South Africa: Eastern Cape High Court, Port Elizabeth

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Eastern Cape High Court, Port Elizabeth >> 2009 >> [2009] ZAECPEHC 1

| Noteup | LawCite

S v Clifford (Bosch) and Others (CC62/04) [2009] ZAECPEHC 1 (3 March 2009)

Download original files

PDF format

RTF format

Bookmark/share this page

Bookmark and Share

FORM A

FILING SHEET FOR SOUTH EASTERN CAPE LOCAL DIVISION JUDGMENT


ECJ:

In the mattaer between the:


The State


And


MAUREEN CLIFFORD (BOSCH) Beskuldigde 1

DELENE DE WIT (CONWAY) Beskuldigde 2

THELMA VAN ROOYEN Beskuldigde 3

NIEL TERBLANCHE Beskuldigde 4

OTTO SWART Beskuldigde 5

GERHARDT VISAGIE Beskuldigde 6


  1. Registrar: CC62/04

  2. Magistrate:

  3. High Court: SOUTH EASTERN CAPE LOCAL DIVISION


DATE HEARD: 01/12/2008 - 09/02/2009

DATE DELIVERED: 03/03/2009


JUDGE(S): KROON J


LEGAL REPRESENTATIVES –


Appearances:

  • State(s): ADV: Stander

  1. Accused(s):

Accused no. 1 Adv T Price

Accused no 2 Adv J van der Spuy

Accused no 3 Adv W Jurgens

Accused no 4 Mnr N du Toit

Accused no 6 Adv J Wessels & Adv van Rooyen


Instructing attorneys:

  1. Applicant (s):

  2. Respondent(s):


CASE INFORMATION -

  • Nature of proceedings : Sentence


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(PORT ELIZABETH)


SAAK NR: CC 62/04

Datum van verhoor op vonnis: 1 Desember 2008 – 09 Februarie 2009

Datum van vonnis: 3 Maart 2009

In die saak tussen:


DIE STAAT


en


MAUREEN CLIFFORD (BOSCH) Beskuldigde 1

DELENE DE WIT (CONWAY) Beskuldigde 2

THELMA VAN ROOYEN Beskuldigde 3

NIEL TERBLANCHE Beskuldigde 4

OTTO SWART Beskuldigde 5

GERHARDT VISAGIE Beskuldigde 6




UITSPRAAK OP VONNIS




KROON R:


Mev Bosch, mev Conway, mev van Rooyen, mnr Terblanche en mnr Visagie, julle is elk op ‘n aanklag van bedrog skuldig bevind. U, mev Bosch, is ook aan diefstal skuldig bevind. Dit is nou my taak om op gepaste vonnisse wat julle opgelê moet word, te besluit. Oorweging moet aan al die tersaaklike omstandighede gegee word, sommige waarvan in jul guns tel, en ander wat dan verswarend inwerk. Aan die einde van die dag moet ek ‘n billike balans tussen hulle probeer opmaak. Vanselfsprekend is die taak ‘n onbenybare een en ek moet onmiddelik beken dat dit my werklike hoofbrekens besorg het.


Soos in die hoofuitspraak gekonstateer ressorteer die skuldigbevinding aan bedrog onder die toepaslike bepalings van Wet 105 van 1997 (“Wet 105”). A 51 van hierdie Wet maak voorsiening vir ‘n verpligte minimum vonnis behalwe waar bepaalde omstandighede teenwoordig is. Ek sal later breedvoerig met hierdie aspek handel. Op hierdie stadium maak ek die volgende algemene opmerkings oor die Hof se banadering tot die vasstelling van ‘n gepaste vonnis.


Die geykte benadering is om drie breë oorwegings in ag te neem, naamlik die welbekende triade (in S v Zinn 1969 (2) SA 537 (A) op 540G na verwys) van die aard van die misdrywe gepleeg, die belange van die gemeenskap en die veroordeelde as persoon, in die besonder sy of haar persoonlike omstandighede. Sorg moet aan die dag gelê word dat geen van die oorwegings oorbeklemtoon word tot die ongeregverdigde nadeel van die ander nie. Ook moet die Hof, by die vasstelling van die vonnis, ‘n insigryke begrip vir die veroordeelde se menslike swakhede toon, asook enige ander relevante versagtende omstandigheid, en hulle teen die boosheid van die daad wat bestraf moet word, weeg. Soos dit in S v Dzukuda and Others; S v Tshilo [2000] ZACC 16; 2000 (2) SACR 443 (CC) para [12] gestel is:


More particularly, in relation to sentencing in the context of the present case, it seems to me that what the right to a fair trial requires, amongst other things, is a procedure which does not prevent any factor which is relevant to the sentencing process and which could have a mitigating effect on the punishment to be imposed, from being considered by the sentencing court. .....”


Tot die mengsel moet ‘n verdere bestanddeel bygevoeg word, dié van genade, die mate waarvan van die omstandighede van die besondere saak afhang. In hierdie verband kan die volgende gewysdes na verwys word. In S v V 1972 (3) SA 611 (A) op 614D het Holmes AR hom soos volg uitgelaat:


Punishment should fit the criminal as well as the crime, be fair to the accused and to society, and be blended with a measure of mercy; see S v Sparks and Steytler (A.D., 18 May 1972). The element of mercy, a hallmark of civilised and enlightened administration, should not be overlooked, lest the Court be in danger of reducing itself to the plane of the criminal; compare the remarks in S v De Bruyn en ‘n Ander, 1968 (4) S.A. 498 (A.D.) at p 513D. True mercy has nothing in common with soft weakness, or maudlin sympathy for the criminal, or permissive tolerance. It is an element of justice itself. As was said by this Court in S v Harrison, 1970 (3) S.A. 684 (A.D.) at p 686A: “Justice must be done; but mercy, not a sledge-hammer, is its concomitant.”


In S v Groenemeyer 1974 (2) SA 542 (K) op 544A-B verskyn die volgende:


Die howe is nie hier om wraak te neem nie..... Die hof het genade ..... vir elke persoon wat voor hom verskyn. Daar kan geen geregtigheid wees sonder genade nie.”


In S v Sidyno 2001 (2) SACR 613 (T) op 615h word weer eens beklemtoon dat straf deur genade getemper word sodat voorkom word dat ‘n veroordeelde se hele toekoms met ‘n voorhamer vergruis word.


Straftoemeting het verskeie fasette of oogmerke waarby ingesluit afskrikking en voorkoming, rehabilitasie en hervorming, en, in gepaste gevalle, vergelding. Weer eens moet gewaak word teen die oorbeklemtoning van een element tot die ongeregverdigde nadeel van ‘n ander. Daar is gesag vir die stelling dat afskrikking histories die mees belangrikste aspek van straftoemeting is. S v Khumalo [1984] ZASCA 30; 1984 (3) SA 327 (A); R v Karg 1961 (1) SA 231 (A). Afskrikking kan algemeen wees (dws op die algemene publiek gerig) of individueel (dws op die veroordeelde gerig). Die mate waarin erkenning aan hierdie element verleen word, moet egter van die omstandighede van die besondere saak afhang, en daarenteen kan genoem word dat die tendens in die jongste tyd al toenemend eerder is om die elemente van rehabilitasie en hervorming op die voorgrond te plaas. In Sidyno op 615f is ook, met verwysing na die doelwit dat straf tot die voorkoming van misdaad moet bydra, uitgewys dat ‘n gevaarlike misdadiger van die gemeenskap weggehou moet word en dat ander voornemende misdadigers afgeskrik moet word, maar dat uiteraard aan hierdie doelwit perke gestel word; ‘n mens mag nie gestraf word bloot ter wille van die effek wat dit op ander mag hê nie. Soos dit meermale in ander sake gestel is: die veroordeelde moet nie op die altar van afskrikking opgeoffer word nie. Kyk bv S v Webster 2007 (1) SACR 672 (E) para [9]. Die element van vergelding geniet deesdae nie die belang van vroeër jare nie en is dit in ‘n groot mate op die agtergrond geskuif. Waar gepas moet dit egter ‘n mate van erkenning geniet, onderhewig daaraan dat, soos in Sidyno op 615d uitgewys is, onthou moet word dat vergelding nie op gewone wraak moet neerkom nie en dat dit essensieel beteken dat die straf verband moet hou en gebalanseer moet word met die erns en aard van die misdryf wat gepleeg is. ‘n Aansluitende oorweging is die plig van die Hof om te sorg dat die vonnis opgelê die geregverdigde, maar behoorlik ingeligte, verontwaardiging van regdenkende lede van die gemeenskap jeens die misdrywe gepleeg, weerspieël, om te verhoed dat die regspleging in diskrediet verval. Karg op 236B. In hierdie verband moet egter weer eens daarteen gewaak word dat die openbare mening slaafs nagevolg word; die Hof moet eerder die voortou neem en die openbare mening leiding gee. Hy is nie daar om die openbare mening te bevredig nie maar om die openbare belang na te streef. S v Mhlakaza and Another 1997 (1) SACR 515 (SCA) op 518e.


Die volgende vonnisopsies was tydens argument die onderwerp van debat:


    1. n boete, met die alternatief van gevangenisstraf;


    1. gevangenisstraf, insluitende gevangenissetting wat óf in sy geheel óf gedeeltelik op gepaste voorwaardes opgeskort word;


    1. gevangenisstraf ingevolge die bepalings van a 276(1)(i) van die Strafproseswet 51 van 1977;


    1. n gemeenskapsgebaseerde vonnis in die vorm van korrektiewe toesig ingevolge a 276(1)(h) van die Strafproseswet wat gemeenskapsdiens, huisarres, opgeskorte gevangenisstraf en ander voorwaardes kan behels. (Kyk a 52 (1) van die Wet op Korrektiewe Dienste 111 van 1998).


Ingevolge a 51(5) van Wet 105 waar ‘n hof ’n minimum vonnis soos in a 51 beoog oplê is hy nie by magte om die vonnis, of ‘n gedeelte daarvan, op te skort nie (met uitsonderings wat nie huidig van toepassing is nie). Aan die ander kant is opskorting wel geoorloof waar vanweë die teenwoordigheid van die vereiste omstandighede ‘n mindere vonnis opgelê word.


Ingevolge a 276(3) van die Strafproseswet, soos huidig bewoord, kan die hof nie ‘n vonnis ingevolge óf a 276(1)(h) óf 276(1)(i) oplê waar a 51 van Wet 105 ‘n minimum vonnis voorskryf nie. Die betrokke bewoording is egter by wyse van ‘n wysiging deur a 5 van Wet 22 van 2005 ingevoer wat op 11 Januarie 2006 in werking getree het. Die wysiging is derhalwe nie van toepassing in die huidige saak wat oor ‘n misdryf in 2000 gepleeg gaan nie. Vgl S v Willemse 1999 (1) SACR 450 (C) op 454a-b en S v Erasmus 1999 (1) SACR 93 (SE) op 98b, waar bevind is dat a 51 nie terugwerkende krag het nie en is dus nie van toepassing op oortredings gepleeg voor die inwerkingtreding van die Wet. Kyk ook a 35(3)(n) van die Grondwet.


Die eerste opsie vroeër gemeld, die oplê van ‘n boete kan onmiddelik buite rekening gelaat word. Ek volstaan deur op te merk dat ek geen twyfel het dat ‘n boetevonnis geensins van pas sou wees nie en dit is ook nie ernstig deur enige van die regsverteenwoordigers bepleit nie.


Dieselfde opmerkings geld ten opsigte van gevangenisstraf wat in sy geheel opgeskort word.


Gevangenisstraf, wat ten minste hoofsaaklik direkte gevangenissetting behels, het noukeurige aandag geniet tydens beide getuienislewering asook die betoë op vonnis.


Dit staan vas dat menige gevalle voor die howe dien waar wat ookal die persoonlike omstandighede van die veroordeelde mag wees en welke versagtende omstandighede ookal teenwoordig mag wees, die aard en erns van die misdryf gepleeg en die belange van die gemeenskap dikteer dat die oplegging van direkte gevangenisstraf eenvoudig nie vermybaar is nie. In die geval van ernstige misdrywe verdien die gemeenskap se gevoel van vergryp en die doelwit van afskrikking aansienlike klem en dit is daardie doel waarop gevangenisstraf in hoofsaak gemik is. Derhalwe, ondanks die kommentaar in die opvolgende paragrawe hieronder, behoort die hof nie die moontlikheid van gevangenisstraf as vonnisopsie in ‘n gegewe geval op oppervlakkerige wyse uitsluit nie. S v Swart 2004 (2) SACR 370 (SCA) para [14].


n Magdom van getuienis, wat tydens betoog ingeroep is, is aan my voorgelê betreffende die aard en effek van gevangenisstraf. Vanselfsprekend het gevangenissetting ‘n geweldige impak op die persoon wat dit opgelê word. Vandaar die houding dat strafbeleid bepaal dat gevangenisstraf spaarsaam en oordeelkundig op besluit moet word, dat dit as ‘n laaste uitweg beskou moet word en gereserveer word tot gevalle waar daar werklik geen ander rasionele alternatief is nie. (Kyk bv S v Scheepers 1997 (2) SA 154 (A)). Die redes daarvoor is voor-die-hand-liggend. In die eerste plek word die veroordeelde van sy of haar vryheid ontneem, met alles wat daardeur behels word, wat, onnodig om te noem, op sigself ernstige inbreuk op die persoon se lewe maak. Maar gevangennistraf beteken veel meer as bloot die verlies van vryheid. Die veroordeelde word daardeur aan die gevangenismilieu onderwerp. Daarmee is in detail tydens die verrigtinge gehandel en dié waarna hieronder verwys word is welbekend. By wyse van voorbeeld verwys ek na die verlies van privaatheid, die oorbevolking in die tronke van hierdie land (vernaam in tronke waar manlike persone aangehou word), die bende-aktiweiteite wat plaasvind, die voortdurende gevaar van aanrandings en ander intimidasie deur mede-aangehoudendes, die voorkoms van Vigs, die blootstelling aan die beskikbaarheid van dwelms, wat ‘n versoeking daarstel vir persone wat noodwendig vir kenbare tydperke ledig moet sit, die blootstelling aan die invloed van verharde misdadigers, en dies meer. Daar is ook ‘n tekort aan sielkundiges, psigiaters en welsynwerkers wat aan konsultasieprogramme kan deelneem. Die aangehoudende word ook die geleentheid ontneem om as nuttige lid van die gemeenskap sy of haar bydrae tot die welvaart van die gemeenskap te maak, die keersy van die muntstuk synde dat daardie voordeel deur die gemeenskap verloor word. Uiteraard, waar van toepassing, word die aangehoudende se naasbestaandes en afhanklikes benadeel, en dan meer as in ‘n finansiële sin. Laastens, kan genoem word dat gevangenisstraf ten koste van die Staat, en derhalwe van die gemeenskap, geskied. (Vgl oor die algemeen bv S v Holder 1979 (2) SA 70 (A) op 80D. Op 77H-78A is egter weer eens daarop gewys dat enige ernstige misdryf gevangenisstraf ten gevolg kan hê en op 80D is gemaan dat ‘n middelkoers gevolg moet word sodat uiterstes vermy word).


Die ander vraag wat opduik gaan oor die rehabilitasiewaarde van tronkstraf. In ‘n sin kan gesê word dat waar, by ‘n oorsig van al die tersaaklike oorwegings, direkte gevangenisstraf niks meer is dan die verdiende loon van die veroordeelde nie, en dit word só deur die gevonnisde aanvaar, die uitdien daarvan ‘n rehabiliterende effek op die persoon behoort te hê, en hopelik sal dit, vernaam waar hervormingsprogramme beskikbaar is en bygewoon word. Die praktyk leer egter dat in menige gevalle word daardie doel eenvoudig nie verwesenlik nie. Statistiek toon aan dat die residivissyfer onder veroordeeldes wat verplig is om gevangenissetting te ondergaan ongelukkig onaanvaarbaar hoog is. In wese is die doelwit van langtermyn gevangenisstraf nie rehabilitasie nie, maar eerder die verwydering van die veroordeelde vanuit die gemeenskap ter beskerming van die publiek. Maar, by die vasstelling van die termyn moet ‘n hof gedagtig wees aan die volgende opmerking in S v Khumalo [1984] ZASCA 30; 1984 (3) SA 327 (A) op 331D:


It is the experience of prison administrators that unduly prolonged imprisonment, far from contributing towards reform, brings about the complete mental and physical deterioration of the prisoner.”


