South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
You are here: SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2008 >> [2008] ZAFSHC 15 | Noteup | LawCiteVan Niekerk and Another v Van Eeden and Others (4136/05) [2008] ZAFSHC 15 (13 March 2008)
Download original files | Bookmark/Share this page |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Saak Nr. : 4136/05
In die saak tussen:-
IZAK DAWID VAN NIEKERK 1ste Eiser
D VAN NIEKERK 2de Eiser
en
F VAN EEDEN 1ste Verweerder
A VAN EEDEN 2de Verweerder
LUR VAN ONDERWYS VAN DIE VRYSTAAT 3de Verweerder
_____________________________________________________
AANGEHOOR OP: 4 EN 5 MAART 2008
_____________________________________________________
UITSPRAAK DEUR: HANCKE, R
_____________________________________________________
GELEWER OP: 13 MAART 2008
_____________________________________________________
[1] Eisers vorder betaling van die bedrag van R477 002,23 tesame met rente en koste van die verweerders uit hoofde van ‘n voorval wat plaasgevind het op 2 Oktober 2002 te Voortrekker Hoërskool te Bethlehem waartydens eerste verweerder ‘n bottel bevattende dreinreiniger (“drain cleaner”) in die rigting van tweede eiser gegooi het.
[2] As gevolg van hierdie voorval het die tweede eiser, op daardie stadium ‘n matriekleerling van die Hoërskool Voortrekker, vry ernstige beserings opgedoen waarna sy gehospitaliseer is en mediese behandeling moes ondergaan. Dit blyk verder dat die dreinreiniger ‘n bytstof of ‘n suur bevat het wat hierdie beserings veroorsaak het. Die saak ten opsigte van die eerste en tweede verweerders is na uitreiking van dagvaarding geskik en word dit huidiglik slegs voortgesit teen die LUR van Onderwys van die Vrystaat.
[3] By ooreenkoms is ingevolge Hofreël 33(4) gelas dat kwantum en meriete geskei word, dat die kwantum oorstaan om later beslis te word, en dat die enigste geskilpunt ter beslegting die vraag is of daar kousale nalatigheid aan die kant van die derde verweerder, of een van sy werknemers aanwesig was.
[4] Daleen van Niekerk, die tweede eiseres, het self getuienis aangebied en verklaar dat op 2 Oktober 2002 standerd 9 leerlinge toesprake gelewer het met die oog op die leerlingraadverkiesing. Dit is hoofsaaklik bygewoon deur standerd 6 tot 8 leerlinge, terwyl ‘n groot persentasie matrieks, wie geen belang hierby gehad het, afwesig was. Syself het dit ook nie bygewoon nie en het saam met ‘n vriendin in die koshuis se binnehof gesit. Die volgende oomblik het ‘n bottel, afkomstig van die stoor waarvan die deur sigbaar is op bewysstukke “A1” en “A2”, voor haar geval en het van die inhoud oor haar geval. Sy het dadelik begin brand en toe sy afkyk was haar sykouse gebrand. Haar bene, veral haar voete, boude, hande, arms en bors het gebrand en daar het ook ‘n bietjie van die vloeistof op haar gesig en nek geval. Sy het daarna behandeling gekry en was vir ‘n tydperk van twee tot drie weke in die hospitaal en het ook twee veloorplantings asook inspuitings by Dr. van Vuuren gekry.
[5] In kruisverhoor is dit aan haar gestel dat die “Geen Toegang” bord (ook bevattende die woorde “No Entry”, Ha Ho Kenwe”) altyd op die deur voorgekom het waarop sy geantwoord het dat indien dit daar was, het sy dit nie raakgesien nie, maar was sy beslis dat sy dit nie daar gesien het nie. Wat die eerste verweerder betref, is sy bewus van die feit dat daar dissiplinêre stappe teen hom geneem was voor hierdie voorval en dat hy uit die koshuis geskors was.
[6] Inspekteur Nel was die ondersoekbeampte in die strafsaak en het getuig dat daar vervolging ingestel was teen die tweede verweerder. Die bottel staan bekend as ‘n “drain cleaner” en bevat ‘n bytstof of “sulphuric acid”. Dit het ook ‘n skerp en kenmerkende reuk.
