South Africa: High Courts - Eastern Cape

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: High Courts - Eastern Cape >> 2008 >> [2008] ZAECHC 48

| Noteup | LawCite

S v Mduma (176/07) [2008] ZAECHC 48 (10 April 2008)

Download original files

PDF format

RTF format

Bookmark/Share this page

Bookmark and Share

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(OOS-KAAPSE PLAASLIKE AFDELING)

SAAK NR: 176/07

DATUM GELEWER:

IN DIE SAAK TUSSEN:


BENEDICT MDUMA APPELLANT


EN


DIE STAAT RESPONDENT


UITSPRAAK

LIEBENBERG, R:


[1] Die appellant, as beskuldigde 2, het saam met sy broer, Leon Mduma (Beskuldigde 1) in die streekhof Uitenhage tereg gestaan op in aanklag van moord. Beide is skuldig bevind en die appellant is tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis terwyl Beskuldige 1 tot 18 jaar gevangenisstraf gevonnis is. Die appellant kom nou in hoër beroep teen sy skuldigbevinding en vonnis.


[2] Voor ons het Mnr Schoonraad aangedui dat die appél teen die vonnis laat vaar word. Dit is derhalwe slegs nodig om met die appél teen die skuldigbevinding te handel.


[3] Vir die staat het Esmerelda Matabiele, Michael Jansen, N. Mkana en konstabel de Villiers getuig. Sekere erkenings is deur die verdediging gemaak met betrekking tot die identiteit van die oorledene en die oorsaak van dood. Die post mortem verslag is ook ingehandig en die korrektheid van die inhoud daarvan erken. Laastens is sekere fotos wat deur die polisie van die toneel waar die oorledene se liggaam gevind was, geneem het, ook ingehandig en die korrektheid daarvan asook die sleutel daartoe is erken.


[4] Volgens die onbewiste getuienis van Esmerelda en Michael was hulle saam met die oorledene op pad na Esmerelda se ouerhuis. Beide Esmerelda en Michael was onder die invloed van drank. Volgens Esmerelda was sy self dronk en alhoewel hy nie die woord “dronk” gebruik nie moet uit die getuienis van Michael afgelei word dat hy in dieselfde toestand was. Op pad het hulle by die huis van Beskuldigde 1 verby geloop waar die oorledene met Beskuldigde 1 in gesprek geraak het. Esmerelda en Michael het die oorledene daar agter gelaat en aangestap tot by haar ouerhuis. Tussen die huis van Beskuldigde 1 en Esmerelda se ouerhuis is daar drie ander huise geleë.


[5] By haar ouerhuis het Esmerelda en Michael vir die oorledene gewag terwyl hy met Beskuldigde 1 staan en praat het. Op ʼn stadium het Michael vir die oorledene geroep wat toe vanaf Beskuldigde 1 gekom het tot waar Esmerelda en Michael gewag het.


[6] Tot op hierdie stadium is daar geen dispuut met die getuienis nie.


[7] Volgens Esmerelda en Michael het die appellant en Beskuldigde 1 vanuit die rigting van laasgenoemde se huis aangehardloop gekom na waar hulle en die oorledene by Esmerelda se ouerhuis gestaan het. Albei het getuig dat een van die beskuldigdes ʼn kapmes en die ander ʼn mes in sy besit gehad het. Michael en die oorledene het in die perseel van Esmerelda se ouerhuis inbeweeg en toe oor ʼn heining gespring en gehardloop. Die twee beskuldigdes het nie die perseel betree nie maar om die hoek van die perseel beweeg in die straat in waarin die twee voortvlugtendes gehardloop het.


[8] Volgens Michael het hy en die oorledene gehardloop en is hulle deur die beskuldigdes agtergevolg. Op ʼn stadium het Michael en die oorledene in verskillende rigtings gegaan. Michael het toe na sy huis gehardloop en het gaan slaap. Die volgende oggend is hy wakker gemaak en het hy verneem dat die oorledene oorlede is.