Die gevangenisstraf in a 276(1)(i) van die Strafproseswet na verwys word in die artikel beskryf as dié wat deur die Kommissaris van Korrektiewe Dienste of ‘n paroolraad in korrektiewe toesig omskep kan word (waarop die kommentaar in die opvolgende paragrawe hieronder van toepassing sou wees). Dié gevangenisstraf kan slegs opgelê word waar die hof van oordeel is dat die misdryf die oplê van gevangenisstraf (met of sonder die opsie van ‘n boete) vir ‘n tydperk wat nie vyf jaar oorskry nie regverdig (a 276A(2)(a)) en die straf kan derhalwe nie ‘n vaste tydperk van vyf jaar oorskry nie (a 276A(2)(b)). Hoewel die maksimum tydperk waarvoor voorsiening gemaak word aandui dat die straf in betreklik ernstige gevalle van pas kan wees, is in S v Scheepers 2006 (1) SACR 72 (SCA) uitgewys dat die artikel oorweeg moet word waar besluit word dat ‘n bewaringsvonnis aangewese is maar die aard van die oortreding aandui dat gevangenissetting vir ‘n lang tydperk nie nodig is nie; die artikel versag ‘n vonnis van gevangenisstraf in ‘n aansienlike mate deur die vroeër vrylating van die veroordeelde op gepaste voorwaardes toe te laat. Aangeneem kan word dat omskepping slegs oorweeg sou word onder andere waar die gevangene hom of haar in die gevangenis goed gedra het en aangetoon dat sy of haar rehabilitasie kenbaar gevorder het en waar hy of sy andersins ‘n geskikte persoon is om aan korrektiewe toesig onderwerp te word. Dermate hou hierdie vonnisopsie hopelik die voordeel in dat die moontlikheid van omskepping die gevangene sal aanspoor om sy of haar kant by te bring wat rehabilitasie aanbetref.


Korrektiewe toesig verskil van ander strafvorms en is daarop gemik om ‘n leemte aan te vul wat wêreldwyd ondervind is. Daar is ‘n gaping tussen gevangenisstraf, ‘n besondere swaar vorm van straf, aan die eenkant, en aan die anderkant, tradisionele vorms van nie-bewaringstraf wat telkens ontoereikend is om die doelwitte van straftoemeting te behaal, en korrektiewe toesig kan die gaping aanvul. In S v Omar 1993 (2) SASV 5 (K) op 15h–i is soos volg verklaar:


One of the important objectives of the correctional supervision sentence is the imposition of a sentence which, because of the extent to which it deprives the accused of his or her liberty, is sufficiently severe, and is seen by society to be sufficiently severe, to meet the deterrent and retributive needs of society but, at the same time, is a sentence which will not disrupt the accused’s employment and family life or endanger her or his prospects of rehabilitation or subject him or her to the potentially harmful consequences of the prison environment. These latter considerations are also important from society’s point of view.”


Kyk ook S v Maluleka 2008 (1) SACR 49 (T) paras [33] en [34] wat as volg lui:

But on the other hand restorative justice, properly considered and applied, may make a significant contribution in combating recidivism by encouraging offenders to take responsibility for their actions and assist the process of their ultimate reintegration into society thereby.


In addition, restorative justice, seen in the context of an innovative approach to sentencing, may become an important tool in reconciling the victim and the offender, and the community and the offender. It may provide a whole range of supple alternatives to imprisonment. This would ease the burden on our overcrowded correctional institutions.”


Ingevolge a 276A(1) is ‘n voorvereiste vir oorweging van korrektiewe toesig as vonnisopsie die voorlegging aan die hof van ‘n verslag soos in die artikel voorgeskryf (waaraan in die geval van elk van julle voldoen is) en korrektiewe toesig kan uiteraard slegs oorweeg word waar die eerste vraag wat opduik bevestigend beantwoord word, naamlik of die betrokke veroordeelde ‘n geskikte kandidaat vir hierdie vonnisopsie is.


In hierdie verband kan genoem word dat die ondervinding van hierdie Hof is dat korrektiewe toesig beamptes telkens die houding inneem dat waar die veroordeelde geensins verantwoordelikheid vir die optrede waaraan hy of sy skuldig bevind is aanvaar nie of geen berou toon nie of nie insig in die erns van die betrokke misdryf openbaar nie, hy of sy nie as ‘n geskikte kandidaat vir korrektiewe toesig beskou kan word nie. Vermoedelik is dit die standpunt dat in sulke omstandighede die rehabilitasie wat onder andere die oogmerk van korrektiewe toesig is nie geredelik haalbaar is nie. Ek het ‘n mate van begrip vir hierdie benadering maar ek sou onmiddelik byvoeg dat na my oordeel is aanvaarding van kriminele aanspreeklikheid in die sin dat die persoon erken dat hy of sy korrek skuldig bevind is, daarin insig het en daarvoor berou toon nie ‘n onontbeerlike voorvereiste vir die oplê van korrektiewe toesig is nie, en ander faktore kan aandui dat die persoon tóg ‘n geskikte kandidaat vir hierdie vonnisopsie is. (Vgl S v V 1996 (2) SASV 133 (T)). Die voorgeskrewe verslag of verslae moet derhalwe aandui dat die veroordeelde ge-evalueer is en waarom hy of sy by die besondere straf sal baat, hoe dit sy naasbestaandes sal raak en deur die gemeenskap en ook die gegriefde klaer ervaar sal word. Uiteraard moet ook met die beskikbare fasiliteite en die omskrywing van die toesig wat voorgehou word gehandel word. S v Croukamp 1993 (1) SASV 439 (T) op 443b; V supra op 138A.


In teenstelling met gevangenissetting het korrektiewe toesig onder andere die volgende voordele (kyk S v Volkwyn 1995 (1) SACR 286 (A) op 288i -289c):


  • Die proeweling kan beter die voordeel trek van die normaliserende invloede van die gemeenskap;

  • Hy of sy word nie aan die negatiewe invloede van verharde misdadigers en die gevangenis-subkultuur blootgestel nie;

  • Die rehabilitasieproses vind binne die gemeenskap plaas waar die beste resultate behaal kan word;

  • Dit is ‘n meer lonende opsie;

  • Daar is minder druk op beskikbare tronkakkomodasie;

  • Die isolerende effek en stigma van gevangenissetting word vermy;

  • In ‘n groot mate word die negatiewe resultate van gevangenissetting uitgeskakel, soos bv verlies van self-respek, verlies van inkomste en die daaropvolgende onvermoë om afhanklikes te onderhou, en die verbrokkeling van die familielewe.


Kyk ook S v Kelly 1993 (2) SACR 492 (A) en die saak van M, later in hierdie uitspraak meer breedvoerig bespreek, waar die volgende in para [62] verskyn:


Another advantage of correctional supervision is that it keeps open the option of restorative justice in a way that imprisonment cannot do. Central to the notion of restorative justice is the recognition of the community rather than the criminal-justice agencies as the prime site of crime control. Thus, our courts have observed that one of its strengths is that it rehabilitates the offender within the community,
See too Pinnock What kind of Justice? University of Cape Town, Institute of Criminology Occasional Paper Series 4-95 (1995), http://web.uct.ac.za/depts/sjrp/publicat/whatknd.htm, accessed on 16 August 2007; Maepa (ed) Beyond Retribution: Prospects for Restorative Justice in South Africa Institute for Security Studies Monographs/No111/Chap2.htm at ch 2 where Batley points out that although there are anumber of definitions of restorative justice, they all contain the following three principles: (1) crime is seen as something that causes injuries to victims, offenders and communities and it is in the spirit of ubuntu that the criminal-justice process should seek the healing of breaches; (2) the redressing of imbalances and the restoration of broken relationships; and (3) not only government, but victims, offenders and their communities should be actively involved in the criminal-justice process at the earliest point and to the maximum extent possible; and the community is responsible for establishing peace. [See also http://www.iss.co.za/index.php?link_id=24&slink_id=1843&link_type=12&slink_type=12&slink_type=12&tmpl_id=3-Eds.]
without the negative impact of prison and destruction of the family. It is geared to punish and rehabilitate the offender within the community leaving his or her work and domestic routines intact, and without the negative influences of prison.”


Hoewel, ingevolge a 276A, korrektiewe toesig slegs vir ‘n vaste tydperk wat nie drie jaar oorskry nie opgelê kan word kan dit ook só ingeklee word dat dit werklike straf daarstel. S v R 1993 (1) SACR 209 (A). Soos in S v Kotze 1994 (2) SACR 214 (O) op 227b-c opgemerk is: enige konsepsie dat korrektiewe toesig, met of sonder gemeenskapsdiens, ‘n “soft option” is is heeltemaal ongegrond (met verwysing uiteraard na ‘n behoorlik geformuleerde korrektiewe toesig vonnis). Dit word derhalwe nie vir slegs minder ernstige oortredings voorbehou nie, maar moet ook oorweeg word “in serious cases where a non-custodial sentence would not bring the judicial system into discredit in the community” (S v Abrahams 1990 (1) SACR 172 (C)) of waar straf sonder die verwydering van die persoon vanuit die gemeenskap aangewese is (S v Ingram 1995 (1) SACR 1 (A) op 9e-f).


Daar sal egter gevalle wees waar die belange van die gemeenskap nie voldoende beskerm word deur onmiddelike korrektiewe toesig nie. In so ‘n geval kan die hof a 276(1)(i) toepas. S v Erasmus 1999 (1) SACR 93 (E) op 99f-h. Ook is in S v Schutte 1995 (1) SACR (C) op 350 gemaan dat:


...... courts should be cautious not to debase the coinage of correctional supervision as a form of punishment ..... if it is used indiscriminately it will soon forfeit its credibility”.


Die bepalings van Wet 105 word nou bespreek. Met dié wetgewing het die wetgewer dit goed geag om bepaalde minimum vonnisse vir verskeie ernstige misdade voor te skryf. Klaarblyklik was dit die wetgewer se bedoeling om die voorkomssyfer van die betrokke misdrywe meer effektief na te streef. Daar is reeds in die hoofuitspraak gekonstateer dat die bedrog waaraan julle skuldig bevind is binne die trefwydte van a 51(2) van die Wet saamgelees met paragrawe (a) en (b) van deel II van Skedule 2 daarvan onder die opskrif: bedrog, ressorteer, en wel op grond daarvan onderskeidelik dat bedrae meer as R500 000,00 by die bedrog betrek is en dat bedrae meer as R100 000,00 betrek is en waar bewys is dat die misdryf deur ‘n persoon of persone gepleeg is ter uitvoering of bevordering van ’n gemeenskaplike oogmerk of sameswering. Die voorgeskrewe minimum vonnis vir die misdryf is dan 15 jaar gevangenisstraf in die geval van ‘n eerste oortreder.


Die bepalings van a 51(2) is egter onderhewig aan onder andere die bepalings van subartikel (3). Subartikel (3)(a) bepaal dat waar die hof tevrede is dat wesenlike en dwingende omstandighede teenwoordig is wat ‘n vonnis minder dan die voorgeskrewe minimum vonnis regverdig, beskik die hof, na aantekening van sodanige omstandighede, oor ‘n diskressie om sodanige mindere vonnis op te lê.


Die begrip wesenlike en dwingende omstandighede het sedert die inwerkingtreding van die Wet meermale die aandag van die howe geniet, ook beide die Hoogste Hof van Appél en die Konstitutionele Hof. Die beginsels wat uitgekristalliseer het kan soos volg saamgevat word. By beantwoording van die vraag of wesenlike en dwingende omstandighede teenwoordig is moet die hof al die omstandighede van die saak in ag neem, insluitende al die oorwegings wat tradisioneel deur die howe by die vasstelling van ‘n gepaste vonnis in ag geneem word. Dit volg derhalwe dat om as wesenlik en dwingend te kwalifiseer hoef die omstandighede nie buitengewoon te wees nie in die sin dat hulle selde teëgekom word, nóg is die omstandighede beperk tot dié wat die morele verwytbaarheid van die veroordeelde verminder nie. Oor die algemeen was dit egter die wetgewer se bedoeling om voorsiening te maak vir ‘n skerp gestandaardiseerde en konsekwente respons vanaf die howe, tensy werklik oortuigende redes bestaan, wat só waarneembaar is, vir ‘n ander respons. Met ander woorde, die voorgeskrewe minimum vonnisse moet oor die algemeen as die gepaste vonnisse vir die betrokke misdrywe beskou word en daarvan moet nie afgewyk word sonder gewigtige regverdiging daarvoor nie (anders gestel: “the sentence that should ordinarily be imposed in the absence of weighty justification” vir ‘n mindere vonnis). Indien die hof, by ‘n oorsig van al die omstandighede, tevrede is dat die voorgeskrewe minimum vonnis ‘n onreg tot gevolg sou hê, is hy geregtig om die omstandighede as wesenlik en dwingend te kategoriseer (anders gestel: “any circumstances that would render the prescribed sentence disproportionate to the offence would constitute weighty justification for a lesser sentence”). In daardie geval is nóg die minimum vonnis nóg enige ander vonnis verpligtend. Die vasstelling van die vonnis berus dan binne die diskressie van die hof, onderhewig daaraan dat die hof verplig is om kennis te neem van die wetgewer se begeerte dat strenger straf as dié wat in die verlede as paslik beskou sou gewees het, vasgestel moet word. Soos dit in S v Abrahams 2002 (1) SACR 116 (SCA) gestel is:


As to the imposition of sentence under the provisions of the Criminal Law Amendment Act 105 of 1997 it was clear that the Court a quo considered that, having found substantial and compelling circumstances, it was at liberty to impose a sentence consonant with those applied before the Act came into force - hence the sentence one year lighter than that in S v B. That approach was incorrect as the prescribed sentences the Act contained played a dual role in the sentencing process. Where factors of substance do not compel the conclusion that the application of the prescribed sentence would be unjust, that sentence has to be imposed. However, even where such factors were present, the sentences the Act prescribed created a legislative standard that weighed upon the exercise of the sentencing court’s discretion. This entailed sentences for the scheduled crimes that were consistently heavier than before.”


Ek gaan nou oor om die misdrywe waaraan julle skuldig bevind is, en die gemeenskap se belang daarby, te bespreek.


Dat bedrog op sigself as ‘n ernstige misdaad aangemerk moet word, is nou eenmaal so. Die reg wat elke lid van die gemeenskap het, en waarby die gemeenskap as geheel ‘n belang het, om kommersiële transaksies aan te gaan sonder die risiko dat die ander kontrakterende party hom aan bedrog rakende die transaksie skuldig maak, is ‘n reg waarop die howe baie jaloers is. Die gemeenskap het verder ‘n belang daarby dat aanvaar kan word dat die bankwese in die land ingevolge normale bankpraktyk bestuur word. Dít is ‘n houding wat uitbasuin moet word. Dit moet ondubbelsinnig by julle, asook andere wat eendersdenkend mag wees, tuisgebring word dat bedrieglike optrede eenvoudig nie geduld sal word nie. Die beskerming deur die howe van die gemeenskap teen sulke optrede dra by tot die ekonomiese vooruitgang van die gemeenskap as geheel. Vgl Zinn op 539D-540C. Kyk ook S v Kwatsha 2004 (2) SACR 564 (E); S v Sadler 2000 (1) SACR 331 (SCA).


Die pleeg van die misdaad is met verskeie verswarende omstandighede gepaardgegaan. Eerstens, hoewel, soos later bespreek sal word, die onderskeie rolle wat julle in die pleeg van die misdaad gespeel het verskil het, kan tereg aangemerk word dat in die geval van elk van julle daar nie sprake daarvan is dat op die ingewing van die oomblik gehandel is nie; inteendeel, dit was in iedere geval ‘n saak van volgehoue en berekende optrede oor ‘n uitgerekte tydperk, waartydens daar ruim geleentheid vir besinning was. Desnieteenstaande het julle in jul onderskeie optrede volhard. Deur jul misleiding van beleggers oor die finansiële welvaart van Usapho, waartoe die misleiding van ABSA oor die wyse waarop Usapho se bankrekening gehanteer word en sou word bygedra het, het julle beide die beleggers asook ABSA op bedrieglike wyse ernstige skade of potensiele skade berokken.


Ten tweede, soos adv Stander, namens die Staat, heel tereg beklemtoon het is die erns van die misdryf verswaar deur die omvang van die totale bedrag wat deur beleggers (honderde en honderde in getal) verloor is, en wel in die omgewing van R150 000 000,00. Ek verloor nie uit die oog nie dat die kapitaal wat deur beleggers verloor is ietwat minder was en dat ‘n kenbare gedeelte van die totale verlies deur die wanbetaling van rente daargestel is (welke rente teen werklike hoë koerse bereken is). Feit bly staan dat die rente die beleggers toegekom het en is dié deur hulle verloor. Hul verlies word deur ‘n enorme bedrag verteenwoordig.


In hierdie verband is die volgende oorweging deur van die regsverteenwoordigers aan my egter voorgehou. Daar is uitgewys dat, as synde versagtende omstandighede, van die slagoffers welgestelde, inderdaad ryk, mense was wat bloot op soek na buitengewone winste was, en dat geldgierigheid of hebsug ‘n belangrike stuwende krag was agter hul besluit om sake met Usapho te doen. Dit mag wel so wees maar gesien die feit dat dit Usapho was wat, benewens die gee van ondubbelsinnige valse gerusstellings dat ‘n belegging by hom veilig was, die verhoogde rente aangebied het en wel met die oogmerk om beleggings uit te lok en daardeur menslike swakhede uitgebuit het (wat aanleiding tot die verliese van die beleggers gegee het) moet enige versagtende effek van die punt wat ingeroep is nie beklemtoon word nie. Daarbenewens is die keersy van die muntstuk ook dat daar heelwat beleggers was wat pensionarisse of afgetredenes was wat hul pensioengeld of aftreepakkette verbeur het of ander persone was wat bloot hul karige heenkomes wou aanvul.


Die verdere oorweging aan verdedigingskant ingeroep was twee-ledig van aard. Daar is naamlik genoem dat heelwat van die beleggers geen verliese hoegenaamd gely het nie (en inteendeel met hul beleggings aansienlik gewen het) en dat in die geval van ander beleggers wat gedurende die jare voor 2000 sake met Usapho begin doen het openbaar die rekenkunde dat aan die einde van die dag hulle tog ‘n wins uit hul totale beleggings by Usapho ontvang het, hoewel met die val van Usapho geld nog aan hulle geskuld was wat verloor is. Weer eens is ek egter van oordeel dat enige versagtende effek van hierdie oorweging nie oorbeklemtoning verdien nie.


Ten derde, is dit gemeensaak dat sogenaamde “witboordjie – misdaad” aan die toeneem is en dit is ‘n verdere verswarende omstandigheid. Uiteraard, sou dit verkeerd wees om ‘n veroordeelde die sondebok vir die optrede van vorige oortreders te maak en die voorkomssyfer van ‘n besondere misdaad kan nie ‘n ongeregverdigde straf op ‘n huidige oortreder fundeer nie. Dit gesê, sluit hierdie aspek aan by my vroeër opmerkings oor die nodigheid dat die vonnis opgelê die nodige afskrikking daarstel. In hierdie verband haal ek as voorbeeld aan die volgende passasies in die verhoorhof se uitspraak op vonnis waaraan die Appélhof in S v Blank 1995 (1) SACR 62 (A) sy goedkeuring aangeheg het (kyk bl 79):


Op 73a:


I am aware of the fact, and take judicial notice of it, that so-called “white collar crime” is on the increase in South Africa; and that it has taken on such proportions that a special task force, the Office of Serious Economic Offences, has been set up to combat it.”


Op 73c:


In view of all these facts, I feel fully justified in imposing a sentence which will deter not only the accused and other stockbrokers from committing crimes similar to those of which the accused has been convicted, but also others involved in business who may be tempted to indulge in larger-scale crimes of dishonesty. The time has already arrived when the severity of punishments imposed for this sort of crime while of course taking the personal circumstances of a particular accused into account, should proclaim that society has had enough and that the courts, who are the mouthpiece of society, will not tolerate such crimes and will severely punish offenders: cf S v Zinn 1969 (2) SA 537 (A) at 542D-E.”


Ten vierde, ‘n aspek wat u, mnr Terblanche, en u, mnr Visagie, raak, is dat julle jeens ABSA in ‘n vertrouensposisie gestaan het en daarvan het julle misbruik gemaak. In S v Guntenhöner 1990 (1) SACR 642 (W) op 648i verskyn die volgende passasie:


Corrupt bank officials, and more so those in managerial positions, strike at the root of a bank's function. Bank officials, and particularly those clothed with functions of importance, should be warned of the consequences of betraying the trust placed in them and of performing corrupt practices. They work with confidential material. They work with very large sums of money. The punishment in this case should serve as a warning to bank officials who might be minded to succumb to temptation, not to betray this trust. The punishment should serve as a strong deterrent. It should fit the criminal as well as the crime.”


In S v Prinsloo 1998 (2) SACR 669 (W) op 671g-h is soos volg verklaar:

In the world of commerce employers are compelled to place trust in their employees. It is not possible for them to conduct all the business of their concerns themselves. .....No alternative remains to them but to repose confidence in their employees and where an employee breaches that trust his conduct must in my opinion be heavily penalised”.


Weliswaar is die erns van die bedrog wat teenoor ABSA gepleeg is deur die versagtende omstandigheid dat aan die einde van die dag die bank geen geldelike verlies gely het nie, getemper. Beklemtoon moet word egter dat, soos in die hoofuitspraak bevind is, die bedrog teenoor ABSA ‘n integrale komponent uitgemaak het van die optrede wat die bedrog teenoor die beleggers daargestel het.


Die verdere misdryf waaraan u, mev Bosch, skuldig bevind is, die diefstal van R30 000,00 by die klaer Simpson, was ook, onnodig om te sê, ernstig van aard, waaroor ek nie hoef uit te brei nie.


Die soeklig moet nou op jul persoonlike omstandighede geplaas word. In hierdie verband word genoem dat korrektiewe dienste en welsynbeampte verslae ten opsigte van julle aan my voorgelê is, en ten opsigte van drie van julle is die verslae van deskundige getuies ook in getuienis aangebied, welke deskundiges ook tydens die vonnisverrigtinge getuig het. Ook het elk van julle relevante getuienis gegee (óf mondelings óf by wyse van beëdigde verklarings) toe aansoek om verlenging van borg na die skuldigbevinding gedoen is en u, mev Bosch, en u, mev van Rooyen, het ook self ter versagting getuig en relevante getuienis gegee.


Hoewel ek hieronder onderskeidelik met jul ander persoonlike omstandighede seriatim handel, kan drie faktore, wat julle almal met mekaar gemeen het, eers genoem word.


Die eerste faktor is die feit dat elk van julle eerste oortreders is met geen vorige veroordelings op jul kerfstokke nie. Om klaarblyklike redes word in ons regspleging hierdie faktor waarlik as ‘n betekenisvolle versagtende omstandigheid aangemerk, en in ons regspraak is daar ‘n volheid beslissings wat daardie benadering onderstreep. In die normale gang van sake word veroordeeldes wat hul oortredings herhaal, en wat derhalwe nie hul les geleer het nie, deur die howe meer streng behandel. Dit is veral in die geval van eerste oortreders waar die howe aandag gee aan die beginsel dat waar enigsins moontlik direkte gevangenissetting as vonnisopsie vermy moet word.


Die tweede aspek wat tydens betoog voorgehou is is ‘n aansluitende een, naamlik dat nie een van julle gedurende die afgelope agt jaar, dit is sedert die gebeure gedurende 2000, wat die onderwerp van die klagtes teen julle uitgemaak het, weer enige oortreding van die wet begaan het nie. Weliswaar is dit so, soos adv Stander uitgewys het, dat in die betrokke agt jaar julle julle nie in soortgelyke omstandighede bevind het soos dié wat in 2000 geheers het nie. Maar die advokaat se verdere submissie, dat daar derhalwe nie die geleentheid vir ‘n herhaling van julle oortreding was nie en gevolglik dat die betoog namens julle niks om die lyf het nie, kan nie gehandhaaf word nie. Dié submissie sou slegs betrekking hê op ‘n identiese, of ten minste soortgelyke, oortreding. Feit bly staan dat elk van julle ‘n skoon paadjie oor die laaste agt jaar geloop het en na my oordeel moet daardie feit as’n versagtende omstandigheid aangemerk word.


Die derde aspek het ook betrekking op gemelde tydperk van agt jaar. Ek verwys hier na die feit dat die klagte van bedrog ‘n swaard was wat oor julle koppe gehang het. Daar was getuienis dat reeds kort na die val van Usapho daar sprake daarvan was dat julle arresteer gaan word. Aansluitend daarby is die feit dat julle ‘n werklik uitgerekte verhoor moes deurmaak – met tussenpose tussenin oor ’n tydperk van langer as vier jaar. Die aansienlike ontwrigting van persoonlike lewens en die spanning en emosionele trauma wat uiteraard uit so ‘n verhoor voortvloei moet weer eens as ‘n versagtende omstandigheid, en ‘n gewigtige een, aangemerk word. Ter aanvulling daarvan moet ook genoem word dat, soos tydens argument van melding gemaak is, gedurende die tydperk wat die verhoor aan die gang was julle gedurigdeur ongunstige persberigte moes verduur. Vernaam u, mev Bosch, is gereeld in die pers aan die kaak gestel en beskrywings soos bv “disgraced investment queen” was aan die orde van die dag.


Wat u ander persoonlike omstandighede aanbetref, mev Bosch, kan as volg opgemerk word. U is huidig 65 jaar oud, wat ‘n gevorderde leeftyd verteenwoordig. U gesondheid is nie na wense nie en getuienis is voor my geplaas dat u medisyne moet neem vir onder andere stres, depressie, slaapprobleme, hoë bloeddruk en suikersiekte. Tydens u skooljare het u familie dit nie breed gehad nie en het u groot geword in ‘n woongebied wat deur armoedige sosio-ekonomiese toestande gekenmerk was. Die familie was egter in hoofsaak ‘n aaneengeslote een, hoewel die verhouding tussen u en u moeder nie heeltemaal gevlot het nie. U het slegs tot Std 6 (huidig Graad 8) op skool gevorder. Ek is meegedeel dat u dislekties is en dat u op gemelde vroeë stadium die skool verlaat het omdat u akademies gesukkel het. Desondanks het u verskeie werksgeleenthede benut (wat u van tyd tot tyd gewissel het omrede u beter vooruitsigte in ander geleenthede gevind het) totdat u die besigheid begin het wat later deur Usapho bedryf is. Dermate was u ‘n nuttige lid van die gemeenskap. Genoem kan word ook dat luidens die getuienis was gemelde besigheid aanvanklik hoogs suksesvol. U het die eerste keer in die huwelik getree toe u 17 jaar oud was. Die huwelik was egter nie ‘n gelukkige een nie en is u deur u man aan verbale, fisiese, emosienele en psigologiese mishandeling onderwerp, wat die hoofsaaklike rede was waarom die huwelik gedurende 1982 tot niet is. Tien jaar later is u met mnr Clifford getroud en hierdie huwelik was ‘n gelukkige en stabiele een en het u u verlore selfagting herwin. Mnr Clifford is gedurende 2002 oorlede. Daarna het u weer met mnr Bosch in die huwelik getree toe hy 96 jaar oud was en weer eens was die huwelik ‘n liefdevolle een. Mnr Bosch is egter ‘n paar jaar daarna oorlede. Ongeveer 14 maande gelede het u na Oos-London verhuis en u woon nou in die huis van ‘n sekere mnr Kapps wie sieklik is en wie deur u versorg word, met gratis blyplek vir u as teenprestasie. U huidige inkomste is maar bra karig en bestaan uit ‘n pensioen van R4 780,00 per maand vanaf mnr Clifford se voormalige werkgewer en een van R1 600,00 per maand vanaf mnr Bosch se voormalige werkgewer. U het ook ander familielede verloor, naamlik u dogter, mev Pieterse, wie kort na die val van Usapho self-moord gepleeg het en ‘n ander dogter, Mandy Honiball, wie in ‘n motorongeluk gedurende Junie 2000 omgekom het, asook ‘n kleinkind wat verdrink het. U en mev Conway dra by tot die versorging van u vyf kleinkinders. Ook was die afsterwe van u vader ‘n traumatiese knou vir u wat u moeilik verwerk het. Hoewel u ‘n lid van die Nederduitse Gereformeerde Kerk is en ook ‘n ander kerk van tyd tot tyd besoek woon u nie ere-dienste by nie. U het gedurende 1991 begin alkohol gereeld gebruik en gedurende die jare 2000 tot 2001 het u misbruik daarvan gemaak. U het egter gedurende 2002 opgehou om alkohol te misbruik. Die verhoor het ook aanleiding tot vervreemding tussen u en u sibbe gegee.


Opsommenderwys moes u in u lewe verskeie gebeure deurmaak ten opsigte waarvan gesê kan word dat die noodlot u nie met genade behandel het nie.


Luidens die verslag van mnr Heilbron, ‘n welsynbeampte, en u het ook so getuig, is dit u houding dat hoewel u die uitspraak van hierdie Hof waarvolgens u skuldig bevind is respekteer, aanvaar u nie dat u u aan bedrog skuldig gemaak het nie. Inteendeel, hoewel u aanvaar dat u Usapho se besigheid wanbestuur het (wat u toeskryf aan u misbruik van alkohol en die feit dat u die verlies van geliefdes moes verwerk) plaas u die werklike blaam vir die ineenstorting van Usapho en u skuldigbevinding voor die deur van personeel wat, so beweer u, by onreëlmatighede in die besigheid betrokke geraak het. Hierdie standpunt strook egter eenvoudig nie met die bevindings in die hoofuitspraak vervat nie. U het ook aan mnr Heilbron voorgehou dat u jammer voel vir die beleggers wat geld by Usapho verloor het en dat sou u daartoe in staat gewees het u hulle vir hul verliese sou vergoed. Gesien die feit dat daar net nie enige sprake van vergoeding kan wees nie, en u houding teenoor u skuldigbevinding, moet hierdie stelling deur u as geveins aangemerk word. Wat betref die diefstal aanklag het u toe u ter versagting getuig het bloot beweer dat u nie die voorval kan onthou nie. Dié stelling het ek egter reeds in die hoofuitspraak verwerp. Van opregte berou aan u kant is daar derhalwe geen sprake nie. Dít word nie as ‘n verswarende omstandigheid beskou nie, bloot dat versagting in die vorm van berou afwesig is.


U, mev Conway, is huidig 35 jaar oud. Uit u eerste huwelik met mnr de Wit is twee kinders gebore, Teneal, ‘n dogter wat tans 12 jaar oud is en Charel, ‘n seun tans 9 jaar oud. Ek sal later breedvoerig met die omstandighede van die kinders handel vir sover dié oorweging die vasstelling van ‘n gepaste vonnis raak wat u opgelê moet word. Ek het reeds vroeër toe ek die persoonlike omstandighede van u moeder geskets het, na die hoogs ongelukkige huwelik tussen u ouers verwys, wat hoofsaaklik aan u vader se aggressiewe houding te wyte was. Die egskeiding tussen u ouers het plaasgevind toe u nege jaar oud was. U was derhalwe van ‘n gebroke huis afkomstig. Aanvanklik is u saam met die twee jongste van u vier sibbes in u vader se sorg geplaas terwyl u twee oudste susters, dié wat nou oorlede is, by u moeder gewoon het. Later is u en u jongste suster met u moeder herenig, u op 11-jarige ouderdom. Die verhouding tussen u en u vader was ‘n swak een en u het geen gebondenheid daarin ervaar nie. Hy was ‘n onbetrokke ouer wat u nooit bygestaan het met skoolwerk of ander aktiwiteite nie. Hy het self op ‘n dag die gesin na die hawe geneem en gedreig om die gesin te vergas. Ook u moeder het u as ‘n emosioneel onbetrokke ouer ervaar en haar emosionele ondersteuning as ontoereikend beleef. Sy was inderdaad in u oë, en dié van andere, ‘n selfgesentreerde, dominerende en voorskriftelike persoon. U vormingsjare was derhalwe ‘n ongelukkige tydperk. Die karaktertrekke van u moeder so pas na verwys het voortgeduur nadat u by Usapho begin werk het, en weer eens sal ek in ‘n ander samehang daarna terugkeer. Op 21-jarige ouderdom het u met mnr de Wit getrou. Hoewel die huwelik aanvanklik gelukkig was het julle later mekaar ontgroei, en u het in ‘n buite-egtelike verhouding met u huidige man, mnr Conway, betrokke geraak. Die egskeidingsverrigtinge tussen u en mnr de Wit het nie vlot verloop nie en was eers na ‘n lang tydperk op 11 Junie 2002 gefinaliseer, nadat hulle deur baie argumente gekenmerk is. Gelukkig is dit alles nou iets van die verlede en daar heers huidig ‘n baie goeie verhouding tussen julle twee. U tweede huwelik, met mnr Conway, is in Junie 2004 voltrek. Geen kinders is uit hierdie verbintenis gebore nie. U het in 1990 by ‘n plaaslike skool gematrikuleer waarna u die N4 diploma in kommunikasie en rekenaars by ‘n tegniese kollege verwerf het. Vir vier jaar daarna het u administrasiewerk by eiendomsagentskappe verrig en in 1996 het u by Usapho aangesluit waar u gewerk het tot die trust se ineenstorting in September 2000. Huidig is u nie werksaam nie en in hoofsaak word u tyd bestee in die versorging van u twee kinders. U ontvang onderhoud vir die twee kinders vanaf hul vader en u word verder deur u huidige man finansieel ondersteun. U is baie betrokke in u gemeenskap. U gee tans Sondagskool en Kinderkerk by u kerkgemeente en volgens die leraar is u betrokkenheid ‘n groot aanwins vir die gemeente en geniet u laasgenoemde se ondersteuning en respek. U is ook reeds vir omtrent 2 ½ jaar doenig as onbetaalde vrywilliger by AAA Haven waar u dienste en lojaliteit hoog aangeskryf word. U kan derhalwe as ‘n nuttige lid van die gemeenskap beskryf word, in die verlede asook tans.


Wat die aspek van berou aanbetref het mev Paxton, ‘n kliniese maatskaplike werker wat u en u omstandighede ge-evalueer het, in haar verslag gekonstateer dat u verantwoordelikheid daarvoor aanvaar dat u wel beleggers ingewin het om te belê en dat baie beleggers groot skade gely het as gevolg van u aandeel. U het aan haar voorgehou dat in retrospeksie u besef dat u naïef was om u moeder oor die welvaart van Usapho so onvoorwaardelik te glo en dat daar definitief waarskuwingstekens tot die teenoorgestelde was soos gedishonoreerde tjeks en oortrokke rekenings, wat u geïgnoreer het aangesien u volle vertroue in u moeder se besigheidsvermoë gehad het en vele keer gesien hoe sy die besigheid uit sulke situasies gered het. Beklemtoon moet word egter dat hierdie voorgehoue gemoedstoestand lynreg bots met die bevindings in die hoofuitspraak. Kortliks gestel, is bevind dat u met subjektiewe bedrieglike opset teenoor beleggers asook ABSA opgetree het. Mev Paxton konstateer verder dat tydens haar onderhoudsvoering met u u geverbaliseer het dat u werklik berou het oor die beleggers se verliese en dat sou dit binne u vermoë wees u hulle graag daarvoor sou wil vergoed. Ek volstaan deur te konstateer dat in hierdie verband die opmerkings vroeër ten opsigte van u moeder gemaak eweneens mutatis mutandis op u van toepassing is. Dit volg dat ook in u geval bevind moet word dat van opregte berou as ‘n versagtende omstandigheid daar geen sprake kan wees nie.


Ek keer nou terug na ‘n oorweging van die belange van u twee kinders en hoe dié geraak sou word afhangende van die vonnis wat u opgelê word. Die omstandighede van die kinders, en aanverwante aspekte, soos weergegee in die verslag van mev Paxton en in u eie getuienis, sien soos volg daaruit. Die kinders is in u sorg en is u dus hul primêre versorger. Hulle besoek hul vader elke tweede naweek. Hy en sy saamleefmaat bewoon ‘n drieslaapkamer meenthuis en word die vader se maat ten volle deur u kinders aanvaar. Mnr Conway se kinders woon nie by julle nie maar volgens hom was u ‘n baie goeie stiefmoeder vir die twee dogters wat uit sy vorige huwelik gebore is gedurende hul tienerjare. Daar is ook ‘n goeie verhouding tussen u en sy 30-jarige seun. Jul huweliksverhouding is baie gelukkig en stabiel. Mnr Conway is reeds vir ‘n paar jaar in die buiteland werksaam en kom hy slegs elke drie maande vir vier weke huis toe. Hy verkies gemelde werk wat hom in staat stel om in die gesin se behoeftes te voorsien. Teneal, tans in Graad 7, vaar akademies goed op skool, het verskeie toekennings ontvang en is sy ook tot die leerlingraad vir 2009 verkies. Charel is nou in Graad 4 by dieselfde skool. Hy vaar uitsonderlik goed in wiskunde. Hy is gediagnoseer met tekens van disleksie en woon hy weekliks ekstra klasse by. Sy leesvaardighede het aansienlik verbeter maar hy benodig nog voortgesette remediërende onderrig. Beide kinders neem deel aan verskeie sport en ander buite-muurse aktiwiteite. U is ‘n baie goeie en daaglikse betrokke ouer by die kinders se aktiwiteite en dien ook op die ouer-onderwyser vereniging van die skool. U maak werk daarvan om die kinders se vader en sy maat deel van die kinders se lewe en hul aktiwiteite te maak. Daar heers ‘n goeie en hegte verhouding tussen die kinders en hul vader. Indien nodig kan die kinders by hom en sy saamleefmaat aan huis gaan woon, al sou hy, vanweë sy werksomstandighede, nie dieselfde aandag aan die kinders se skoolaktiwiteite as u kan gee nie.


U het dit gerade geag, ter beskerming van die kinders, om hulle nie in te lig oor die strafsaak totdat u skuldig bevind is nie. Die bespreking met die kinders wat toe gevolg het is met die hulp van ‘n sielkundige gedoen. Slegs die skuldigbevinding is egter bespreek, nie die moontlike gevolge wat daarop kan volg nie. Die gemelde beskerming van die kinders het aanleiding tot groot spanning vir u gegee, soveel so dat u met tye snags vomeer en slaapsteurnisse en hartkloppings deurmaak vanweë u bangheid vir wat die toekoms vir u en die kinders, die middelpunt van u bestaan, inhou.


In haar verslag het mev Paxton, met verwysing na die beslissing in S v M (Centre for Child Law as Amicus Curiae) [2007] ZACC 18; 2007 (2) SACR 539 (CC), op verskeie beginsels gewys wat van toepassing is waar die belange van kinders geraak sou word deur ‘n vonnis wat hul primêre versorger opgelê word, onder andere die beginsel dat waar op ‘n toepassing van die benadering in Zinn ‘n verskeidenheid van strawwe moontlik van pas is die hof verplig is om die beginsel dat die kinders se belange oorheersend is as belangrike riglyn moet gebruik in die besluit welke vonnis gevel moet word. (Ek handel hieronder meer breedvoerig met die benadering wat in M voorgestaan word). Voorts verklaar mev Paxton onder andere soos volg: Gevangenisstraf het ‘n langdurige negatiewe uitwerking op gesinne wat dikwels oorgedra word na die volgende geslag. Indien u vanuit die samelewing verwyder word as gevolg van die oplê van gevangenisstraf sal dit ‘n traumatiese effek op u kinders hê. Alhoewel hulle tans goedaangepaste kinders is dit ‘n ope vraag is hoe hul moeder se verwydering uit hul jong lewens, wat hul primêre versorger is, hul lewens en hul emosionele status sal beïnvloed, aangesien hulle aan alternatiewe versorging oorgelaat sal word. Implisiet verklaar sy verder dat bogenoemde negatiewe resultate nie teenwoordig sal wees indien die vonnisopsie van korrektiewe toesig op besluit word.


A 28(2) van die Grondwet bepaal dat ‘n kind se beste belange oorheersende belangrikheid in elke saak rakende die kind geniet. In M het die Konstitutionele Hof die geskilpunt aangespreek wat die pligte van ‘n hof is insake vonnis in die lig van bogemelde artikel en enige ander relevante statutêre bepalings waar die persoon wat gevonnis word die primêre versorger van minderjarige kinders is. In daardie saak was die beskuldigde die enkelouer van drie kinders, met ouderdomme 16,12 en 8 jaar. Sy is aan betreklik ernstige klagtes van bedrog en diefstal skuldig bevind. Sy het tersaaklike vorige veroordelings gehad. ‘n Streekhof se vonnis van vier jaar direkte gevangenisstraf is op appél deur die Provinsiale Afdeling na vier jaar gevangenisstraf ingevolge a 276(1)(i) verander (wat beteken het dat nadat sy agt maande van die vonnis uitgedien het die Kommissaris van Korrektiewe Dienste haar vonnis in korrektiewe toesig kon omskep). Die saak het uiteindelik sy weg gevind na die Konstitutionele Hof. Van die beginsels deur die hof neergelê is die volgende: waar ‘n bewaringsvonnis oorweeg word moet die hof vasstel welke uitwerking dit op die kinders sal hê; in so ‘n geval moet die hof ook aandag gee aan die vraag of stappe gedoen moet word om te verseker dat die kinders behoorlik versorg word terwyl hul primêre versorger in die tronk is; of ‘n bewaringsvonnis duidelik die gepaste vonnis is moet aan die hand van die Zinn – benadering beslis word; waar die gepaste vonnis duidelik nie gevangenissetting insluit nie, moet ‘n gepaste vonnis op besluit word met inagneming van die belange van die kinders, en dan ook die beginsel van oorheersende belangrikheid reeds hierbo na verwys. Para [39] van die uitspraak maak dit egter duidelik dat:


........ a court must sentence an offender, albeit a primary caregiver, to prison if on the ordinary approach adopted in Zinn a custodial sentence is the proper punishment. The children will weigh as an independent factor to be placed on the sentencing scale only if there could be more than one appropriate sentence on the Zinn approach, one of which is a non-custodial sentence. For the rest, the approach merely requires a sentencing court to consider the situation of children when a custodial sentence is imposed and not to ignore them.


Para [35] kan ook met nut aangehaal word.


Thus, it is not the sentencing of the primary caregiver in and of itself that threatens to violate the interests of the children. It is the imposition of the sentence without paying appropriate attention to the need to have special regard for the children's interests that threatens to do so. The purpose of emphasising the duty of the sentencing court to acknowledge the interests of the children, then, is not to permit errant parents unreasonably to avoid appropriate punishment. Rather, it is to protect the innocent children as much as is reasonably possible in the circumstances from avoidable harm.


Op die feite van die saak, en in die lig van die voordele van korrektiewe toesig vroeër in hierdie uitspraak na verwys (met insluiting egter van die verdere voordeel dat herstelbetaling aan die beskuldigde se slagoffers as voorwaarde bygevoeg is), en ondanks die verswarende omstandighede van die saak, is deur die meerderheid van die Hof besluit dat korrektiewe toesig ingevolge a 276(1)(h) die aangewese vonnis was.


U, mev van Rooyen, is huidig 62 jaar oud, wat ook ‘n gevorderde leeftyd verteenwoordig. U vormingsjare kan in hoofsaak oor dieselfde kam as dié van Mev Bosch geskeer word, u synde haar suster. Volgens wat u aan die welsynbeampte, mev Wewers, oorgedra het was daar wel verskille in die wyse waarop u en beskuldigde 1 die gesinslewe ervaar het maar ek ag dit nie nodig om daarop uit te brei nie. U het gedurende 1964 vir die eerste keer in die huwelik getree. Drie kinders is uit die huwelik gebore. Aanvanklik was die huwelik gelukkig maar daarna, hoofsaaklik as gevolg van u man se misbruik van alkohol, het die huwelik tot ‘n mate verbrokkel hoewel julle nie uitmekaar gegaan het nie. Ongelukkig is u man daarna in ‘n skietongeluk oorlede. U was toe vyf maande swanger met u derde kind. Lede van u skoonfamilie het in die bres getree en u ondersteun, finansieel en emosioneel. U was verplig om na Pretoria te verhuis waar u aan huis by ‘n tante van u oorlede man gegaan het. U moes daarna na Port Elizabeth terugkeer om ‘n sieklike moeder to versorg en die twee oudste kinders het by die tante aangebly. Onder omstandighede wat nie uiteengesit hoef te word nie is gemelde kinders deur die tante aangeneem en het u kontak met hulle verloor, wat ‘n traumatiese tyd vir u gewees het. Eers nadat die derde kind skool begin het en die aangenome ouers oorlede is is u met die ander twee kinders herenig. Daar is nou ‘n hegte verband tussen julle. U tweede huwelik, met mnr van Rooyen, het gevolg drie jaar na die afsterwe van u eerste man. Dié huwelik het vir 27 jaar geduur en hoewel geen kinders gebore is nie was die verhouding ‘n stabiele een en u en u man was in staat om in die behoeftes van die gesin te voorsien. Gedurende 2007, terwyl die verhoor in hierdie saak aan die gang was, is u man, wat aan aggressiewe Alzheimers gely het, oorlede. Weens sy siekte kon hy u nie gedurende die verhoor emosioneel ondersteun nie en inderdaad was hy in ‘n ouetehuis opgeneem omdat u hom nie kon versorg nie (wat aanleiding tot ‘n aansienlike skuldgevoel aan u kant gegee het). Sedertdien is u by u dogter in Kaapstad woonagtig. U is aan die Pinksterkerk te Despatch verbonde en woon eredienste by wanneer u u in Port Elizabeth bevind. Op skool het u tot Graad 8 gevorder maar is verplig om die volgende jaar die skool te verlaat weens die slegte sosio-ekonomiese toestande wat tuis geheers het en u wou onafhanklik word. Oor die jare het u verskeie werkbetrekkinge aanvaar, en u nuttigheid as ‘n lid van die gemeenskap bewys. Vir die laaste sewe jaar van die bestaan van die besigheid wat Usapho oorgeneem het was u aldaar werksaam. Huidig is u werkloos en u enigste inkomste is ‘n maandelikse pensioen ten bedrae van R1 800,00 vanaf u man se voormalige werkgewer, plus ‘n sosiale pensioen van R350,00 per maand. Soos te verstane is sukkel u om kop bo water te hou en is u op die finansiële ondersteuning van u kinders aangewese. U self het nooit misbruik van alkohol of dwelms gemaak nie.


Wat berou aanbetref is dit so dat u op die bedrogaanklag onskuldig gepleit het. Maar soos in die hoofuitspraak gekonstateer, namate u getuienis in die verhoor gevorder het het u al toenemend ope kaarte gespeel en openhartigheid aan die dag gelê, dermate dat u ruiterlik u aandeel in die bedrog erken het. Aan die welsynbeampte het u oorgedra dat u verantwoordelikheid vir u rol aanvaar (hoewel u genoem het dat u nie volle kennis gedra het van die volle omvang van die bedrieglike aktiwiteite wat by u werksplek plaasgevind het nie) en dat u simpatiek jeens die slagoffers van die misdryf staan, vernaam die bejaarde persone wat verliese gely het. U het ook self só getuig. Daar is ook getuienis dat na die sekwestrasie van Usapho u u volle samewerking aan die polisie en Usapho se likwidateure verleen het. Onder die omstandighede, en in teenstelling met die ander beskuldigdes, is daar in u geval wel sprake van werklike berou, en dit stel versagting daar.


Een verdere spesifieke aspek moet aangeraak word. Mev Wewers het geboekstaaf dat een van die bronne wat sy geraadpleeg het haar meegedeel het dat hy inligting ontvang het dat u ‘n verslaafheid aan dobbel gedurende die tydperk wat die bedrog gepleeg is gehad het maar dat hy, die bron, nie bevestiging van die inligting kon verkry nie. Die aantyging is deur u ontken. Weliswaar is die aantyging tydens die verrigtinge geopper en wel deur mev Bosch terwyl sy ter versagting getuig het. Sy het daardeur gepoog om ‘n verontskuldigende verduideliking vir haar voor te hou deur aan te voer dat die beweerde dobbelaktiwiteite verband gehou het met onreëlmatighede wat in Usapho se besigheid sonder haar wete plaasgevind het. Die aantyging strook nie met die bevindings in die hoofuitspraak nie en ek volstaan deur op te merk dat dit geignoreer word.


U, mnr Terblanche, is tans 46 jaar oud. Luidens die verslag van dr Labuschagne, die forensiese kriminoloog wat u ge-evalueer het, het u nie besonder gelukkige óf ongelukkige herinnerings van u kinderdae nie. Dit is nie nodig om hierdie uitspraak te beswaar met ‘n verwysing na wat u aan dr Labuschagne oorgedra het oor bepaalde karaktertrekke van u ouers nie. Hulle is geskei toe u 20 jaar oud was maar dit is nie u herinnering dat die egskeiding met bakleiery tussen u ouers voorafgegaan is nie. Die familie het dit wel nie breed gehad nie maar het nie ‘n behoeftige bestaan gevoer nie. U skooloopbaan het in hoofsaak normaalweg verloop. Genoem kan word egter dat u op 3-jarige ouderdom met porfirie gediagnoseer is wat inbreuk op u buitemuurse aktiwiteite en sosiale verkeer as kind gemaak het. U self was voorheen getroud en is die vader van twee kinders, dogters van 17 en 12. Die verbrokkeling van die huwelik was ‘n traumatiese ervaring vir die hele gesin, en genoem kan word dat die bedroghofsaak ‘n bydraende faktor was. Dié kinders is in die sorg van u gewese vrou en die inligting voor my geplaas is dat u u onderhoudsverpligtinge teenoor die kinders ten bedrae van R8 000,00 per maand nougeset nakom en dat u altyd bereid is om addisioneel by te dra tot enige onvoorsiene uitgawes wat mag opduik. Die verhouding tussen u en die dogters is ‘n hegte een en besoek hulle u elke tweede naweek. U woning is ruim genoeg om voldoende huisvesting vir hulle aan te bied. Dat u vir hulle ‘n stabiele tweede tuiste geskep het is vir u belangrik. U gewese vrou het geen probleme met die wyse waarop u u rol as vader uitvoer nie. Die twee dogters verkeer onder spanning as gevolg van die hofsaak maar hul aanvaarding van u as vader en hul respek vir u bly behoue. U is weer verloof en die verhouding tussen u en u verloofde is ‘n stabiele een en deur wedersydse respek en liefde gekenmerk. Daar is geen aanduiding van enige verhoudingsprobleme tussen u verloofde en die kinders nie; inteendeel, hulle kom met mekaar goed oor die weg. U gewese vrou het aan die welsynbeampte gerapporteer dat die twee kinders emosioneel geaffekteer sal word indien u opgesluit word en sy voorsien dat sy self nie instaat sal wees om in hul behoeftes te voorsien nie. U was vroeër vir ‘n tydperk van ongeveer 20 jaar in hoofsaak aan die bankwese verbonde tot u bedanking by ABSA in Maart 2001 waar u die senior vlak van verhoudingsbestuurder behaal het. U bedryf huidig ‘n groothandelsbesigheid in Humansdorp saam met u voormalige mede-beskuldigde, mnr Swart. Die besigheid, wat voor u oorname daarvan in ernstige finansiële verknorsing verkeer het, is nou winsgewend en word op ‘n gesonde grondslag bedryf en u inkomste daaruit beloop ongeveer R20 000,00 per maand. U word beskryf as hardwerkend. Aan die welsynbeampte het u verklaar dat u nie volle vertroue het in u vennoot se vermoë om die besigheid te bestuur sou u opgesluit word nie en u personeel se finansiële sekuriteit mag geraak word. ‘n Nuttige lid van die gemeenskap is u derhalwe wel. U huidige gesondheid is nie na wense nie en u ly aan hoë bloeddruk, chroniese dikdermprobleme, hoë cholesterol en porfirie. Dié toestande word egter deur chroniese medikasie beheer. U toon geen psigiese afwykings nie maar u ly wel aan baie spanning as gevolg van die hofsaak wat tot slaapversteurings lei, waarvoor medikasie benodig word. Daar is geboekstaaf dat u ‘n geheelonthouer is.


Aan die welsynbeampte het u beken dat gedurende die tydperk waaroor die bedrogaanklag gegaan het u ABSA se bankprosedures en riglyne verbreek het maar, hoewel u hierdie Hof se bevindings teen u aanvaar en respekteer, u aangedui het dat u nie die basis waarop u aan bedrog skuldig bevind is kan begryp nie. U glo nie dat u u aan enige oneerlikheid skuldig gemaak het nie, en u houding is bloot dat u berou het en innig spyt is indien die erkende optrede aan u kant skade aan die slagoffers ten gevolg gehad het. Na die mening van die welsynbeampte aanvaar u nie verantwoordelikheid vir die betrokke misdryf nie en het u nie insig in u betrokkenheid daarby nie. In u geval is daar ook nie sprake van versagting in die vorm van berou nie.


U, mnr Visagie, is ook 46 jaar oud. U is reeds vir ‘n tydperk van ongeveer 20 jaar met u vrou getroud. Twee dogters is uit die huwelik gebore, 17 en 13 jaar oud. Die gesin word beskryf as ‘n aaneengeslote en gelukkige een. Dieselfde geld vir die gesin waarin u grootgeword het. Inderdaad, prof Louw, die kliniese sielkundige wat u ge-evalueer het, verklaar dat u kinderjare as ideaal beskou kan word. Uiteraard beleef u en u gesin die hofsaak as een van die mees angstige tydperke wat julle moes deurmaak en is dit emosioneel afbrekend, vernaam in die geval van die kinders. Op skool het u uitstekend presteer, op akademies, sport en leierskap gebiede, en was u ‘n werklike voorbeeld vir u medeleerders. U het ‘n B Com (Hons) graad op universiteit verwerf. Na ander vroeëre werksbetrekkinge het u u in die bankwese begeef. U het by ABSA tot takbestuurder van die Port Elizabethse hooftak gevorder, en in 2002 het u bedank. Huidig is u die bestuurder van ‘n dienssentrum, ‘n besigheid wat in Aliwal-Noord bedryf word. Die personeel bestaan uit 36 lede. Die besigheid is uitgebrei om ‘n eetplek in te sluit wat deur u vrou bestuur word. Fyftien gemeenskapslede is by haar werksaam. Die voortbestaan van die eetplek is afhanklik van die kontrak wat die dienssentrum met ‘n nasionale oliemaatskappy het. Gesamentlik verdien u en u vrou ‘n inkomste van R35 000,00 per maand. Godsdiens speel ‘n belangrike rol in die gesinslewe. U het geen gesondheidsprobleme nie. U speel ook ‘n rol in gemeenskapsbedrywighede. Weer eens moet gekonstateer word dat u as ‘n nuttige lid van die gemeenskap beskou moet word.


Wat betref berou aan u kant word in die korrektiewe dienste verslag verklaar dat u die bevinding van hierdie Hof aanvaar. So ook, verklaar die verslag van die welsynbeampte dat u die uitspraak van die Hof aanvaar en respekteer. Dit blyk egter dat hierdie opmerkings bloot aandui dat u aanvaar dat bepaalde bevindings deur my gemaak is. Die welsynbeampte verslag konstateer dat u genoem het dat u nie die geleentheid gehad het om te getuig nie en dat getuienis deur u die bevindings kon beïnvloed het en die ander verslag verklaar dat u nie “verantwoordelikheid vir die pleeg van die misdryf aanvaar nie”. Weer eens is dit ‘n geval waar daar nie sprake van versagting in die vorm van opregte berou is nie.


Die onderskeie vonnisse wat julle opgelê moet word word nou bespreek. Geriefshalwe, handel ek eers met u geval, mev van Rooyen.


Adv Stander het nie betoog dat in u geval die vereiste wesenlike en dwingende omstandighede nie teenwoordig was nie. Hy het aangevoer dat die vernaamste aspekte ter versagting in u geval is die berou wat u geopenbaar het, u kleiner aandeel in die pleeg van die misdryf en u gebrek aan kennis van Usapho se banksake. Hy het egter, met verwysing na die rol wat u in die pleging van die misdryf gespeel het, betoog dat u tóg gevangenisstraf opgelê moet word, en wel gevangenisstraf ingevolge a 276 (1)(i). Wat oorweeg moet word is die gepastheid van daardie vonnis in teenstelling met ‘n vonnis van korrektiewe toesig.


Twee voorvonnis verslae ten opsigte van u is aan my voorgelê. Die eerste verslag, opgestel deur ‘n maatskaplike werker, mev van Onselen, verbonde aan die Department Korrektiewe Dienste, handel met die evaluering van u geskiktheid om aan korrektiewe toesig onderwerp te word. Dié vraag is bevestigend deur haar beantwoord. Ek verwys in hierdie verband na die volgende faktore wat in die verslag genoem word. Huidig woon u by u dogter (die Staatsgetuie, mev Moore) in Durbanville in die Kaap, en u voorneme is dat hierdie reëling permanent sal wees. U betaal nie huur nie maar u help mev Moore vrywillig met die besigheid wat sy vanaf die woning bedryf, asook huistake. Dié woning is geleë in ‘n gebied waar die Gemeenskapskorreksies Kantoor te Bellville die nodige monitering sou waarneem. Die woning bied meer as voldoende leefruimte vir u en mev Moore. Laasgenoemde is bereid om u permanent te huisves en verantwoordelikheid vir u te aanvaar sou ’n vonnis van korrektiewe toesig opgelê word. Inderdaad, openbaar u kinders ‘n positiewe gesindheid jeens u en bied hulle ondersteuning vir u, en korrektiewe toesig sou die geleentheid bied vir die behoud van gesinsbande. Indien nodig sal hulle u ook finansieel bystaan. Die wenslike ondersteuning in familieverband sal derhalwe daar wees. ‘n Risikofaktor dat u weer die wet sal oortree gebaseer op die bestaan van vorige veroordelings is afwesig. U het baie goeie samewerking tydens die evaluering gebied en u verstaan en toon insig in die eise wat korrektiewe toesig sou stel. U is gewillig om onder huisarres geplaas te word (wat in elk geval nie problematies sal wees nie aangesien u meeste van u tyd by die huis deurbring). U voorsien ook nie ‘n probleem met die verrigting van gemeenskapsdiens nie aangesien u naweke geen formele verpligtinge het nie. (Ek meld egter dat in u geval gemeenskapsdiens nie noodwendig oor naweke verrig sal moet word nie). U is ook bereid om enige programme by te woon wat tot u groei sal bydra, wat ek opvat as ‘n aanduiding dat u u kant sal bybring ter verwesenliking van die rehabilitasie wat die programme wat gestipuleer mag word ten doel sal hê. Soos mev van Onselen dit gestel het, programbywoning vorm ‘n integrale deel van korrektiewe toesig aangesien dit ‘n impak het om verdere kriminaliteit te voorkom en beskikbare programme kan op doelgerigte wyse geïmplementeer word om u maatskaplike funksionering te verbeter en bevorder. Wat daarby aansluit is dat u geen sielkundige afwyking openbaar nie en ook nie misbruik van alkohol of dwelms maak nie. Die verslag van mev Potgieter, ‘n welsynbeampte, openbaar ook niks wat bevraagtekening van u geskiktheid om korrektiewe toesig te ondergaan regverdig nie.


Ek is egter genoop om die volgende te meld. Beide opstellers van die verslae het gewag daarvan gemaak dat die impak van die misdaad op die slagoffers en die erns van die saak by die vasstelling van u vonnis in aggeneem moet word. Uiteraard, ingevolge die beginsels vroeër in hierdie uitspraak uiteengesit, moet ek wel só maak. Mev Potgieter spreek selfs die mening uit dat genoemde faktore u persoonlike en maatskaplike omstandighede ver oortref. Dit is egter ‘n vraag wat deur my, en my alleen, beantwoord moet word.


Ek het reeds daarna verwys dat die misdryf ‘n enorme impak op die slagoffers gehad het en dat die misdryf ‘n ernstige een was. Ek moet egter u rol in die pleeg van die misdaad nader ontleed. Soos reeds gekonstateer, is die misdaad deur u oor ‘n uitgerekte tydperk gepleeg en die rol wat u gespeel het kan geensins as van ‘n mindere aard bestempel word nie. Inteendeel, kan bv klem daarop gelê word dat u betrek is by die onwettige voorskiet (inderdaad diefstal) deur mev Botha van ‘n aardige bedrag geld, meer as ‘n miljoen Rand, vanuit die tesourie by ABSA se tak by Die Brug vir die voordeel van Usapho. U het ook dwarsdeur 2000, op verskeie wyse, ‘n groot getal beleggers bedrieg deur hulle te oortuig dat ‘n belegging by Usapho veilig was, wat tot u wete ‘n valse stelling was, en hulle daardeur oorreed, tot hul nadeel, om beleggings by Usapho te plaas. Daarenteen moet ek aan die volgende aspekte gedagtig wees. U rol was kenbaar minder as dié van mev Bosch en mev Conway en het u bv nie deel aan die bestuur van Usapho gehad nie. U het ook nie spesifieke kennis van die omvang van die finansiële verknorsing waarin Usapho verkeer het gehad nie, en was u nie direk betrokke by die manier waarop Usapho se banksake bedryf is. Hoewel u persoonlikheid ‘n minsame een blyk te wees, en daar was wel getuienis dat u skakeldiens met beleggers van ‘n hoë gehalte was, kan ek nie anders nie as om te konstateer dat my eie waarneming van u openbaar dat u nie ‘n sterk of kragtige persoonlikheid het nie. In die besonder, sou dit nie opgewasse teen dié van mev Conway nie, en seer sekerlik nie dié van mev Bosch, gewees het nie. Vernaam laasgenoemde, soos ek in die hoofuitspraak genoem het, was uiters dominerend en baaspelerig, asook manipulerend, wie se woord wet was. U moes daardeur beïnvloed gewees het en soos u advokaat dit gestel het was u ‘n volgeling. Wat daarby aansluit is die bevinding in die hoofuitspraak dat u nie met ‘n hoë intelligensie geseën is nie. Wat u ook vasgevang het vanweë u huishoudelike omstandighede, was u behoefte aan die loon, skaars vorstelik soos dit was, wat u by Usapho verdien het. Hoewel ek versigtig is om dit nie te oorbeklemtoon nie aanvaar ek dat in ‘n mate u tóg deur omstandighede meegesleep is.


Die aard van u persoonlikheid raak ook ‘n ander faktor. Ek het reeds verwys na die strengheid van die gevangenismilieu. Ek is oortuig daarvan dat u kenbaar sou sukkel om daardie omstandighede te verwerk en daar bestaan ‘n wesenlike gevaar dat u die gevangenis sou verlaat ‘n gebroke persoon. U het inderdaad getuig dat die een nag wat u in aanhouding was nadat u gearresteer is ‘n “verskriklike nagmerrie” was. Gemelde gevolg sou in die belang van nóg u nóg die gemeenskap wees.


Aan die anderkant, sal ‘n vonnis van korrektiewe toesig die voordele, vir beide u en die gemeenskap, meebring waarna ek vroeër verwys het.


Wat betref die strafdoelwit van afskrikking glo ek dat die kanse dat u weer ‘n misdryf van oneerlikheid sal pleeg uiters skraal is. Die element van afkrikking sal derhalwe eerder die doelwit van waarskuwing aan andere moet dien en, soos vroeër uiteengesit, moet hierdie doelwit nie oorbeklemtoon word nie.


By ‘n oorsig van al die oorwegings in hierdie uitspraak bespreek is u na my oordeel nie ‘n persoon wat uit die gemeenskap verwyder behoort te word nie, en sal ‘n behoorlik ingeklede vonnis van korrektiewe toesig, wat werklike straf daarstel, nie die regspleging in diskrediet bring nie.


Die verskeie faktore in die voorafgaande bespreking genoem, saamgelees met u ander persoonlike omstandighede en die verdere versagtende omstandighede wat vroeër in hierdie uitspraak mee gehandel is, stel na my oordeel die vereiste wesenlike en dwingende omstandighede daar wat ‘n afwyking van die voorgeskrewe minimum vonnis van 15 jaar gevangenisstraf regverdig, en wel dermate dat in u geval ‘n vonnis van korrektiewe toesig die gepaste vonnis is.


n Konsepbevel is deur u advokaat aan my voorgelê vir oorweging. In hoofsaak was die bepalings daarin vervat aanvaarbaar maar ek is genoop om sekere wysigings daarvan aan te bring. Die bewoording van die korrektiewe toesig vonnis waarop ek besluit het word aan die einde van hierdie uitspraak uiteengesit. Ter verduideliking daarvan dat ‘n reeks landdrosdistrikte wat u nie sonder toestemming mag verlaat nie in die bevel genoem word verwys ek daarna dat u bystand aan u dogter in haar besigheid wat sy vanuit haar huis bedryf ook die aflewering van die fudge wat sy produseer aan klante wat oor die hele Kaapse skiereiland woonagtig is, behels. Die plek waar u die betrokke gemeenskapsdiens moet verrig is, so is ek deur adv Jurgens meegedeel, na aanleiding van telefoniese oorlegpleging tussen hom en die korrektiewe toesig beampte te Belville, op besluit.


Ek handel vervolgens met u, mnr Visagie. Daar is namens u betoog dat ‘n bewaringsvonnis om verskeie redes nie in u geval van pas sou wees nie en dat die aangewese vonnis een van twee alternatiewe is: (a) ‘n opgeskorte vonnis van gevangenistraf waar, benewens die gebruiklike voorwaarde rakende die pleeg van ‘n relevante misdryf in die toekoms, die verrig van gemeenskapdiens as ‘n bykomende voorwaarde bygevoeg kan word, of (b) korrektiewe toesig onderhewig aan bepaalde voorwaardes. Daar is gesteun op die getuienis van prof Louw die kliniese sielkundige wat u ge-evalueer het en ook ‘n verslag aan my voorgelê. In hoofsaak was sy getuienis ten effekte dat u nie gevangenismaterial is nie en dat ‘n gemeenskapsbaseerde vonnis beide u en die gemeenskap sal baat. Vir sover nodig handel ek hieronder met die getuienis van prof Louw.


Die eerste van bovermelde twee alternatiewe vonnisopsies moet onmiddelik uitgesluit word. Na my oordeel, wat ookal die aard van die gemeenskapsdiens wat gestipuleer sou word, sou sodanige vonnis in al die omstandighede totaal ontoereikend wees en sou dit seer sekerlik die regspleging in diskrediet bring.


Die vrae wat beantwoord moet word is of bevind kan word dat wesenlike en dwingende omstandighede teenwoordig is wat ‘n mindere vonnis as die voorgeskrewe minimum vonnis van 15 jaar gevangenisstraf regverdig. Indien wel, moet besluit word of ‘n mindere vonnis van gevangenisstraf, moontlik met ‘n gedeelte daarvan opgeskort, aangewese is, alternatiewelik, of hierdie ‘n gepaste geval is vir die oplegging van korrektiewe toesig onderhewig aan bepaalde voorwaardes.


Adv Stander, met verwysing na die beperkte rol wat u in die pleeg van die misdryf gespeel het (waarmee ek hieronder handel), het aanvaar dat die vereiste wesenlike en dwingende omstandighede teenwoordig is. Hy het egter aangevoer dat u rol tóg gevangenisstraf verdien en wel vir ‘n tydperk van 6 tot 8 jaar, gedeelte waarvan opgeskort kon word. Hy het derhalwe ‘n vonnis van korrektiewe toesig óf ‘n vonnis ingevolge a 276(1)(i) teengestaan.


Ek handel eers met die vraag of u ‘n geskikte kandidaat is om aan korrektiewe toesig onderwerp te word. Dié vraag word deur mev Whittaker, ‘n welsynbeampte aan die Departement Korrektiewe Dienste verbonde, wat u ge-evalueer het, bevestigend beantwoord. U huishoudelike omstandighede en finansiële status is reeds vroeër in hierdie uitspraak mee gehandel. Wat bygevoeg kan word is dat mev Whittaker konstateer dat u woonadres moniteerbaar is (en dieselfde sal geld ten opsigte van u werksadres). U het positiewe bystandsisteme binne gesinsverband. In u geval ook is ’n risikofaktor dat u weer die wet sal oortree gebaseer op die bestaan van vorige veroordelings afwesig en mev Whittaker het verder genoem dat streng kontrolemaatreëls saam met rehabilitasieprogramme sal bydra tot ‘n voorkoming van verdere oortredings. Implisiet in die verslag is dat u u samewerking tydens die evaluering verleen het en, tweedens, dat u positief ingestel is jeens alle voorwaardes wat gestel sou word; inderdaad, was dit die basis van die saak wat namens u aangevoer is. Ek het geen gronde om te betwyfel of die ware toedrag van sake daardeur weerspieel word nie. Weer eens aanvaar ek derhalwe dat u u kant sou bybring tot die verwesenliking van die rehabilitasie wat ‘n vonnis van korrektiewe toesig onder andere ten doel het. Die verdere opmerkings wat ek in hierdie verband vroeër ten opsigte van mev van Rooyen gemaak het is eweneens op u van toepassing U ook toon geen sielkundige afwykings nie en misbruik van alkohol of dwelms is nie ‘n faktor nie.


Weliswaar, is opregte berou aan u kant nie teenwoordig nie siende dat u nie strafregtelike verantwoordelikheid vir u optrede, wat ek bevind het bedrog daargestel het, aanvaar nie. Maar ek het reeds vroeër in hierdie uitspraak die houding geboekstaaf dat aanvaarding van gemelde verantwoordelikheid nie ‘n onontbeerlike vereiste vir die oplê van ‘n vonnis van korrektiewe toesig is nie. Daar is niks in óf die verslag óf die getuienis van prof Louw wat bevraagtekening van u geskiktheid om aan korrektiewe toesig onderwerp te word vereis nie.


Aan die anderkant moet ek weer eens gedagtig wees aan die erns van die misdryf en die impak daarvan op die slagoffers, ten opsigte waarvan ek reeds my siening geboekstaaf het. Wat nodig is is om u rol in die pleeg van die misdryf nader te betrag. Weer eens moet beklemtoon word dat die misdryf deur u oor ‘n uitgerekte tydperk gepleeg is en die rol wat u gespeel het kan geensins as van ‘n mindere aard bestempel word nie. Daarenteen moet die volgende aspekte genoem word. U rol in die direkte misleiding van beleggers was kenbaar aansienlik minder as dié van u mede-beskuldigdes. U rol in die misleiding van ABSA rakende die hantering en manipulering van die Clifford-groep se rekeninge is weliswaar verswaar deur die feit dat u as takbestuurder aan die hoof van die tak gestaan het en van u is verwag om eerder leiding te gee as om deel te neem aan van die betrokke handelings of hulle toe te laat. Maar aan die anderkant was die rol wat u gespeel het kenbaar minder van aard as dié van mnr Terblanche en van die slinkse en oorduidelik berekende bedrieglike optrede waaraan laasgenoemde hom skuldig gemaak het, soos bv die wisselruitery, kan u nie toegereken word nie. Ek noem ook dat daar geen getuienis is dat u persoonlik direk finansieel deur u optrede gebaat het nie, hoewel, soos in die hoofuitspraak uiteengesit, vanweë u eie belegging in Usapho en dié van instansies of familielede waarin u ‘n indirekte belang gehad het, u tóg ‘n belang in die voortbestaan van Usapho gehad het. Moontlik kan u optrede gedeeltelik toegeskryf word aan ‘n verdwaalde siening dat ABSA bevoordeel sou word deur die voortgesette behoud van die Clifford-groep se rekenings wat baie winsgewend vir ABSA was. ‘n Verdere faktor wat ek nie uit die oog verloor nie is dat die milieu in die bank, wat in ‘n mate verontagsaming deur verskeie bankamptenare van bepaalde bankreëls en prosedures behels het, ‘n bydraende faktor tot die pleeg van die misdryf kon gewees het. (Dié aspek word later meer breedvoerig gehandel wanneer die geval van mnr Terblanche bespreek word).


Die opmerkings vroeër gemaak toe ek die geval van mev van Rooyen behandel het rakende die voordeel van ‘n vonnis van korrektiewe toesig, die nastreef van die doelwit van afskrikking, die vraag of dit nodig is dat u uit die gemeenskap verwyder behoort te word, die vraag of ‘n vonnis van korrektiewe toesig die regspleging in diskrediet sal bring, en die aanpassing van die konsepbevel wat ingehandig is, is eweneens op u van toepassing. Wat laasgenoemde aspek aanbetref het die konsepbevel voorsiening gemaak vir gemeenskapsdiens vir 100 uur per maand. Na my oordeel egter sou hierdie ure buitensporig wees en wel om twee redes. Eerstens, sou dit opsigself ‘n las op u plaas wat te swaar is, en sou dit gelykstaande wees aan heelwat meer as ‘n helfte van ‘n voltydse betrekking. Ten tweede, sou dit ‘n ongevraagde en onaanvaarbare inbreuk maak op die tyd wat u aan u eie besigheidsbedrywighede moet bestee, met waarskynlike nadeel nie alleen vir u nie maar ook u gesin en u werknemers.


So ook, op dieselfde basis mutatis mutandis as met mev van Rooyen, bevind ek dat die vereiste wesenlike en dwingende omstandighede wat ‘n afwyking van die voorgeskrewe minimum vonnis regverdig teenwoordig is en wel dermate dat ‘n vonnis van korrektiewe toesig aangewese is.


Een laaste aspek moet aangeraak word, naamlik die aard en omvang van die gemeenskapsdiens wat u beveel moet word om te verrig. In sy verslag (wat hy in sy getuienis ondersteun het) het prof Louw onder andere soos volg opgemerk. Met die oog op die toepassing van die beginsel van herstellingsgeregtigheid (“restorative justice”) in u geval het hy kontak met mev van der Merwe, die kampusbestuurder van die Ikhala Public Further Education and Training College in Aliwal-Noord gemaak. Die kollege gee onderrig aan na-matriek leerders en ook leerders wat Graad 9 op skool gemaak het en aan bepaalde ander kriteriums voldoen. Prof Louw is onder andere meegedeel (a) dat die kollege so pas hul dosent in rekeningkunde verloor het, geen kandidate vir die betrekking beskikbaar is nie en studente word deur ‘n mede-student klas gegee; (b) dat ‘n herbergsaamheids– en toerismesentrum ter waarde van meer as R5 miljoen in die nuutste tyd by die kollege geopen is, wat met die korrekte leierskap en bestuur, waaraan die kollege ‘n behoefte het, ‘n sukses van gemaak kan word. Na prof Louw se mening is u by uitstek ‘n geskikte persoon om sig in die bres te stel. Dit sou dan ‘n tipiese geval wees waar ‘n persoon die gemeenskap kan vergoed op ‘n wyse waar ‘n “win-win” situasie behaal kan word. Hy het derhalwe aan die hand gedoen dat u beveel word om as dosent by die kollege klas te gee. ‘n Brief deur mev van der Merwe is ook tydens argument aan my voorgelê. Daarin brei sy volledig uit oor die aktiwiteite van die kollege wat ‘n Staatsinrigting is en wat deur die Departement Onderwys gesubsideer word. Sy bevestig die inligting wat deur prof Louw aan my oorgedra is. Sy verklaar haar bereidwilligheid om van u dienste gebruik te maak en meld dat u kundigheid van nut sal wees in die onderrig in vakke soos rekeningkunde, besigheidspraktyk en ondernemingskap, asook met die operasionele en finansiële beplanning en bestuur van die nuwe projek hierbo na verwys.


Ek gaan akkoord met die benadering van prof Louw en mev van der Merwe. Ek het egter aanvanklik bedenkinge gekoester oor die praktiese implementering van die beoogde gemeenskapdiens met verwysing na die monitering van die gehalte van u diens en die maatstawwe wat gebruik sou word. Prof Louw noem egter dat die kollege ‘n streng kontrole- en evalueringsisteem uitoefen en dat mev van der Merwe die owerhede onmiddelik sal ken in enige tekortkominge in u nakoming van u verpligtings. In hierdie verband lui mev van der Merwe se kommentaar as volg:


Teaching hour subscribed by the DoE is 25 contact hours minimum per week and 35 hours at the College per week. We control that with an attendance register signed morning and afternoon. That goes to the Admin Centre on a weekly basis.


We also have an IQMS (Integrated Quality Management System) in place where evaluation is done on a quarterly basis. The evaluation is done by the HOD (Head of Department) who is the Senior of the Lecturers”.


In die lig van bogenoemde het ek tot die slotsom geraak dat ‘n behoorlike sisteem in plek sal wees vir die effektiewe en doeltreffende monitering van die wyse waarop u die betrokke dienste verrig.


Die bewoording van die vonnis van korrektiewe toesig wat ek u oplê word aan die einde van hierdie uitspraak uiteengesit.


Ek handel nou met u geval, mev Bosch.


Weer eens is die eerste vraag wat opduik of wesenlike en dwingende omstandighede teenwoordig is wat afwyking van die voorgeskrewe minimum vonnis sou regverdig. Sou daardie vraag bevestigend beantwoord word sou die moontlike alternatiewe vonnisse weer eens wees gevangenisstraf vir ‘n mindere tydperk, ‘n gedeelte waarvan opgeskort kan word, gevangenisstraf ingevolge a 276 (1)(i) en korrektiewe toesig.


Adv Stander het dit onomwonde gestel dat hy nie die afwesigheid van wesenlike en dwingende omstandighede bepleit nie. Waarna hy spesifiek verwys het was u gevorderde ouderdom en die verlies van verskeie familielede. Hy het nogtans, met verwysing na bepaalde verswarende omstandighede wat u rol in die misdryf gekenmerk het, ‘n vonnis van gevangenisstraf vir tussen 10 tot 15 jaar bepleit.


Ek kan egter nie aanvaar dat die twee gemelde persoonlike omstandighede die enigste oorwegings is wat die kwessie of wesenlike en dwingende omstandighede teenwoordig is raak nie. Daar moet ook gekyk word na u ander persoonlike omstandighede en die versagtende omstandighede wat op u geval van toepassing is wat ek reeds vroeër in hierdie uitspraak mee gehandel het, al moet hulle teen die verswarende omstandighede geweeg word. Na my oordeel stel u persoonlike omstandighede en die versagtende omstandighede wel die vereiste wesenlike en dwingende omstandighede daar.


Adv Price, namens u, het, in ‘n volledige en breedvoerige betoog, ‘n ernstige pleidooi gelewer dat u ‘n nie-bewaringsvonnis opgelê moet word en dat ‘n gemeenskapsgebaseerde vonnis aan al die vereistes van die saak sal voldoen en ‘n behoorlike balans opmaak tussen die tersaaklike oorwegings en teenoorwegings. In die alternatief, sou ek tot die slotsom geraak dat langtermyn gevangenisstraf onvermybaar is, het hy aan die hand gedoen dat ek tóg die straf met genade temper en gevangenisstraf van nie meer as agt jaar oplê nie.


Adv Stander het, bloot as riglyn voorbeelde, onder andere die volgende sake aangehaal waar die aard van die misdrywe in ‘n mate soortgelyk was as dié in hierdie saak (wat, volledigheidshalwe genoem kan word, hy ook ten opsigte van die ander beskuldigdes ingeroep het):


(a) S v Blank supra waar die erns van die misdryf en die impak op die slagoffers minder was as in hierdie saak (‘n totale bedrag van R9,25 miljoen was betrokke) en ‘n vonnis van agt jaar gevangenisstraf deur die verhoorhof op ‘n beskuldigde wat skuldig gepleit het opgelê op appél bekragtig is. Op 74d-e verskyn die volgende:


I go so far as to say that in the circumstances of this case a fine coupled with community service, even if the rendering of such community service were to be made a condition of the suspension of a period of imprisonment, would not only fail to serve the interest of the community but would bring the system of the administration of justice into disrepute. Such a sentence would be unbalanced and too lenient. The game would still be worth the gamble.


(b) S v Assante 2003 (2) SACR 106 (SCA) waar ‘n 50-jarige geskeide vader van twee dogters met geen vorige veroordelings nie, wat goeie vordering by die bank gemaak het wat die slagoffer van 108 klagte van bedrog was waarby ‘n totale bedrag van R345 miljoen betrokke was (hoewel die uiteindelike kapitale verlies (rente uitgesluit) die bedrag van R127 miljoen was), en wat nie direk as gevolg van die bedrog gebaat het nie, teen die vonnis wat die verhoorhof opgelê het geappelleer het. Die beskuldigde het skuldig gepleit. Op elk van die klagtes is ‘n vonnis van 15 jaar gevangenisstraf opgelê wat, met een uitsondering, beveel is om saam te loop. In die een geval is beveel dat slegs ses jaar van die 15-jaar vonnis met die ander vonnisse saamloop. Die gevolg was dat die beskuldigde se effektiewe vonnis een van 24 jaar gevangenisstraf was. ‘n Appél teen die vonnis is afgewys. Daar is opgemerk dat op elk van 80 van die klagtes waar die betrokke bedrae R1 miljoen of meer was ‘n vonnis van 15 jaar gevangenisstraf nie met die erns van die misdrywe rekening sou gehou het nie, en dat die verhoorhof die aangeleentheid op ‘n billike wyse behandel het.


(c) ‘n Hele reeks ongerapporteerde beslissings in hierdie afdeling, asook beslissings in ander afdelings waar beskuldigdes skuldig gepleit het en skuldig bevind is aan diefstal van bedrae geld wat geensins vergelykbaar is met die bedrag wat in die huidige saak betrokke is. Vonnisse van middeltermyn en langtermyn gevangenisstraf is opgelê.


Met sy inroeping van bogemelde sake het die advokaat toegegee dat rekening gehou moet word met verskille in die persoonlike omstandighede van veroordeeldes, maar het hy aan die hand gedoen dat oor die algemeen moet vonnisse vir soortgelyke oortredings in ‘n groot mate konsekwent wees om te verhoed dat die gemeenskap sy vertroue in die regstelsel verloor. In hierdie verband het hy na bv S v Marx 1989 (1) SA 222 (A) verwys.


Ek gee dan aandag aan die rol wat u gespeel het. Na my oordeel staan dit vas, en dit is só in die hoofuitspraak weerspieël, dat u, wie aan die hoof van Usapho gestaan het, deurentyd dié leidende rol in die pleeg van die misdaad gespeel het. U het inderdaad berekend opgetree en daarin deurentyd volhard, nieteenstaande dat daar geen sprake daarvan was dat u in nypende nood of weens ‘n tekort aan lewensmiddele gehandel het nie. Wat beklemtoon kan word is dat u ‘n aktiewe rol in die manipulering van Usapho se bankrekening gespeel het insluitende die wisselruitery asook die verkryging van die aansienlike bedrag geld vanuit ABSA se tesourie waarna ek reeds verwys het. Dié faktore moet as ernstige verswarende omstandighede aangemerk word. Die oorduidelike erns van u misdryf, en die enorme impak daarvan op die slagoffers, moet in die vonnis wat ek oplê, weerspieël word. Daardie opmerking is uiteraard, ingevolge die verskeie beginsels vroeër uiteengesit, onderhewig aan ‘n balansering van gemelde faktore teen die ander relevante faktore, sodat individualisasie van vonnis behaal word.


Wat afskrikking aanbetref, aanvaar ek dat die kanse dat u weer ‘n oneerlikheidsmisdryf sal pleeg ietwat skraal is en die doelwit van afskrikking van u persoonlik kan slegs ‘n heel mindere rol speel in die vasstelling van die vonnis. Maar afskrikking van eendersdenkende persone teen die speel van leidende rolle in grootskaalse bedrieglike skemas moet tóg ‘n kenbare oorweging in die vasstelling van die vonnis wees. So ook, verg die erns van die misdryf en die enorme impak daarvan op die slagoffers kenbare erkenning van die element van vergelding. Daarenteen moet u persoonlike omstandighede en die versagtende omstandighede waarna ek vroeër verwys het geweeg word.


Die vereiste balanseringsoefening is deur my gedoen en wel met angstige oorweging van die gewig wat aan die verskeie kompeterende faktore geheg moet word. My gevolgtrekkinge word in die opvolgende paragrawe uiteengesit.


Die korrektiewe dienste verslag aan my voorgelê meld dat u houding dat u nie verantwoordelikheid vir enige bedrieglike optrede aanvaar nie u diskwalifiseer van oorweging van ‘n vonnis van korrektiewe toesig. Ek ag dit nie nodig om enigsins verdere aandag aan u geskiktheid, of die afwesigheid daarvan, as kandidaat vir daardie vonnis te oorweeg nie. Na my oordeel, kan nie anders bevind word nie as dat sodanige vonnis totaal ontoereikend sou wees. Ek is oortuig dat in die oë van regdenkende lede van die gemeenskap, wat behoorlik oor die tersaaklike feite ingelig is, so ‘n vonnis die regspleging in ernstige diskrediet sal bring. Dié vonnisopsie moet derhalwe uitgesluit word.


Dieselfde opmerkings geld ten opsigte van ‘n vonnis van gevangenisstraf ingevolge a 276(1)(i), al sou dit ‘n tydperk van gevangenissetting behels.


Ek gaan akkoord met die betoog dat u behoort vanaf die gemeenskap verwyder te word en dat langtermyn gevangenisstraf die enigste gepaste vonnis sal wees. Ek vertrou dat die vonnis waarop ek besluit het, wat aan die einde van hierdie uitspraak uiteengesit word, die nodige balans tussen die relevante faktore opmaak.


Die oorblywende aspek is u skuldigbevinding aan klagte 3, die diefstal van R30 000,00 by die klaer Simpson. Die skuldigbevinding is daarop gefundeer dat, met valse voorwendsels, u die R30 000,00 by Simpson bekom het terwyl u geen bedoeling gehad het om die bedrag terug te betaal nie en inderdaad geweet het dat u nie in staat sou wees om die terugbetaling te laat geskied. Soos reeds gekonstateer, was die oortreding ernstig van aard.


Die vasstelling van die vonnis op hierdie klagte moet egter rekening hou met die vonnis wat op klagte 1, die klagte van bedrog, gevel moet word en moet daar na die kumulatiewe effek van die vonnisse gekyk word.


Adv Stander het voorgestel dat ek hierdie klagte met die klagte van bedrog moet saamneem vir doeleindes van vonnis en een vonnis ten opsigte van beide misdrywe vasstel.


Ek stem saam dat dit nie van pas sou wees dat u verplig word om bykomende effektiewe gevangenisstraf uit te dien nie. Ek meen egter dat die verkieslike formule sou wees die vasstelling van ‘n aparte vonnis ten opsigte van die diefstal skuldigbevinding en ‘n bevel dat daardie vonnis met dié wat vir die bedrog skuldigbevinding opgelê word moet saamloop.


In u geval, mev Conway, duik dieselfde vrae op as dié wat van toepassing is op u moeder, beskuldigde 1. Ek ag dit nie nodig om hulle te herhaal nie. Ek verloor egter nie uit die oog nie dat hoewel julle sekere versagtende omstandighede in gemeen het, daar verskille is in jul persoonlike omstandighede en wel verskille van ‘n wesenlike aard, indersonderheid die feit dat, soos reeds vermeld, u die primêre versorger is van twee jong kinders. Ek keer later terug na hierdie belangrike aspek. Daar is ook verskille rakende die onderskeie rolle wat u en beskuldigde 1 in die pleeg van die misdaad gespeel het.


In u geval is twee deskundige verslae aan my voorgelê, naamlik deur mnr Breedt, ‘n kliniesesielkundige, en mev Paxton, ‘n kliniese maatskaplike werker, beide van wie ‘n voorvonnis evaluering van u onderneem het. Beide het ook voor my getuig.


Die standpunt wat deur adv Stander ingeneem is was dat, hoewel na die feit dat u twee jong kinders het waarvan u die primêre versorger is gekyk kan word ter beantwoording van die vraag of die vereiste wesenlike en dwingende omstandighede teenwoordig is, daar inderdaad aan die einde van die dag bevind moet word dat onvoldoende basis bestaan vir ‘n afwyking van die voorgeskrewe vonnis. Inteendeel, het hy ‘n selfs swaarder vonnis bepleit.


Om die redes wat hieronder sal blyk kan ek nie met daardie betoog akkoord gaan nie.


Die eerste aspek wat bespreking verg is die rol wat u in die pleeg van die misdaad gespeel het. Ek het reeds gekonstateer dat mev Bosch dié leidende rol in die uitvoering van die bedrieglike skema gespeel het. Maar ek het ook in die hoofuitspraak die bevinding gemaak dat u ‘n bestuurs- en besluitnemingsposisie by Usapho beklee het en luidens die getuienis het u inderdaad ook ‘n leidende rol in die bedrogspul gespeel, jeens beide die beleggers sowel as ABSA. En u ook het deurentyd berekend in u volgehoue optrede volhard (wat ook betrokkenheid by die wisselruitery en die verkryging van geld vanuit ABSA se tesourie behels het). Ook u het nie in nypende nood gehandel nie. Weer eens, soos in die geval van mev Bosch, stel hierdie faktore ernstige verswarende omstandighede daar.


Aan die anderkant moet die rol wat u gespeel het, hoewel ‘n leidende een, in die lig van die volgende faktore gesien word. Die hoof rolspeler was u moeder. Ek het vroeër in hierdie uitspraak, en meer breedvoerig in die hoofuitspraak, gehandel met u moeder se persoonlikheid. As ‘n saak van waarskynlikheid moes u deur daardie verwantskap en dominerende geaardheid beïnvloed gewees het. Dat u onder daardie invloed gehandel het merk ek as ‘n versagtende omstandigheid aan.


n Verdere oorweging moet genoem word. Daar is geen getuienis voor my geplaas dat, afgesien van u besoldiging en ander voordele wat u as werknemer van Usapho ontvang het, u enige finansiële voordeel van die bedrogspul gehad het nie. Inteendeel, het u uiteindelik finansieel gely. U het naamlik teenoor ABSA borg vir van Usapho se skulde gestaan en is u verplig om daardie borge gestand te doen nadat Usapho gesekwestreer is, en wel ten bedrae van ongeveer R900 000,00. Dit het uiteraard kenbare buite-regtelike straf daargestel.


Die opmerkings vroeër gemaak toe ek u moeder se geval bespreek het oor die volgende aspekte is eweneens mutatis mutandis op u van toepassing: die erns van die misdryf, die enorme impak daarvan op die slagoffers, die element van afskrikking (wat beide u en andere aanbetref), die element van vergelding en die nodigheid dat ek die vereiste balanseringsoefening moet aanpak.


Soos in die geval van mev Bosch, is ek tevrede dat as ek u persoonlike omstandighede asook die ander versagtende omstandighede wat vroeër in hierdie uitspraak uiteengesit is, behoorlik in oënskou neem en hulle teen die boosheid van u misdryf en die belange van die gemeenskap weeg, eersgenoemde tóg die vereiste wesenlike en dwingende omstandighede daarstel.


Adv van der Spuy, namens u, het ook ‘n ernstige pleidooi gelewer dat ek u nie ‘n bewaringsvonnis moet oplê nie maar wel ‘n gemeenskapsbaseerde vonnis in die vorm van korrektiewe toesig. Met inroeping van die verslag en getuienis van mev Paxton, is veral klem gelê op die belange van u twee jong kinders, en heel tereg. In hierdie verband verwys ek na die vroeër breedvoerige bespreking in hierdie uitspraak van die oorheersende belangrikheid van die belange van kinders in elke saak. Dit is met daardie aspek wat ek lank en angstig geworstel het. Daar is ook staatgemaak op die verdere getuienis van mev Paxton en mnr Breedt, wat saamgelees moet word. Onder andere is die mening uitgespreek ten effekte dat u nie gevangenismaterial is nie en is voorgehou dat om verskeie redes ‘n gemeenskapsbaseerde vonnis in die belang van beide u en die gemeenskap sou wees. In hoofsaak het die redes na u persoonlike omstandighede verwys saamgelees met die oorwegings en teenoorwegings wat die vonnisse van gevangenisstraf en korrektiewe toesig raak, aspekte wat ek reeds vroeër mee gehandel het. In navolging van die beginsels vroeër uiteengesit het ek ernstige oorweging aan hierdie opinies geskenk, en opgemerk kan word dat hoewel, soos adv Stander betoog het, die getuies op u belange gefokus het, kan nie bevind word dat die erns van die misdryf en die belange van die gemeenskap oor die hoof gesien is nie. Ek is egter genoop om die kommentaar te maak dat hoewel die getuies melding van laasgenoemde twee oorwegings gemaak het was hul klem inderdaad op die belange van u. In hierdie verband kan die volgende passasie in S v Lister 1993 (2) SA 228 (A) op 232 g-h aangehaal word.


I remain unpersuaded by the submission in counsel's heads of argument that the court should have adopted the opinion of Dr Sidley that a gaol sentence would undermine the treatment to which she would have to submit herself. Prison, one knows, is not a congenial place and the conditions may well be less than ideal for psychotherapy. But then, a prison is primarily an institution of punishment, not cure. As the Court a quo was at pains to point out, the approach of a sentencing officer is not the same as that of a psychiatrist. The sentencing officer takes account of all the recognised aims of sentencing including retribution; the psychiatrist is concerned with diagnosis and rehabilitation. To focus on the well-being of the accused at the expense of the other aims of sentencing, such as the interests of the community, is to distort the process and to produce, in all likelihood, a warped sentence.”


Soos reeds aangedui, is die feit dat u nie verantwoordelikheid vir u bedrieglike optrede aanvaar nie ‘n negatiewe faktor wat betref u geskiktheid om aan korrektiewe toesig onderwerp te word, hoewel nie ‘n deurslaggewende diskwalifiserende faktor nie. Ek aanvaar inderdaad, na aanleiding van die betrokke verslae aan my voorgelê, dat u wel ‘n geskikte kandidaat vir daardie vonnisopsie is. Die vraag is of sodanige vonnis in al die omstandighede gepas sou wees.


Die slotsom waartoe ek geraak het nadat ek die vereiste balanseringsoefening gedoen het is dieselfde as in die geval van mev Bosch: sodanige vonnis sou totaal ontoereikend wees en die oplegging daarvan sou die regspleging in diskrediet bring.


Weer eens geld dieselfde opmerkings ten opsigte van ‘n vonnis van gevangenisstraf ingevolge a 276(1)(i).


Weer eens is ek oortuig dat u behoort uit die gemeenskap verwyder te word en dat langtermyn gevangennistraf die enigste gepaste vonnis is, en weer eens vertrou ek dat die vonnis waarop ek besluit het, wat aan die einde van hierdie uitspraak uiteengesit word, die nodige balans tussen die relevante faktore opmaak.


Om na die belange van u kinders terug te keer. Weliswaar sal u gevangenissetting ten gevolg hê dat u kinders uit die sorg van die persoon wat huidig hul primêre versorger is geneem word. Maar soos reeds gekonstateer heers daar ‘n hegte verhouding tussen die kinders en hul vader, u gewese man, en my opvatting van die getuienis is dat aanvaar word dat sou u tronk toe gestuur word hulle in sy sorg geplaas sal word. Uiteraard sal die omstandighede van die kinders verskil van wat hulle tans is. Genoem kan word bv dat die vader werksaam is en dat hy nie dieselfde vrye tyd het as u tot dusver gehad het om aan die kinders te bestee nie. Ek is egter tevrede dat na die belange van die kinders bevredigend omgesien sal word.


Die vrae wat beantwoord moet word by die vasstelling van u vonnis, mnr Terblanche, is dieselfde as die wat ek reeds mee gehandel het by die benadering tot die vasstelling van die vonnisse van beskuldigdes 1 en 2. Weer eens, hoewel daar versagtende omstandighede is wat u met hulle in gemeen het is u persoonlike omstandighede verskillend, en ook is daar versagtende omstandighede wat spesifiek u raak, en daarmee moet ek rekening hou.


Weer eens het adv Stander die houding ingeneem dat wat ookal u persoonlike omstandighede is en wat ookal die versagtende omstandighede wat in u geval geld, die vereiste wesenlike en dwingende omstandighede vir ‘n afwyking van die voorgeskrewe minimum vonnis nie teenwoordig is nie; inteendeel, is ‘n selfs swaarder vonnis van pas.


Weer eens om die redes wat hieronder sal blyk gaan ek nie met daardie betoog akkoord nie. Na my oordeel stel u persoonlike omstandighede en die versagtende omstandighede wat in u geval van toepassing is, geweeg teen die erns van die misdryf en die belange van die gemeenskap, die vereiste wesenlike en dwingende omstandighede daar.


U ook het ‘n leidende rol in die bedrogspul gespeel, jeens beide beleggers sowel as ABSA. U het ook deurentyd berekend in u volgehoue optrede volhard. Inderdaad, was u die brein agter en die aanstigter van die manipulering van Usapho se bankrekeninge by ABSA wat op grootskaal en in verskeie vorms uitgevoer is, insluitende die wisselruitery. En nie alleen het u direk ‘n aansienlike getal beleggers bedrieg deur aan hulle valse gerusstelling te gee oor die veiligheid van ‘n belegging by Usapho nie, maar u het ook Usapho van valse skrywes oor sy finansiële status en die wyse waarop sy bankrekening bedryf word voorsien, welke skrywes met u medewete aangewend is om beleggers gerus te stel en te bedrieg. Weer eens stel hierdie faktore ernstige verswaring daar.


Aan die anderkant moet bepaalde bykomende versagtende omstandighede genoem word. Eerstens, daar is geen aanvaarbare getuienis dat u persoonlik enige finansiële voordeel van die bedrogspul gehad het nie. Soos in die geval van mnr Visagie is dit moontlik dat u optrede toegeskryf kan word aan ‘n verdwaalde siening dat ABSA bevoordeel sou word deur die voortgesette behoud van die Clifford-Groep se rekenings wat vir ABSA baie winsgewend was.


Ten tweede, verloor ek weer eens nie uit die oog nie dat, soos u ook getuig het, die milieu in die bank, wat in ‘n mate verontagsaming van bepaalde bankreëls en prosedures behels het, u gemoedstoestand beïnvloed het en tot van u optrede bygedra het. Ek moet egter nader aandag skenk aan sekere opmerkings wat deur dr Labuschagne, ‘n forensiese kriminoloog, wat ‘n voorvonnis evaluering van u gedoen het en ‘n verslag aan my voorgelê, gemaak is. Ek noem as voorbeeld die volgende. Onder die opskrif “Die Leerteorie” verklaar sy in haar verslag onder andere die volgende:


Te dikwels glo uitvoerende amptenare dat oneerlikheid of misleiding in die beste belang van die maatskappy, die organisasie of selfs die land is:

....in business, whatever is normal is ethical. It may not be legal but from a business standpoint, if it is normal practice, it is ethical” (Bartol, 1995: 302).


Uiteraard, onnodig om te sê, kan so ‘n houding nie onderskryf word nie. ‘n Onwettige praktyk kan eenvoudig nie ‘n etiese een wees nie, hoe “normaal” die praktyk ookal mag wees. En vir sover enige werknemer, u inkluis, daardie benadering handhaaf is hy die spoor ernstig byster. En in elk geval kan die milieu waarna ek hierbo verwys het as versagtende omstandighede nie enigsins hoog aangeslaan word nie. Weliswaar is van die bankreëls en prosedures deur ander bankamptenare verontagsaam, en wel in verband met die Clifford-groep se rekenings, en dit is ook so dat ABSA en sy streekkredietafdeling bewus geword het van van die onreëlmatighede waaraan u u skuldig gemaak het en hoewel daar deurentyd daarop aangedring is dat u die onreëlmatighede in die reine stel het hulle, soos dit tydens die verhoor gestel is tot op ‘n laat stadium, in sekere opsigte, “geblaf maar nie gebyt nie”. Maar hierdie opmerkings is slegs van toepassing op van u optrede en, weer eens onnodig om te sê, is die volgehoue misleiding van ABSA en die bedrog teenoor hom waaraan u u skuldig gemaak het ‘n perd van ‘n heeltemaal ander kleur. Weer eens kan na Guntenhöner gekyk word waar, op 648h, soos volg verklaar is:


Counsel for the accused has referred to what he submits is inadequate control at the bank. The manager has pointed out that in the last resort it is inevitable that a bank would have to rely upon the honesty and integrity of employees at the bank and particularly of staff at managerial level. Even if there was lax control it was nevertheless the accused's duty to monitor this, not to take advantage of it, and in fact to report Shefer's activities.


Ten derde, ‘n faktor wat by die tweede een aansluit, is dat die getuienis geopenbaar het dat mev Bosch ‘n veeleisende klient was wat u onder groot druk geplaas het en ek aanvaar dat ook u, wie as ‘n introvert beskryf is, tot ‘n mate deur haar gedomineer is. Begrip vir menslike swakhede kom hier na vore.


Ten vierde, by oorweging van die gepastheid van gevangenisstraf moet ek nie die volgende faktore uit die oog verloor nie:


(a) Die feit dat u nie u besigheidsbedrywighede sal kan voortsit nie sal ‘n ernstige knou vir u wees.


  1. Terseldetyd sal die finansiële sekuriteit van die besigheid se werknemers (50 in getal waarvan 10 permanente werkers en die res tydelik) op risiko wees.


  1. Daarbenewens, en heel belangrik, sal u vermoë om u twee kinders te onderhou in die gedrang kom en dit, tesame met die verwydering van die vaderfiguur in hul lewens, sou weer eens die beginsel van die oorheersende belangrikheid van ‘n kind se beste belange in elke saak rakende die kind, waarmee ek reeds vroeër breedvoerig mee gehandel het, in die spel bring.


n Spesifieke aspek wat mnr du Toit geopper het was die nodigheid dat u ‘n bepaalde medikasieregime moet volg en het hy betoog dat sou sake in dié verband in die tronk skeefloop, veral ten opsigte van die porfirie waaraan u ly, dit ernstige nagevolge vir u kan inhou. Die antwoord is egter dat reëlings getref kan, en moet, word ten einde te verseker dat u die nodige medikasie ontvang en, indien nodig, sou u die hof kan nader vir ‘n gepaste bevel. Vgl S v Mabutho 2005 (1) SACR 485 (W).


Ook mnr du Toit, namens u, het ‘n nie-bewaringsvonnis bepleit en wel ‘n vonnis van korrektiewe toesig, en veral klem op u persoonlike omstandighede gelê en in hierdie verband sterk gesteun het op die getuienis van dr Labuschagne.


Die opmerkings wat ek vroeër ten opsigte van die benadering van mev Paxton en mnr Breedt gemaak het toe ek mev Conway se geval bespreek het is ook op die getuienis van dr Labuschagne van toepassing.


Die opmerkings wat ek ten opsigte van beskuldigdes 1 en 2 gemaak het oor die gepastheid van ‘n korrektiewe toesig vonnis is egter eweneens op u van toepassing en is die slotsom waartoe ek geraak het dieselfde as in hulle geval. So ook, my gevolgtrekking rakende ‘n vonnis van gevangenisstraf ingevolge a 276 (1)(i).


Weer eens, en op dieselfde benadering as in die gevalle van beskuldigdes 1 en 2, is ek oortuig dat slegs ‘n vonnis van langtermyn gevangenisstraf van pas is.


Gevolglik word die beskuldigdes soos in die paragrawe wat volg uiteengesit gevonnis.




Beskuldigde 1:


Op klagte 1: Twaalf (12) jaar gevangenisstraf.

Op klagte 2: Twee (2) jaar gevangenisstraf, wat met die vonnis op klagte 1 sal saamloop.


Beskuldigde 2:


Tien (10) jaar gevangenisstraf.


Beskuldigde 3:


1. Drie (3) jaar gevangenisstraf wat in die geheel opgeskort word vir ‘n tydperk van vyf (5) jaar op voorwaarde:


    1. dat die beskuldigde nie skuldig bevind word aan bedrog of diefstal of ‘n poging daartoe wat gedurende die tydperk van opskorting gepleeg word en ten opsigte waarvan sy tot onopgeskorte gevangenisstraf sonder die keuse van ‘n boete gevonnis word nie;


    1. dat die beskuldigde die bepalings van die bevel in paragraaf 2 uiteengesit stiptelik nakom;


2. Die beskuldigde word onder korrektiewe toesig ingevolge artikel 276(1)(h) van die Strafproseswet 51 van 1977 vir ‘n tydperk van drie (3) jaar geplaas, onderhewig aan die volgende bepalings:


(a) Die beskuldigde sal onder huisarres wees te Wilgerstraat 13, Amanda Glen, Durbanville onder die toesig van die Kommissaris van Korrektiewe Dienste (hierna “die Kommissaris” genoem) tussen die ure vanaf 18h00 tot 06h00 sewe (7) dae ‘n week vir die volle duur van die korrektiewe toesig: met dien verstande dat die Kommissaris gemagtig word om die ure en termyn van die huisarres op te skort óf te verminder óf ‘n opgeskorte of verminderde gedeelte her in te stel afhangende van die beskuldigde se omstandighede, haar volgehoue nakoming van die voorwaardes ten opsigte van die korrektiewe toesig gestel, haar samewerking met die departement Korrektiewe Dienste en die mate waarin sy toon dat sy vertrouenswaardig is;


(b) Die beskuldigde sal nie haar woonadres sonder vooraf goedkeuring deur die Kommissaris verander nie;


(c) Die beskuldigde sal nie die gebied van die landdrosdistrikte van Bellville / Goodwood / Kaapstad / Wynberg / Simonstad / Mitchell’s Plain / Kuilsrivier / Paarl / Stellenbosch / Strand / Somerset-wes sonder vooraf goedkeuring deur die Kommissaris verlaat nie.


(d) Die beskuldigde sal vir twintig (20) ure per maand, op tye soos deur die Kommissaris bepaal, vir die volle duur van die korrektiewe toesig, gratis gemeenskapsdiens by Huis Olivier, Durbanville verrig deur skoonmaak- en algemene instandhoudingswerk te doen onder die toesig van die hoof van Huis Olivier: met dien verstande dat die Kommissaris gemagtig word om die aantal ure van gemeenskapsdiens te verminder óf te vermeerder afhangende van dieselfde oorwegings as in paragraaf (a) hierbo vermeld en/of waar verdienstelik die aard en plek van die gemeenskapsdiens te verander.


(e) Die beskuldigde sal ‘n oriënterings- en lewensvaardigheidsprogram, of ander program of programme, bywoon soos deur die Korrektiewe Toesig en Paroolraad bepaal.


(f) Die beskuldigde sal haar weerhou van alkoholmisbruik of die gebruik van dwelmmiddels anders as op voorskrif van ‘n mediese praktisyn.


  1. Die Kommissaris sal toesien dat bogemelde voorwaardes nagekom word en dat by verbreking daarvan ooreenkomstig artikel 70 van die Wet op Korrektiewe Dienste 111 van 1998 opgetree word.


  1. Die beskuldigde sal voor of op 6 Maart 2009 by die kantoor van Gemeenskapskorreksies, Departement van Korrektiewe Dienste, Belville aanmeld.


Beskuldigde 4:


Tien (10) jaar gevangenisstraf.


Beskuldigde 6:


1. Drie (3) jaar gevangenisstraf wat in die geheel opgeskort word vir ‘n tydperk van vyf (5) jaar op voorwaarde:


    1. dat die beskuldigde nie skuldig bevind word aan bedrog of diefstal of ‘n poging daartoe wat gedurende die tydperk van opskorting gepleeg word en ten opsigte waarvan hy tot onopgeskorte gevangenisstraf sonder die keuse van ‘n boete gevonnis word nie.


    1. dat die beskuldigde die bepalings van die bevel in paragraaf 2 uiteengesit stiptelik nakom.


  1. Die beskuldigde word onder korrektiewe toesig ingevolge artikel 276(1)(h) van die Strafproseswet 51 van 1977 vir ‘n tydperk van drie (3) jaar geplaas onderhewig aan die volgende bepalings:


        1. Die beskuldigde sal onder huisarres wees te 90A Smithstraat, Aliwal-Noord onder die toesig van die Kommissaris van Korrektiewe Dienste (hierna “die Kommissaris” genoem) tussen die ure van 20h00 tot 06h00 sewe (7) dae ‘n week vir die volle duur van die korrektiewe toesig: met dien verstande dat die Kommissaris gemagtig word om die ure en die termyn van die huisarres op te skort óf te verminder óf ‘n opgeskorte of verminderde gedeelte her in te stel afhangende van die beskuldigde se omstandighede, sy volgehoue nakoming van die voorwaardes ten opsigte van die korrektiewe toesig gestel, sy samewerking met die Departement Korrektiewe Dienste en die mate waarin hy toon dat hy vertrouenswaardig is;


        1. Die beskuldigde sal nie sy woonadres sonder vooraf goedkeuring deur die Kommissaris verander nie;


        1. Die beskuldigde sal nie die landdrosdistrik van Aliwal-Noord sonder vooraf goedkeuring deur die Kommissaris verlaat nie;


        1. Die beskuldigde sal gratis gemeenskapsdiens by die Ikhala Public Further Education and Training College (hierna “Ikhala” genoem) te Somersetstraat, Aliwal-Noord verrig. Die gemeenskapsdiens sal gedurende die jaar 2009 verrig word, en wel as volg:


      1. onderrigs- en aanverwante dienste onder die toesig van die departementshoof, vir vier (4) ure per week gedurende die kollegekwartale;


      1. administratiewe dienste onder die toesig van die kampusbestuurder van Ikhala vir twee (2) ure per week.


Die dienste en die dae en tye waarop hulle verrig word sal in oorleg tussen die kampusbestuurder en die Kommissaris bepaal word: met dien verstande dat die Kommissaris gemagtig word om die aantal ure van gemeenskapdiens te verminder óf te vermeerder afhangende van dieselfde oorwegings as in paragraaf (a) hierbo vermeld en/of waar verdienstelik die aard en plek van die gemeenskapsdiens te verander.


    1. Die beskuldigde sal hom weerhou van alkoholmisbruik en die gebruik van dwelmmiddels anders as op voorskrif van ‘n mediese praktisyn.


  1. Die Kommissaris sal toesien dat bogemelde voorwaardes nagekom word en dat by verbreking daarvan ooreenkomstig artikel 70 van die Wet op Korrektiewe Dienste 111 van 1998 opgetree word.


  1. Die beskuldigde sal voor of op 6 Maart 2009 by die kantoor van Gemeenskapskorreksies, Departement Korrektiewe Dienste, Aliwal-Noord aanmeld.







_________________

F KROON

Regter van die Hooggeregshof

3 Maart 2009




Namens die Staat: Adv M Stander



Namens die Verdediging:

Beskuldigde 1 Adv T Price

Beskuldigde 2 Adv J van der Spuy

Beskuldigde 3 Adv W Jurgens

Beskuldigde 4 Mnr N du Toit

Beskuldigde 6 Adv J Wessels & Adv van Rooyen