[7] Gertuida Petronella Nel, die matrone die afgelope veertien jaar te Voortrekker Hoërskool, het ook getuig oor die betrokke gebeure op 2 Oktober 2002. Ten opsigte van die kennisgewing “Geen Toegang” op die deur getuig sy dat dit nie daar was op 2 Oktober 2002 nie en dat dit ‘n dag of twee ná die gebeure aangebring was. Die betrokke kamer is volgens haar getuienis altyd gesluit. Alhoewel stadskinders nie veronderstel is om op die koshuisterrein te wees nie, gebeur dit egter wel.
[8] Mnr. Burger, die hoof van Voortrekker Hoërskool sedert 1994, het ook getuienis aangebied ten opsigte van die betrokke gebeure. Hy getuig dat leerlinge veronderstel was om die saal by te gewoon het en dat dorpskinders nie gedurende skoolure na die koshuis mag gaan nie. Eerste verweerder was ‘n moeilike kalant wat verskeie probleme gegee het.
[9] In kruisverhoor getuig hy dat die koshuis en skool op dieselfde terrein is en dat dit ‘n openbare gebou is. Hy aanvaar ook dat die skool ‘n plig gehad het om die kinders te beskerm teen beserings en dat die meerderheid van die skoonmakers in diens is van die Departement onder wie se beheer die skool val. Die eerste verweerder was ‘n stout seun, maar ook nie die enigste stout kind in die skool nie en oortreding van die reëls was ook nie ‘n seldsame gebeurtenis nie. Die kinders het toesig nodig om hulle by die reëls te hou. Hy stem saam dat wat gevaarlike stowwe betref, toegesien moet word dat dit veilig gebêre moet word, verkieslik agter slot en grendel.
[10] Mnr. Ramotoho, ‘n skoonmaker werksaam by Voortrekker Hoërskool die afgelope 18 jaar, getuig dat die vertrek waarop “Geen Ingang” “No Entry” aangebring is, gebruik word as ‘n stoorkamer vir onder andere hout en die dreinreinigers. Hy maak die drein skoon met die “drain cleaner”. Op 2 Oktober 2002 het hy die dreinreiniger in ‘n emmer geplaas binne-in die stoorkamer. Ten opsigte van die “Geen Toegang” kennisgewing op die deur verklaar hy dat dit soms gebreek of verwyder is en dat dit gewoonlik na twee weke weer herstel of vervang word.
[11] In kruisverhoor gee hy toe dat die kennisgewing tydens die voorval verwyder kon gewees het. Hy verklaar dat die sleutel van die deur in die kombuis was alwaar hy daarvoor moet gaan vra. Die deur is altyd gesluit, maar daardie betrokke dag het hy dit “per ongeluk” nie gesluit nie omdat hy elders moes gaan. Tydens die voorval was hy vir ‘n paar ure weg van die stoorkamer elders op die koshuisterrein. Hy stem saam dat hy daardie dag die deur van die stoor moes gesluit het. Toe hy weggeroep is het hy egter nie gedink dat hy lank sou weg wees nie. Die rede waarom hy gewoonlik die deur sluit, is om te verhoed dat kinders daar ingaan, aangesien hulle stout is. Dit het dan die getuienis afgesluit.
[12] Dit is gemene saak dat die derde verweerder te alle tersaaklike tye in beheer van en verantwoordelik was vir die Voortrekker Hoërskool op Bethlehem. Die skool en sy opvoeders staan in loco parentis en het ‘n regsplig gehad om leerders teen beserings en ander benadeling te beskerm. WYNKWART NO v MINISTER OF EDUCATION AND ANOTHER 2002 (6) SA 564 (K);
MINISTER OF EDUCATION AND ANOTHER v WYNKWART NO 2004 (3) SA 577 (K) te 580 A – B. Sodanige regsplig behels dat voldoende kontrole en beheer oor leerders asook die skoolterrein uitgeoefen moet word om ‘n veilige omgewing te skep en in stand te hou.
[13] Dit is geen geheim dat skoliere (en selfs studente) stout is en soms geneig is tot onverantwoordelike optrede. Hierdie feit blyk uit die getuienis van derde verweerder se werknemers waaruit dit blyk dat onbesonne optrede voorsienbaar was. Dit is selfs nodig dat jong mense teen hul self (en ten opsigte van mekaar) beskerm moet word.
KNOUWDS v ADMINISTRATEUR, KAAP 1981 (1) SA 544 (K) te 553D – 554C;
MINISTER OF SAFETY AND SECURITY v VAN DUIVENBODEN 2002 (6) SA 431 (HHA) te 448 F – G.
Daarom was dit belangrik dat skoliere nie toegang het tot ‘n potensieel gevaarlike objek soos ‘n dreinreiniger nie. Law of Delict (5de uitgawe) deur J. Neethling, J M Potgieter en P J Visser, p. 56 e.v.
[14] Dit blyk duidelik uit die getuienis dat die werknemers van die derde verweerder in verskeie opsigte nalatig was en dat sodanige nalatigheid die oorsaak was van tweede eiser se beserings. Daar was klaarblyklik ‘n plig op Mnr. Ramotoho om toe te sien dat die dreinreiniger veilig weggebêre was. Hy het dit nie gedoen nie en was dus nalatig in hierdie opsig, welke nalatigheid ‘n direkte oorsaak was van die beserings wat tweede eiseres opgedoen het.
[15] Verder was daar ‘n klaarblyklike plig op die skoolowerheid om omgemagtigde toegang tot die stoorkamer, en die inhoud daarvan, te verbied en te verhoed. Dit is insiggewend dat die aanbring van ‘n kennisgewing wat toegang tot die stoorkamer verbied, eers ná die betrokke insident aangebring is.
[16] Ten opsigte van derde verweerder se verweer in die pleitstukke dat tweede eiser nie betrokke was by ‘n opvoedkundige aktiwiteit, soos na verwys in artikel 60(1) van die Suid-Afrikaanse Skolewet, Wet 84 van 1996, is dit duidelik uit die getuienis dat die betrokke dag ‘n skooldag was, dat afgewyk was van normale skoolaktiwiteite, dat ‘n groot persentasie matrieks klaarblyklik toegelaat was om nie die verrigtinge in die skoolsaal by te woon nie en hulleself gedurende daardie verrigtinge elders te vermaak. Sodanige omstandighede val na my mening binne die bestek van artikel 60(1) van die Suid-Afrikaanse Skolewet wat die Staat aanspreeklik stel vir die skade deur tweede eiseres gely synde
“skade of verlies wat veroorsaak word as gevolg van enige daad of versuim in verband met enige opvoedkundige aktiwiteit wat deur ‘n openbare skool bedryf word en waarvoor sodanige openbare skool aanspreeklik sou gewees het by gebrek aan die bepalings van hierdie artikel”.
Sien RABIE v LID UITVOERENDE KOMITEE GAUTENG VERANTWOORDELIK VIR ONDERWYS (Saaknommer 3203/2005, gelewer op 15 Mei 2006) par. [10] en [11].
[17] Dit blyk duidelik volgens die derde verweerder se getuienis dat die voorval redelikerwys voorsienbaar was en moes derde verweerder redelike stappe gedoen het om dit te verhoed, wat nie gebeur het nie. Gemelde artikel sluit geensins derde verweerder se aanspreeklikheid uit in ‘n saak soos die onderhawige nie.
[18] Dit blyk dus uit die voorgaande dat die eisers, op ‘n oorwig van waarskynlikhede, bewys het dat derde verweerder nalatig was op van die gronde waarop gesteun is en dat derde verweerder dus teenoor eisers aanspreeklik is ten opsigte van die skade wat hulle gely het voortspruitende uit die voorval op 2 Oktober 2002.
[19] Wat koste betref, vanweë die ingewikkeldheid van die saak, asook die belangrikheid daarvan en die verskeie verwere wat deur derde verweerder op die pleitstukke geopper is, was eisers geregtig om die dienste van twee advokate te gebruik.
[20] Bygevolg word die volgende bevele verleen:
1. Dit word verklaar dat die derde verweerder aanspreeklik is teenoor eisers vir sodanige skade as wat eisers mag bewys deur hul gely is.
2. Derde verweerder word gelas om die koste van die verhoor te betaal, welke koste sal insluit die koste van twee advokate.
3. Die getuies mej. van Niekerk, Inspekteur Nel en me Nel word as noodsaaklike getuienis verklaar.
________________
S.P.B. HANCKE, R
Namens die eisers: Adv. B.P. Geach SC
Bygestaan deur:
Adv. C.H. van Bergen
In opdrag van:
Symington & De Kok
BLOEMFONTEIN
Namens die verweerders: Adv. S.E. Motloung
In opdrag van:
Staatsprokureur
BLOEMFONTEIN
/sp

RTF format