[9] Esmerelda het getuig dat toe die beskuldigdes daar aankom met die wapens en die twee mans wat by haar was begin jaag, het sy eers haar ouers wakkers geklop en daarna het sy gaan kyk waar Michael (ook bekend as Uys) en die oorledene is. By ʼn wit huis by ʼn vlak kry sy die oorledene teen die muur sit. Oorledene het van haar verneem waar Michael is en aan haar gesê dat hy, oorledene, doodgaan. Sy is toe na die polisie om te rapporteer en is daarna na oorledene se moeder toe. Toe sy daarna terugkeer na waar die oorledene was, was hy nie meer daar nie. Sy kry hom toe by ʼn ander huis in die omgewing lê.


[10] Die getuienis van Mkana maak geen nuttige bydrae tot die saak nie. Hy getuig van “ʼn persoon” wat in die nag by sy huis aangekom het en hom wakker geklop het en ook ʼn ruit van sy huis gebreek het. Hy het na die persoon gegaan wat buite sy huis gesit het. Die persoon het water gevra wat hy aan die persoon gegee het. Die persoon is daar buite sy huis oorlede. Op grond van sy identifisering van die fotos wat as bewysstukke ingehandig is en die sleutel tot die fotos wat as korrek erken was, kan afgelei word dat die persoon wat by die getuie se huis gesterf het die oorledene was.


[11] Konstabel de Villiers het getuig dat hy vir Beskuldigde 1 en die appellant gedurende die oggend van 25 Desember 2004 by beskuldigde 1 se huis arresteer het waar hulle nog beide lê en slaap het. Hy het ook beslag gelê op die klere van Beskuldigde 1 wat vol bloed was. Beskuldigde 1 het ook ʼn wond gehad op sy linkerwang. Dit blyk dat hy nie beslag gelê het op enige klere van die appellant nie omdat daar nie bloed op sy klere was nie.


[12] Na sluiting van die staat se saak het die verdediging namens beide beskuldigdes aansoek vir hulle ontslag gedoen, maar dit is van die hand gewys. Hierna het Beskuldigde 1 sy saak gesluit sonder om te getuig of om enige ander getuienis aan te bied. Die appellant self het getuig.


[13] Volgens appellant was hy by die huis gedurende die vroeë oggendure op die betrokke dag, waar hy geslaap het. Beskuldigde 1 het hom daar wakker gemaak en hom meegedeel dat hy aangerand was. Hy het ook ʼn wond op sy wang gehad. Die appellant het toe saam met Beskuldigde 1 gestap, maar op ʼn stadium het hy omgedraai en in die huis van Beskuldigde 1 gaan slaap. Toe hy omdraai het Beskuldigde 1 voortgegaan en mense gejaag. Hy self het dit nie gesien nie, maar is so deur Beskuldigde 1 meegedeel. Onder kruisverhoor het appellant verder getuig dat, toe Beskuldigde 1 hom wakker gemaak het, hy vir appellant meegedeel het dat die mense wat hom beseer het by die buurmense se huis was. Hy getuig dat hy toe saam met Beskuldigde 1 gestap het om te gaan kyk wat aangaan. Op pad het hy egter besluit dat hy te oud is om in sulke dinge betrokke te raak en het hy omgedraai. Vanaf die klagstaat blyk dit dat appellant ten tye van die voorval 47 jaar oud was.


[14] Die appellant ontken dat hy die oorledene en Michael gejaag het, dat hy ʼn wapen by hom gehad het en dat hy betrokke was by enige aanranding op mense.


[15] In sy uitspraak het die landdros bevind dat daar nie die geringste twyfel bestaan dat die persone wat die oorledene agtervolg het hom uiteindelik ingehaal en gedood het nie en verder dat die persone die bedoeling gehad het om hom te dood en met gemeenskaplike doel opgetree het nie. Die landdros het die getuienis van die appellant, dat hy omgedraai het, as vals verwerp. Hierdie verwerping van die appeallnt se getuienis baseer die landdros daarop dat Esmerelda en Michael vir die appellant in die teenwoordigheid van Beskuldige 1 gesien het en dat hulle op die hakke van die oorledene en Michael Jansen was. Ten slotte sê die landdros dat indien die getuienis van die appellant waar is hy nie enige manier kan vind hoe Esmerelda em Michael bewus kon gewees het van die teenwoordigheid van die appellant nie.

[16] Na my oordeel kan die benadering wat die landdros gevolg het nie ondersteun word nie en het hy daarmee fouteer.

[17] Die landdros bevind wel dat daar gebreke in die staat se getuienis was, maar na my oordeel het hy nie voldoende gewig aan die gebreke gegee nie.


