saam dat voormelde eerste twee van die drie voorgenome teeneise van verweerder inderdaad elkeen ‘n bona fide verweer daarstel vir doeleindes van die afweer van summiere vonnis en moet verlof gevolglik aan verweerder verleen word om eiser se aksie te verdedig met betrekking tot die bedrag van R106 582.01 van eiser se vordering.
[5] Die enigste aspek wat dus nog in dispuut is tussen die partye en deur my bereg moet word, is die vraag of verweerder se voormelde derde voorgenome teeneis ‘n bona fide verweer teen eiser se vordering daarstel vir doeleindes van summiere vonnis, aldan nie.
[6] Mnr. Snellenburg het aan die hand gedoen dat verweerder se voorgenome teeneis met betrekking tot boukoste vir beweerde gebreke in die bouwerk nie ‘n bona fide verweer konstateer nie. In die verband het hy daarop gewys dat klousule 22.2 van die koopooreenkoms spesifiek bepaal dat die risiko en aanspreeklikheid vir alle bouwerk op datum van registrasie van transport deur die verweerder oorgeneem word. Gegewe dat die dispuut met betrekking tot die koste van bouwerk tot en met datum van registrasie van transport reeds geskik is tussen die partye, het mnr. Snellenburg gevolglik aan die hand gedoen dat insoverre hierdie voorgenome teeneis slaan op bouwerk wat gedoen is tot en met datum van registrasie van transport, die dispuut reeds deur die partye bygelê is. Hy het ook daarop gewys dat daar in ieder geval ‘n voetstoots-klousule voorkom in die koopooreenkoms wat tot gevolg het dat verweerder nie geregtig is om sodanige teeneis teen eiser in te stel uit hoofde van latente of patente gebreke in die eiendom nie. Insoverre die voorgenome teeneis slaan op bouwerk wat gedoen is nadat die eiendom in verweerder se naam geregistreer is, het mnr. Snellenburg aan die hand gedoen dat gegewe die bepalings van klousule 22.2, verweerder in ieder geval self die risiko en aanspreeklikheid ten aansien daarvan gedra het. Hy het gevolglik aan die hand gedoen dat verweerder se beweerde teeneis nie regtens houdbaar is nie.
Hierteenoor het mnr. De Wet, namens die verweerder, betoog en aan die hand gedoen dat verweerder se voorgenome teeneis met betrekking tot die gebreke in die verbeteringe inderdaad ‘n bona fide verweer daarstel. Met betrekking tot die feit dat die partye ‘n skikking bereik het wat betref die bedrag wat deur verweerder aan eiser betaalbaar is met betrekking tot die boukoste, het mnr. De Wet aan die hand gedoen dat die skikking bereik is op die veronderstelling dat die bouwerk wat wel uitgevoer is, vakkundig en behoorlik geskied het. Sodanige skikking kan, aldus sy betoog, nie tot gevolg hê dat verweerder verplig is om die ooreengekome bedrag te betaal indien dit nou blyk dat die bouwerk nie vakkundig verrig is nie. Wat betref die voetstoots-klousule het hy gesubiteer dat dit slaan op verbeteringe wat op die eiendom bestaan het op datum van kontraksluiting en nie toekomstige verbeteringe insluit nie. Vir hierdie betoog het hy gesteun op en verwys na klousule 22.5, welke ‘n tipe “arbitrasie”-klousule is indien ‘n dispuut tussen die partye ontstaan voortspruitend uit die verbeteringe aangebring en het hy aan die hand gedoen dat indien dit die bedoeling van die partye was dat die voetstoots-klousule ook sou slaan op toekomstige verbeteringe, dan sou die teenwoordigheid in die kontrak van klousule 22.5 nie sin maak nie.
[7] Met betrekking tot die vereiste dat verweerder ‘n bona fide verweer in sy opponerende verklaring moet openbaar ten einde die aansoek om summiere vonnis suksesvol af te weer, moet sodanige verweer aan die vereistes voldoen soos uiteengesit in BREITENBACH v FIAT SA (EDMS) BPK 1976 (2) SA 226 (TPD) op 227 G – 228 B:
“One of the things clearly required of defendant by rule 32(3)(b) is that he set out in his affidavit facts which, if proved at the trial, will constitute an answer to the plaintiff’s claim. ...It will suffice, it seems to me, if the defendant swears to a defence, valid in law, in a manner which is not inherently and seriously unconvincing.”
Dit is ook welbekend dat sodanige bona fide verweer kan bestaan uit ‘n ongelikwideerde teeneis.
[8] Alvorens ek verder met bogemelde derde teeneis van verweerder handel, moet ek volledigheidshalwe meld dat hoewel dit nie spesifiek in die opponerende verklaring geopper is nie, ek die vraag tot die advokate gerig het oor wat die effek van die “arbitrasie”-klousule, vervat in paragraaf 22.5 van die koopooreenkoms, op die Hof se bevoegdheid is om enigsins die aksie te bereg. Die advokate was dit nie eens met mekaar wat hierdie aspek betref nie. Na my mening blyk dit egter dat die blote bestaan van sodanige klousule in ieder geval nie ‘n outomatiese beletsel daarop plaas dat die tersaaaklike dispuut nog deur ‘n geregshof bereg kan word nie, veral in ‘n geval soos die onderhawige waar die verweerder nie gepoog het om in sy opponerende verklaring op die “arbitrasie”-klousule te steun nie. (Sien DELFANTE v DELTA ELECTRICAL INDUSTRIES LTD 1992 (2) SA 221 (CPD) op 226 E – G.) Die vraag of die verweerder steeds in sy verweerskrif op hierdie klousule sal kan steun in omstandighede waar hy nie ten tyde van die opponering van die aansoek om summiere vonnis daarop gesteun het nie, is nie ‘n aspek wat nodig is vir my om te bereg nie.
[9] By oorweging van die regsgeldigheid van verweerder se derde verweer, meen ek dat daar deeglik daarop gelet moet word dat eiser se vordering gebaseer is op ‘n skikkingsooreenkoms voortspruitend uit ‘n dispuut tussen die partye met betrekking tot die bedrag wat deur verweerder aan eiser betaalbaar is wat betref die boukoste. Hierdie skikkingsooreenkoms het klaarblyklik voortgespruit uit samesprekings wat tussen die partye en hul onderskeie regsverteenwoordigers plaasgevind het op 14 Augustus 2006, ‘n skriftelike skikkingsaanbod wat daaropvolgend gemaak is in die skrywe deur verweerder se prokureur van eerste instansie, aangeheg as aanhangsel “C” tot die besonderhede van vordering, en die daaropvolgende skriftelike aanvaarding van sodanige skikkingsaanbod in eiser se prokureur van eerste instansie se skrywe, aangeheg as aanhangsel “D” tot die besonderhede van vordering. Hierdie verloop van gebeure en die skikkingsooreenkoms wat daaruit voortgespruit het, word deur verweerder erken. (Opponerende verklaring, paragrawe 4.3 – 4.6, p. 53 – 54 van die aansoekstukke) Uit ‘n bestudering van hierdie skriftelike skikkingsaanbod en daaropvolgende skriftelike aanvaarding daarvan, blyk dit vir my dat die skikkingsooreenkoms bereik is op die basis, terme en voorwaardes soos uiteengesit in die twee skrywes. Na my mening het die feit dat die skuldoorsaak van eiser die skikkingsooreenkoms is en die feit dat die skikkingsooreenkoms duidelik sekere bepaalde terme en voorwaardes van sy eie bevat (met ander woorde wat nie in die koopooreenkoms of die addendum vervat was nie), tot gevolg dat die oorspronklike koopooreenkoms en die addendum daartoe se terme en voorwaardes nie meer relevant is by die oorweging van die regsgeldigheid van verweerder se derde verweer nie. Die regsgeldigheid van verweerder se derde verweer moet, na my mening, oorweeg word sonder inagneming van die terme en voorwaardes van die verkoopooreenkoms en die addendum daartoe. Die basiese beginsels met betrekking tot die interpretasie van kontrakte sal gevolglik in die onderhawige dispuut toegepas moet word by die uitleg van die skikkingsooreenkoms ten einde die betekenis daarvan en die bedoeling van die partye daartoe vas te stel. (ENGELBRECHT AND ANOTHER NNO v SENWES LTD 2007 (3) SA 29 (SCA) op 32 D – 33 A)
[10] In die onderhawige geval is dit in wese verweerder se saak dat die skikkingsooreenkoms op ‘n sekere veronderstelling gesluit is na aanleiding van voorstellings wat deur eiser aan hom gemaak is. Aangesien die bouwerk aan die eiendomme voltooi was op datum van registrasie daarvan in die naam van verweerder, was eiser die instansie wat met die boukontrakteur en ander sub-kontrakteurs vir die verrigting van die bouwerk gekontrakteer het en het verweerder geen kontrak hoegenaamd met enige van die kontrakteurs gehad nie. Nadat daar op die skikkingsooreenkoms ooreengekom is, welke onthou moet word juis slaan op die bedrag van boukoste, het dit geblyk dat van die bouwerk wat uitgevoer is, onvakkundig geskied het en wat nou deur verweerder op sy koste herstel moet word. Wanneer verweerder se derde verweer dus beoordeel moet word teen die agtergrond van die bedoeling van die partye en die betekenis van die skikkingsooreenkoms, sal, onder andere, die volgende beginsels geld soos uiteengesit in ENGELBRECHT AND ANOTHER NNO v SENWES LTD, supra, op 33 B – C:
“[7] The intention of the parties is ascertained from the language used read in its contextual setting and in the light of admissible evidence. There are three classes of admissible evidence. Evidence of background facts is always admissible. These facts, matters probably present in the minds of the parties when they contracted, are part of the context and explain the ‘genesis of the transaction’ or its factual matrix. Its aim is to put the Court in the armchair of the author(s) of the document. Evidence of ‘surrounding circumstances’ is admissible only if a contextual interpretation fails to clear up an ambiguity or uncertainty. Evidence of what passed between the parties during the negotiations that preceded the conclusion of the agreement is admissible only in the case where evidence of the surrounding circumstances does not provide ‘sufficient certainty’.”
[11] Inaggenome voormelde beginsels is ek gevolglik van mening dat indien verweerder sal kan bewys dat sekere van die bouwerk waarvoor eiser verantwoordelik was onvakkundig verrig is en dat verweerder op die stadium wat hy die skikkingsooreenkoms gesluit het onder die indruk gebring is en verkeer het dat die bouwerk vakkundig gedoen is en dat hy derhalwe nie op daardie skikkingbedrag sou ooreenkom indien hy van die teendeel bewus was nie, behoort verweerder suksesvol te wees met sy voorgenome teeneis.
[12] Gevolglik en in die vooropstelling meen ek dat verweerder se derde verweer `n regsgeldige verweer daarstel wat voldoen aan die vereiste van ‘n bona fide verweer.
[13] Indien en insoverre ek verkeerd sou wees met my gevolgtrekking dat die terme en voorwaardes van die koopooreenkoms en die addendum daartoe na aanleiding van die skikkingsooreenkoms nie meer relevant is by die beregting van die dispuut nie, meen ek in ieder geval dat selfs indien die terme daarvan wel in ag geneem word, dit steeds nie afbreuk doen aan my bevinding dat verweerder wel ‘n bona fide verweer openbaar nie.
[14] Klousule 22.2 van die koopooreenkoms lees as volg:
“Die Verkoper is aanspreeklik vir alle bouwerk tot en met datum van registrasie van transport, waarna risiko en aanspreeklikheid daaraan verbonde deur die Koper oorgeneem word.”
Mnr. Snellenburg het aan die hand gedoen dat inaggenome dat registrasie van transport reeds in naam van verweerder plaasgevind het, verweerder die risiko en aanspreeklikheid vir enige gebreke in die bouwerk, indien enige, ooreenkomstig hierdie klousule dra. Na my mening kan hierdie submissie nie korrek wees indien die totaliteit van klousule 22 in oorweging geneem word en klousule 22.2 derhalwe in konteks gelees word nie. Indien die res van klousule 22 gelees word, blyk dit vir my duidelik dat al wat met klousule 22.2 bedoel word, is dat die eiser tot en met datum van registrasie van transport verantwoordelik was vir al die bouwerk, ingesluit die betaling van die bouer. Na datum van registrasie sou die verweerder in die spreekwoordelike skoene van die eiser getree het vis-a-vis die bouer en sou verweerder daarvandaan self aanspreeklik wees vir die uitvoering van die bouwerk en die betaling van die bouer. Die is egter gemeensaak dat die bouwerk eventueel in ieder geval reeds voltooi was op datum van registrasie van transport en het daar gevolglik geensins ‘n stadium ontstaan waar die verpligtinge ten opsigte van die bouwerk en die bouer (in die sin van bouwerk wat nog verrig staan te geword het) deur die verweerder oorgeneem is nie.
[15] Na my mening kan klousule 22.2 dus nie geïnterpreteer word as dat dit beteken dat verweerder geen remedie teen eiser sal hê voortspruitend uit onvakkundige bouwerk wat voorafgaande die datum van registrasie van transport uitgevoer is nie.
[16] Verdermeer het mnr. Snellenburg op klousule 8, synde die voetstoots-klousule, gesteun as synde dat verweerder nie enige aksie teen eiser het op grond van gebreke in die bouwerk nie. Klousule 8 lees as volg:
“Die KOPER erken hiermee dat hy die eiendom besigtig het, tevrede is daarmee, en dit voetstoots koop. Die KOPER bekragtig verder hiermee dat hy nie geregtig sal wees om enige aksie voortspruitende uit hierdie Koopbrief in te stel teen die VERKOPER of sy agent vir enige gebrek, (hetsy sigbaar of verborge) in die eiendom of die verbeteringe daarop of vanweë enige voorstelling of waarborge deur die VERKOPER of sy Agent in verband met die eiendom gemaak nie.”
[17] Wanneer die totaliteit van die koopooreenkoms weereens in ag geneem word, stem ek met mnr. De Wet se betoog saam dat die voetstoots-klousule hoogstens kon slaan op verbeteringe wat op die eiendom bestaan het op dié stadium wat die koopooreenkoms gesluit is. Dit moet afgelei word uit die feit dat die partye spesifiek in klousule 22.1 van die koopooreenkoms bevestig het dat sekere beoogde bouwerk aan die eiendom deur die eiser begin is (met ander woorde daar was reeds verbeteringe op die eiendom op die stadium wat die koopooreenkoms gesluit is), maar terselfdertyd is daar ook duidelik deur beide partye op datum van kontraksluiting voorsien dat daar nog verdere verbeteringe aangebring gaan word. In dié verband bepaal klousule 22.5 as volg:
“Ingeval enige dispuut tussen die partye ontstaan aangaande of voortspruitend uit die verbeteringe aangebring en of die Argitek-Sertifikaat sal die dispuut bepaal word deur ‘n onafhanklike bou-rekenaar van beide se keuse en by gebreke aan eenstemmigheid t.a.v. ‘n bou-rekenaar, ‘n bou-rekenaar deur die Raad van Bourekenaars aangewys:
wie se besluit binne 21 (een en twintig) dae vanaf sy aanstelling geneem sal word; en
wat sal dien as ‘n deskundige en nie as ‘n arbiter nie; en
wie se besluit finaal en bindend op die partye sal wees; en
wat sal bepaal welke party aanspreeklik is vir sy kostes en sodanige party sal sy kostes betaal.”
As dit die bedoeling van die partye was dat die uitsluiting vervat in die voetstoots-klousule ook geslaan het op bouwerk wat nog in die toekoms verrig sou word, sou dit sinneloos wees om, teenstrydig daarmee, klousule 22.5 in die koopooreenkoms in te sluit wat juis spesifiek vir dispute ten opsigte van die bouwerk voorsiening maak. Die feit dat klousule 22.5 ingesluit is in die koopooreenkoms, is derhalwe aanduidend daarvan dat die verbeteringe waarna in die voetstoots-klousule verwys word, slaan op verbeteringe wat reeds aangebring was op die stadium van kontraksluiting.
[18] Gevolglik meen ek dat die bestaan van die voetstoots-klousule ook nie verweerder se derde voorgenome teeneis sal negeer nie.
[19] Gevolglik en selfs indien die bepalings van die koopooreenkoms en die addendum daartoe in ag geneem word, is ek steeds van mening dat verweerder se derde voorgenome teeneis ‘n bona fide verweer teen eiser se vordering daarstel vir doeleindes van summiere vonnis.
[20] Wat betref die koste van die aansoek om summiere vonnis, het mnr. Snellenburg versoek dat koste moet oorstaan vir latere beregting. Daarteenoor het mnr. De Wet versoek dat koste koste in die geding behoort te wees. Na my mening is hier geen besondere rede waarom die meer gebruiklike kostebevel in aangeleenthede soos hierdie, synde dat koste koste in die geding is, nie in die onderhawige geval behoort gelas te word nie.
[21] Gevolglik word die volgende bevele verleen:
1. Die aansoek om summiere vonnis word van die hand gewys.
2. Verlof word aan verweerder verleen om die aksie te verdedig.
3. Koste is koste in die geding.
____________
C. VAN ZYL, R
Namens die eiser: Adv. N. Snellenburg
In opdrag van:
Naudes
BLOEMFONTEIN
Namens die verweerder: Adv. P.J.T. de Wet
In opdrag van:
Symington & De Kok
BLOEMFONTEIN
/sp

RTF format