[17.1] Soos reeds gemeld, was beide Esmerelda en Michael dronk. Dit moes ʼn aanmerklike effek op hulle waarnemingsvermoë en hulle geheue gehad het.


[17.2] Daar is weerspreking in die getuienis wat die betroubaarheid daarvan raak. Ek meld twee. Esmerelda getuig dat hulle nie voor die voorval by ʼn taverne was waar hulle gedrink het nie. Michael getuig dat hulle wel by een was en gee besonderhede van die taverne en hulle besoek daar. Hierdie weerspreking toon aan òf dat Esmerelda leuens vertel òf dat sy so dronk was dat sy nie so ʼn pertinente voorval kan onthou. In albei gevalle doen dit afbreuk aan die betroubaarheid van haar getuienis. Dit is opmerklik dat beide hierdie getuies getuig dat die twee aanvallers ʼn kapsabel en ʼn mes in hulle besit gehad het, maar nie een van die twee kan sê watter van die wapens elk van die aanvallers in sy besit gehad het nie. Michael weerspreek hom ernstig in die verband deur onder kruisverhoor dit pertinent te stel dat die appellant die mes gehad het, maar daarna weer sy getuienis te verander.


[17.3] Dit is duidelik uit beide Esmerelda en Michael se getuienis dat die laaste geleentheid waarop hulle die twee aanvallers gesien het op ʼn baie vroeë stadium van die agtervolging was. In die geval van Esmerelda was dit toe hulle om die hoek van die straat sou gegaan het en in die geval van Michael blyk dit te wees toe hy en die oorledene in die perseel van Esmerelda se ouers ingehardloop het. Nie een van hulle sal kan sê of die appellant nie op ʼn vroeër stadium omgedraai het nie.


[17.4] Oor wat met die oorledene gebeur het nadat Esmerelda en Michael die aanvallers die laaste keer gesien het, is daar geen getuienis nie. Daar is geen direkte getuienis van wat gebeur het toe die oorledene aangerand is nie, wie teenwoordig was ten tyde daarvan nie en wie verantwoordelik was vir sy wonde nie. Daar is derhalwe ʼn gaping in die getuienis oor ʼn redelike geruime tyd in die gebeure wat die aanval op die oorledene insluit. Dit was vir die landdros nodig om, soos hy wel gedoen het, afleidings uit die res van die getuienis te maak met betrekking tot wat gedurende hierdie periode gebeur het.


[18] Vir die landdros om die afleiding te maak dat die appellant die oorledene end-uit agtervolg het en aandadig was by die aanranding op hom, moes die landdros al die getuienis voor hom in ag geneem het en dan besluit het of die afleiding wat hy gemaak het die enigste redelike afleiding is wat van die getuienis gemaak kon word.


[19] Na my oordeel het die landdros in die eerste plek fouteer deur die getuienis van die appellant sonder meer te verwerp. Die redes wat die landdros hiervoor aanvoer, oortuig nie en hy het geen ware oorweging aan sy getuienis en sy geloofwaardigheid as getuie gegee nie. In der waarheid kom die landdros se gronde vir die verwerping daarop neer dat hy dit verwerp omdat dit nie strook met die getuienis van Esmerelda en Michael nie en dit in die lig van hulle getuienis onwaarskynlik is. Wat die landdros moes gedoen het, was om in die lig van al die getuienis voor hom te oorweeg of die weergawe van die appellant redelik moontlik waar is. In die lig van die omstandighede soos hierbo in paragraaf [17] uiteengesit is ek van oordeel dat die landdros moes bevind het dat die appellant se weergawe wel redelik moontlik waar was. Daar was derhalwe geen ruimte vir die maak van enige afleiding, soos deur die landdros gemaak, dat die appellant teenwoordig by en aandadig was aan die aanval op die oorledene wat tot sy dood aanleiding gegee het nie.


[20] Dit volg dat skuldigbevinding en vonnis van die appellant nie kan staan nie.


Bevel:


Die appél slaag en die skuldigbevinding en vonnis van die appellant word ter syde gestel.


_____________________

H.J. LIEBENBERG

REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF



EKSTEEN, AJ:


EK STEM SAAM.




_____________________

J.W. EKSTEEN

WAARNEMENDE REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF